Boekresensie: Openbaring deur Johan Bakkes

  • 2

 

Openbaring - 'n Reisjoernaal
Johan Bakkes
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801129

Ek sit en skryf hierdie resensie in die lug êrens oor die Indiese Oseaan. Dis donker binne die vliegtuig se kajuit en buite skyn die son. Ek's ook op pad na ‘n uiterste. Ek het ook kajuitkoors en ek wil ook uit. Net soos die Bakkes-stam binne die beknopte Russiese Boechanka-voertuig. Buite is dit ook koud. Minus ses-en-veertig grade Celsius. Maar ek het die veiligste opsie gekies, nie die gevaarlikste nie.

Ek hou híérvan. ʼn Outydse boek met ʼn reisverhaal tussen die blaaie en stories wat boei. Ek hou óók van reisbundels met spogfoto’s, reisgidsboeke, padkaarte en digterlike beskrywings van eksotiese plekname wat die leser moet beïndruk. Ja, ek hou híérvan.

Johan Bakkes vertel in sy nuutste boek, Openbaring – ʼn Reisjoernaal, vir ons van die twee temperatuur-uiterste geografiese liggings waar mense nog ʼn bestaan maak. Hy skryf oor die mense wat daar ʼn bestaan uitkerf en die mense wat hy langs die pad daarheen ontmoet. Die mense wat hom soontoe vat, en dan ook oor sy mense. Die mense wat hom vergesel. En dit alles is natuurlik ʼn reis, soos die lewe.

Bakkes spring tussen die stories van dié bende se reise na die koudste en warmste plekke op aarde. Tussendeur werk hy met die hitte van die lewe en die koue van die dood. En tussen al die uiterstes is daar nie ʼn goue middeweg nie. Net ʼn weg gebaan met goue vog en vodka.

In Etiopië reis die stammetjie avonturiers na die kerke van Lalibela en die Simienberg. Híér klim hulle Ras Dasjen - Afrika se vierde hoogste berg. Maar die eintlike bestemming is die soutmyn op die soutpanne in die Danakil-depressie. Nie sonder sy gevare nie, want “Die reis moet so onlekker voorkom dat niemand dit wil onderneem nie.” Arho is die warmste plek op aarde waar mense ʼn bestaan maak. Die Afar-mense myn hier sout honderd-en-twintig meter onder seespieël. En . . .

“The Afar will kill you.
But that is why we want to go!”

Dan spring die leser weer na die koue Siberië in Rusland. Die reis tussen die twee uiterstes voel onwillekeurig soos die banja wat Bakkes beskryf - ʼn Russiese sauna met ʼn ysige paragraaf. 

Oimjakon (“the Pole of Cold”) is die koudste plek op aarde. Maar nog erger, dit is die koudste plek op aarde waar mense lewe. En juis daarom moet die reisiger op pad daarheen genoeg smeerolie gebruik.

“Daar is ʼn sekere wildgeit in my makkers se oë – seker in myne ook. Dis maklik een van die mees bisarre avonture wat ons tot nou toe aangepak het. Selfs die Russe het gedink ons is van ons koppe af.” Die avonturiers ry met ʼn Russiese Boechanka oor die gevriesde Lenarivier op die Pad van Gebeendere. Een van die drie Russe wat hulle vergesel het ʼn AK47, ʼn pistool en ʼn paar messe ingepak. Dis nou saam met die vodka, bier en kos. Dít klink mos nou soos ʼn tipiese Russiese avontuur, of hoe?

Bakkes en sy stam is net gewone mense, nie professionele avonturiers nie. Gewone mense wat buitengewone avonture aanpak, hulleself borg en hulleself met hul beursies by die huis kry. Dít is dalk die rede hoekom dié leser só ʼn diep beskrywing van die reisiger se psige raaklees. Bakkes het die keuse gemaak om nie lou te wees nie. Hy reis hard. En somtyds reis hy alleen. Hy reis na wilde en wonderlike plekke. En hy skryf soos hy dink, soos hy praat en soos hy drink.

Tussendeur gee hy goeie agtergrondinligting of ʼn geskiedenisles. So het ek nie geweet Siberië beslaan ʼn derde van die noordelike halfrond nie, of dat die wêreld se grootste woud hier saam met 53 000 riviere en meer as ʼn miljoen mere te vinde is nie. Die swart-en-wit-foto’s is regte reis-snaps wat nie bedwelm nie, maar eerder die prentjie voltooi.

Die truuk van reis is om jouself bloot te stel. Bakkes doen dit goed deur te droom van die wildste reise en dit dan saam met sy vrinne aan te pak. Nog meer as blootstel, leef hy homself in die reis en die land en sy mense en dingetjies in deur te proe. Spys en drank, maar meestal drank.

Die man is ʼn palliter (soos sy pa hom beskryf) en hy (en sy pelle) strewe om nie lou te wees nie. Hulle beleef vyftig grade Celsius en minus sewe-en-vyftig grade Celsius. Dis ʼn verhaal van twee reise en dan ʼn alleenreis. En eintlik ʼn soeke. ʼn Lewensreis. En ʼn afsluiting van ʼn vol lewe. Ek sal hartseer wees as dit Bakkes se laaste boek oor sy laaste reis is.

In Openbaring, die laaste hoofstuk, kom Bakkes by sy bestemming uit. Reis en lewe voluit, is sy raad. Ek volg dit graag.  

  • 2

Kommentaar

  • Uitstekend, ek is klaar geboei. Johan jou boeke word in 'n nag verslind, kan nie wag vir hierdie een nie.

  • Evert F. Bakkes

    Dawid de Wet, jy mag en jy kan 'n resensie skryf! Verder is jyself 'n woordkunstenaar wat reg laat geskied aan neef C. Johannes se skryfkuns in sy nuutste boek, Openbaring, wat nie perke ken nie!.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top