Bientang

  • 0

Bientang
’n Sjamaan-pantoen

sy kruip al dieper in haar seegrot in
sy stook al hoër ’n bossievuur
sy hoor die branders dreun en druis
sy sien ’n dier wat  rooi-oog gluur

sy stook al hoër die bossievuur
sy hoor iets wat in die donker kruip
sy sien ’n skim wat rooi-oog gluur
’n kat-ding skigtig teen die grotwand sluip

sy hoor iets wat in die donker kruip
sy styg tot teen die grot se dak
sy wórd die kat wat skigtig sluip
’n newel wat oor die vuur-as sak

sy styg tot teen die grot se dak
sy weet sy word ’n hemelding
sy is die kat wat skigtig sluip
sy kruip al dieper in haar seegrot in

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top