Boekresensie: By die nag se wit kant in deur Etienne Terblanche

  • 1

By die nag se wit kant in
Etienne Terblanche
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485306016

Vir my as letterkundedosent en bibliofiel is nuwe stemme wat hulle toetrede tot spesifiek die Afrikaanse letterkunde maak, altyd verblydend. Ek voel soos ’n kind wat met ’n nuwe speelding verras word. Menige boekliefhebber sal met hierdie gevoel kan identifiseer. Dit is ’n proses van pure opwinding en neem jou op ’n ontdekkingsreis waartydens jy aan nuwe woorde, beelde en konsepte blootgestel word. Die groot vrae wat beantwoord moet word, is dus: Wat maak hierdie bundel anders en/of uniek vergeleke met die gedigte van ander digters? Is die bundel in sy geheel sowel as die gedigte enigsins vernuwend? Is hierdie bundel die volgende Tristia of Komas uit ’n bamboesstok?

Die voordeel waaroor ’n debutant beskik, is die feit dat daar nie ’n vorige eie bundel bestaan waarmee sy of haar gedigte (en bundel in sy geheel) vergelyk kan word nie. Die groot druk waaronder digters en skrywers verkeer voor die publikasie van hul tweede roman of digbundel is soms angswekkend, aangesien resensente graag die tweede bundel met die debuutwerk vergelyk en die teks daarvolgens takseer. Dit kan dus vanuit ’n letterkundige perspektief die digter of skrywer se figuurlike doodskoot wees indien die literêre werk nie vernuwing en of enige vooruitgang op die debuutwerk toon nie.

Etienne Terblanche is professor in Engelse letterkunde en is gevolglik wyd belese vanuit ’n letterkundige perspektief. Hy beskik verder oor ’n ruim verwysingsraamwerk wat interdissiplinêr strek. Beide Joan Hambidge en Marlies Taljard het reeds hierna in hul onderskeie resensies van die bundel verwys. In ’n onderhoud wat René Bohnen met Terblanche gevoer het en wat op Versindaba verskyn het, verskaf Terblanche hoogdrawende akademiese antwoorde wat enige “gewone” (dus nie-akademiese) poësieliefhebber halfpad deur die onderhoud moedeloos kan laat. Vanuit ’n letterkundige perspektief het Terblanche met hierdie onderhoud sekere hoë verwagtinge geskep wat literatore ure se genot kon verskaf. Helaas het dit toe nie gebeur nie.

Op die voorblad van By die nag se wit kant in verskyn ’n gedeeltelike beeld van ’n uiloogmot. (Ek moet bieg dat ek dit nie sou geweet het indien ek dit nie in Bohnen se onderhoud gelees het nie.) Dit lyk meer na ’n swak-gerekenariseerde beeld van iets uit die buitenste ruimte. Was daar regtig geen ander foto van ’n uiloogmot wat die uitgewer kon gebruik nie? Maar soos die ou spreekwoord lui: Moenie iemand op sy (of haar) baadjie takseer nie – dus ook nie die bundel nie.

Ten spyte van die teleurstellende voorblad is die titel ’n geslaagde en besonders poëtiese beeld. Dit is geneem uit die gedig “Die digter sing vir sy beminde”:

Jou soet klein naeltjie en bultborsies nooi my.
Ons vlieg nou oor die grasperk met die vars snyreuk
en sien dit is nog groenerig onder die blou nag.

Ons vlieg deur die land van melk en heuning
en heuning en room in flesse op die spens se rak
en my lied word solied en dis heuningroom.

Deur ’n golf, ’n gang, deur die maan
se ronde deur gaan ons verder en verder
by die nag se wit kant in. [...]

Die “nag se wit kant” is ’n verwysing na die maan waardeur die spreker en sy geliefde toegang tot ’n alternatiewe “wêreld” verkry. (Die beeld van die spreker se geliefde se “klein naeltjie en bultborsies” klink na ’n tipiese beskrywing uit ’n Brink-roman.) Die maan-as-beeld word in talle gedigte, soos “Mumbadevi”, “Die eiland” en “Oranje maan”, gebruik. Kosmiese elemente staan sentraal in die bundel in sy geheel tesame met verwysings na die liefde, lewe en dood, asook die natuur, wat van die belangrikste temas in die bundel is.

Die bundel bestaan uit vier afdelings. Opvallend van die tweede afdeling (die langste afdeling in die bundel) is die voorkoms van temas rondom oorlog en geweld. Die gedig “Skreeu” sinspeel op die Noorse kunstenaar Edvard Münch se bekende tekening (waarvan daar vier verskillende weergawes bestaan) waarin die spreker uiting gee aan die gewelddadige wêreld waarin ons leef:

[…]

O duister Kronos, jou onmeetbare lawwe mond.
O rex tremende. O Saturnus op ’n Saterdag. O
“sad sad sadderday afternoon.”
In kring op kring versteen die skreeu.

Terblanche se taalgebruik in sommige gedigte sien vreemd daar uit. Die irriterende (en argaïese) herhaling van “O” wat veral in die vroeë 20ste eeu onder Afrikaanse digters gewild was, word gereeld gebruik. Die verwysing na ’n pakkie sigarette as “kankerstokkiepak” in “Anekdote van die wurm” is ’n cliché wat liefs vermy moet word. Ook die gebruik van die woord “mos” as bywoord in “In die begin” is lomp en doen afbreuk aan wat andersins ’n beeldryke gedig is.

In sekere gedigte tree Terblanche met digters vanuit die Afrikaanse literêre kanon in gesprek. In “Belydenis van ’n organiese chemikus by ’n geleentheid een aand” sluit Terblanche tematies en vormgewys aan by Opperman se “Hooggeëerdes” in Komas uit ’n bamboesstok (1979). Alhoewel die gedig humoristies is, kon dit net sowel ’n kort-kortverhaal gewees het. Terblanche kon baie meer ekonomies met woorde omgegaan het. Die meerderheid gedigte benodig ’n genadelose redakteurshand. “Less is more,” lui die Engelse gesegde. Alhoewel poësie in die algemeen ruimte laat vir praatverse, is die gedigte té vertelagtig van styl en het ek die indruk gekry dat die digter sy gedigte aan die leser wil verduidelik of uiteensit. Die meerderheid van die gedigte is uitermatig akademies en hoogdrawend van aard (beide tematies en in terme van die taalgebruik in sekere gevalle). Die gewone poësieleser sal nie by die gedigte aanklank vind nie tensy hy/sy bereid is om ’n indringende studie van elke gedig te maak. Die bundel in sy geheel kom voor asof dit uitsluitlik vir die “literêre” gehoor geskryf is en kan dus verkeerdelik as elitisties voorkom.

Die titels van sommige gedigte sluit ook nie op geslaagde wyse by die inhoud van die gedigte aan nie. “Lutoslawski-vingerwoordverfoefeninge” dien as voorbeeld. Die naam van die Poolse komponis in die titel is onduidelik, aangesien daar nie ’n ooglopende verwysingspunt tussen die tema(s)/inhoud en die titel is nie. Die gedig is in vier afdelings verdeel (verwys dit moontlik na Lutoslawski se vier simfonieë?) en die funksie/doel hiervan is onduidelik. Die gedig beeld wel die amper bombastiese en dramatiese elemente van Lutoslawski se simfonieë uit. Hier kon die digter iets interessants vermag het. Weer eens word die herhaling van die “O”-uitroep oorbenut.

Daar bestaan by my geen twyfel dat Terblanche oor die vermoë beskik om gedigte te skryf nie. As akademikus en wydbelese individu beskik dié digter oor ’n wye verwysingsraamwerk en liefde vir die kreatiewe skryfkuns. Hy slaag wel daarin om enkele geslaagde beelde te skep, soos in die gedig “Gloed”: “In my vingers vonkel ’n miljoen beginne.” […] Sy debuutbundel het egter net té veel gebreke. Die rol van die keurder en uitgewer is om te verseker dat die eindproduk die digter se individuele stem behou, maar ook om swakhede uit te wys wat afbreuk aan andersins beeldryke poësie doen. By die nag se wit kant in is voortydig uitgegee en ’n strenger redigeerhand moes die fynere aspekte van die bundel uitgestryk het om sodoende meer klem op die geslaagde beelde en verse in die bundel te lê.

  • 1

Kommentaar

  • Hoe lyk dit of die resensent nie eerlik kon wees oor hoeveel hy van die gedigte hou nie omdat hy die groot kritici na-praat, i e dié wat gesê het dat die groot gewag geen gedigte gebaar het nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top