Boekresensie: Kristalvlakte deur Amy Jephta

  • 0

Foto van Amy Jephta: http://www.amyjephta.com/interviews.html

Kristalvlakte
Amy Jephta
Drama
Tafelberg, 2016
ISBN: 9780624080008

Dit is seker onvermydelik dat ons in hierdie dae van uiters sigbare en wêreldwye onrus, bedrog, gierigheid, geweld en oorloë – koud en warm, verklaard en onverklaard – ‘n terugkeer sal sien na een van die aangrypendste en invloedrykste teaterwerke van die twintigste eeu.

Mutter Courage is volgens oorlewering binne een maand geskep in ‘n vlaag van wit-warm woede oor die stand van die wêreld en die onvermydelikheid van die komende oorlog met die opmars van die Nazi-beweging in Duitsland. Die gevolg was ‘n tydlose tirade teen die grenslose onsin en tragiese gevolge van die mens se onpeilbare vermoë tot ongenaakbare geweld, gierigheid en selfsug – maar ook sy eindelose vindingrykheid en aanpasbaarheid, en sy krag tot verduring en oorlewing onder haglike omstandighede.

Die knap verwerking daarvan wat hier bespreek word is daarenteen die resultaat van ‘n heelwat langer periode van besinning rondom die teksontwikkellingsproses, soos Tertius Kapp in sy voorwoord tot die publikasie verduidelik, maar dit maak die drama geensins minder ontstellend en doelwitgedrewe as verhoogwerk nie. Kapp sê verder Amy Jephta se toneelstuk “moet ... nie gelees word as ‘n eenvoudige verplasing van Mutter Courage nie. Dit staan gemaklik op eie bene, sonder verwysing na Brecht se oorspronklike teks.”

Dit is miskien bietjie optimisties gestel, want die vergelyking met die bronteks is eintlik onvermydelik gegee die metaforiese aard van Jephta se drama en die feit dat die aksies basies Brecht s’n volg en heelwat van die dialoog en liedjies breedweg op syne geskoei is. ‘n Basiese kennis van Moeder Courage (of selfs net van die konsep van ‘n “Moeder Courage”) openbaar dus verrassende dimensies in die plaaslike problematiek wat deur die skrywer aangeroer word, terwyl haar stuk op sy beurt weer verruimende insigte terugkaats om die aangrypende universele implikasies van die Brechtiaanse visie te herbelig.

Ek gee wel toe iemand wat nie Brecht se meesterwerk ken nie (en daar is is sekerlik vandag baie diesulkes) sal nie noodwendig heeltemal gekniehalter wees in sy of haar waardering van Jephta se besondere werk nie, maar iets fundamenteels gaan tóg verlore. Die verplasing van Mutter Courage na die Vlakte was immers van meet af aan die fons et origo vir die hele teksprojek waaruit Kristalvlakte gegroei het. Dis die hoe daarvan, en die doel daarmee wat van belang is.

Van Brecht na Jephta

Daar word heel graag na Brecht se stuk as epies verwys – nie net in die meer spesifieke Brechtiaanse sin van intellektuele, nierealistiese, nie-emotiewe teater nie (‘n benadering primêr miskien gekenmerk deur Brecht se konsep van verfremdung) , maar soms ook in die meer klassieke sin van ‘n werk van tematiese en strukturele omvattendheid oor ‘n heldefiguur (gekenmerk deur hamartia en hubris) of heldedade binne ‘n grootse opset.

Daar is ook ‘n sterk komponent van klassieke Griekse tragiese struktuur aanwesig in Mutter Courage, want die “heldedade” wat beskryf word, vind plaas op die periferie van die hoofaksie (dws ver verwyder van die leiers se beraadskamers en die slagvelde self), in die lewens van randfigure, en word aan ons oorgedra word in hervertellings en verslae te velde. (Daar is selfs ‘n eggo van Shakespeare se Fallstaff in dié tegniek.) Ons sien dus in die stroping van Priscilla se lewe die meer omvattende verenging en aftakeling van die samelewing self.

Die skep van helde was natuurlik glad nie Brecht se bedoeling nie, want in sy konsep van epiese teater voorsien hy nie empatie met simpatieke helde nie, maar dit is ‘n ironiese kinkel in die storie van Mutter Courage dat, lynreg téén Brecht se eie filosofie en esteties-politieke wense in, daar tóg ‘n antiheld as heldefiguur na vore tree. ‘n Heldin op klein skaal, maar van ware epiese dimensies, selfs in haar gebreke en tekortkominge: Die medoënloos gedrewe en byna gewetenloos-kommersiële moeder wat op die oorlog teer en – alles ten spyt – nog altyd gehore se aandag onwillekeurig en byna teësinnig aangryp in byna elke aanbieding van Brecht se stuk, enige plek in die wêreld.

Daardie finale beeld waarmee mens gelaat word, dié van die bejaarde vrou wat ná die dood van haar laaste kind, nogeens haar gelaaide wa met lewensgoedere opneem en nou vrou-alleen verder moet trek om steeds handel te dryf, het onvermydelik en gou simbolies geword van die mensdom se nimmereindigende stryd teen die gesiglose oormag van oorlog en geweld en dié wat dit bedryf.

Selfs met al die verfremdungs-tegnieke wat hy in sy epiese werk aanwend – die gestroopte aanbieding, die vertellings, die plakkate, die liedere, die akteurs wat rolle verwissel op die verhoog, en so meer – kon Brecht net nie slaag om die inherente emotiewe krag van sy eie skepping te onderdruk en die simboliese “Moeder Courage” self te ontwyk nie.

En tóg, dit ten spyt, of dalk wel juis daaróm, is en bly die werk seker een van die mees ontroerende en suksesvolle oproepe teen oorlog en geweld in die geskiedenis van die teater.

Alhoewel die teks uit die aard van die saak in die naoorlogsjare reeds in Engels in Suid-Afrika opgevoer is (bv deur Robert Mohr in Kaapstad, 1958), en wyd bestudeer word, het Mutter Courage eers in 1971, met Fred Steyn se vertaling as Moeder Courage en haar kinders (DALRO 1973), Afrikaans begin praat, en wel in die mond van Anna Neethling-Pohl, geregisseer deur Hannes Horne. (Dit sou Tant Anna se brood-en-botter rol word ná haar aftrede, een wat sy oor die volgende jare deur die hele die land gespeel het.)

In 2014 verskyn ‘n nuwe vertaling, dié een deur Saartjie Botha, ‘n baanbrekende weergawe van die Duitse teks onder die titlel Moeder Moed en haar kinders, nou gestalte gegee deur Aletta Bezuidenhout in die veelvuldig bekroonde KKNK/SUKOVS-opvoering onder die regie van Jerry Mofokeng.

Met Amy Jephta se vernuftige verwerking en verplasing van die Duitse meesterwerk, praat Mutter Courage in 2016 weereens met ons, maar hierdie keer in Kaaps en oor Kaapse dinge. En die nuwe heldin se naam is Priscilla.

Moeder Priscilla op die Kristalvlakte

Kristalvlakte het sy ontstaan in die Suidoosterfees se teksontwikkellingsprogram, in 2015 in die lewe geroep ter nagedagtenis aan Jakes Gerwel, wat tydens ‘n gesprek met Koos Bekker die gedagte geopper het om Bertolt Brecht se Mutter Courage na die Kaapse Vlakte te verplaas. Die werksessies van die skryfprojek is gelei deur Tertius Kapp, wat ook die voorwoord tot hierdie publikasie geskryf het en agtergrond oor Brecht, die teks en die projek verskaf. Kristalvlakte is vir die eerste keer by die Suidoosterfees van 2016 opgevoer onder die regie van Marí Bortslap-Calitz, met Ilse Klink as die moeder. Dit het op 29 April, 2016 in die Fugard-teater geopen.1

Die teks verskyn nou beide in druk en as ‘n e-publikasie danksy Tafelberg en die LW Hiemstra-trust.

Soos aangedui, het Brecht doelbewus sy stuk probeer afstand gee en “vervreem” van sy eie tyd en die leefwêreld van die Duitse bevolking van 1939, deur onder andere die aksie in die verre verlede te plaas en aan te bied in die vorm van ‘n gestroopte weergawe van gebeure tydens die Dertigjarige Oorlog (1618-1648). Dit was eintlik onder die omstandighede ‘n gemaklike skuif vir Brecht aangesien die (dikwels vergete) oerteks en bron vir sy hoofkarakter – (die roman Lebensbeschreibung der Ertzbetrügerin und Landstörtzerin Courasche van Grimmelshausen – juis kort ná daardie spesifieke tyd geskryf is (1669) en die gebeure wat hy beskryf tydens die Dertigjarige Oorlog afspeel.

Heelparty opvoerings van die teks verkies om Brecht se epiese styl en sy gebruik van daardie historiese en abstrakte konteks onveranderd te benut, maar sommiges probeer om iets méér van die hedendaagse relevantheid van die werk te beklemtoon deur allerlei metaforiese verwysings by die mise en scène van die opvoering in te werk. So byvoorbeeld gebruik Jerry Mofokeng oa kostumering en klankbaan in sy aanbieding van Saartjie Botha se Moeder Moed om ‘n verskeidenheid oorloë te reflekteer, vanaf die koloniale verlede, die Boere-oorlog, die Eerste en Tweede Wêreldoorloë en selfs die Suid-Afrikaanse grensoorlog.

Jephta se weergawe van die Brecht teks vat hierdie tegniek egter ‘n paar trappies verder: Dit behou die breë buitelyne van die verhaal (die stelselmatige verliese wat Priscilla ly as gevolg van haar ambisie en die aard van haar bestaan as smous van onder meer gesteelde goedere), sowel as die episodiese struktuur en die poging tot abstrahering van die bronteks, selfs die liedere. Dit verplaas die aksie egter geheel en al in tyd en plek, sodat die stuk stip en ongenaakbaar fokus op ‘n baie kontemporêre plaaslike problematiek.

Die verwysingsraamwerk van Kristalvlakte is pertinent die onlangse Suid-Afrikaanse verlede (1980's tot die hede) en die aksie vind plaas binne die baie spesifieke en bekende subkultuur van die bende- en dwelmwêreld op die Kaapse Vlakte.

Die verplasing is behendig gedoen, met die eenvoudige dog effektiewe inkleding van die besondere milieu en fyn karakterisering van die onderskeie personasies. Die kerninstrument in albei gevalle is natuurlik Jephta se lekker speelbare gebruik van Kaapse taalvariante. In haar “Nota oor taal” op bladsy 12 dui sy aan hoe sy klein klankverskille gebruik om sosiale status en persoonlike kenmerke van karakters te kenmerk.

Die gebruik van die Kaapse variante van Afrikaans as ‘n plooibare literêre en dramatiese medium het natuurlik – sosiologies sowel as taal-en letterkundig gesproke – ‘n lang en uiters interessante geskiedenis, een waarby Jephta haar hiermee duidelik vereenselwig en as vaardige skrywer aansluit.2

Kristalvlakte gaan oor ‘n “oorlog” wat hom afspeel op “slagvelde” in en om die huise en strate van die Vlakte, ‘n ruimte waarin mense soos Priscilla nie net moet leef nie, maar ook moet oorleef en hulle bestaan moet maak – in haar geval om te teer op die behoeftes wat die omstandighede self skep. In hierdie konteks is die personasie “Priscilla” beide ‘n nuutskepping, maar ook ‘n voortsetting van Brecht se “Courage”: Die lewensvertrapte dog onoorwonne vrou wat steeds daagliks spook om oorlewing.

In ‘n sin is Jephta se teks ‘n soort Brechtiaanse vertolking van Brecht se oorspronklike polemiese werk, wat mens tot nadenke en debat stem. Nes Brecht, stroop en vernou Jephta die konteks deur dit totaal los te maak van die groter Suid-Afrikaanse sosio-politieke en ekonomiese milieu (al is dit natuurlik implisiet aanwesig en toeganklik vir die ingeligte leser).

Sy beskryf dit dan impressionisties eerder as realisties as ‘n lang, bitter en aaneenlopende oorlog sonder oplossing, sonder einde. ‘n “Oorlog” waarin die hoofgebeure oor 30 jaar (!) versprei word, met wissellende intervalle in die moeder se lewe. Die gehoor beleef dus dié “oorlog” deur die “onbenullighede” en tragiese verliese van haar daaglikse bestaan.

Die impak hiervan is besonder interessant in ons steeds versplinterde en gestratifiseerde samelewing, aangesien dit tot ‘n groot mate tóg ‘n werklik vervreemdende effek het op baie kykers en lesers. Die feit is dat, vir die meeste Suid-Afrikaners, dié gebiede en dié subkulturele bestaan onbekende terrein is, ‘n milieu wat meeste mense slegs indirek – deur die media (nuusberigte en dokumentêre programme), fiksionele weergawes in romans, films en toneelstukke, edm – betree. Dit in teenstelling met die ervarings van dié wat daar, in daardie gebiede, móét woon en oorleef, dag na dag. Soos Priscilla en haar kinders, deur wie se ervarings ons dit nou leer ken.

Priscilla

Dit is nie ‘n sentrale aspek nie, maar tog miskien ‘n punt om te noem: Met die skepping van Priscilla bring Jephta ‘n interessante plaaslike en selfs metaforiese dimensie na Brecht se oorspronklike moeder, want sy is nou nie net meer die direkte afstammeling van Mutter Courage nie, maar terselfdertyd ook ‘n nuwe toevoeging tot ons eie indrukwekkende pantheon van vroue as heldinne. Vroue wat, as stukrag en martelaar-oorlewendes positief binne ‘n lewe-as-krisis optree.

Priscilla se wedervaringe wek so onwillekeurig beelde op van ‘n hele reeks ander formidabele vroue wat in die Suid-Afrikaanse kanon van teaterwerke uitgebeeld word, onder hulle sekerlik Bartho Smit se Moeder Hanna, Athol Fugard se Boesman and Lena, Adam Small se Makiet, PG du Plessis se Ma, Elsa Joubert se Poppie Nongena, Reza de Wet se Magda en so meer.

Om jou leed te sing

Ek moet hier bieg dat ek self Kristalvlakte ongelukkig weens verskeie omstandighede as opvoering misgeloop het en dit nog net in teks vorm kon beleef. En dit is ‘n jammerte, want Kristalvlakte is by uitstek ‘n teks wat dringend vra om gespéél te word, om in die driedimensionele onmiddellikheid van ‘n teater in sy volle glorie beleef te word. Ek bespreek dit derhalwe hier grootliks as a dramateks, dit wil sê as ‘n bloudruk3 vir ‘n opvoering en nie as ‘n teateropvoering nie – iets wat gelukkig al deur ander gedoen is.

Beoordeel aan die resensies en toekennings, is dit duidelik dat die opvoering baie geslaagd was, met ontroerende vertolkings deur die sterk ensemble. Volgens verskeie resensente was ‘n sterk bydraende faktor die pragtige sangstemme van die spelers. Naomi Meyer sê byvoorbeeld: “Behalwe dat hul goed toneelspeel, verdien die akteurs en aktrises se pragtige sang in Kristalvlakte vermelding. Hulle stemme is suiwer, kristalhelder en werklik professioneel.” (LitNet, 2016-05-11 http://www.litnet.co.za/teaterresensie-kristalvlakte/).

Miskien is dit weer net ‘n klein jakkalsie, maar met ‘n stuk van hierdie aard, waar sang en musiek ‘n groot aandeel het in die totale boodskap, is dit tog effens frustrerend vir ‘n leser indien die gedrukte teks nie die styl en aard van die opvoering effens meer duidelik aandui en/of bespreek nie. (Brecht het dit ook nie gedoen nie, maar hy het wel sy filosofie van die epiese teater oor tyd breedvoerig uitgespel.)

Op bladsy 12 verskyn wel ‘n nota oor musiek, waarin Jephta dit duidelik stel dat sy die keuse en gebruik van musiek aan die regisseur oorlaat – wat natuurlik algemene gebruik is – en dan seker beginselvoorkeure vir musiekkeuses stel. Maar omdat sy self juis redelik gewag maak van die keuse van musiek, en resensente baie fokus op die teenwoordigheid (en kwaliteit) van sang, sou dit tog nuttig gewees het indien sy net iets méér gesê het oor die algemene styl wat sy vir ‘n opvoering in gedagte het, en veral dan ook die plek en funksie van musiek daarin.

Benewens hierdie algemene aspek, is die teks egter goed versorg en in ‘n lekker formaat gedruk wat gemaklik lees. Ek kon min werklike tik of drukfoute sien, alhoewel mens natuurlik bietjie uit jou diepte is met die taalreëls en spelling van die verskeie vorme van Kaaps waarin die teks geskryf is – soos Jephta sê, daar is geen standaardvorm daarvan nie. Die enigste opvallende klein ongerymdheid kom voor in die titel Kristalvlakte, wat op die buiteblad afgekap voorkom, maar sonder die koppelteken, en op die titelblad binne met ‘n koppelteken.

Slotsom

Kristalvlakte is ‘n knap en opvoerbare verwerking van ‘n klassieke teks deur ‘n opwindende dramaturg, ‘n werk wat nie net ‘n komplekse plaaslike krisis belig nie, maar as teks en in hierdie vorm sy plek met gemak inneem in die kanon van Suid-Afrikaanse toneelwerke.

Notas

1 Naomi Meyer se resensie in LitNet verskaf ‘n goeie, bondige en gestruktureerde bespreking van die aanbieding sowel as die teks se inhoud. (LitNet, 2016-05-11 http://www.litnet.co.za/teaterresensie-kristalvlakte/).

2 Adam Small was - bly seker - die eerste groot meester op hierdie gebied, en Kanna hy kô Hystoe een van die werklike hoogtepunte van Afrikaanse versdrama, maar die plooibaarheid van Kaaps is ook te sien in werke so uitlopend soos André P Brink se dartelende Kaapse verwerkings van Synge en Shakespeare (Bobaas van die Boendoe, Kinkels in die Kabel), die politieke werke van Peter Snyders (bv Political Joke), Melvyn Whitebooi (bv Dit sal die blêrrie dag wies!), en andere, en die genot van David Kramer en Taliep Petersen se meesleurende meertalige musikale blyspele.

3 Ek glo nogal altyd dat ‘n dramateks eintlik ‘n bloudruk is vir ‘n opvoering, en dat in die lees daarvan ‘n instrument kan wees waarmee die leser ‘n opvoering kan voorstel terwyl dit gelees word. ‘n Aantal van die mees bruikbare inleidende gidse tot teksontleding gaan juis van hierdie standpunt uit. Mens dink maar aan die werke van Bernard Beckerman, Eric Bentley, JL Styan, Sam Smiley, JR Taylor, John Russel Brown, Jan Kott, Patrice Pavis. Of in Afrikaans PJ Conradie, GJ Beukes, Aart de Villiers, Marisa Keuris, en so meer. Baie regisseurs sal natuurlik heftig verskil oor die “bloudruk” konsep, want hulle hóú juis van die soort “oop” teks, want dit maak hulle vry om talle moontlikhede te verken.

Bronne

http://www.litnet.co.za/teaterresensie-kristalvlakte/, 2016-05-11

http://www.news24.com/SouthAfrica/Local/Peoples-Post/honouring-jakes-gerwel-on-stage-20160502

http://www.netwerk24.com/Vermaak/Teater/kristalvlakte-is-n-drama-vir-hier-en-nou-20160413

http://www.iol.co.za/capetimes/gritty-parable-of-urban-warfare-2017028

http://www.iol.co.za/tonight/what-s-on/western-cape/theatre-review-kristalvlakte-2017953

Johan Myburg. 2015. Resensie “Aardklop: Moeder Moed en haar Kinders”, Maroela Media - http://maroelamedia.co.za/vermaak/teater/resensie-aardklop-moeder-moed-en-haar-kinders/

http://esat.sun.ac.za/index.php/Kaaps

Kristalvlakte in The Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance (ESAT) - http://esat.sun.ac.za/index.php?title=Kristalvlakte&action=edit&section=1

Mutter Courage und ihre Kinder in The Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance (ESAT) - http://esat.sun.ac.za/index.php/Mutter_Courage_und_ihre_Kinder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top