Boekresensie: Goeie dood wat saggies byt deur Ilse van Staden

  • 3

Goeie dood wat saggies byt
Ilse van Staden
Protea
ISBN: 9781485305477

‘n Hiperrealistiese foto van ‘n groot, woedende hond met wydgesperde bek, gereed om te byt, verskyn op die omslag van Ilse van Staden se debuutroman, Goeie dood wat saggies byt. (Op die omslag is die titel só gedruk, met “Goeie” en “saggies” gekursiveer: Goeie dood wat saggies byt.) ‘n Paradoks met die hond-wat-gaan-doodbyt.

Die roman gaan oor die opleiding en praktyk van veeartse. Miskien ‘n nuwe “genre” in die Afrikaanse vertelkuns?

Die begin van die eerste hoofstuk (eintlik ‘n proloog), “die hond is groot en swaar”, is kort en kragtig en dwing jou om verder te wil lees.

Hierdie hond kan nie die huis haal nie. Hy slaan neer. Sy eienaars, verskrik, jaag met hom na die veearts toe. Na dokter Hilda. Maar iemand sê: “Ry net. Dr Vermaak is … Sy is … Sy gaan jou nie nou kan help nie” (9).

Hierdie sin is sentraal. Mens sal wonder waarom dr Vermaak nie daar sal wees nie.

Na haar opleiding as veearts begin Hilda praktiseer in die praktyk van Kate Wilson. Kate is hardkoppig, het senuwees van staal, is ‘n “onpeilbare baas”, en professioneel.

Die strukturering van die roman is anders as in ‘n gewone roman. Hilda Vermaak is die hoofkarakter: sy vertel, wisselend van die eerste persoon tot die derde persoon. Vertelbeurte is in verskillende hoofstukke. Haar studies in Onderstepoort vertel sy in die “ek”-vorm, en haar werk as veearts vertel sy in die derde persoon (maar ook soms wisselend). Daar is ook dan ‘n tydsverskil. Die “ek”-vertellings is in die verlede, en die derdepersoonvertellings in die hede. Dus: haar studies tot veearts teenoor die praktyk. Dié tegniek illustreer ook die konflik in Hilda, veral teenoor die verlede. Sy is nie ‘n gelukkige student nie, maak vriende met net een persoon, Sarah (wat ná haar studies oorsee gaan praktiseer), ‘n goeie persoon, vrolik en slim. Later ontmoet Hilda vir Chris, en daar ontstaan byna ‘n verhouding tussen hulle; maar sy is te gekweld en onseker – oor alles.

Miskien som dít haar probleme op – alhoewel dit nie eintlik deeglik gemotiveer word nie: “Erflik belas, dis wat ek is. Gebore met ‘n behoefte om probleme op te los, om genesing te bring en dan asseblief eerder in diere as in mense. Die erwe van die vadere, tot in die derde en die vierde geslag” (14).

Haar studies bring ook nie geluk of bevrediging nie. Sy is ‘n gemiddelde student, en sy vertel meestal van die toetse, eksamens, en die uiteindelike finale proewe met operasies.

Dan is daar ook die gedurige spanning met haar ma, wat glo sy moet presteer in alles wat sy doen: “My oupa se roemryke verlede en my ma se verwagtinge loer soos spoke oor my skouer. Ek huiwer angstig voor elke onbekende deur” (27). Hier dan weer die verlede en die hede.

Daar is wel verligting deur haar liefde vir kuns. Sy het as kind kuns geleer, en hier in Onderstepoort woon sy ‘n kunsuitstalling by – natuurlik selfbewus oor haar hare en haar halssnoer, “my enigste toegif aan kreatiwiteit” (51). Maar sy beleef ‘n ander wêreld terwyl sy na die kuns kyk. Die liefde vir kuns word egter nie verder ontwikkel nie, behalwe later toe sy op Chris se versoek reageer om vir hom ‘n perd te teken; maar mens weet nie wat daarvan gekom het nie.

Oomblikke van tevredenheid is die wyse waarop sy een van die beste koeie van Frik Willemse verlos van ‘n kalf wat te groot is om gebore te word. Die proses word noukeurig beskryf, alhoewel toe sy ‘n keisersnee moet maak, is Frik ongelukkig, want Kate het nog nooit ‘n keiser gedoen nie. Hilda kry dit wel reg en Frik bedank haar hartlik.

‘n Verkeerde diagnose maak Kate woedend. Dit gaan oor ‘n hond met ‘n seer been, wat Hilda ondersoek, en nie veel verkeerd vind nie, Maar die volgende dag lê die hond gekoppel aan ‘n druplyn. Kate diagnoseer dat die hond deur ‘n slang gebyt is, en sy red die hond se lewe. Sy dwing Hilda om die eienaar onmiddellik te bel en verskoning te vra. Sy is te bevrees. Maar die eienaar sal haar by die Raad aankla as sy nie met hom praat nie.

Later kom daar ‘n botsing tussen haar en Kate: oor die kwessie van niebetalende kliënte. ‘n Voorbeeld is dié van ‘n vrou wat ‘n hond laat behandel, maar nie kan betaal nie. Hilda kom haar tegemoet en Kate is briesend, en dreig om Hilda in die pad te steek. Sy raak ook moedswillig – gee vir Hilda afskeepwerkies. Kate besluit om ‘n eie praktyk te begin.

Na die red van ‘n ander koei som sy haar lewe as veearts op: “Dis my lewe. Blood and guts and gore” (67).

Daar kom in haar lewe ‘n man, Martin, van wie sy hou, maar versigtig; en toe hy haar nooi vir ‘n verrassingspiekniek, vererg sy haar – en hulle vriendskap gaan tot niet.

Later sien sy weer vir Chris – by ‘n seminaar. Hulle eet saam, groet, en elkeen gaan sy gang. As gevolg van Hilda se weiering om meer met Chris te kommunikeer, op persoonlike vlak, onttrek sy haar van ‘n moontlike verhouding.

Sy kry ‘n geleentheid om ‘n praktyk te koop van ‘n sterwende dokter: dr Abel.

Van die eerste gevalle is daar een wat mens kan uitsonder as ‘n illustrasie van ‘n operasie. Sal die “gewone leser” eintlik hierin belangstel, of dit verstaan? Dis vanselfsprekend dat daar meer van haar werk noukeurig beskryf word, maar miskien net verstaanbaar vir iemand wat diere en ingewande ken.

‘n Groot Rotweiler is siek. Simptome: ‘n groot uitgesette buik en etter uit die vulva. Operasie. Die hond raak bewusteloos van die narkose. Die snit-area word geskeer en voorlopig ontsmet. Sy word na die teater geneem “op haar rug gedraai”, “sodat sy op haar rug in ‘n raamwerk lê”. Gasnarkose gekonnekteer, finale ontsmetting, afdek met steriele groen lappe, opskrop en dan kan Hilda begin. Sy maak ‘n groot snit. In groot honde kan sulke baarmoeders ‘n hele paar kilogram weeg en daar moet genoeg plek wees om dit maklik uit die buik te kry. As dit sou ruptuur, is die hele buik vol etter en die kanse op oorlewing heelwat minder. Dis toe sy met haar hand die milt effe opsy druk dat sy onraad vermoed. Sy kry die baarmoeder in die hande. Dit is, soos sy vermoed het, erg ontsteek en uitgeswel. Daarmee was sy wel reg. Maar waarom die vergrote milt? En waarom so knopperig? Sy lê die half-uitgestrekte baarmoederhoring op die groen operasiedoek en steek haar hand weer in die buik. Met ‘n plat handpalm voel sy oor die milt, dan verder oor die lewer. “Groot. Knopperig. Kankeragtig” (129).

Uiteindelik, nadat sy alles gedoen het wat sy kon, sterf die hond. Mens kan eintlik nie “vrek “sê nie, omdat die hele operasie soos dié op ‘n mens kan wees. Die hond sterf tog uiteindelik. Verkeerde diagnose. Dit gaan weer gebeur.

Dié geval lees soos ‘n visuele aanbieding vir ‘n veeartsklas. Daar is wel nie baie van hierdie soort gevalle wat beskryf word nie. Gelukkig nie. Ook nie te veel name van medisynes ens nie. Weer eens: wat van die onkunde van die leser wat niks van diereoperasies weet nie? Dis te verstane waarom die behandelings van diere ‘n hoofrol moet speel: dit hou verband met Hilda se bespiegeling aan die begin van haar studie, soos reeds aangehaal: “Gebore met ‘n behoefte om probleme op te los ... “eerder in diere as in mense”. En hier, in die dokter van diere, kry sy haar bevrediging. Ook selfs die mans wat in haar belangstel, verlang sy nie.

Dokter Abel sterf. Hilda en Roelien, haar assistent, was baie geheg aan hom. Nou praat hulle oor die dood van mense en diere. Hilda vergelyk die sterfte van die mens met die doodgaan van diere, en praat van selfdoding. Daar word nie eintlik iets sinvols gesê nie, maar die vergelyking van die dood van diere met dié van mense bevestig die feit dat haar voorkeur vir diere is; anders as Rolien.

Tot ‘n mate vra die roman dan: Hoe voel ‘n veearts oor die dood – van mens en dier?

Nog ‘n man verskyn op die toneel: Richard Wells, die buurman wat belangstel in die bouery by Hilda se woonstel. Hy is nuuskierig, maar soek miskien ook geselskap. ‘n Ander man, Hanno, probeer in haar lewe kom; maar sy stel ook nie in hom belang nie. Bly alleen en werk met die diere.

Vir ‘n oomblik moet mens teruggaan na en stilstaan by die studente in Onderstepoort. Dit is die “eindeksamen”, die einde van hulle opleiding. Nou ‘n regte operasie: “Die eerste maal dat ons self die lem deur die vel trek, die naald deurhaak en die nylon knoop.” Hilda slaag: “My eerste operasie was suksesvol en my hart is op pad by my keel uit. Hoera!” (186).

Daarna, letterlik in die volgende hoofstuk, doen Hilda ‘n operasie op ‘n teefhond. Hier kan sy nie “Hoera” sê nie. En nou sal die leser gedwing word om te lees: tegniese terme, medisyne en alles. Veral die verloop van die operasie. Dis die boeiendste gedeelte van die roman; en ook die mees kritieke, met die mees emosionele oomblikke in Hilda se werk. En miskien kom verlede en hede dan hier bymekaar?

Die meeste hoofstukke daarna is uit die derdepersoonperspektief vertel. Die drie waarin Hilda in die eerste persoon vertel, het eintlik te doen met hulle studentedae, dan veral die terugkyk na die verlede: “Een ding lei tot die volgende, maande en jare se keuses soos plaveistene neergelê, totdat mens eendag omkyk en sien daar lê ‘n pad agter jou” (213).

Dis egter nou die hede, die kritieke operasie: die teef is op hitte, en dis gevaarlik om dan te opereer. “In die praktyk kan dit ‘n nagmerrie wees” (187). Sy het dit al voorheen gedoen en die hond het dit elke keer oorleef. Toe sy sny, begin die hond bloei. Daar’s niks wat mens “kan afbind nie … Sy sny en dep, dep en sny …” (188). Die hond bloei, en sy kan dit nie stop nie; maar sy maak nietemin toe: “So far, so good” (189). Om op te som: die bloed hou nie op nie, dit borrel uit. Sy bind aanhoudend af. Dit begin beter lyk. Maar die wond trek los, en die hond vrek. Hier klink die woord “vrek” beter!

Sy verwag dat sy aangekla gaan word deur die Raad, maar sy gaan aan met die werk by die praktyk: nog operasies, inentings, bene regmaak. Maar wéér een maal verkeerd ingespuit: sy spuit “fenielbutasoon” binnespiers in ‘n perd se nek. Dis egter nie fataal nie.

Dan kom die brief van die Raad. Hulle sê sy is skuldig daaraan dat sy nie seker gemaak het dat ‘n wond ordentlik geheg is nie. Registrasie word opgeskort vir ses maande, opgeskort vir drie jaar, met voorwaardes.

“Waar is Sarah nou? Waar is Chris? Hulle sou verstaan. Of sou hulle?” (222).

Maar sy doen nog werk, red dierelewens. Dan kom Richard met sy hondjie: die diagnose is kanker, en hy kan nie gered word nie. “Sy staan met haar hande wydoop teen die operasietafel geleun, moedeloos. Grensloos moedeloos. Nie dít nie, sy kan dit nie nog ook dra nie” (245). Richard huil.

Aan die begin het mens gewonder waarom daar gesê is dokter Vermaak "sal jou nie nou kan help nie".

Aan die einde spuit sy haarself in. Daar “spoel … ‘n groot rus oor haar en sy weet, dít is hoe genade voel. Die laaste dood van vele sal ‘n genadedood wees. ‘n Goeie dood wat saggies byt” (253).

*

Daar is enkele aspekte van die roman wat onduidelik is. Soos die rol wat die verlede speel. Daar is geen motivering vir die wegvlug van die verlede nie. Die verdere verlede word baie vlugtig onthou: in die herinnering aan haar oupa se belangrike rol in veeartsenykunde. Dit sal weer voorkom in die leser se gedagtes – wat sy vantevore gedink het: “Erflik belas, dis wat ek is … Die erwe van die vadere, tot in die derde en vierde geslag” (4).

Dis goeie tegniek om verlede en hede te skei deur vertelling van die studies en opleiding in die verlede en dan die toepassing daarvan in die hede; en dit maak van die studentetyd sélf verlede, en dan eintlik onaangenaam. Die hede neem uiteindelik oor en die praktyk is dan meer bevredigend – tót die groot fout van die operasie op die teefhond.

Wat egter onverstaanbaar is, is dat die hede van die operasie en ander daarna drie keer onderbreek word deur vertellings oor hulle studentetyd in die verlede, mét van die karakters. Om die aakligheid van wat gebeur het te laat verdwyn: dat die verlede eintlik verlossend is? In een van die eerstepersoonvertellings naby die einde sê Hilda: “Ons maak ons stadig los van studente wees …” (229). En dan is die ironie natuurlik dat Hilda deur te sterwe óók verlede word.

Dis ‘n goeie roman, boeiend om die onderliggende tema: Is die genesing en versorging van diere belangriker as dié van mense? Maar dit moet die veearts haar/hom self afvra. En al sal ‘n veearts meer begryp van wat hier vertel word, en die leser soms nie alles kan volg nie, is dit tog nog ‘n goedgestruktureerde roman, met ‘n mooi vertelstyl.

En miskien selfs leersaam?

  • 3

Kommentaar

  • Ek het die boek gefassineerd in een ruk klaar gelees en toe daarmee in my hand gesit. Waar was die finale motivering? Dit het vir my gevoel asof die skryfster die hoofkarakter gemanipuleer het om tot die skokkende einde te kom (wat in die eerste gedeelte voorspel word) en nie regtig geweet het hoekom nie.

  • Dit was 'n wonderlike ondervinding om die boek te lees, die einde was bietjie skokkend, maar tog het dit (die slot) nie heeltemal bevredig nie- die opbou en motivering vir die karakter om selmoord te pleeg, was miskien nie oortuigend genoeg nie, maar nietemin, geoordeel in die geheel, 'n pragtige toevoeging tot ons ryk Afrikaanse literatuurskat.

  • Ek is self ‘n veearts en die boek raak ‘n snaar wat baie seermaak. Ek het self kollegas verloor aan selfdood, het al by moeilike base gewerk en staan nou as werkgewer in die posisie van gesag wat baie uitdagings het. Hierdie boek beklemtoon die wipplank van emosies wat ‘n veearts elke dag ondervind. Ons het nie die ondersteuning van die groot mediese professie en hospitale nie. Jy staan op jou eie en is jou eie grootste kritikus. Dan staan die publiek aan die ander kant van die konsultasie tafel met beskuldigings, emosionele afpersings en eise. Dis ‘n wonderlike en aaklike professie terselfdertyd.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top