Benodig: ’n gesaghebbende presidensiële woordvoerder

  • 0

Jacob Zuma se oninspirerende spreekstyl en sy beperkte gebruik van sosiale media en nuwe tegnologie is van die menigte komponente wat daartoe bydra dat hy al hoe minder presidensieel lyk.

Sy kommunikasiespan in die presidensie moet hiervoor verantwoordelik gehou word. Hoofsaaklik omdat hulle nie hul werk behoorlik doen nie. Om Zuma se spreekstyl en lamlendige toesprake beter te maak kan hulle sekere hulpmiddels inspan. Dit sal hom gemakliker maak en help om meer prikkelende toesprake te lewer.

Zuma en sy makkers in die nasionale en provinsiale kabinette moet ook blaam aanvaar. Politici oor die algemeen is geneig om outomaties aan te neem dat die media ’n vendetta teen hulle koester.

Veral politici met opgeblaaste ego’s dink alle joernaliste en redakteurs lê snags wakker en wonder hoe hulle politici kan blootstel. Get a life, heet die titel van ’n roman van Nadine Gordimer. Die lewe draai nie om politici nie.

Om dinge nog erger te maak stel politici woordvoerders aan wat min of niks van die media weet nie. Om ’n graad in joernalistiek, kommunikasie of openbare betrekkinge te hê beteken nie jy verstaan die daaglikse werkswyse van die media nie.

Deskundige navorsing bewys woordvoerders met joernalistieke/nuuskantoor-ervaring vaar gewoonlik beter as diegene daarsonder.

In my vorige lewe as woordvoerder en toespraakskrywer vir ’n voormalige Oos-Kaapse minister van finansies is ek telkemale deur die politieke joernalis Patrick Cull gebel om van sy frustrasies ontslae te raak omdat – volgens hom – “onbevoegde regeringswoordvoerders nooit hulle selfone beantwoord nie. Hulle weet ook min van mediaspertye en reageer laat of glad nie op media navrae nie.”

Dan is daar politici wat hardkoppig is. Hulle luister nie na hul woordvoerders se professionele advies nie. Hulle is afwesig in die ontwikkeling van mediastrategieë en die skryf van hul toesprake. Hulle is liewer besig met die bevordering van hul eie kleinlike mediaveldtogte wat in parallelle kontras staan met die kommunikasiestrategie van hul ministeries en politieke party.

Dié tipe ministers word gewoonlik deur die media geïgnoreer en tot randfigure gereduseer.

Dan kry jy nou weer politici soos Thabo Mbeki wat van ’n eenvoudige oomblik ’n skitterende PR-oomblik kan maak.

As joernalis het ek Mbeki in 2004 op ’n ANC-verkiesingsveldtog vergesel. Ek en ’n groep joernaliste het saam met Mbeki ’n plakkershuis in Walmer-township in die Baai besoek. Die President het plat op die vloer gesit. So ook ons. Hy het aandagtig na die inwoners geluister. My pen geleen en notas gemaak.

Gedurende dié paar minute kon ons Thabo Mbeki die mens ervaar. Ons kon hom hoor asemhaal. Ons kon sy asem ruik. Diep in sy gewoonlik hartseer oë kyk. Ons kon sy omgee hoor, sien en voel. Bheki Khumalo, Mbeki se woordvoerder destyds, het dié PR-oomblik behoorlik gery. Die media het gebyt.

Woordvoerders het rou materiaal nodig om hul base se beeld te poets. Harde en soms ongewilde beleidsbesluite en klinkklare ideologiese uitgangspunte wat in diensleweringsprogramme omskep kan word. Dit skep goeie PR-kopie. Daarsonder is daar min of niks om oor te kommunikeer nie.

Ek hoop Zuma verstaan dit en stel ’n goeie woordvoerder aan wat respek kan afdwing en die verwarrende boodskappe van die regering en ANC effektief as ’n eenheid kan bestuur.

’n Gesaghebbende woordvoerder in die vorm van die outentieke Britse perssekretaris soos wat Bernard Ingham ’n bouncer vir Margaret Thatcher en Alastair Campbell vir Tony Blair was.

’n Woordvoerder wat vernuwend kan dink en skep en teleprompters aan weerskante van Zuma se podium sal opstel. Sodat Msholozi se kop soos Barack Obama van die een kant na die ander kant kan draai asof hy na elke lid van die gehoor kyk en sodoende ’n inspirerende toespraak kan lewer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top