Boekresensie: Hartbreker deur Cecilia Steyn

  • 0

Titel: Tienerharte 2: Hartbreker
Skrywer: Cecilia Steyn
Uitgewer: Human & Rousseau, 2016
ISBN: 9780798171588

Reeksboeke is baie gewild onder jong lesers.  Liefdesverhale vaar beter as ooit. ’n Kombinasie van die twee? Dis mos nou eenvoudig ’n wenresep!  Om jongmense aan die lees te kry, is ’n ideaal van enige jeugboekskrywer en dit is presies wat Cecilia Steyn met haar Tienerharte-reeks regkry.

Stefan Bruwer is ‘n haan onder die kampushenne, ’n regte “player”, met ’n slagveld van gebroke harte op sy kerfstok. Hy is een wat maklik meisies “op hulle pad stuur” wanneer hy “’n nuwe, ouliker speeding op kampus sien”.  Totdat sy suster, Megan, se rooikopvriendin sy pad kruis.  Met haar wyse sproetneus en onafhanklike hardkoppigheid slaan hierdie matriekmeisie hom vir ’n ses. 

Ciska Rossouw laat haar egter nie sommer oorrompel deur ’n opperste rokjagter nie.  Sy is sinies oor die liefde na ’n vorige mislukte verhouding, en die voorbeeld van haar ma se harwar-soeke na huweliksgeluk dra tot haar aanvanklike skeptiese afsydigheid by.  Dan het sy ook nog ’n “sewejaarplan” vir haar toekoms om mee rekening te hou.  Stefan is beslis nie deel daarvan nie, want verbete bly sy glo: “Geen man sal ooit weer oor my hart dans nie, daarvoor sal ek sorg.”   

Wanneer Stefan deur sy proffie genader word om dié se huis in die idilliese Kampsbaai vir die Paasvakansie op te pas, sien Stefan sy kans.  In die luukse omgewing beplan hy om Ciska behoorlik te trakteer en so haar hart te wen.  Hy hou egter nie rekening met die huisheer se bedorwe dogter Surette nie.  Haar visier is op Stefan ingestel en sy maak sake vir die voorheen bedrewe, nou regtig verliefde Casanova, baie moeilik.

’n Baie slim aanbiedingstegniek is die hoofstukindeling wat om die beurt wissel vanuit die perspektief van Stefan en Ciska.  Op hierdie manier word die manlike sowel as die vroulike ervaringswêreld met die leser gedeel.  Die protagoniste kry sodoende elkeen die kans om sy “saak” aan die leser te stel.

Stefan word uitgebeeld as die selfversekerde, sterk karakter wat hom goed kan laat geld.  Tog het hy ’n sagte kant wat spreek uit dinge soos sy besorgdheid oor sy suster se welstand, en later ook uit sy deernisvolle optrede teenoor Ciska, waar sy byvoorbeeld die “besorgdheid op sy gesig lees” wanneer hy oor haar oorlede pa uitvra.  Ciska weer doen as hardekwas “Pepper” aan haar rooikopstatus gestand en ’n heerlike liefdesverhaal met hope intriges ontvou.

Jaco Jacobs noem dat reeksverhale gesog is omdat jong lesers later die karakters leer ken en dit “soos ou bekendes begin voel van wie se doen en late jy lees”.  Hy noem dat dit die ideale manier bied om ’n leeslus (in hierdie geval by die ouer leser/tieners) te prikkel omdat die leser nuuskierig is oor wat die karakters nou weer aanvang. 

Volgens Maritha Snyman, in die werk Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom (2005), kan die gewildheid van reeksboeke verklaar word deur ‘n reeks feite.  Dinge soos die put van emosionele bevrediging uit verhale wat voortduur, die skep van ’n gevoel van voldoening en emosionele veiligheid en sekuriteit, die terugkerende struktuur wat aan die leser ’n raamwerk gee waarbinne hy kan bepaal hoe hy moet lewe, die identifikasie met die protagonis en die hantering van ’n lewensfase waarin die kind baie op sosiale vlak eksperimenteer, bied aan die reeksboek ’n niebedreigende spasie waarin die leser se hoop en vrese gereflekteer word.

Liefdesverhale of romanses bied op sy beurt en volgens die Romanzalesersblog ’n manier om te ontvlug of te ontspan.  “Dit voer ons weg uit die saai bestaan van die alledaagse, die helde en heldinne is altyd mooi en die einde gelukkig.” Voorts aktiveer die liefdesverhaal ’n chemiese reaksie van “goedvoel” in die brein.  Die leser voel “emosioneel versorg” en dat daar in haar behoeftes voldoen word.  Lesers kry boonop insig in hul eie verhoudingsprobleme. 

Liefdesverhale bemagtig vroue aangesien die heldin “’n vrou uit eie reg is” en “die romanselesers is belese, sterk, intelligente en kreatiewe vroue”.  Indien dit wel die geval is, bied die lees van ’n romanse dus die ideale geleentheid tot die sosiale ontwikkeling van tieners.

Cecilia Steyn weet hoe tieners se koppe werk en sy weet waarmee hulle hulself besighou.  Daar is byvoorbeeld die rekenaarspeletjie The Last of US wat Ciska, Stefan en Dewald speel, maar dan is daar ook die ernstiger sake soos studies, skoolwerk en toekomsdrome.  Hierdie is ook nie nét ’n verhaal van jong liefde nie.  Dit gaan hier ook oor tienerprobleme en die kwessies waarmee tieners te doene kry binne verhoudings, veral dan ook gesinsverhoudings.

In ’n resensie van die eerste boek in die reeks word daar oor die voorspelbaarheid van verhaalgebeure asook van die onoortuigende dialoog van karakters gerapporteer. Voorspelbaarheid is egter myns insiens kenmerkend van hierdie genre en dit is juis hierin wat die gerustellende lekkerte van ‘n romanse vir die leser lê.

Wat die taalgebruik betref, is dit welliswaar die geval dat woorde soos “verdomp”,”verstrengel” en “trekstang” vreemd in die tienermond mag klink, maar ek wonder of dit nie juis tot voordeel van hierdie reeks strek nie.  Is dit nie dalk vanuit ’n groter letterkundige perspektief nodig dat jong lesers juis blootgestel word aan ander en meer gesofistikeerde taalgebruik as tienersleng nie? 

Miskien is dit nodig dat tienerlesers self oor hierdie kenmerke van die reeks terugvoer gee, maar by die lees van ’n opmerking soos: “Hartklop is ’n baie goeie boek ... ek het al die opvolg gelees ook!  DIS BAIE GOED ... ek sal sê enige tienermeisie wat in LIEFDE glo SAL dit geniet ...” word waarskynlik die beste oordeel gegee.

Iemand het eendag gesê daar is niks so opwindend, maar tog ook so dramaties, soos jong liefde nie.  En met haar Tienerharte-reeks en spesifiek dan nou met Hartbreker kry Cecilia Steyn dit reg om hierdie belangrike fase in die lewe van jongmense met deernis, begrip en groot sukses uit te beeld.

Tienerharte 3: Hartedief (2016), is ook reeds beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top