Bloedgrond

  • 2

Sy kyk na bo asof die hemel met haar praat, dan hoor sy ’n vreemde, gedempte dreunsang, byna soos die bitter inkantasie van roubeklaers. Of is dit die geprewel van die populierbos in die wind? Ja, die bome beaam dit: beloftes en gerugte van reën, ’n smeekgebed om verlossing van die vuur van die son en van die verraad van lugspieëlinge.

Santa gaan sit op haar hurke en bekyk die landskap om haar. ’n Opgekrulde duisendpoot, boomwortels wat hulself uit die aarde wring, verwelkte kakiebos en boombas, opeengehoop in ’n droë watervoor. Bleeksiek veld. Aswit middag. Vinke in die palmiete. Rooiborsies wat onderstebo teen die swaartekrag beur. Die aarde het opgehou om te lag, dink sy. Net soos sy, het die landskap willoos en droefgeestig geraak.

Santa kom orent en stap terug na die plaasopstal. Die rooi gepoleerde voorstoep is koel onder haar kaal voete. Geraamde wit-en-swart foto’s van bemindes, aangetroudes, lank vergete stroefgesigte en afgestorwenes hang teen die gangmuur. Museum van herinneringe, katakombe van verloopte drome, onbewoonde kamers wat opgehou asem haal het. Santa trek die laai van die buffet oop. ’n Kaart en transport van die plaas, ’n opgefrommelde nuusbrief van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie, haar pa se knipmes, ’n geboortesertifikaat. Santa Vorster, gebore op 11 Oktober 1975. Eniggeborene, vasgeënt teen die donkerland van soveel voorgeslagte. Ingedagte frommel Santa die geboortesertifikaat op, sit dit terug in die buffetlaai en loop met geboë skouers na die kombuis.

Vasgevang in die impasse van hier, van nou. Meegesleur deur die sieldodende roetine van die dag. Vanoggend opgestaan in die reeds versengende hitte om kospakkies vir die plaasarbeiders voor te berei: koffie met kondensmelk, kaas-en-stroop-toebroodjies, verkoelde energiedrankies vir later. Kos en water vir die honde. Hawermeel, lymerig gekook vir haarself en die huishulp. Alles op dieselfde tyd, dieselfde uur. Die maandelikse uittog na die koöperasie om rekeninge te betaal en voorraad aan te koop. Entstof, diesel, paraffien, waterstewels, speensalf vir die koeie, hoendervoer vir moeder se lêhennetjies.

Ai, die hennetjies was haar trots. Die gladde loop van geel uit die eierdop, die wit wolke van geklopte eierwitte. Daagliks sit sy hier by die kombuistafel totdat laatmiddagson sagte strepe op die plankvloer uitrol en die kantgordyne uitbol teen die aandwind. Hand onder die ken luister sy na haar ouers se geredekawel, die ondeunde gefluister van neefs en niggies wat iemand ’n poets wil bak, na meneer Oberholzer se resonante stem as hy gedigte vir die matriekklas voorlees uit Belydenis in die skemering. Maaltyd vir ’n enkeling: rogbrood, lewersmeer, ’n glas semi-soet witwyn. Dan, die gewyde ritueel van skottelgoedwas, laataandnuus op RSG, die trae deurtog na haar slaapkamer asof sy in haar slaap wandel.

Sedert die moord op haar ouers twee jaar gelede, het sy haarself probeer losmaak van die familieplaas, wou sy haarself ontwortel van hierdie nalatenskap. Grond, godverdomde grond! Tog, in haar besluiteloosheid en byna kinderlike vrees vir die vreemde ruimtes daarbuite het sy aangebly en vasgevang geraak in ’n tydlose leegte van vergetelheid. Die illusie van gister en nou, die illusie van realiteit: die grond in hierdie land het nog nooit aan haar of haar voorgeslagte behoort nie.

Kort voor daardie aand het haar ma dikwels oor afskeid en verlies gepraat. “Maar, my kind, as ’n mens die dag sterf, dan glip jou geboortegrond onder jou uit nes die skadukant van die maan.” En dan beduie sy met haar waterige oë na die familiebegraafplaas skuins agter die bloekomplantasie.

“Erfgrond is bloedgrond,” het haar pa een aand stug verklaar na ’n derde sopie brandewyn. “Grond is bloed. Bloed is grond. God behoed die siel wat dit minag.”

Die swartryp van die nanag het reeds dik op die grasveld gelê toe die aanvallers toeslaan. Eers het hulle haar ma oorval. Daar was vyf of ses van hulle. Al om die beurt het hulle by die ou vrou se lyf ingegaan. Vasgevang tussen wurggrepe en brandende poele van wellus en haat, het haar lyf skielik stil geword. Haar pa was reeds dood.

Daardie aand het Santa gaan wegkruip in die geelhout-linnekas. God reken my dit nie toe nie, ek kan nie vir Mammie of Pappie help nie. Opgebondel tussen haar ma se handgeborduurde lakens en kersiepitwerk het sy geluister na haar pa se geroggel, haar ma se geroep om hulp, dreigende voetstappe op die plankvloer, die oop-en-toegaan van die sifdeur in die kombuis. ’n Warm geel straal het langs haar lieste afgestroom. Die reuk van urine, kamferolie en naftalien was oorweldigend. “Pê, wê, Santa pisgat! Santa papbroek!” het die kinders haar een oggend op skool geterg. Juffrou het glo geweier dat sy moes kamerverlaat. Daar was ’n groot plas onder haar stoel. Wat kon sy doen? Kaalvoet- meisiekind jy moet huis toe gaan, het sy haarself gepaai. Terug na die vuur van Mammie se Aga-koolstoof om jou bang handjies te troos. Terug na die spens om te kap, te kerf, te stop. Hier om te bly. Santa, ná veertig jaar, Ma se deugsame oujongnooi. “Kom nou kind, droog jou trane af, dan bak ons Pa se gunsteling dadelbrood.”

Na die begrafnis het dominee sy hand op Santa se skouer laat rus. Sy het anderpad gekyk. Sy wou nie nuuskierige weldoeners op die plaas hê nie. Geen simpatie-kaartjies nie, geen blomruikers nie, geen baksels van medelye nie. Niks nie. Net haarself oorgee aan die eggo van haar eie asemhaling en verslaentheid. Soos vanaand. Hier waar sy in die slaapkamer sit, ontwyk sy haar eie blik in die spieël, die terugkyk van klaargeleefde oë. Sy luister na die gefladder van ’n mot, die nimmereindigende gespartel van vlerke. Die pynlike gevroetel van pote en voelers. In sy klein nuttelose sirkelgang, al om die bedlamp – ’n solovlug na die dood.

Die verpletterende stilte, die swygsaamheid van die landskap, die troostelose geteem van ’n waterkiewiet. “Kom nou, kind,” hoor sy haar ma sê, “drink jou doepa teen al die duiwelsdrome. Lorasepam 2mg, sluk stadig. Lê jou kop op die kussing neer. Slaap sag, my verdwaalde lam, dit word laat.”

Santa klim in die bed en draai haar gesig na die muur, ’n tydelike verskansing tussen haar en die buitewêreld. Sy onthou die biddag vir reën op die dorp, die veraf gerammel van donderweer asof die wederkoms aangebreek het. Vervlietende momente uit ’n verre verlede. Die gepeuter met herinneringe en fantome van gister totdat liggaam en siel verlam word deur ’n diep slaap en die onderbewussyn ’n stortvloed nagmerries ontsluit.

By die voetenent van die bed sien Santa die silhoeët van ’n onbekende, die ritmiese kaatsing van sy grimas in die kwiksilwer en lasuurblou vuur van weerlig. Brandende vonke uit ’n geweerloop. Of het sy dit gedroom? Duiselend lig sy haar kop op. Sy voel hoe ’n bloedkol opdam teen haar nagjurk. Vreemde hande om haar nek, warm hande wat langs haar dye ingly. Sy sluit haar oë. Dis goed so, fluister sy. Dit het God behaag om haar te verlos van dié bloedgrond. Buitekant blaas die eerste reëndruppels ’n sagte asem uit oor die verlate plaaswerf.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top