bloot ’n vers
’n doodsberig sny nie jou tong uit nie
slaan nie met saulus-blindheid nie
laat die rare reuk van bloed onsigbaar-bang
om jou ellende hang
dit maak jou doof:
daardie skril stilte wat
swart-en-wit kiekies raam met
laggende monde wat vol
k l a n k l o s e vreugde
stol –
om weer te hóór
moet jy sin-skagte diep
in woordmyne boor
om goudklonte in leë
skatkiste te stoor
want die dood bly
(oorverdowend)
bloot ’n vers
wat skreiend skree
om vir ewig te leef
Kommentaar
Treffende gedig!
Baie dankie, Ilze!
"daardie skril stilte wat
swart-en-wit kiekies raam met
laggende monde wat vol
k l a n k l o s e vreugde
stol –"
Hierdie kontrastering doen dit vir my. Wow. Jy kan en mag dig. Welgedaan.
Baie dankie, Jan! Ek waardeer jou mooi terugvoer opreg!
Goeie poësie.
As ek mag. Ek is 'n voorstander van gestroopdheid. Kyk of die derde strofe nodig is?
Die "swart-en-wit kiekies" wil ek uit hulle raam steel en wegdra.