Boekresensie: In sneeu geskryf deur Francois Loots

In sneeu geskryf
François Loots
Umuzi, 2015
ISBN: 9781415207437

Brunswick, Bronx, Bar Code, Steamers. En dan Sizzler’s ...

Hoeveel van ons manne is nie rondom die jongste eeuwisseling na hierdie Kaapstadse seksplekke gedryf nie! Of ons kon ons verlustig in ouens se vertellings – alles eerstehandse ervarings.

François Loots gebruik die regte name vir dié plesieroorde. Hy stel dit aan die einde van die 372 bladsye dat hy Sizzler’s nie beskryf “presies soos die plek was nie”. Hy het "eerder gewerk met die beeld van ’n bordeel", soos hy dit in "dokumentêre werke, fiksie en rolprente teëgekom het". Kon ons nie maar bly glo het dis opwindend outentiek nie!

Sizzler’s sal voortbestaan in kliënte se herinneringe aan hulle seksuele uitlewings. Dis nou die pappies wat kon wegglip as die mammies na ‘n glam-guru toe is. Ook die "voltydse gays" wat beslis weet wat hulle wil hê; in die roman word hulle "suikeroutjies" genoem.

Die algemene publiek onthou ook hoe nege mans op 20 Januarie 2003 in dié masseersalon/bordeel vermoor is. Loots skep nie baie spanning met die moordgegewens op sigself nie. Dit gaan hier om die ervarings vóór die moord. ‘n Mens kan aflei uit die optredes van die personeel en die kliënte hoe geweld en selfs moord wel moontlik is. Op bladsy 275 is byvoorbeeld ‘n gelaaide kort opmerking: "Maar hoekom die gevoel van onrus? Wie was die drie mans wat hulle laas nag in ‘n ry laat staan het?" Vanaf bladsy 369 volg die besonder sterk klimakstoneel. Kliënt Bertus neem vir die sekswerker Heinrich alias Frikkie weg na ‘n plek waar niemand hulle "in die hande sal kry nie". So ontkom hulle aan die moord, maar juis hier in die afsondering word hulle wedersydse agterdog en vrees met geweld op die spits gedryf.

Loots laat die klem val op die werkers se menseverhoudings – hulle met die "veelbelowende" name, soos Black Stallion, Jay Gold en Cool Daddy. Hoe ervaar hulle die voortdurende seks liggaamlik en emosioneel? Hoe beïnvloed dit hulle selfbeeld? Hoe skakel hulle met hulle familie? Die kliënte se leefwyse word ook uitgebeeld. Op hierdie vlak kry die leser ‘n baie sterk oortuigende geskiedenis: Bertus se onvolmaakte verhouding met Gerald. Bertus is die boekhandelaar, kenner van die Russiese letterkunde, seksueel ‘n "beertjie" en iemand wat soms in sy kop net "elders" wil wees. Gerald het vanweë seks in die verhouding beland; hy is die materialis wat hom meer tuis voel by die "ryk mowwe" en dan vir Bertus belieg met die hulp van Bertus se vriende en hom finansieel wil uitroei. Bertus besluit: "(H)ierdie persoon se geaardheid is veels te vrysinnig, sy greep op enigiets veels te vlugtig, sy woorde betekenisloos" (131).

Loots maak hierdie realisme baie boeiend. Dit hang ook saam met helder natuurbeskrywings. Hy betrek ‘n verskeidenheid soorte gayseks en gebruik ‘n goeie versameling benaminge vir manne se geslagsdele. Die tril met ‘n slangbek; teelperd; pofadder; amandel; okkerneut; poena. "Voëls kom in allerhande groottes. Party lê duimpieklein in hul nessie en wil maar net gestreel word. Ander vlieg uit ‘n ritssluiter soos ‘n honger arend op soek na prooi."

Soos in sy vorige romans gaan Loots egter ook graag op in die onwerklike. Sal ons sê "die magiese realisme"? Die reklameteks beskryf dit as “anderkant die grense van ruimte en tyd”. In ‘n vooraf is tonele in ‘n Siberiese sneeulandskap in ‘n tyd van oorlog aan die begin van die 20ste eeu. Twee geestelikes, ‘n jonger en ‘n ouer man, gee hulle seksueel oor aan mekaar. Hoe kan God iets so moois veroordeel? ‘n Bakker se assistent hou egter ‘n bedreiging vir hulle in.

Hierdie teks word geweldig baie in die hoofteks gebruik. Personasies ervaar dit as drome en gesigte. Sneeu en koue word simbolies gelaai. ‘n Mens sou dit aanvaarbaarder gevind het as net Bertus met sy Russiese kennis dit so sou beleef het. Dié onwerklikhede word te veel gebruik; dit kom neer op oorbeklemtoning. Dit vertraag die intrige.

Die irreële duik ook kort-kort op wanneer die mooi vrou in die nag vir haar minnaars klavier speel en dan lê daar ‘n man op die sypaadjie en slaap. Of: Frikkie sien skielik ‘n vrou raak daar tussen al die naakte mans in die salon. ’n Toppunt is die uitbeelding van die geestelik versteurde kelner met sy beheptheid met verskillende skoene wat hom inspireer. Hy verdraai woorde. Dié tonele wen egter aan betekenis as mens in gedagte hou dat dié kelner met sy waansin ’n moordenaar kan wees; dat die moordenaars sulke mense kan wees.

Sekerlik sal sekere lesers hulle daarin verlustig om sin en betekenis uit hierdie stof te haal.

Twee probleme bemoeilik die lees. Gesprekke tussen meer as twee sprekers word weergegee sonder dat die leser weet wie wat wanneer sê. Die leser moet raai en bly maar onseker. Tweedens: paragrawe loop aaneen selfs wanneer daar meer as een oorgang van tyd en plek is.

Herhaling van ‘n belangrike woord op ‘n kort afstand word as nie te goeie styl beskou nie. Bertus se beskrywing as ‘n "beertjie" (‘n gayterm) word ongeveer 15 maal herhaal. Ook word kort-kort ‘n "klos bome" genoem. Vir al die betekenisse wat HAT vir "klos" gee, word verkleinwoorde gebruik. As die bome in die verte staan, sal dit klein lyk en kan "klos" dalk werk. Die bome is hier juis relatief naby en die karakters vlug daarheen.

Loots gebruik die anglisistiese "vir ’n oomblik". Hy vergeet verder dat ‘n oomblik geweldig vinnig verby is. Hoe lank is ’n "kort oomblik" dan (83)?

François Loots lewer met In sneeu geskryf weer ‘n belangrike roman – juis in ‘n tyd dat die gaydebat voortgesit word. Tog kon daar gerus nog redigering geskied het.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top