Bloed/Blut: ’n onderhoud met Coreen Erasmus-Bezuidenhout

  • 0

Bloed/Blut
Coreen Erasmus-Bezuidenhout

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426059

Van advokaat na romanskrywer! Interessant. Is dit iets wat jy nog altyd wou doen? Vertel meer?

Advokaat-wees het my in ’n groot mate toegerus met mensekennis asook kennis van menslike intriges! Ek was van kleintyd af lief om stories en opstelle te skryf. My pa, ’n regter, was ’n bobaasskrywer en storieverteller en ek glo dat ek my liefde vir storievertel by hom geërf het. Advokaat-wees het ’n groot deel van my lewe in beslag geneem, sodat ek nou eers werklik die tyd en geleentheid ontdek het om my eie storie te vertel.


Hoe het die idee ontstaan vir hierdie roman en hoe lank het jy daaraan geskryf?

My belangstelling in en kennis van die reg asook sekere wette en my belangstelling in die Joodse volk, asook my navorsing ivm die lewensomstandighede van die Jode voor 1939, het alles daartoe bygedra om ’n storie te kan skryf.

Ek het ongeveer twee jaar aan die verhaal geskryf. Daar was baie invloede! Duits was my geliefkoosde vak op skool. Ek het graag na televisiereekse soos die bekende World at war gekyk en Joodse buurkindertjies was my kleintydmaatjies. Dikwels het ek my vergaap aan hulle interessante godsdienstige gebruike en toewyding. Beide my ouers het in 1936 die Olimpiese Spele in Berlyn bygewoon en ek het aan hul lippe gehang wanneer hulle vertel het hoe naby hulle aan Hitler op die pawiljoen gesit het, en die tekens wat hulle reeds daar van die onderdrukking van die Jode gesien het.

Ek het Israel reeds sewe keer besoek. Vertellinge van Jode met my besoeke daar het my gefassineer en my onder die indruk gebring van die feit dat onderdrukking van een groep deur ’n ander groep nog steeds in ons tyd en dae plaasvind. Ek het begin lees en navorsing doen oor die geskiedenis van die Jode.

Bloed/Blut speel af in Duitsland. Volgens die resensent JB Roux is jou navorsing bo verdenking. Vertel ons daarvan?

Ek het wyd en syd betroubare bronne bestudeer oor die agtergrond, geskiedenis en gebruike van die Joodse sowel as die Duitse volke. Verder het ek dikwels Europa asook die Midde-Ooste en Amerika besoek. Jerusalem veral lê my na aan die hart. Plekke soos Yad Vashem (die Holocaust-museum in Jerusalem), die konsentrasiekampe in Duitsland soos Dachau, die berugte doodskamp in Pole, naamlik Auschwitz, en Praag se konsentrasiekamp, Theresienstadt, is maar ’n paar plekke wat ek kan uitsonder. Ek het ook gereeld op versoek van Lééf-tydskrif die Suid-Afrikaanse toeriste toegespreek oor die Holocaust in Jerusalem terwyl ons toere daar onderneem het. Die bronnelys aan die einde van my boek is weliswaar nog nie volledig nie en ek lees talle nuwe boeke wat steeds oor hierdie geskiedenis verskyn.

Dit het my gebring by die liefdesverhaal van Rut en Helmut – ironies, ’n Jodin en ’n Duitser – moontlik met die idee in my agterkop om deur ’n eenvoudige verhaal van verbode liefde die idee van vergifnis en versoening oor te dra.

Het jy enige bande met Duitsers of Jode uit die Tweede Wêreldoorlog?

Nee, ongelukkig het ek nog geen direkte oorlewendes uit die Tweede Wêreldoorlog ontmoet nie, maar wel naasbestaandes van vermoorde Jode en kinders van Duitsers wat na hul ouers se vertellinge oor die oorlog geluister het en belangrike feite aan my meegedeel het.

Aan watter kant het jou sentimente gelê met die skryf hiervan? Karakters het mos ’n wil van hulle eie?

My sentiment spreek duidelik uit die verhaal van Rut en haar familie. Ek het ’n “sagte plek” vir die Joodse volk – respek, jammerte, deernis ... Ek het ’n droom: dat ons nooit ons oë sal sluit vir enige wreedhede wat teenoor enige nasie gepleeg word nie.

Is hierdie die begin van ’n skryfloopbaan? Is jy reeds besig met ’n volgende storie?

Ja, ek sou graag meer wou skryf. Ek het soveel inligting en inspirasie uit my navorsing geput dat ek stof vir ’n volgende boek (en dalk nog ’n volgende) versamel het. Ek is dus tans besig aan ’n opvolg van Rut se verhaal.

Wat sou jy nog graag wou beantwoord wat ek nie gevra het nie? Voeg asseblief die antwoord by!

Daar is baie, baie min geskryf in Afrikaans (indien enigiets) oor die lot van gay persone en hul vervolging gedurende die Holocaust deur die gevreesde Gestapo. Ek wou vir die leser ook hiervan in my boek vertel.

  • Foto van Coreen Erasmus-Bezuidenhout: Facebook
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top