Boekbespreking: My reis met Ingrid Winterbach en Vlakwater

  • 0

Foto van Ingrid Winterbach: Imke van Heerden

Lees ook: LitNet Akademies-resensie-essay van Vlakwater deur Ingrid Winterbach

En watter holderstebolder-reis was dit nie! Verrykend, inspirerend, maar ook een wat plat skoene en baie stamina vereis het. Ingrid Winterbach neem jou as leser in haar jongste roman, Vlakwater, op reis deur tyd, ingrypende wêreldgebeure, religie, Westerse sowel as Oosterse filosofie, kunsbewegings, kunswerke, letterkunde, films en musiek na ongewone plekke en bestemmings. Teen hierdie agtergrond nooi sy haar lesers om saam met die karakters in haar boek opnuut en sonder voorbehoud menslike eksistensie[1] te herdefinieer in 'n poging om eie bestaansin te vind in 'n toenemend vervreemdende wêreld. Nietzsche het gesê dat groot literatuur met bloed en spiritualiteit geskryf word. En, voeg hy by, jy sal gou agterkom dat so 'n werk moeilik interpreteerbaar is, want dit is nie maklik om die bloed van 'n ander te verstaan nie (Thus spoke Zarathustra).

Verwysings na toonaangewende meningsvormers uit verskillende kennisvelde inkorporeer verskillende uitgangspunte en denke. Stellings of argumente van verskeie kunstenaars, filosowe, letterkundiges, ens sluit aan by karakters en gebeure met samelopende gevolge. Dit is juis in hierdie sin dat die groot aantal verwysings wat in die teks filter, so 'n belangrike rol speel en vistas op eietydse werklikhede open.[2] Die denke van Foucault (1926–1984) dien as filosofiese basis, maar hierby voeg die skrywer ook die eksistensiële ondersoeke van beide Nietzsche (1844–1900) en Sartre (1905–1980). Beide hierdie filosowe se uitsprake word aangevul met dié van Noam Chomsky in meer moderne tye. Wat religie aanbetref, inkorporeer Winterbach om verskeie redes Dante se geskrifte, die lewe en werk van die heilige Augustinus, sowel as uitsprake van Martin Luther en andere. Eksistensie lê op die psigiese vlak van die mens en sonder 'n evaluering van Freud se psigoanalise, sowel as sy droom- en kunsteorie, sal die bespreking onvolledig wees. Westerse denke, politieke ideologieë en gepaardgaande reële werklikheid word gekontrasteer met Oosterse taoïsme, hedonisme, boeddhisme en zenboeddhisme, feitlik alles inligting wat deur middel van intertekstuele bronne 'n nuwe dimensie en betekenisvlak byvoeg.

Dit spreek vanself dat dit onmoontlik is om binne een bespreking aan al hierdie aspekte aandag te gee en daarom word slegs op dié gefokus wat na my mening onontbeerlik is vir die interpretasie van die roman. Dit wil vir geen oomblik suggereer dat ander aspekte wat nagelaat of slegs kortliks na verwys word, minder belangrik is nie. Winterbach wil juis op ‘n breë vlak kommunikeer.

In aansluiting hierby speel die roman van Italo Calvino, Invisible cities (wat die karakter Niek by 'n strandkafee koop) ‘n baie belangrike rol in Vlakwater. Genoemde roman hanteer 'n gesprek tussen die wêreldreisiger Marco Polo en die bejaarde keiser Kublai Khan. Die gesprek word aanhoudend onderbreek[3] omdat handelaars wat die buiteposte van sy uitgebreide ryk besoek, aan die keiser kom verslag doen. Polo en die keiser praat nie dieselfde taal nie. Wanneer Polo omstandighede in die verskillende gebiede van die koninkryk aan die keiser verduidelik, gebruik hy voorwerpe uit die onderskeie stede om sy storie te vertel. Kommunikasie geskied deurdat Khan sy eie interpretasie koppel aan die objekte wat voor hom uitgestal word. Deur die verwysing na hierdie roman van Calvino impliseer Winterbach dus dat die werklikheid op verskillende maniere uitgedruk kan word. Die onus rus op die leser, aanskouer of hoorder om al die tekens wat voor hom geplaas is, hetsy woorde, skilderye, boeke, fotografie, films of musiek, vir interpretasie te gebruik.

Die skrywer maak gebruik van beide Nietzsche (1967) en Foucault (2000) se benaderings wanneer eksistensiële vraagstukke in 'n gemeenskap of kultuur ondersoek word. Beide het beklemtoon dat die beste uitkomste haalbaar is alleen wanneer konsepte uit verskillende perspektiewe in verskillende sfere en velde, altyd in assosiasie met fundamentele ervarings en/of voorbeelde ondersoek word. Nietzsche het gebruik gemaak van aforismes[4] in plaas van uitgewerkte logiese argumente wanneer hy kulturele kwessies uit ‘n verskeidenheid invalshoeke bestudeer het. Winterbach volg ook Foucault se raad wanneer hy beklemtoon dat huidige politieke ideologieë, sowel as die mensdom se gevangenskap daarbinne, alleen in terme van die verlede verstaan kan word. Voortspruitend uit hierdie uitgangspunt fokus die skrywer nie net op een periode in die wêreld- of kunsgeskiedenis nie, maar toon sy aan hoe kuns en individuele kunstenaars oor tyd, hul werke, temas en mediums uitgebrei en/of verander het. Wêreldgebeure en die gevolge daarvan word veral intertekstueel ondersoek en verskillende kante teen mekaar opgestel. In hierdie sin speel polariteite ‘n belangrike rol regdeur die roman.

Anders as in Westerse denke, is duidelike teenoorgesteldes volgens Oosterse tradisies nooit in konflik met mekaar nie, maar eerder 'n gebalanseerde polariteit waarvan die een kant altyd afhanklik is van die ander vir sy bestaan. Sonder dood kan daar geen lewe wees nie, sonder goed geen kwaad nie, sonder skoonheid kan iets nie lelik wees nie, sonder geestelik versteurdes kan daar nie normale mense wees nie.[5] (Vgl Brink 1967:30.) Die hele idee dat teenoorgestelde pole interafhanklik is, sluit aan by die aanname dat oorwinning oor die “groot niet” uiteindelik behaal sal word deur 'n vereniging daarmee. Die onverbiddelike, natuurlike ritme van lewe en dood is onafwendbaar.

Die liggaam van Christus in die graf, deur Hans Holbein (1497 - 1543) (Bron: Wikipedia, the free encyclopedia. https://en.m.wikipedia.org/wiki/)

In aansluiting by hierdie gedagte verwys Winterbach na die werk van Holbein. In hierdie skildery stal die kunstenaar die liggaam van Christus uit op dieselfde wyse as 'n patoloog wat 'n liggaam sou voorberei vir identifikasie. (Sien ook die openingstoneel van Vlakwater.) Hierdie skildery, presies die afmetings van 'n kis, is 'n individuele meditasie van die kunstenaar self oor lewe en dood. Dit is 'n proses wat nie gestuit kan word nie, maar, in aansluiting by die natuurlike aardse ritme, deur sy eie momentum voortgestu word. Anselmo sê in die roman dat om aan tyd onderworpe te wees, beteken om aan voortdurende transformasie onderworpe te wees. As die proses dus opgeskort word, hou die betrokke wese op om te bestaan. Al is die karakter met die haaslip nie pertinent bewus van hierdie feit nie, word iets daarvan tog geïmpliseer in die feit dat sy met groot persoonlike moeite die sywurms wat ongevraagd haar verantwoordelikheid geword het, aan die lewe probeer hou. Hierdie tema sluit in belangrike opsigte aan by die motief van tyd, transformasie en transendensie binne die roman. Omdat hierdie aspekte nie die hooffokus van hierdie bespreking is nie, word dit daar gelaat.

Foucault (2000) sê dat eksistensialisme allereers teen die realiteit as agtergrond waarin mense daagliks leef, getoets moet word. In Vlakwater se getekende werklikheid dryf die individu saam met die stroom van sy tyd; alles is vanselfsprekend. Goed en kwaad, reg en verkeerd, mooi en lelik het 'n volkome homogene mengsel geword. Winterbach toon juis aan dat hierdie Suid-Afrikaanse realiteit waarmee die karakters in haar boek daagliks gekonfronteer word, nie gaan verdwyn net omdat mense (dikwels die materieel ryker en/of bevoorregte klas) kies om dit te ignoreer nie.

Trauma as gevolg van ondefinieerbare angs en vrese[6] het vernietigende uitwerkings op mense wat nie hierdie aspekte in hul daaglikse lewe verifieer nie omdat hulle al so gewoond geword het aan die omstandighede waaronder hulle leef. Dat hierdie ongenaakbare wêreld, waarin boosheid en uitbuiting hoogty vier, so oud is soos die mensdom self, word gestaaf deur die feit dat karaktereienskappe van individue uit die geskiedenis in die karakters van die roman eggo. So byvoorbeeld voer Victor Schoeman altyd iets in die mou en besit hy volgens Marthinus 'n oormaat ongekanaliseerde vindingrykheid en venyn. “Hy is 'n rustelose schemer, hy teer op intrige, is paranoid, 'n manipuleerder en maneuvreerder, agterbaks en gewetenloos, vol destruktiewe energie.” Chris Kestell het geknak onder die gewig van kulturele verpligtinge en bagasie. Charelle aanvaar dat sy nie verdien om haar passie na te jaag nie, terwyl Isabel totaal die kluts kwytgeraak het. Ander weer buit die situasie tot hul eie voordeel uit en geniet die persoonlike materiële gewin wat 'n verbruikerskultuur bied. Die suggestie word gelaat dat Buks Verhoef en sy bende kunswerke van groot meesters vervals en Niek se huis as 'n uitstallokaal vir voornemende kliënte wil gebruik.

Aan die hand van belangrike filosowe ondersoek die skrywer in Vlakwater verskillende redes vir die individu se bestaanskrisis. Sartre se eksistensiële denke sluit ten nouste by die filosofiese uitgangspunte van die roman aan. Hy koppel die redes wat hy aanbied met sy bekende mensbeeld. In hierdie konstruk staan menslike vryheid voorop en hy definieer die konsep as outonome selfverkiesing, selfbeskikking en uiteindelik selfskepping sonder enige inmenging of beïnvloeding van buite. Hieronder ressorteer ook die verwerping van alle religieuse, morele of kulturele waardes, dogma of ideologieë, omdat dit outonome soewereine wilsbesluite aan bande lê. Die individu moet voortdurend daarteen waak dat hy nie in die magsdomein van die ander ingetrek word nie. Hierdie argument lei daartoe dat die mens in 'n voortdurende stryd met sy medemens vasgevang is. Omdat “die ander” die mens se grootste vyand is, kan geen sinvolle verhoudings aangeknoop word nie en dit lei tot vereensaming, geïsoleerdheid en vervreemding. Ingevolge Sartre se ekstreme individualistiese vryheidsdogma is die mens aan homself oorgelaat en kan hy alleen van homself enige heil verwag (Zuidema, gd:282–3). Deurdat dieselfde kwessie uit verskillende perspektiewe ondersoek moet word, beklemtoon Winterbach deur middel van die sonderlinge en aangrypende vriendskap tussen die kunstenaar Avigdor Arikha en skrywer Samuel Beckett. Arikha het selfs 'n skildery, Sam’s spoon, geskilder om Beckett se sterfdag in herinnering te roep. Die lepeltjie is deur Beckett aan Arikha se oudste dogter gegee op haar geboortedag. As teenvoeter teen die moderne wêreld waarin hulle geleef het, lees die twee uit Frederick Hölderlin, 'n 18de-eeuse Duitse liriese digter uit die romantiese era, se werk. Hierdie digter was ook 'n belangrike denker in die ontwikkeling van Duitse idealisme.

Voortvloeiend uit Sartre se mensbeeld moet die individu homself konstrueer in 'n voortdurende vernuwingsproses. In die lig hiervan impliseer stilstand agteruitgang, verval, dekadensie en verraad teenoor eie vryheid (Zuidema, gd:281). Geen verposing is dus toelaatbaar nie. Individue is aanhoudend aan die hardloop, vreesbevange, angstig, agterdogtig en wantrouig, altyd op die uitkyk vir ‘n moontlike agtervolger of aanval uit ‘n onverwagte oord. Beide Niek en die haaslipkarakter loer voortdurend oor hul skouers, of kry koue rillings langs die ruggraat af wanneer hulle by 'n kafee ingaan, of doodgewoon straataf stap.

Vrye wilsuitoefening en besluitneming lei daartoe dat die individu verantwoordelikheid vir sy besluite moet aanvaar. Hierdie argument impliseer dat die mens, as medeskepper van die wêreld waarin hy leef, kollektief aanspreeklik is vir wêreldgebeure in die verlede, hede en toekoms. Hiervan is en bly oorloë die belangrikste rede vir ingrypende veranderings. Esegiël sien die vuurwa van God toe die Israeliete in ballingskap weggevoer was. Tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë vind massavernietiging op ‘n ongekende skaal plaas. Twee karakters op die titelblad, een uit die Ooste en die ander uit die Weste, en geklee in oorlogmonderings verbind die geskiedenis met die hede.

Magsverhoudings, sentraal in Vlakwater, word altyd gemeet teen spesifieke werklikhede as deel van die wêreldgeskiedenis. Hier lewer die intertekstuele bronne in die teks 'n waardevolle bydrae. Deur middel van verskeie periodes in die mensdom se geskiedenis waarin veral die ontwikkeling en uiteindelike uitbuiting van mag en magsvergrype hoogty vier, toon die skrywer die verband aan tussen kontemporêre gebeure, sowel as die invloed daarvan op die alledaagse lewensomstandighede van individue in 'n nimmereindigende soeke na ware betekenisvolle eksistensie. Dat ware kuns geanker is in die werklikheid word beklemtoon deur die feit dat Jan Botha, die enigste student in die kunsskool wat enige talent en potensiaal toon, se kunswerke hulle skerp kant verloor wanneer hy homself vir 'n periode onttrek van die lykshuis waar hy gewerk het. Met sy terugkeer lewer hy weer werke van artistieke waarde. Ook die kunswerke van Liesa Appelgryn ondersteun hierdie argument. Niek verklaar onomwonde dat Westerse kuns hom koud laat. Hy gaan selfs so ver om vir homself 'n boek te koop wat riglyne verskaf vir die interpretasie van Oosterse kunswerke. Die ironie is dat hy nie kan ontsnap van die realiteit waarin hy lewe nie. Al neig sy hele psige na die rustigheid en vrede wat in die Oosterse filosofie opgesluit lê, spel sy kunswerke net meer en meer vervreemding, eensaamheid en gevangenskap in 'n wêreld waarvan hy die medeskepper was.

Nadat Nietzsche, Sartre en Foucault verskeie faktore ondersoek het as moontlike oorsake vir die mens se bestaanskrisis, bly magsverhoudings vir al drie primêr. Foucault (2000:326 ev) sonder veral drie tipes magsverhoudings uit. Eerstens verwys hy na die etiese, sosiale of godsdienstige oorheersing van een groepering of volk oor 'n ander. Hierdie magsverhouding spruit uit kondisionering en die slagoffers is nie eens altyd bewus daarvan dat hul vrye wilsuitoefening op hierdie manier aan bande gelê word nie. Dit is juis die norme en dogma oor wat aanvaarbare gedrag, korrekte optrede, liefde teenoor almal en/of ander Bybelse verordeninge definieer wat Nietzsche diep ontstel het. Sartre se leerstelling sluit ten diepste hierby aan, omdat die mens nie tot eie soewereine besluitneming en dus selfskepping in staat is indien hy van kleins af deur iets of iemand beheer en/of beïnvloed word nie. Gemeenskapsbeheerde instansies (of persone) dwing hul denkwyses skaamteloos aan ander op. Onder hierdie omstandighede word kinders handpoppe wat nie tot onafhanklike of kreatiewe denke in staat is nie. Boonop het hierdie ideologieë of dogmas die vermoë om skuldgevoelens te kweek en die arme individu net nog verder met emosionele bagasie te belas. 'n Goeie voorbeeld in die roman is die uitwerking wat Afrikaner-ideologieë en -waardesisteme op die arme Chris Kestell gehad het. Dit is nie eens duidelik of hy selfdood of die hasepad gekies het nie.

Die tweede magstryd waarop Foucault fokus, draai hoofsaaklik rondom ekonomiese, dogmatiese of ideologiese kwessies. Hy argumenteer (2000:334) dat die moderne staat nie gesien moet word as 'n entiteit wat bo individue ontwikkel is nie, maar eerder as 'n uiters gesofistikeerde struktuur waarin individue slegs op een voorwaarde geïntegreer word, naamlik dat 'n eie identiteit gevorm, maar ook terselfdertyd ondergeskik gestel word aan die hand van 'n spesifieke stel reëls.

Ter illustrasie van die magstryd tussen staat en individu wat Foucault (2000) uitgelig het, kies die skrywer die lotgevalle van die Joodse volk van oudsher af om aan te dui tot watter droewige hoogtepunte magsvergrype gevoer kan word. Sy begin met die Joodse volk se ontstaansgeskiedenis soos opgeteken in die Ou Testament (Esegiël) en verwys vervolgens na die Spaanse[7] (1478) en Portugese Inkwisisies (1497). Veral laasgenoemde het as gevolg van ander se hebsug gelei tot onregmatige ontworteling, verbanning, materiële en selfs lewensverlies vir baie Jode. Hierdie inkwisisies word in die teks geïnkorporeer deur twee skilderye van El Greco waarna die skrywer verwys.

 Uitsig op Toledo, deur El Greco (1541–1614) HO Havemeyer versameling. (Bron: www.metmuseum.org/art/collection/search/436575)

Portret van die kardinaal, Fernando Niño de Guervara (1541-1609) deur El Greco (Bron: Die Metropolitan museum, New York. www.metmuseum.org/art/collection/search/436573)

Die skildery links word in die kunsgeskiedenis aangeteken as die eerste Spaanse landskapskildery. Die tweede is ‘n portretstudie van kardinaal Guevera, die inkwisiteur-generaal van die Spaanse Inkwisisie en 'n vooraanstaande kerklike van Toledo.

Gedurende die 20ste eeu speel die gevolge van nazisme, fascisme en marxisme 'n belangrike rol om die totale vernietiging van 'n volk uit te spel terwyl die res van die wêreld toekyk. Interessant genoeg het Duitsers die sienings van Nietzsche se Übermensch [8] (ongeregverdig) en Martin Luther[9] (geregverdig) rakende die Jode gebruik om hul magsvergrype en wandade te regverdig. Aansluitend by laasgenoemde is dit interessant om 'n stukkie dialoog uit die film Of gods and men (Xavier Beauvois) aan te haal: “Men never do evil so completely and cheerfully as when they do it from religious conviction.”

Benewens lewensverlies is individue ook op psigiese vlak geteiken. So byvoorbeeld is kunswerke van hoofsaaklik Joodse kunstenaars voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog as “ongewens” (sogenaamde gedegenereerde kuns) vir die skepping van die opkomende “superras” verklaar. Op grond hiervan is die betrokkenes se skilderye vernietig en het baie ook hul werk verloor. So byvoorbeeld was onder andere Arnold Schoenberg, Anton Webern en Alban Berg verplig om uit Duitsland te vlug.

Ander vorme van hierdie blatante magsmisbruik word by die roman betrek deur middel van Noam Chomsky. Hy fokus veral op die vryemarkstelsel en die opvoedingsisteem van kinders. Wat hom warm onder die kraag maak, is die magsvergrype en gepaardgaande opskorting van die mens se eie onafhanklike besluitnemingsproses deur hoofde van korporatiewe instellings en ander instansies in 'n sogenaamde oop en vry samelewing. As voorbeeld gebruik hy die ikoon van Westerse denke, Amerika, en voer aan dat hierdie sogenaamde toppunt van demokratiese, vrye denke deur niks minder nie as materiële welvaart beheer en bestuur word. Alles gaan aan die hoogste bieër, ook die lewens en vryheid van die individu wat vasgevang is in 'n eindelose kringloop van behoeftes en begeertes. Hierdie sisteem dra volgens Chomsky diep binne-in homself die saad van die mens se eie ondergang omdat hy gedwing word om op 'n sekere manier te dink en op te tree. Dit maak van die mens niks anders nie as 'n robot/handpop/marionet wat verplig is om gehoor te gee aan die bevele van ander. Op hierdie manier word die mens ontneem van vrye soewereine besluitneming en gevolglik word geen kreatiewe denke aangemoedig nie. Trouens, hoe meer van 'n tropdier, hoe meer aanvaarbaar. (Vgl in hierdie verband die werk van die Olivier-broers.)

Net soos by die afdwinging van ideologieë loods verbruikerskapitalisme ‘n aanval op die psige van die mens. In hierdie omgewing impliseer dit dat 'n individu as gevolg van materiële omstandighede buite sy beheer gedwing word om afstand te doen van die produk wat hy geskep het. Hy word ondergeskik gestel aan die mag van 'n ander met geen besluitnemingsbevoegdheid van sy eie nie. Winterbach ondersoek hierdie tipe magsverhouding teen die blatante materiële uitbuiting van kunstenaars, maar vestig ook die aandag op die feit dat kunstenaars, gewoonlik dié wat nie juis oor besondere artistieke vermoëns beskik nie, die stelsel tot hul eie voordeel uitbuit. In hierdie tipe verhouding bepaal markkragte, en nie die intrinsieke kwaliteit daarvan nie, die waarde van kunswerke. Ook intertekstueel verwys dit na baie kunstenaars wat markkragte uitgebuit het vir eie persoonlike gewin, soos onder andere Jeff Koons en ander se kunsfabrieke.

In die laaste magsverhouding verwys Foucault na die situasie waar een individu op onnatuurlike wyse vasgeknoop word aan 'n ander en op grond van die een of ander subjektiewe rede aan sy mag onderwerp word. Dus, 'n stryd teen onderdanigheid (mans teenoor vroue, ouers teenoor kinders). In aansluiting hierby ondersoek Winterbach die posisie van vroue en neem Nietzsche se insigte as vertrekpunt. Sy standpunt ten opsigte van vroue is ambivalent en hy is dikwels as 'n misoginis[10] uitgekryt. Enersyds skep Nietzsche 'n uiters negatiewe beeld van vroue, maar balanseer dit deur ander aforismes waarin hy verduidelik dat vroue self hiervoor te blameer is omdat hulle hulle tradisionele rol binne kultuurverband versaak het deur toenemend die posisie en rol van die man in die samelewing vir hulself toe te eien. Deur hierdie houding het die vrou nie alleen haar intuïtiewe beheer en manipulerende vermoë oor die man verloor nie, maar ook haar posisie en gepaardgaande respek binne die samelewing. Winterbach gebruik die Ou-Testamentiese Tamar (Gen 38) om Nietzsche se standpunt te ondersteun dat ‘n vrou voortspruitend uit haar tradisionele rol 'n intuïtiewe mag oor mans het en daarmee haar sin met byna enigiets kan kry as sy dit reg gebruik.

Met hierdie ondersoek gaan die skrywer ook die ontwikkeling van feminisme en die posisie van vroue op die terrein van die kunste na. Sy verwys na verskeie kunstenaars, onder andere Nancy Spero (1926–2009). Politieke geweld, seksisme en lewensbedreigende situasies wat vroue moes verduur, was van die temas wat sy hanteer het.

vlakwaterboekbespreking4

 'n Sel-installasie, Glassfere en hande deur Louise Bourgeois (1911-2010) (Bron: www.domusweb.it)

Figuur 5: 'n "Rooi kamer"-installasie deur Louise Bourgeois (1911-2010) (Bron: www.hausderkunste/en/exhibitions/detail/loise-bourgeois-structures-of-exsistensialism)

Die “Red room”- en “Cell”-installasies waarna daar in Vlakwater verwys word, is geskep deur Louise Bourgeois (1911–2010). Haar werk is geïnspireer deur die traumatiese psigologiese gebeure uit haar kinderjare en haar vader se ontrouheid. Haar werk het meegehelp dat kritiese dialoog, wat ook psigoanalise en feminisme ingesluit het, ontwikkel het. Hierdie teorieë het algemeen geword in die artistieke taal van kontemporêre kuns. Sy self het tydens 'n onderhoud gesê dat die “selle” verskillende vorme van pyn uitbeeld: fisieke, emosionele, psigiese, geestelike en intellektuele pyn.

 Om te bepaal wat van vroue in die moderne era word of geword het, kan daar maar net na die vroulike karakters in Vlakwater gekyk word. Sommiges beur, net soos hul manlike eweknieë, onverskrokke voort, terwyl ander die merke dra van 'n “bevryde” vrou. Isabel sit heeldag en huil. Mignon probeer haar eie menswees ontdek, maar is eintlik niks meer as 'n trofee vir haar man, wat ‘n besigheidsman is, nie. Karlien kan maar net nie haar nis vind nie, en die eens bedremmelde muisvaal student, Liesa Appelgryn, ontpop in 'n blondine met bypassende, volronde kurwes en 'n indrukwekkende buustelyn, maar so vlak soos 'n piering. Uit haar kunswerke is dit duidelik dat “sy 'n uiters geteisterde gees met haar saamdra”. Selfs Marlena Mendelsohn, eens 'n baken van toewyding in spartaanse eenvoud, verruil haar siel vir die spreekwoordelike pot lensiesop. Vergelyk ou blink Daantjie (Niek Toerien), wat tydens Liesa se besoek aan die kunsskool 'n belaglike verwelkomingstoespraak hou met verregaande verwysings. Charelle, bereid om teen elke prys haar passie na te jaag, word wreed ontnugter wanneer sy besef dat sy nie aan geweld teen vroue en haar ondergeskikte posisie as vrou in die samelewing kan ontkom nie. Markus Olivier, seker een van die veragtelikste karakters in die storie, sien en behandel vroue met minagting. Vir hom is hulle verbruiksartikels wat geen respek waardig is nie. Hy huiwer ook nie om buitensporige geweld teen vroue te gebruik as hy nie sy sin kan kry nie. Tog betaal ook hy 'n prys. Hy verloor huis en haard, het geen kontak met sy seuns nie, behalwe deur middel van onpersoonlike katalogi oor hul werk. Nou sit hy weerloos, oud en bles met 'n kniekombersie langs 'n visdam. Tyd het hom ingehaal. Waarskynlik het Winterbach hierdie karakter baseer op die lewe van Mickey Sabbath, ‘n 64-jarige karakter in Sabbath’s Theatre deur Philip Roth.

Net soos Nietzsche, Sartre en Foucault geen werklike oplossings op die tafel kon plaas nie, net so kan geen moderne Westerse ideologie of filosofiese onderbou bestaansin waarborg nie. Dit het tot gevolg dat feitlik al die karakters in Vlakwater identiteits- en vuisvoos ronddobber. In teenstelling hiermee neem varke, tradisioneel verbind met onhigiëniese toestande en objekte waarin bose geeste wat die psige van die mens besmet gejaag kan word, ‘n unieke posisie in. (Vgl die varke van Gadara, Matt 8:28–34.) Die diere word beskryf met bogemiddelde intelligensie, emosies en karaktertrekke. Deurdat Marthinus name aan hulle toeken, word hulle identiteit selfs bo dié van mense bevestig.

Reaksies van mense op die omstandighede waarin hulle lewe, vorm 'n intergrale deel van die roman. Om magsverhoudings werklik te verstaan, redeneer Foucault, moet ons die verskillende vorme van weerstand ondersoek (revolusie en/of opstand), sowel as pogings om onsself van hierdie verhoudings te distansieer. Alhoewel die skrywer nie groot gewag maak van die feit dat revolusionêre optrede 'n belangrike uitlaatklep is nie, onderskat sy nie die belangrikheid daarvan nie. So byvoorbeeld word Trotsky, 'n sleutelfiguur in die Bolsjewieks se magsoorname in Rusland en 'n man wat die idees van 'n permanente revolusie aktief gepredik het, bygehark deur Blinky Booysen, 'n karakter wat sy geskoei het op die lewe van Blinky Palermo. Laasgenoemde was 'n navolger van Trotsky se idees.

Winterbach fokus meer intensief op die rol wat kuns, musiek, letterkunde, films en fotografie speel as artistieke en spirituele uitdrukkingsvorm van die persoonlike psige. Nie alleen is al die karakters in Vlakwater, op enkele uitsonderings na, met die kunste besig nie, maar intertekstueel weerspieël die verskillende kunsbewegings, veral surrealisme, ekspressionisme, abstrakte en neo-ekspressionisme met hul talle variante die gemoedstoestand van die verskillende karakters binne die realiteit waarin hulle hul bevind. (Vgl die werk van Jackson Pollock.)

Talle verwysings illustreer die belangrike posisie wat die skeppingsproses inneem as 'n belangrike uitlaatklep vir die kunstenaar om sy persoonlike aandeel/rol, hetsy persoonlik of kollektief, in die skepping van die realiteit te verwerk. Op die Woordfees (2016) sê Winterbach dat die skryfproses nie noodwendig troos bring nie. In Vlakwater is dit eerder die waarde van kunsskepping as 'n moontlike manier waarop geskiedkundige bagasie en trauma verwerk word as deel van 'n proses waardeur die individu sy bestaan herevalueer om opnuut sin in sy lewe te probeer vind. Vergelyk ook Joseph Beuys se opmerking dat elke mens op sy eie manier 'n kunstenaar is.

Winterbach verwys veral na Joodse en Duitse kunstenaars wat die trauma na die Eerste en Tweede Wêreldoorlog op die een of ander wyse in die skeppingsproses self verwerk het. Dit word ook algaande duidelik dat Freud se teorie in belangrike opsigte waar is, naamlik dat die skeppingsproses van kunswerke 'n helingsproses word. Hierdie tendens sluit ook aan by Sartre en Foucault se uitsprake dat die hede alleen met verwysing na die verlede verstaan kan word. In die geval van kollektiewe skuld, soos byvoorbeeld optredes teen die Joodse bevolking, het talle Duitse kunstenaars temas uit die betrokke periode in die geskiedenis gekies en by eietydse temas geïnkorporeer in 'n poging om trauma en gepaardgaande skuldgevoelens te verwerk. Veral installasiekuns en collagewerke is as mediums vir hierdie tipe kunswerke gebruik. Ook op ander terreine, soos musiek, drama en toneel, sowel as in die literatuur is hierdie tendens sigbaar. In Vlakwater gebruik die Olivier-broers in hul stop-aksie-films/-video’s hierdie tegniek. (Sien ook die werk van Anselm Kiefer en ander kunstenaars wat Winterbach in die roman noem.)

Giacometti se werk verteenwoordig waarskynlik een van die belangrikste bydraes tot surrealistiese beeldhouwerk. In 'n poging om temas gebaseer op Freud se psigoanalise, soos seksualiteit, obsessies en trauma, te verwoord, het hy 'n verskeidenheid beeldvorme ontwikkel. Die geïllustreerde beeld is 'n voorbeeld van hoe filosofiese belangstelling in persepsie, vervreemding en angstigheid in sy werk tot uiting gekom het. Hy word waarskynlik die beste onthou vir sy figuratiewe werk wat die lydende menslike figuur as 'n populêre simbool in die uitbeelding van na-oorlogse trauma gebruik het.

Figuurstudie, deur Alberto Giacometti (1901 - 1966) (Bron:Wikipedia, the free encyclopedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Alberto_Giacometti)

Freud se psigoanalise, droom- en kunsteorie sluit hierby aan, in die sin dat hy drome sien as 'n spieël van die innerlike bewussyn. Voeg hierby ook elemente uit sy kunsteorie, wat fokus op die sentrale behoefte om te skep as 'n verwerking van die werklikheid. Drome en kunswerke bied dus 'n ryke navorsingsveld waarin die innerlike bewussyn van die mens bestudeer kan word – waarskynlik die rede waarom veral die drome van die karakter met die haaslip so 'n prominente plek in die roman inneem.

Nietzsche (1967:116) het beklemtoon dat 'n betekenisvolle lewe gekenmerk word deur 'n transformatiewe mag (The will to power) wat op 'n kreatiewe manier uitgeleef moet word. Kreatiwiteit in hierdie sin beteken vir hom normdeurbrekende kunsskeppings.[11] In die roman verwys die skrywer na spesifieke kunstenaars wat voorlopers was van avant- garde kunsbewegings. Sy vestig aandag op die Issenheim-altaarstuk deur Matthias Grünewald (1470–1528). As gevolg van hierdie werk se vernuwende eienskappe word dit beskou as een van die belangrikste kunswerke wat ekspressionistiese kunstenaars geïnspireer het.

Sonder waarneming, met ander woorde, sonder die vermoë om te kan sien, kan geen kunswerke geskep word nie. Oë as motief is veral op die psigiese vlak belangrik binne die roman. In Bybelse terme is oë die vensters van die siel wat toegang tot die spirituele bewussyn van elke mens bied. Die vermoë om die spirituele waarheid te sien / waar te neem is dus 'n metafoor vir singewing binne die verwerkingsproses. Op die wiele van God se vuurwa (Eseg 1:4 ev) is honderde oë wat in alle windrigtings kyk. Hierdie beeld ondersteun die gedagte dat daar uit verskillende hoeke na die realiteit gekyk moet word. Dit impliseer dat die mens ook sy eie persoonlike universaliteit vanuit verskillende hoeke moet waarneem en interpreteer. Die individu kies self wat hy wil sien en wat nie en dit beteken dat die mens beheer oor sy spirituele visie het. Vergelyk byvoorbeeld die werk van Stanley Spencer (1891–1959)

Figuur 7: Dit is hoe lig verskyn deur Stanley Spencer, Sandham Memorial-kapel in Burghclere (1927 - 1932) (Bron: https://gerryco23.wordpress.com/2014/11/18) 

Hierdie skilder was ‘n soldaat in die Eerste Wêreldoorlog. Al die trauma, doodslag en geweld het 'n geweldige invloed op sy houding rakende lewe en dood gehad. Spencer se werke oor tonele in die Britse kampe tydens hierdie oorlog waarna Winterbach in die roman verwys, beeld nie heldhaftige optredes of groot persoonlike opofferings uit nie, maar die gewone daaglikse doenighede in die kampe of hospitale, tonele wat selde onder gewone omstandighede in vredestyd gevind sal word. Die afwesigheid van geweld in die panele is gebaseer op Spencer se gedagte dat die moontlikheid bestaan dat wanneer soldate een oggend uit die loopgrawe klim, hulle sal vind dat alles vreedsaam was en die oorlog verby. Hierdie uitgangspunt hou verband met die keuse wat 'n mens uitoefen betreffende die realiteit wat hy sien en in sy onderbewussyn internaliseer.

Op religieuse vlak, en gebaseer op dieselfde argument, beteken die visioen van Esegiël dat God, wat alsiende is, soms kan weier om te sien. Hy laat in so 'n geval die mens aan sy eie lot oor en weier hulp in tye van nood. (Vgl Wilson en Taylor 2015:90 en die skrywer se verwysing na Waiting for Godot deur Samuel Beckett.) In die kunsskool verkies die student wat al sy figuratiewe studies met toegespelde oë teken, om ook nie meer te sien nie, maar kies hy om eerder in ontkenning te leef. Isabel het te veel gesien, sy verkies om nie meer die werklikheid te verwerk of weerstand daarteen te bied nie en begin gly op 'n baan na selfvernietiging. Die verwysing na Vermeer se werk sluit by hierdie motief in die roman aan. Vermeer het die tonele wat hy geskilder het, net so 'n fraksie uit fokus geplaas. Hy wou daardie moment vasvang net voordat jou brein iets antisipeer, maar dit nog nie volkome waar- of ingeneem nie. Deurdat hy “kort stop”, verwag die skilder van jou oog en verbeelding om dít te sien en te voel wat jy graag wil (Cumming 2015:158).

Ingrid Winterbach bevestig met Vlakwater haar meesterskap as een van Afrikaans se grootste skrywers.

Laat ons daarom aanhou spit, spit en spit
totdat kluite breek
en graaf beiteltjie word.

 

Bibliografie

Arnason, HH. 2009. Sesde uitgawe. A history of Modern art. Londen: Thames and Hudson.

Bowness, A. 1985. The book of art. Impressionists and Post-impressionists. Londen: George Rainbird Ltd.

Brink, AP. 1967. Skilder van sprokies en nagmerries. Die Huisgenoot. 29 Desember 1967, ble 29–31.

Caytas, JD. 2012. Looking into the eyes of evil? El Greco (Doménikos Theotokópoulos). Portrait of a Cardinal (waarskynlik kardinaal Don Fernando Nino De Guevara, ca 1600). Metropolitan Museum of Art, New York. Sanctum: The Journal of religion and spirituality, (Lente) 2013:1–24. Columbia-universiteit.

Chomsky, N en CP Otero (reds). 2003. Chomsky on democracy and education. New York: Routledge Falmer.

Copleston, F. 1975. Friedrich Nietzsche. Philosopher of Culture. New York: Barnes & Noble Books.

Cumming, R. 2015. Art: a visual history. Engeland: Penguin Random House.

Duncan, D. 2011. Blinky Palermo. Art in America. 27 Augustus 2011.

Esplund, L. 2014. Two powerful men on Fifth Avenue: El Greco’s face-off at the Frick. In The Observer, 9 Mei 2014. observer.com/author/lance-esplund/ (2 Maart 2016 geraadpleeg).

Foucault, M. 2000. Power. Vol 3. Vertaal deur Hurley, R. New York: The New Press.

Freeland, C. 2001. But is it art? Oxford: Oxford University Press.

Freud, S. 2005. The essentials of Psycho-analysis. Vertaal deur J. Strachey. Londen: Vintage.

Giacometti, Alberto. 2016. Swiss sculptor and painter. The art story. Modern art insight. www.theartstory.org/artist-giacometti-alberto.htm (15 Februarie 2016 geraadpleeg).

Glover, N. 2003. Psychoanalytical aesthetics: The British School. The Human Review, 23 September 1988. http://www.psychoanalysis-and therapy.com/human_nature/glover/chap1.html (15 Maart 2016 geraadpleeg).

Grey, D. sj. El Greco, View of Toledo. Metropolitan Museum of Art, New York City. jessieevans-dongray.com (2 Maart 2016 geraadpleeg).

Hayum, A. 1977. The meaning and function of the Issenheim Altarpiece: The Hospital Context revisited. The Art Bulletin, 59(4):501–17.

Hodge, S. 2013. Art. Londen: Quercus Editions Ltd.

Honderich, 1995. The Oxford companion to Philosophy. Oxford: Oxford University Press.

Honour, H en J Flemming. 2002. A world history of art. Londen: Laurence King Publishing Ltd.

Hunter, S. en J Jacobus. 1976. Modern art. From post-Impressionism to the present. New York: Harry N Abrams Inc Publishers.

Jones, J. 2009. Holbein’s Dead Christ delivers a shock. The Guardian. 18 Junie 2009. https://www.theguardian.com/artanddesign/jonathanjonesblog/jun/17/holbein  (4 Maart 2016 geraadpleeg).

Kaufmann, W. 1967. The portable Nietzsche. New York: The Viking Press.

Kierkegaard, SU, IH van Riessen, ADR Polman, H Ridderbos, G Brillenburg Wurth en SU Zuidema. sj. Denkers van deze tijd. Franeker: T Wever.

Krens, T. 1989. German painting: Paradox and paradigm in late twentieth-century art. In Krens ea (1989).

Krens, T, M Govan en J Thompson. 1989. Refigured Painting. The German Image 1960–1988. Londen: Thames and Hudson Ltd.

Küpper, S. 2003. Dostoevskii’s creative misreading of Hans Holbein’s painting of the “Dead Christ”. Voorgedra op die tweede vergadering van die studiegroep vir religie in Rusland. Gregynog, Wallis. April 2003.

Locke, N. sj. Nietzschean Philosophy: The possibility for positive gender relationships. https://www.academia.edu/1561269/Nietzschean_The_Possibility_for_positive_gender (20 November 2015 geraadpleeg).

Lubbock, T. 2009. Great works: View of Toledo (c 1600), El Greco. Independent. 26 Junie 2009.

Matthias Claudius. sj. Essays – critical essays. www.enotes.com/etexts (18 Maart 2016 geraadpleeg).

McCougat, P. 2014. The Issenheim Altarpiece Part 1: Pestilence and the Concert of Angels. Journal of Art in Society. /the-isenheim-altarpiece-pt-pestilence-and-the-consert-of-angels (29 Februarie 2016 geraadpleeg).

Miller, J Hillis. 2004. Aphorism as instrument of political action in Nietzsche. Parallax, 10(3):70–82.

Morello, T. 1996. On democracy. Noam Chomsky interviewed by Tom Morello. Radio Free, Los Angeles. https://chomsky.info/1996summer (18 Maart 2016 geraadpleeg).

Otero, CP. 2003. Chomsky’s education-for-democracy: enlightening mental growth. In Chomsky en Otero (reds) 2003.

Posēq, AWG. 1999. The goat in Goya’s “Witches Sabbath”. Source: Notes in the History of Art, 18(4):30–9.

Schiff, G. 1980. Images of horror and fantasy. Londen: Academy Edition.

Schilling, J. 1989. Metaphors: Positions in Contemporary German Painting. In Krens (1989).

Sienaert, M. 1993. Aspects of contemporary literary theory, Zen-Buddhism and the Breytenbach-oeuvre: An intertextual reading. Journal of literary studies, 9(2):139–55.

Staff, MJL. 2002. Ezekiel’s Vision. http:www.myjewishlearning.com/article/ezekiels _vision (1 April 2016 geraadpleeg).

Sylvester, D (red). sj. The book of Art. Modern art: From Flauvisme to Abstract Expressionism. Volume 8. New York: Grolier Incorporated.

Thompson, J. 1989. Blasphemy on our side: Fates of the figure in Postwar German painting. In Krens (1989).

Van Riessen, IH. sj. Nietzsche. Denkers van deze tijd.

Van Velden, H. 1956. De balling van de Kabaroe. Potchefstroom: Pro Rege Pers Beperk.

Voorhies, J. 2004. Surrealism. The Metropolitan Museum of Art. /toah/hd/surr.htm (4 April 2016 geraadpleeg).

Willis, B. 1987. The Tao of Art: the inner meaning of Chinese art and philosophy. Londen: Century Paperbacks.

Wilson, N en NR Taylor. 2015. The A to Z guide to Bible signs and Symbols. Michigan: Baker Books.

Zappella, C. sj. El Greco, View of Toledo. Renaissance and Reformation in Europe. Khan Academy. https://www.humanities/renaissance-reformation/mannerism 1/a (2 Maart 2016 geraadpleeg).

Zuidema, SU. sj. Sartre. Denkers van deze tijd.


[1] Eksistensialisme beteken doodgewoon dat die mens in 'n moderne wêreld sonder enige sekerhede en vaste verwysingspunte, begin twyfel aan die sin van sy bestaan. Hierby word ook vryheid, geluk, vrede, menswaardigheid, selfverwesenliking, ens, ingesluit, almal konsepte wat die moderne mens bly ontwyk en 'n wesenlike invloed op sy daaglikse lewe uitoefen.

[2] Na die beste van my wete is daar geen roman in Afrikaans wat interteks as struktuurelement op so ‘n kreatiewe wyse ontgin nie.

[3] Vgl die Olivier-broers se “stop-aksie”-tegniek waarmee hulle kortfilms of video’s maak.

[4] ‘n Aforisme is 'n kernargument, eintlik 'n nienarratief, wat 'n idee se begin en einde in 'n enkele sin saamtrek. (Sien Miller 2010:720.)

[5] Beide Nietzsche en Sartre onderskryf hierdie stelling.

[6] Vgl bv die roman Moby Dick, waaruit die een karakter vir 'n ander voorlees. Die groot wit vis teen wie die hoofkarakter baklei is 'n vergestalting van hierdie vrees vir iets onbekends.

[7] Daar word na die Spaanse Inkwisisie verwys as 'n voorbeeld van die Rooms-Katolieke Kerk se onverdraagsaamheid teenoor andersdenkendes deurdat dit hoofsaaklik met die bedoeling om Katolieke ortodoksie in stand te hou geïnisieer is.

[8] Nietzsche verklaar die menslike aard en bestaan as naturalisties; die mens moet homself weer met die natuur vereenselwig in sy oorspronklike en fundamentele karakter, as een vorm van lewe tussen baie ander. Die siel is deel van die liggaam en die liggaam fundamenteel 'n versameling van natuurlike kragte en prosesse. Nietzsche wil nie die mens “ontmenslik” deur hom gelyk te stel met die dierelewe nie, maar eerder sy aandag vestig op 'n hoër menslikheid wat bereik kan word. Elke mens moet dus daarna strewe om 'n supermens (Übermensch) te wees.

[9] Luther, M. 1543. On Jews and their lies.

[10] Misoginie is haat of afsku teenoor vroue en manifesteer op verskillende wyses, insluitend seksuele diskriminasie, vernedering, geweld en seksuele uitbuiting. Dit is gewoonlik kultuurverwant in manlik-gedomineerde gemeenskappe.

[11] Vergelyk ook die 12-toon atonale musiek waarvan Arnold Schoenberg (1874–1951) die operas Wozzeck en Lulu gekomponeer het deur Alan Berg (1885–1935) en Thema, 'n elektroniese werk deur Luciano Berio (1925–2003).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top