Ben Dehaeck: Die man wat wou sterf in ’n kreatiewe oomblik

  • 1

Toe Benoni Jean Dehaeck op 29 Desember 1922 in Roesbrugge-Haringe in Wes- Vlaandere gebore is, sou sy familie nooit kon geraai het dat hy 42 jaar later na Suid-Afrika sou vertrek as dosent in die Dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch en dat hy nooit saam met sy vrou en kinders permanent sou terugkeer na België nie. Hy was immers met sy vertrek ’n suksesvolle advokaat en sy familie en vriende het heel waarskynlik nooit kon voorsien dat sy belangstelling in teater en deeltydse klasse in toneelspel, voordragkuns en mime tot ’n voltydse beroep en passie in sonnige Suid-Afrika sou lei nie.

Dis juis by die sonskyn waar die verhuising sou begin.

Ben en Jesje Dehaeck

Ben Dehaeck (Beni vir sy familie, dr Dehaeck vir sy oudstudente en dr Ben of Dok vir die Breughel-lede, altyd die soetklinkende Benoni vir my) vertel dat toe hy eendag na werk tuis kom, Jesje, sy vrou, hom opgewonde tegemoet gekom het met ’n tydskrif waardeur sy vroeër die dag geblaai het en waarin sy op ’n artikel oor Suid-Afrika met pragtige foto’s afgekom het. Sy wou die sonnige mooi land graag besoek, maar met vier kinders (Katrien, Wouter, Olivia en Barbara) en haar man se veeleisende beroep as advokaat in Ghent, moes die begeerte eers wag. Toe die Vlaamsgebore Fred Engelen, wat in 1961 na Suid-Afrika gekom het as die eerste professor in drama aan US, Dehaeck in 1965 nooi om vir twee jaar in Stellenbosch te kom klasgee, is die uitnodiging sonder huiwering aanvaar. Stellenbosch het die Dehaeck-gesin se permanente tuiste geword en teater sy blywende vurige passie tot met sy dood op 24 Februarie 2017.

Uit sy onuitwisbare passie het ’n menigte dinge gegroei: besielde studente, suksesvolle teatermakers, talle teaterproduksies, ’n eksperimenteleteatergroep, eie tekste en verwerkings, kinder- en jeugteater, poppespele en die Breughel as gemeenskapsteater in ’n bruin woonbuurt tydens die apartheidsjare. En seker menige frustrasie vir sy gesin, wat met sy avontuurlike en driftige lewe, onstuitbare en grenslose passie moes saamleef en sy vrou oënskynlik onaangeraak haar gang probeer gaan het in ’n huis waarin hy soms, by gebrek aan ’n ander ruimte, in die sitkamer die poppekas sou opslaan om te repeteer aan ’n poppespel vir die volgende dag.

En ek bely nou sommer ook my eie aandeel in hierdie rusverstoring.

Terselfdertyd kan ek dus ook getuig van Jesje (Moeke vir haar gesin) se vermoë om rustig te bly. Die bulderende stem en oorgawe waarmee haar man tuis vir rolle sou voorberei, het ’n bekommerde buurseun by geleentheid teenoor sy moeder laat opmerk dat hulle buurman darem vreeslik rusie maak met sy vrou, waarop die buurvrou, toe al bevriend met die Dehaecks, haar seun kon gerusstel dat die oom maar net vir ’n opvoering oefen. Na ’n huwelik van 61 jaar (en voeg daarby die verlowing wat sewe jaar sou duur) is Jesje in 2013 oorlede en Ben skryf in “Die man en sy gesigsbeelde”, een van sy ongepubliseerde kort stukkies: “Daar was eens ’n vrou wat almal Moeke genoem het omdat sy so eenvoudig en goedhartig was. Sy was die fondament van ’n mooi familie.” Ben Dehaeck het met sy talent, kreatiwiteit, passie en lewensfilosofie talle lewens aangeraak en sy gesin het hom gelate met baie mense gedeel.

As dosent in drama het Dehaeck toneelspel, mime en teksstudie onderrig en talle poppekas- en verhoogproduksies is onder sy leiding gedoen. Sy oudstudente is dit eens: sy geesdrif, energie en kreatiwiteit kan nooit vergeet word nie, want dit was soos ’n tsoenami wat jou meesleur, al skop en skree jy ook om die dolle vaart op ’n dikwels onverstaanbare pad sonder ’n duidelike koers en teken van ’n eindpunt te ontglip. Fisiek pynigend by tye; half onverstaanbaar vir baie weens die Vlaams en later Afrivlaams; vreemd bekoorlik en fassinerend. Hy het op ’n dolle galop met studente deur die tekste gewerk van bekende dramaturge op die wêreldverhoog: O’Neil, Ibsen, Tsjechof, Dürrenmatt, Brecht, Ionesco, Sartre en natuurlik ook sy geliefde Beckett en Genet. Hy sou telkens terugkeer na Beckett en die “nottingness” (die th-klank van “nothingness” kon nie op sy Vlaamse tong lêplek kry nie) en Beckett en Genet sou ook weerklank vind in sy eie skryfwerk.

En hy sou met groot oorgawe en onblusbare energie met sy studente aan opvoerings werk. By geleentheid het hy op ’n buitengewoon warm Vrydag met twee entoesiastiese studente gerepeteer aan Janneman en die heks, een van sy geliefkoosde poppespele wat talle jaagtogte, angstige oomblikke en ontsnappings insluit, alles teen ’n dolle tempo wat hy graag met tromslae beklemtoon het. (En ongewenste pouses wat die ritmiese vloei versteur, moes vermy word – ritme was immers vir hom belangrik, in die lewe en op die verhoog.) En toe kom daar ’n lang pouse waarop hy ongeduldig gereageer het, onbewus van wat buite sy sig in die speelkas gebeur het. Die erge hitte, swak ventilasie in die poppekas en uitputtende tempo het een van die studente laat flou val in die poppekas met sy swaar fluweelgordyne. Die student is gelawe en die repetisie het voortgegaan. Niks kon Ben Dehaeck se ritme en doelgerigtheid versteur nie. Sy energievlak tydens repetisies het geen gelyke gehad nie en vermanings dat hy ’n hartaanval kon kry, het op dowe ore geval. Hy het by geleentheid op so ’n vermaning uitgeroep: “Ek wil sterf in een kreatiewe moment!”

Sy drang om kreatief te eksperimenteer het veral in sy mimeklasse na vore gekom. Die kursus sou wel altyd met sekere standaard oefeninge begin, maar sy belangstelling in analitiese metafisika en die metafisiese kosmologie het tot interessante verkennings en die aanwending van elektroniese musiek in die mimeklas gelei. Hy is egter beveel om dit te staak en na meer klassieke mime terug te keer.

Toe US Drama in die 1970’s nie meer vir hom ’n voldoende uitlaatklep vir sy kreatiwiteit bied nie, het hy sy eerste verhoogteks, Die Ballade van Rama en Mara, geskryf en in 1975 in die Klein Libertas-teater opgevoer. Die Klein Libertas-teater het vir hom ’n tuiste vir sy skeppingsdrang geword. Hier het sy akteurs geleer om hom liewers nooit te vra of hulle moet sit of staan in ’n bepaalde toneel nie, want as antwoord sou hy ’n ellelange filosofiese relaas lewer. Hy was immers as dosent daarvoor bekend dat hy met die instudering van ’n teks geen verhoogplasing met sy studente sou doen nie. Vir hom was dit ’n geval van “Gaat maar door; net niet in elkander vasloop.” Betekenis en die filosofiese uitgangspunt waarop ’n teks berus, was van kardinale belang.

In sy jare as dosent het Ben Dehaeck se sogenaamde buitemuurse teateraktiwiteite in die Klein Libertas-teater ook gelei tot die stigting van ’n eksperimenteleteatergroep waarvan verskeie US filosofiestudente deel was. Hy het ook begin om met leerders van Cloetesville Hoёrskool in een van Stellenbosch se bruin woonbuurte te werk. Uit hierdie nuutgevonde vryheid en sy kreatiewe passie is die Breughel-teater in 1983 gebore wat aanvanklik uit ’n klein saaltjie langs sy pizzarestaurant bedryf is. Omdat teater vir hom ’n geestelike feesmaal was, het hy sy teater na Pieter Breughel Junior as ’n skilder van feesmale vernoem.

Behalwe verhoogproduksies soos Kontiki (geskryf deur Tone Brulin) is daar in die Breughel-teater se aanvangsjare gereeld op Saterdae met die groepie afkomstig uit Cloetesville poppevertonings aangebied in die intieme eerste eie ruimte en as beloning het elk ’n pizza uit die aangrensende restaurant gekry. Sy gunsteling-poppespele is dikwels opgevoer: Hansie en die lewenswater, Die groente kies ’n koning en natuurlik Janneman en die heks. Vir eersgenoemde moes ek ’n paar keer ’n nuwe draakagtige monster maak – altyd groter en meer vreesaanjaend as die vorige een, want die bose moes duidelik en met skrik aan die gehoor voorgehou word, sodat die oorwinning oor die bose ’n reuse-seëviering vir die goeie kon wees. By geleentheid het ’n gehoorlid die vloer natgepiepie en Ben was ingenome met die reaksie. By ’n ander geleentheid het ’n seuntjie met Janneman en die heks telkens as die heks Janneman vang en in haar sak stop, vreeslik begin huil. My ontsteltenis het hy besweer met: “Dis goed vir die knaap. Teater is ’n katarsis.”

Ben het egter gehunker na ’n groter ruimte en in 1989 het die nuutgeboude Breughel-teater, grootliks deur homself gefinansier, in Cloetesville geopen en kon hierdie bruin woonbuurt met ’n eie teater spog. Hier het jong professionele akteurs die geleentheid gehad om hulle talent in programme vir skole te slyp. Amateurs se vernuf, selfvertroue en belangstelling is versterk met talle verhoogproduksies onder andere Lucy Strata (’n verwerking van Aristophanes se Lysistrata), Die geskiedenis van ’n perd en Die gangsters. US-dramastudente het ook soms aan hierdie produksies deelgeneem en sodoende kon nog ’n generasie Ben Dehaeck na sy aftrede as dosent in 1987 beleef.

Die Breughel-teatergroep sou twee keer na Belgiё reis. Met poppeteaterwerkswinkels is gesondheidswerkers, bibliotekarisse, kindertehuispersoneel en onderwysers se kennis en kreatiwiteit uitgebou. Kontak met mense deur middel van teater was vir Ben belangrik. Teater was immers vir hom ’n gemeenskapsaak.

Die behoefte om terug te staan en die Breughel-teater aan sy eie gemeenskap oor te gee het daartoe gelei dat Dehaeck ’n artikel 21-maatskappy gestig het en die Breughel-teatergroep in beheer van hierdie gemeenskapsteater geplaas is.

Op 5 Desember 2005 word Gangster with a difference opgevoer met Marthinus Basson as regisseur en Ben Dehaeck wat in die eerste bedryf optree met die persoonlike oordrag van ’n geestelike boodskap aan die Breughel-spelers. Sonder die kreatiewe stukrag van die stigter het die teatergroep egter gekwyn en verdwyn. Die Breughel-teatergroep was Ben Dehaeck, maar hy was veel meer as net die Breughel-teater. Hy was die oerkrag wat tot met sy dood ’n inspirasie gebly het vir teatermakers en -liefhebbers wat met hom in aanraking gekom het.

Ben Dehaeck het op 94-jarige ouderdom wel nie in ’n kreatiewe oomblik gesterf soos hy wou nie, maar rustig weggedryf. Die begeerte om weer teater te maak, het hom egter nooit verlaat nie. Drie weke voor sy “verhuising na ’n nuwe dimensie”, soos hy dit sou stel, het hy weer eens gevra na die laaste drama wat hy geskryf het, Eenie Weenie Show. Hy wou dit op die planke bring. Seker sodat Weenie kon sê: “Sy abrakadabra is dat lig steeds uit duisternis en goed uit boosheid kom. Goed sonder kwaad is ’n skelet sonder spiere, glo hy”, en Eenie ’n rukkie later kon sê: “Die oomblik as ons kan ophou om die wêreld van materiële dinge as die enigste werklikheid te sien en al ons negatiewe dinge, ook lyding en dood, kan aanvaar, sal daar uit onbekende dieptes ’n wonderlike vlam opskiet. Ons sal ’n nuwe, goddelike bewussyn kry en materie sal in ‘flashing light’ transformeer. Dit sal vreugde en vrede in die hart bring.”

Foto's: verskaf

  • 1

Kommentaar

  • Albert Maritz

    Marie, dis 'n baie mooi tekening van die besonderse man - wie ek, naas my kunsonderwyseres, as nog 'n mentor in my lewe beskryf het. Dit was 'n seëning en onvergelykbare, onuitwisbare ervaring om hom te geken het. Dr leef reeds voort in 'n reuse nalatenskap van mense en dinge, waarvan die goeie nabootsers van Dr De Haeck nie die minste van genietinge is nie ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top