Boekresensie: Monstersaad deur Madeleine Rust

  • 1

monstersaad400

Monstersaad
Madeleine Rust
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799375824

Daar is twee tipes misdaadromans wat die ervare leser sal teëkom.

Eers is daar dié wat probeer oorspronklik wees, wat speel met die konvensies van die genre en die leser se verwagtinge. Dié wat belangstel in ‘n nuwe perspektief op ‘n ou storie, wat die reëls ignoreer, wat eksperimenteer, wat die formule beagsaam, maar steeds met klaar bestaande riglyne probeer speel.

Dan is daar die misdaadsroman wat die formule stap vir stap volg, wat nie belangstel in nuut of kreatief wees nie, wat vasklou aan die speurverhaalkonvensies, wat nie wil vernuwe nie.

Daar is natuurlik geen probleem met laasgenoemde tipe nie – selfs iets wat mens al ‘n miljoen keer vantevore teëgekom het, kan pret en aangrypend wees. Soms is daar niks lekkerder as om iets te lees wat vertroud en herkenbaar is nie. Baie misdaadromans wat niks nuuts aan die genre bied nie en nie tegnies vernuwend is nie, kan steeds skrikwekkend en opwindend wees.

Maar die onus op dié tipe speurverhaal is dan om seker te maak dat die raaisel, die spel, wat in die hart van alle misdaadromans sit, die lees werd is. Hulle nooi die leser om saam met die speurder die moord op te los en solank daar onverwagte en opwindende draaie in die storie is, maak dit nie regtig saak dat jy dieselfde storie al vantevore gesien het nie, soortgelyke karakters al ‘n miljoen keer raakgelees het en op televisie gesien het nie. Want die storie is goed genoeg. Maar as die leser die truuks en giere van ‘n speurverhaal begin herken, as die leser die speurder baasraak en dit regkry om te raai wie op die ou end die bose moordenaar is, word die storie voorspelbaar – en ook vervelig. Sodra die leser slimmer voel as die speurder, is die spel verby.  

Dít is Monstersaad se groot probleem. Die raaisel is nie goed genoeg nie, die identiteit van die moordenaar is voor die hand liggend, want Monstersaad gebruik dieselfde formule en vertel dieselfde storie wat honderde boeke vantevore vertel het. Daar is geen afwyking van die formule nie, geen poging om enigsins oorspronklik te wees nie.

Monstersaad, Madelein Rust se tweede roman, handel oor Renate Malan, ‘n forensiese sielkundige en privaatspeurder wat ingeroep word om die dood van die 17-jarige Melissa Verhoef op tel los. Nie almal is oortuig dié dood was selfmoord nie. Intussen is Renate besig met haar eie emosionele stryd – haar biologiese pa was self ‘n moordenaar en Renate is bekommerd dat sy in haar pa se voetspore gaan loop.

Monstersaad word voorgehou as beide ‘n misdaadroman en ‘n “sielkundige riller” – en dit is die boek se tweede probleem. Daar is regtig nie baie egte sielkunde aan die gang nie. Die sielkunde klink soos uit ‘n eerstejaar se handboek – die roman se sentrale vraag wonder of boosheid geneties is, wat nie ‘n nuwe vraag is nie en ook nie een wat die roman op n interessante of oorspronklike manier benader nie. Daar is ‘n groot gebrek aan outentieke emosionele inhoud. In Monstersaad voel die karakters soos sketse, soos lopende gevallestudies – nie soos mense nie. Kanse is goed dat jy al vantevore dié karakters raakgelees het. Al die ou bekendes is daar: die mooi (so mooi dat mans bereid is om hulle vrouens vir haar te los), slim (sy het ‘n PhD en luister slegs klassieke musiek), emosioneel verdoofde en siniese speurder met ‘n drankprobleem en donker verlede; die IT-nerd wat enigiets kan opspoor, maak nie saak hoe moeilik of onwaarskynlik dit is nie; die rowwe ekspolisieman wat verlief is op ons speurder maar nie sy gevoelens bekend kan maak nie.

Êrens tussen al daardie stereotipes verloor die karakters – veral Renate – hulle menslikheid. Sy is so ‘n standaardheldin, uitgeknip en saamgestel uit honderde karakters nes sy dat sy dit regkry om vaal en gaapwaardig te wees.

Na aan die slot van Monstersaad vra een van die verdagtes of daar nie al te veel boeke geskryf was oor reeksmoordenaars wat sekswerkers vermoor nie. Nee, lag sy boetie Colin, die skrywer, daar kan nooit genoeg geskryf word oor reeksmoordenaars en sekswerkers nie. Dié is Madelein Rust se grappie oor haar eie onderwerp, want sy skryf juis nog ‘n misdaadsroman oor ‘n reeksmoordenaar wat sekswerkers doodmaak. Ek stem nie saam met Colin Verhoef nie – Monstersaad bewys daar kán definitief te veel boeke geskryf word oor reeksmoordenaars wat sekswerkers vermoor.

Monstersaad is leesbaar. Die taal is vloeiend en eenvoudig, alhoewel ook soms puntenerig en clichéagtig – hoeveel keer kan ‘n karakter vir ‘n ander een kyk met “stormagtige oë”? Daar is dele wat tog aangrypend is en dit regkry om spanningvol te wees. Die storie is genotvol, tot op ‘n punt. Maar daar is niks wat Monstersaad laat uitstaan nie en daar is baie beter voorbeelde van dié genre op die rakke. Op die ou end is die roman ‘n lui poging. Is dit te veel gevra vir iets effens meer oorspronklik? Ek dink nie so nie.

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek het nou die kommentare hierbo gelees, ek moet nog die boek lees, maar die kommentare is redelik negatief en gaan my baie krities na die boek laat kyk, veral omdat daar gesê word dat die storie baie sterotiep is van reeksmoordenaars.

    Wat my wel opgeval het is dat die datums in die stamboom nie orals sin maak nie, veral ten opsigte van die geboortedatum van Johannes Petrus Verhoef. Die datum is seker nie werklik regtig so relevant nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top