"Bier is wyn se onderrok"

  • 1

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT), het in Maart vanjaar ’n gesamentlike projek aangepak om woorde en uitdrukkings wat eie is aan die bruin gemeenskap te boekstaaf en deel te maak van hoofstroom Afrikaans.

Woorde en uitdrukkings wat op ’n daaglikse basis en gereeld in verskillende dele van die land gebruik word, sal in oorweging kom.

Die projek het goed afgeskop en daar is al by drie geleenthede met onderwysers wat Afrikaans in die suidelike  en noordelike voorstede onderrig, vergader. Willem Botha, uitvoerende hoof van die WAT, het sy opgewondenheid tydens ’n gesprek op RSG se program Die tale wat ons praat te kenne gegee. Voortvloeiend daaruit was ’n verdere onderhoud op RSG met HUB van die SBA gevoer oor die projek.

Mense oor ’n wye gebied het hul belangstelling getoon en bydraes ingestuur na die SBA.  Van die interessante woorde en uitdrukkings wat tot op hede ontvang is, sluit die volgende in:

Dis duidelik:  Dis goed en die persoon beaam wat jy vra of sê.
Gooi ’n lange:  Kom ons loop/gaan.
Lam by die huis:  Is tuis of gaan nêrens heen nie.
Jy het te veel tale:  Het baie te sê.
Is ja: Dit is so.
Iemand vir ’n pop vat:  Iemand vir ’n gek vat.
Stiek uit/yt:  Kom sodat ek jou kan sien.
Taatie:  Deurmekaar of van lotjie getik.
Dinges: Woord wat gebruik word wanneer iemand se naam vergeet is.
Dis kwaai lappies: Dis die regte ding.
Jy moet wys raak: Jy moet bewus raak.
Skaal jy my?:  Dink jy so min van my?
Het jy plat skoentjies aan?: Skeer jy die gek?
Jy is my nannes: Jy is my engel.
Bier is wyn se onderrok: Bier is glad nie so onskuldig nie. Dit maak ook dronk
Jy kyk my teen die krop maar jy weet nie wat in my kop aangaan nie: Jy weet nie wat ek dink nie.

Willem Botha van die WAT en Danie van Wyk van die SBA

Daar is nog vele bydraes ontvang en mettertyd sal ’n lys op die SBA se webwerf geplaas word.

Volgens dr Botha is daar is reeds van die  woorde in die WAT opgeneem, maar is hierdie inisiatief ’n goeie manier om nog woorde in te sluit. Voorstelle sal by ’n volgende byeenkoms bespreek word, waarna die pad vorentoe bepaal sal word.

Die Universiteit van die Wes-Kaap se Departement Afrikaans en Nederlands is ook genader om deel van die projek te word. Frank Hendricks het ook al ’n groot aantal woorde en uitdrukkings die afgelope tyd versamel en sien met opgewondenheid uit na die volgende byeenkoms.

Hierdie inisiatief is in sy babaskoene en mense wat voorstelle van woorde en uitdrukkings het wat in die aanvanklike woordelys opgeneem kan word, kan dit aan die SBA stuur by daniel.vanwyk@media24.com.

“Afrikaans het baie gesigte en die WAT dien as ’n huis vir die weergawes van die taal. As die woorde nie nou neergeskryf word nie, sal dit verlore gaan,” aldus Willem Botha.

 

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit gaan hier om die vindingryke en soms eiesoortige gebruik van Afrikaans. Hierdie inisiatief kan verwelkom word. Dit verryk Afrikaans en onderskei ons taal duidelik van Engels.

     

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top