Boekresensie: Goudduiwel deur Duane Aslett

  • 0

goudduiwel_coverGoudduiwel
Duane Aslett

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801174

Die kort beskrywing by die boek lees: “Agent Rex Reynecke lei ’n forensiese ondersoek vir die Valke. Sy verhouding met Alicia blom, maar dan verdwyn haar broer, die wilde loot, Niel Campher – as hoofverdagte in ’n moordsaak. Spoedig blyk sy verdwyning verband te hou met die ABO se Krugermiljoene, en Rex moet hom red van die duistere Ysterhout-laer. In dié aksiebelaaide roman bou die spanning op tot in Skukuza – wilde jaagtogte op stofpaaie wat nie vir kat-en-muis-speletjies met kragtige voertuie gemaak is nie…”

Niel Campher is nie so dom en agterlosig as wat hy voorgee nie; en met ’n lang, slim plan gebruik hy die aanvanklike boewe en moordenaars om sy eie doelwit te bereik.

En dan is daar die briljante, dowe Diana, wat deel is van Rex se ondersoekspan. Haar fyn waarnemingsin word deur haar kollegas onderskat, maar maak haar ’n groot bate in die forensiese ondersoekspan. Sy is egter nie so onskuldig soos sy voorkom nie; sy het ’n verskuilde agenda en is deel van die span vir baie meer redes as bloot haar loopbaan se bevordering.

Die hele geskiedenis van die Ysterhout-laer en hul hebsug kom met rukke en stote na vore en Niel en sy suster, Alicia, se oupa en pa se betrokkenheid kom op die lappe, tesame met die geheim van waar die Krugermiljoene presies is, wat van alle moontlike kante ontgin word. Elke opsie klink heel geloofwaardig, maar tog ook heel onwaarskynlik as jy mooi daaroor dink.

Duane Aslett is ’n senior lektor in forensiese rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit. Hy studeer tans vir sy LLD aan die NWU oor die onderwerp “Combating Organised Crime in South Africa”. Hy en sy vrou, Tammy, woon op Potchefstroom. Hy ken sy vakgebied en klein verwysings in die boek na die ondersoekstelsel wat gebruik word om syfers na te gaan, word goed verduidelik.

Hy het twee jaar gelede sy debuutroman, Skoppensboer, ook by Queillerie die lig laat sien.

Destyds het die resensent Maggie Marx oor dié debuut gesê: "… soos die hoofstukke aanstap, raak die geheimsinnigheid minder en die sterk beelding so skaars soos blomkool noudat Tim Noakes die wêreld oorgeneem het. Dit is alles moontlik net die gewone stuiptrekkings van ’n debuutroman, want langs baie ander vereistes vir goeie spanningsfiksie maak Aslett vet kruisies. Die boek word hoofsaaklik in ’n vermaaklike aksiefliek-styl geskryf, maar dan steek ’n soetsappige en tieneragtige tranetrekker hier en daar kop uit en dié twee style meng glad nie goed nie. Dit is natuurlik baie moontlik dat Aslett Rex deels op homself grond, aangesien hul geskiedenis ooreenstem, en dat die oormatige erns juis hieruit spruit.”

Mens sou hoop dat met ’n tweede boek jy al daardie tandekryprobleme uit die weg sou ruim en dat redakteurs en versorgers jou in toom sou hou.

Ek het die boek geforseerd chauvinisties gevind – onder meer aanhoudende verwysings na vroue se bene en kuite wat wys dat hulle gereeld in die gimnasium kom, of die gehamer op die model en kleur Audi wat Rex ry. Die neerlegging van die manlike speelveld as agtergrond vir die storie kon op beter maniere gedoen word.

Boonop is daar snaakse toevalle soos ’n skurk wat deur ’n luiperd gevang word nadat die gastehuis-eienaar teen seekoeie gewaarsku het. Dis só onwaarskynlik dat ’n luiperd drie mans sal aanval wat bloot in ’n donker paadjie by ’n gastehuis afstap.

Soos die oorwoë mening in 2014 oor Skoppensboer was, moet ek dus ook afsluit met hierdie gevoel: Goudduiwel is ’n waardige spanningsroman met ’n goed nagevorsde storielyn en genoeg aksie om jou aan die lees te hou.

Maar dis beslis nie een van die jaar se beste spanningsromans nie, veral nie as mens kyk na watter ander briljante spanningsromans vanjaar uit die penne van onder meer Chris Karsten, Deon Meyer en Lerina Erasmus verskyn het nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top