Bekendstellingstoespraak: Kaaps in fokus deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs)

Toespraak deur Frank Hendricks (UWK) by die loodsing van die boek Kaaps in fokus op Donderdag, 8 Desember 2016 in Kuilsrivier

kaaps-in-fokusDames en here

Ons is hier byeen om die boek Kaaps in Fokus wat pas by Sun Media verskyn het, offisieel te lanseer. Die kleurvolle en beeldryke omslag van hierdie publikasie van 150 bladsye en die prominensie wat die boektitel (ten opsigte van lettergrootte en plasing) op die voorste buiteblad geniet, suggereer tereg dat dit in die boek gaan om die sentraalstelling van ’n taalvorm wat in die ruimte rondom en in die nabyheid van Tafelberg wortel geskiet het en steeds gedy. Ja, dit gaan in hierdie werk oor Kaaps – een van die ontstaansvariëteite oftewel bakermatvorme van Afrikaans wat alternatiewelik onder meer ook Kaapse Afrikaans, Kaapse Vernakulêre Afrikaans, Bo-Kaapse Afrikaans en Kaapsevlakteafrikaans genoem word.

Die taak is my opgelê om by hierdie bekendstellingsgeleentheid die woord te voer – ’n taak wat nie sonder strikke is nie, want mens loop gevaar om as betrokkene die eie beuel te blaas (al sou jy jou dalk net by implikasie daaraan skuldig maak). Hoe dit ook al sy, ek aanvaar die uitdaging met genoegdoening!

Ek bied my praatjie aan in die vorm van enkele opmerkings – opmerkings oor en opmerkings rondom die boek.

’n Eerste opmerking

Die werk Kaaps in fokus is inderdaad van historiese belang. Dis naamlik, soos aangedui op die flapteks, die eerste akademiese boek waarin Kaaps deur verskillende outeurs vanuit diverse invalshoeke betrag word. Die nege hoofstukke in die boek val tematies in twee dele uiteen. Deel I bevat vier taalkundige bydraes oor Kaaps deur Frank Hendricks, Ernst Kotzé, Christo van Rensburg en Charlyn Dyers, terwyl Deel II die kontekstuele gebruike van hierdie taalvorm bekyk: Hein Willemse betrag Kaaps vanuit ’n letterkundige perspektief. Michael le Cordeur en Dmitri Jegels besin oor die benutting van Kaaps as onderwysmedium. Christo van der Rheede het dit oor die ontginning van die ekonomiese potensiaal van Kaaps, terwyl Anastasia de Vries ingaan op die gebruik van Kaaps as joernalistieke medium.

Dié nege bydraes is gegrond op referate wat gelewer is tydens die histories eerste simposium oor Kaaps wat van 19 tot 20 Julie 2012 by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gehou is. Dié simposium was ’n inisiatief van die departemente Afrikaans en Nederlands en Linguistiek aan die UWK, in samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Vlaamse Interuniversitaire Raad (VLIR).

’n Tweede opmerking

Dat ek en Charlyn Dyers as redakteurs van hierdie historiese publikasie kon diens doen, is inderdaad ’n voorreg, maar terselfdertyd vir albei van ons vanuit ’n persoonlike hoek betekenisvol, en wel omdat Kaaps in Fokus in die uitloop van ons professionele loopbane die lig sien. Feit is: ons al twee lê volgende jaar amptelik die tuig neer. Ja, volgende jaar is uitspantyd! Die begin van my loopbaan as Afrikaansdosent het saamgeval met my verwerwing van die graad magister in Afrikaans en Nederlands vir ’n verhandeling oor die gebruik van Kaaps in die drama Kanna hy ko hystoe van Adam Small, en hier teen die einde is ek steeds aan Kaaps verbind. Dis asof Kaaps die begin- en eindknoop vorm van my professionele loopbaan van bykans veertig jaar.

’n Derde opmerking

Die totstandkoming van die werk Kaaps in fokus word onderlê deur die ineenvloei (blending) van akademiese skerpheid, teksskeppingsvernuf, ewekniebeoordeling, redaksionele en taal-tegniese opskerping, vindingryke teksuitleg asook uitgewersprofessionaliteit soos weerspieël in die insette van Sun Media se Wikus van Zyl, Emily Vosloo en Davida. (Anders gestel: Kaaps in fokus is die resultaat van ’n spanpoging om van alle fasette van die produksieproses ’n groot sukses te maak.)

’n Vierde opmerking

Kaaps in fokus is met reg te bestempel as ’n werk uit die hart van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK):

  • 7 van die 9 outeurs is of was op een of ander manier aan die UWK verbind:
    Charlyn, Anastasia de Vries en ekself is reeds ’n geruime tyd deel van die doserende personeel van die UWK, Hein Willemse was vroeër as letterkundige verbonde aan die UWK se departement Afrikaans en Nederlands, Dmitri Jegels was vroeër kontrakdosent in die UWK se departement Linguistiek, terwyl Michael le Cordeur en Christo van der Rheede oud-studente van die UWK is, en van die departement Afrikaans en Nederlands in die besonder.
  • Die ander twee outeurs, tw Christo van Rensburg en Ernst Kotzé, is nie van die UWK los te dink nie, want my eie doseerinhoud en navorsingsuitsette weerspieël ook die invloed van hierdie twee gesiene taalkundiges se vakkundige bydraes oor taalvariasie en oor Kaaps in die besonder.
  • Voorts adem die boek as geheel die soort denke oor taal, oor Afrikaans, wat oor die jare heen sinonimies met die UWK geword het.

Bygesê: Om die binneruimte van die boek te kan deel met persone van die kaliber van die gemeldes, is inderdaad ’n voorreg wat moeilik onder woorde te bring is – ’n saak van onskatbare waarde!

’n Vyfde opmerking

Kaaps in fokus is ’n boek met waarde – ’n boek met die potensiaal om in meer as een opsig waarde toe te voeg!!!

Maar waarin lê die waarde van die boek?

1. Die boek is in die eerste plek as waardevol aan te slaan omdat dit aspekte omtrent Kaaps belig waarvan Afrikaanssprekendes en almal met ’n sintuig vir taalvariasie, en vir die diversiteit van Afrikaans in die besonder, kennis behoort te neem:

Die boek laat blyk onder meer:

  • dat Kaaps nie ’n taal náás Afrikaans of Engels of enige ander Suid-Afrikaanse taal is nie, maar wel ’n variëteitsonderskeiding van Afrikaans as heterogene taal;
  • dat Kaaps as variëteit van Afrikaans op sigself heterogeen is;
  • dat Kaaps nie mindere Afrikaans nie, maar volwaardig Afrikaans is;
  • dat die wortels van Afrikaans, en van Kaaps as manifestasievorm van Afrikaans, tot die periode vóór die aanvang van die VOC-bewind aan die Kaap te herlei is;
  • dat Kaaps talig genuanseerd, en fonologies, leksikaal en grammaties sterk gemerk is;
  • dat Kaaps tegelykertyd histories behoudend en progressief modern is, d.w.s. ’n taalvorm waarin sowel die jaarringe van eeue gelede en die botsels van nuwe ontwikkeling na vore kom;
  • dat Kaaps funksioneel toereikend is;
  • dat Kaaps na gebruik meer bepaald ’n vorm van Praatafrikaans, is, maar ook metterjare verskriftelik is – onder meer in die letterkunde en in die joernalistiek;
  • dat Kaaps manifesteer as ’n taalvorm wat histories en kontemporêr met die Kaapstadse werkersklas (onder wie bruin én wit) geassosieer word, en daarom nie sonder meer as ’n merker van bruin identiteit te bestempel is nie.

Aansluitend hierby verwoord die boek die verwonding waaraan Kaaps oor die jare heen uitgelewer is. Ter sake in hierdie verband is onder meer die marginalisering van Kaaps in die linguistiese beskrywing van Afrikaans, die systap daarvan in die standaardisering van Afrikaans, die stigmatisering daarvan vanuit die standaard uit hoofde van neerbuigende minagting (“patronising scorn”) asook die magspel en gepaardgaande ideologieë in vorige tydvakke wat tot op hede nog steeds die posisie van Kaaps en sy sprekers negatief beïnvloed.

2. Die waarde van die boek lê in die tweede plek daarin dat dit in die teken staan van ’n historiese regstelling en van verandering wat noodwendig móét kom:

Die boek bepleit naamlik ’n groter bewuswees van die variasie binne die Afrikaanse taal en, daarmee saam, die omarming van ’n polilektiese (oftewel inklusiewe) benadering tot die linguistiese beskrywing van Afrikaans met besondere klem op die verrekening van die talige en gebruiksistematiek van Kaaps en van ander histories-gemarginaliseerde variëteite van Afrikaans, en wel as teenvoeter vir die grootliks monolektiese aanpak tot op hede. Samehangend hiermee bepleit die boek die hervorming van die standaardvariëteit deur ’n beklemtoning van die organiese band tussen Standaardafrikaans en Omgangsafrikaans, en van die noodsaak om Kaaps en ander kleurvariëteite vorentoe toenemend as voedingsbronne vir Standaardafrikaans te benut (hoofstuk 1).

3. In die derde plek kom die waarde van die boek daarin tot uiting dat die boek sterk gewag maak van die waardigheid oftewel soppangheid van Kaaps én sy sprekers:

In hierdie verband meld Charlyn Dyers dat ’n verbreding en verryking van begrippe oor die taalrepertoire van mense inhou dat Kaaps met nuwe oë bekyk moet word en dat hierdie nuwe kyk die herstel van die waardigheid van dié variëteit en die sprekers daarvan, in onder meer die skoolopset, moet meebring.

Aansluitend by Dyers is Hein Willemse ten gunste van ’n “bi-dialektiese” (of selfs multi-dialektiese) benadering in die onderwys en die media as meganisme ter bevordering van die waardigheid (soppangheid) van Kaaps en die sprekers daarvan.

Ook Michael le Cordeur en Dmitri Jegels se sterk aandrang om Kaaps as onderwysmedium te benut, Anastasia de Vries se uitwys van die gebruikswaarde van Kaaps as joernalistieke medium en van die ekonomiese lewensvatbaarheid van media wat met gemeenskappe praat in variëteite waarmee hulle vertroud is, en Christo van der Rheede se pleidooi vir die posisionering van Kaaps as taal van ekonomiese bemagtiging en welvaartskepping vir sy sprekers, staan in die teken van die waardigheid van Kaaps en sy sprekers.

’n Slotopmerking

Die boek Kaaps in fokus moet uiteindelik tog verkoop word. Ek sal die aankoop van die boek met vrymoedigheid wil aanbeveel, en wel om verskeie redes.

’n Eerste rede staan in verband met die voorkoms van die boek. Menigeen wat die boek vir die eerste keer sien, beskryf die boek as ’n besonder mooi boek, as ’n pragtige boek, as ’n lus vir die oog. Die voorkoms van die boek is derhalwe genoeg rede om sommer ’n aantal eksemplare aan te skaf om as Kersgeskenk onder jou geliefdes uit te deel.

Maar, dames en here, die boek het inderdaad ook ’n ewe mooi inhoud, ’n sterk inhoud, en is daarom aan te beveel vir dosente en studente in Afrikaans en Nederlands en Linguistiek. Ja, voorskryfmateriaal is die boek beslis!

Laat gisteraand val my oog op ’n nota wat Gerhard van Huysteen, huidige voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, op die forum van VivA Afrikaans geplaas het. Dis ’n nota bedoel vir my en ander lede van die Taalkommissie. Ek hou dit graag aan u voor. Hy skryf:

My kopie van Frank en Charlyn Dyers (reds) se boek “Kaaps in Fokus” het vandag per koerier hier aangekom. Wat ’n pragtige boek! Baie geluk van my kant af, Frank! Die enigste hoofstuk wat ek tot nou toe gelees het, is dan ook Frank se hoofstuk. Dit bevat ’n lekker samevatting van die kenmerkendste taalkundige eienskappe van Kaaps, en is iets wat ek graag in die toekoms na sal verwys. Baie geluk, Frank!

Maar Kaaps en fokus is ook bedoel vir enigeen met ’n verwondering oor die rykheid van taal en van Afrikaans in die besonder. En vir enigeen met Afrikaans as hartstaal!

Kaaps in fokus het hier in die uitloop van 2016 in ons midde kom land – om waarde toe te voeg!

Ek dank u!

  • Foto van Frank Hendricks: Naomi Bruwer

 

Kommentaar

  • Cornelis Potgieter

    Sal graag dié boek will lees ... Enige iets om dié uniekheid van Afrikaans te belig is te verwelkom!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top