Blues vir ’n verdronke stad

  • 0

“Beelde van drywende lyke en mense wat dae ná die orkaan gesterf het, is op televisieskerms en in koerante gewys. Die reuk van ontbindende lyke het in die versengende, vogtige hitte oor die stad gehang.”
          - Die Burger
van 3 September 2005 oor die New Orleans-ramp

In die begin was daar modder
          modder en stank
          modder en dampe
en trae, stomende woorde:
bayou     miasmas     moeraskoors     reptiele.
En wortelbome –
soms van die land, soms van die water:
met ebgety kom bloot,
soos lang oumenstande
wat wegtrek uit hul tandvleise,
ivoorgeel bondels wortels.

Geure stry teen stanke
vlier     jasmyn     magnolia
ouderwetse rose in oorwoekerde tuine
en die oorsoet reuk
byna ’n stank
van suikerraffinaderye.
(Mississippi mud is ’n gebak
gedrenk in molasse:     
“Uit modder kom jy
en tot modder sal jy terugkeer.”)

“Die morsigste mark op aarde,”
het Audubon in 1821 in New Orleans gesê;
en daar het hy gesien,
’n rivierbries in hul vere,
goudsnippe in hul honderde afgemaai
in rietdeltas;
en glinsterende visse
uit die see en riviere
en die koppe van varke
met wit wimpers
en grynsende snoete.

Daardie aand nog sou op tafel verskyn
tussen glase gevul met klaret
en tussen swewende kersvlamme –
vanwaar die skielikte tog? –                  
Kreoolse geregte
voortgetower uit goudsnippe
visse en varke.
As trofee op haelwit damas kyk
’n varkkop, kraakhard gebak, glimlaggend
verby die appel in sy bek.

In New Orleans, het Mark Twain beweer,
is die beste argitektuur te sien in begraafplase:
tombes en grafstene van marmer
aangevreet deur mos en skimmel,
barokke gewels en serke
waarop sierletters moeilik leesbaar word;
en groenspaan op smeedysterkrulle.

En bokant die graftes
en die reuk van bospaddastoele                
hang aan die hoë takke
oumansbaarde en wedusluiers;
en in die mis van die rivier af
kan die ópkyker hom verbeel
ook die lyke van swart mans aan wurgkoorde
wat swaai en draai, swaai en draai
asof beroer deur Nina Simone se stem:
Strange fruit     Strange fruit

Op straat en in dobbelhuise en kroeë,
by die muilresies en die haangevegte
is die lewendes en die dodes
afgetrokke bewus van mekaar,
elkeen verdiep in eie binnelewe.
’n Eindelose optog mense, bonter as by Ensor:
’n treiterende, smeulende mulat,
sy donker vlegsel en karwats
regstreeks in gesprek met sy penis;        
hoere, straatverkopers, jazz-musikante,
joelende kinders,
kruiebrouers, hekse en malles;
en netjies onder haar kantparasolletjie,
ingehaak by Ten Williams, Esquire,
’n verwelkte skoonheid, Miss Blanche Dubois.

En toe kom Bybels die vloed in 2005 –              
en die Mississippi breek deur dyke en stuwalle
en sleur slotte weg
in sy haas om aan te sluit by sy geliefde
die jonger rivier
die snelvloeiende Atchafalaya.
En stanke het ten hemele gestyg
van waat’re en modder            
en opgeblaasde lyke
wat soos boeie dryf
en ontbind in die son.

Wanneer die Groot Dag eendag kom
en die heiliges verbymarsjeer
Satchmo vooraan
sy oë en wange bol van blaas
sal opstyg: begelei deur borrels,
uit graftes en uit waters
al die dodes:
die hoere met geld opgedraai in hul kouse
die melancholiese minnaresse van landeienaars
die vermoordes en verwurgdes.

Play it, Satchmo
play it sweet and sour
en rig jou trompet na die wolke:
die Ou Orleans het nuut geword.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top