Bekende in boekkringe nou deel van US Woordfees

  • 0

Elmari Rautenbach (foto: Naomi Bruwer)

Die US Woordfees het vandag aangekondig dat Elmari Rautenbach, ’n bekende in boek- en joernalistieke kringe, voortaan die US Woordfees se boekeprogram sal koördineer.

“Om vir Elmari by die US Woordfees te verwelkom, is ’n groot voorreg – en scoop vir ons. Sy is vertroud met plaaslike en internasionale letterkunde,” het Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur, gesê. “Elmari is nie net belese en berese nie, maar sy ken die Afrikaanse wêrelde baie goed en sy sal beslis ’n nuwe dimensie tot die fees se boekprogram bring. Dis lekker om haar besondere energie voortaan as deel van die span te tel.”

Op haar beurt het Rautenbach gesê sy is “uit haar vel van opgewondenheid” om betrokke te wees. “Die US Woordfees beklee ‘n unieke plek in die Suid-Afrikaanse feeslandskap. Dis ’n fees waar woorde en boeke werklik die hart van die program vorm. Dit bied ook besonderse moontlikhede vir die saamstel van ’n unieke en relevante boekeprogram.”   

Rautenbach het meer as twee dekades ervaring in die joernalistiek en was onder andere redakteur van Insig, waarnemende redakteur van Drum en eerste nasionale boekeredakteur van Media24 se dagkoerante. Sy is bekend vir haar flair, styl en goeie insig wanneer dit by kultuur, skrywers en stories kom.

Die US Woordfees-kortverhaalbundel, wat vanjaar vir die eerste keer die lig gesien het, sal weer in 2017 gepubliseer word, aldus Botha. Madri Victor, afgelope drie jaar koördineerder van die skrywersprogram, sal steeds die bundel bestuur. 

Die US Woordfees word van 3-12 Maart 2017 op Stellenbosch aangebied.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top