Betaaldag

  • 0

Buite breek die dag.

Iewers in die huis spat ruite aan skerwe.

 "Ag, Here, wat kan dit wees?" wonder Helder waar sy in die bed lê. Sy draai die volume op die bedradio effens af. Elke oggend luister sy na RSG, reeds van vroegdag. Al ‘n gewoonte vir jare. Die landbouprogram, daarna "Op die veepos", die oggendoordenking. "Jy moet jou dag reg begin," het haar oorlede pa altyd vermaan.

In hierdie land het jy gebed nodig. Gebed en geloof - teen die wanhoop in.

Sy kom moeisaam orent. Trek die nagrok, wat gedurende die slaap opgeskuif het, tot oor haar knieë af. Haar voete vind die pantoffels langs die bed en sy staan op en beweeg na waar sy die geluid van die brekende ruit gehoor het.

Deur die sitkamer stap sy na die kombuis, sien die flenters glasskerwe langs die yskas lê. Die venster staan oop en die gordyn is losgeskeur van die raam.

Dan, skielik, voel sy die arm om haar nek, kry sy die reuk van sweet. Sy probeer haar loswoel uit die greep, maar dit veroorsaak net dat hy sy klem versterk. Hy haal swaar asem. Sy begin hoes, sukkel om asem te haal. "Asseblief," pleit sy as sy vir ‘n wyle asem kan kry. En net so styf as wat hy haar vasgehou het, laat hy sy greep om haar nek gaan. Sy steier vooroor, maar behou tog haar balans, draai om en herken hom.

Verbaas wil sy weet: "Liewe Here, Duister, hoekom doen jy dit?"

Sedert haar man se dood, ses jaar gelede, het Duister, op aanbeveling van ‘n paar ander inwoners, begin om klein takies rondom die huis te verrig. Dinge waarby sy as vrou en weens haar ouderdom nie meer kon uitkom nie.

Die geute se verf wat afskilfer, 'n lekkende kraan, die grasperk, 'n gloeilamp wat vervang moet word. Sy het hom leer ken as iemand wat baie min gepraat het, net geantwoord as jy hom iets vra. Kortaf, spaarsaam, meer suinig met sy woorde. "Tel my woorde," het hy op ‘n keer kortaf teruggekap toe sy hom daaroor uitvra.

En nou staan hy voor haar met ‘n kombuismes en die walms van die naweek se oordaad wat om en aan hom hang. Het hy dit in hom om haar kwaad aan te doen met daardie lem? wonder sy.

"Hoekom doen jy dit?" vra sy 'n tweede keer.

Weer die stilte. Sy oë kyk oral behalwe vir haar.

Dit herinner haar aan daardie kloof van stilte tussen haarself en Kneuske. Kneuske wat sedert haar pa se dood byna alle kontak met haar verbreek het.

Pynlik, dáárdie episode, onthou sy.  Wie moes sy glo? Altyd was sy haar pa se kind, sy oogappel, sy groot liefde.

Net soms, miskien een keer per jaar ‘n telefoonoproep. Niksseggende oproep. Byna of sy die wrewel in Kneuske se stemtoon kan hoor. Sy kon haar dogter nooit uitvra oor haar verhoudings nie. "Verhoudings is remskoene, breek jou spoed," het sy lank terug in ‘n brief aan haar pa geskryf. Helder het die briewe in ‘n ou koffer in die motorhuis gekry.

"Ma."

"Ja."

"Gaan dit?"

"Goed, daar?"

"Aan die gang."

"Hoekom het jy my nie geglo nie?"

Sy sukkel om haar te antwoord, soos al die jare.

En nog twee of drie minute in dieselfde trant, dan net "bye."

Tot so ‘n jaar gelede.

Duister was in die tuin besig. Hy het beddings nuut voorberei - die herfs en winter se afsterwes uitgehaal. Helder het op die stoep gesit en lees. 'n Roman van Karel Schoeman. Iets wat iewers in die Vrystaat afspeel.

‘n Selfoon het gelui. Dit was in Duister se sak, sy oorpak se sak. Hy het dit sonder haas uitgehaal en begin praat. Toe hy klaar was, was sy verbaas toe hy haar meedeel.

"Dit was Kneuske. Sy wou hoor hoe dit met my gaan."

Vir Helder was dit ‘n verrassing dat sy tog nog met Duister kontak behou het, na al die jare. Sy wonder of hy ook geweet het. Tog twyfel sy of Kneuske hom sou vertel, maar dan was sy ook so onvoorspelbaar. Vol haat en wrewel, wie sou weet?

Dit alles onthou sy nou, met Duister hier voor haar. Sy drankasem – die koue in sy oë.

Hy pluk haar nagrok oop, stroop dit van haar. Sy staan bleek en naak daar. Hy sit die kombuismes op die tafel neer, is selfversekerd.

"Nou is dit net ek en jy."

"Liewe, God," smeek sy. "Duister asseblief, nee."    

Sy oorweeg dit om te skree, maar daar is niemand naby wat haar sal hoor nie.

Dit was haar grootste vrees haar hele lewe lank. Elke vrou se grootste vrees. Om teen jou wil geneem te word. As jy nee sê, maar niemand luister na jou nie.

Dan is hy kaal. Maer, seningrig, merke op sy bolyf. Sy vingers is hard, eelterig. Die graaf en pik se toedoen.

Sy is teen die vloer, probeer onder hom uitrol, hom afstoot. Hy is binne-in haar. Geweldadig, sy mond op hare.

Hy swyg.

Sy walg.

Bang om te dink wat hy met die mes gaan doen as hy klaar is met haar. Miskien is die dood beter, dink sy as om met hierdie smet saam te moet lewe. Op haar ouderdom. Die skande.

Hy hou aan en aan, daardie seningrige lyf op haar, binne-in haar. Soos ‘n stuk grond beset hy haar. Al het sy kaart en transport oor haar liggaam, is hy ‘n plakker wat kom kamp opslaan, wat die heinings knip, onteer wat sy as heilig beskou het. Asof hy haar woning afbrand, met al die jare se onthou daarin opgesluit.

"Hoekom, Duister, hoekom?" vra sy, al weet sy dat sy nie ‘n antwoord uit hom sal kry nie.

Hy staan van haar op. Die woede en toorn nou uit sy slap geslag.      

"Dis betaaldag," antwoord hy. "Betaaldag vir Kneuske."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top