Bekendstelling: Uiteindelik vry deur Michael Lapsley

  • 0

uiteindelikvry300

Uiteindelik vry: My reis van vryheidsvegter tot geneser deur vader Michael Lapsley, SSM is onlangs by die Teologie-fakulteit op Stellenbosch bekendgestel.

Redeeming the Past, die Engelse weergawe van hierdie boek, het in 2013 die Andrew Murray/Desmond Tutu-prys vir teologiese literatuur ontvang. Dit is ook met die eerste prys in die biografiekategorie in die 2013-toekennings van die Catholic Press Association of the USA bekroon.

Tydens die bekendstelling is ’n video vertoon wat ’n voëlvlug oor Michael Lapsley se lewe tot vandag gebied het.

Vader Michael Lapsley is op 2 Junie 1949 in Nieu-Seeland gebore. Na sy grootwordjare in ’n Christelike gesin verhuis hy op 17 na Australië om ’n priester in die Anglikaanse kerk te word. Hy is in 1973 tot priester georden en in dieselfde jaar besluit die kerk om hom na Suid-Afrika te stuur om studente in Durban te bedien.

Volgens Lapsley kon niks hom voorberei op sy ervarings in Suid-Afrika nie. "When I arrived in South Africa, I stopped being a human being and became a white man. Because from the moment I landed here, every single aspect of my life was decided by the colour of my skin."

_MG_2536

Lapsley se bediening het hom by beide wit en swart studente uitgebring. Hy het hom uiteindelik geskaar by die onderdrukte ANC, en het in die volgende drie jaar by die anti-apartheidbeweging betrokke geraak. Die protes het in 1976 met die studenteoptogte ’n hoogtepunt bereik. Lapsley se uitgesprokenheid teen die geweld teen swart kinders en sy betrokkenheid by die studenteprotes het daartoe gelei dat hy in September 1976 uit Suid-Afrika verban is, en hy het hom in Lesotho gevestig. Hier het hy vir die ANC in ballingskap ’n kapelaan geword.

In 1982 het die Suid-Afrikaanse weermag in Maseru ’n klopjag teen ANC-lede geloods. 42 mense is dood, insluitend vyf vroue en twee kinders. Lapsley het hom hierna in Zimbabwe gevestig. In 1990, kort na die vrylating van Nelson Mandela, is ’n bombrief aan Lapsley gestuur, versteek tussen twee godsdienstige tydskrifte. Hy het beide hande en een oog in die ontploffing verloor, en het ernstige brandwonde opgedoen.

_MG_2539

Lapsley het in 1992 na Suid-Afrika teruggekeer en het kapelaan geword van ’n traumasentrum vir slagoffers van geweld en marteling in Kaapstad. Hierdie sentrum het met die Waarheid-en-Versoeningskommissie saamgewerk. Tydens hierdie proses het hy bewus geword van die helende effek daarvan om jou eie storie te vertel. "All South Africans had been damaged by the experience of the Apartheid regime, no matter what side they were on, and also all of us has a story to tell."

Sy werk het gelei tot die stigting van die Institute for Healing of Memories in 1998. Hierdie instituut reël werkswinkels vir mense van alle rasse om hul stories van pyn en trauma te vertel en daardeur ’n proses van heling te begin. "At some point in everybody's life there is some kind of trauma from which they need to heal. [...] Human beings everywhere need to find a way of detoxifying, if you like, vomiting out the poison of the things that have happened to them so that they may indeed integrate into their lives what had happened, but also lead free, fulfilling and whole lives."

Uiteindelik vry vertel Michael Lapsley se storie vanaf sy kinderjare in Nieu-Seeland tot sy ervarings as vryheidsvegter en sy lewe vandag as "’n ware gewonde geneesheer", soos Desmond Tutu hom in die voorwoord beskryf.

Nico Koopman

Nico Koopman het dit in sy bespreking van die boek gestel dat die boek die storie van Christelike logika is. Hy het enkele kenmerke daarvan uitgelig. Die eerste daarvan is die uitsonderlikheid van die gewone mens. Die tweede is kwesbaarheid. Nie net die kwesbaarheid van al die betrokke groepe nie, maar ook die kwesbaarheid van Lapsley self wat as wit man deurlopend sy lojaliteit moes verdedig op sy pad van vryheidsvegter na heler. En nou is mense juis bereid om hul stories met hom, in sy rol as heler, te deel, omdat hy kwesbaarheid en gebrokenheid verteenwoordig en hy hul eie kwesbaarheid en gebrokenheid sal begryp.

Die derde kenmerk van Christelike logika wat Koopman uitgelig het, is dat vergewing ’n gawe, of geskenk, is wat wraak weerstaan. Hierdie kenmerk kan die sirkel breek dat die onderdrukte weer onderdrukker word. Vergewing gee ook toegang tot gasvryheid. Vergewing nooi jou tot belydenis, heling en versoening. Hierdie vergewing en gepaardgaande gasvryheid lei tot herstelling en genesende geregtigheid.

Koopman het sy gesprek afgesluit deur daarop te wys dat Suid-Afrika getuie staan van grootskaalse vergewing, maar daar word steeds gewag op positiewe repliek op hierdie geskenk van vergewing. Die risiko bestaan dat hierdie vergewing te goedkoop weggegee word. Koopman het daarop gewys dat die hedendaagse jeug die nalatenskap van Nelson Mandela, Desmond Tutu en Michael Lapsley begin bevraagteken: vergifnis is dalk te maklik gegee. Hierdie vergifnis het nie die vrugte van herstelling of genesende geregtigheid meegebring nie. Hy het die hoop uitgespreek dat dit sal verander.

Michael Lapsley

Michael Lapsley het ter afsluiting van die bekendstelling gesels oor sy ervarings. Volgens hom is die werkswinkels ter versoening ’n sukses, maar daar is te min wit mense wat kies om deel te neem. Dikwels is die vraag van bywoners: Ek wil versoen, maar teenoor wie? Volgens hom moet alle Suid-Afrikaners besef dat ons vir altyd die land sal deel, dus is daar is ’n keuse: gaan ons vrede kies?

Nog foto's

Piet Meiring, Nico Koopman, Michael Lapsley en Christo Thesnaar

Michael Lapsley gesels met Nico Koopman.

Mary-Ann Plaatjies van Huffel en Sannie Meiring

Sannie Meiring, die vertaler van die boek, het oor die vertaalproses gesels.

_MG_2525

Mary-Ann Plaatjies van Huffel het die skriflesing en gebed behartig.

Michael Lapsley dokumenteer die geleentheid.

_MG_2583

Michael Lapsley teken boeke na afloop van die bekendstelling.

 

Uiteindelik vry is uitgegee deur die Christelike Lektuurfonds en kan hier bestel word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top