Behuisingsprotes; wat sneuwel volgende?

  • 6

Die beste postapokaliptiese fiksie beeld ’n wêreld in krisis uit. Die oorsake verskil: enigiets van klimaatsverandering tot impak met ’n meteoor, of een of ander biologiese wapen wat ontplooi was.

Die gevolge is altyd dieselfde. Daar ontstaan kritieke tekorte aan een of ander hulpbron. Daar kan hongersnood wees, of watertekorte, of gebrek aan behuising; of toegang tot tegnologie word vernietig. Die res van die verhaal gaan dan normaalweg oor hoedat mense tot hul Neandertalselwe terugval en mekaar begin vernietig.

Dit sorg gewoonlik vir ’n hoogs vermaaklike paar uur. Waar dit in fliekvorm voorkom, is daar die verdere genot om die spesiale effekte te ervaar.

Maar wat gebeur as die tekorte werklikheid begin word? Wat gebeur as die watertekorte, die behuisingsnood en meer nie net op ons televisieskerms is nie, maar net in die pad af van ons?

Die afgelope paar dae het ons heelwat beelde gesien van stormsterk winde wat fietsryers verhoed het om aan die Argus-wedren deel te neem. Die winde was die amptelike rede hoekom die wedren gestaak was.

Daar was egter ook ander foto's, van paaie bestrooi met klippe, en ontstoke stakers wat van plan was om die wedren te ontwrig. Die roete moes alreeds verander word omdat deel van die oorspronklike roete onbegaanbaar was.

Die inwoners van Masiphumele is vasgevang in omstandighede waar daar van hulle nood vergeet word. Totdat hulle ’n toeriste-aantrekking ontwrig en op gewelddadige manier die aandag op hulle hulpkrete vestig. Totdat hulle paaie versper, klippe gooi en bande brand.

Masiphumele is nie alleen nie.

Behuising is alreeds vir jare ’n sensitiewe kwessie op my tuisdorp, Grabouw. Kort-kort kom die ongelukkigheid na vore, soos ’n pot pap wat prut-prut tot dit op ’n dag skielik oorkook.

Die pot is op hierdie oomblik besig om gevaarlik te prut.

Ek luister onlangs na ’n gesprek tussen ’n groep inwoners. Die een is ’n middeljarige vrou wat alreeds 14 jaar op ’n waglys vir ’n huis is. Die man langs haar is alreeds 20 jaar op die waglys. Terwyl hulle wag, bly hulle in Wendy-huise in ander mense se agterplase. Die derde persoon is alreeds in haar sestigs. Sy het tot onlangs op ’n plaas gebly, maar sy vertel dat die boer haar net weke kans gegee het om haar huis te ontruim toe sy te oud en sieklik was om aan te hou werk. Sy kon nie ander blyplek kry nie. ’n Rukkie gelede het die boer haar goed uit die huis laat dra en die huis met ’n stootskraper platgestoot.

Nou het sy geen heenkome nie.

Dis die een gesig van die behuisingskrisis – gesinne wat net eenvoudig nie huise kry nie.

Aan die ander kant is daar jongmense wat nog nie ’n jaar op die waglys is nie, en dan word daar huise aan hulle toegeken. Bewerings van korrupte amptenare, bedrog wat gepleeg word en grootskaalse omkopery word gemaak.

Verder is daar onbevoegde kontrakteurs wat substandaard huise bou. Net verlede week was al die huise in ’n nuwe uitbreiding afgekeur, te midde van bewerings dat die materiaal wat gebruik is, substandaard was, dat die bouers geen bou-ondervinding het nie, en dat die tenderproses nie deursigtig was nie.

Boonop is daar ’n groep persone wat oornag ingetrek het en ’n nuwe plakkerskamp gevestig het. Silvertown. Of Blikkiesdorp, afhangend van met wie jy praat. Die laaste keer toe hulle griewe gehad het, het hulle die verkeersdepartement afgebrand en die N2 gesluit. Nou word daar elektrisiteit aangelê, en daar is sprake dat ander dienste ook verskaf sal word. Hulle is nog nie ’n jaar hier nie.

Ander plakkerskampe wat al jare bestaan, het nie enige van die dienste nie. Want hulle brand nie af as hulle ontevrede is nie.

Die gevoel onder die groep na wie ek geluister het, en ek kry die indruk dis ’n algemene gevoel, is dat daar nie resultate is tensy daar geweld gebruik word nie.

Mense is desperaat. Hulle sien hoedat eerlikheid en geduld hulle nêrens bring nie. Hulle sien hoedat respek vir die owerhede teen hulle gebruik word. Hulle sien hoedat amptenare hulle regte misken, en die sisteem ter selfverryking gebruik.

Daar is nie genoeg behuising in Grabouw nie. Die infrastruktuur kan nie die toestroming van mense hanteer nie. Pype bars. Riool loop in sommige strate af. Die dorp se elektrisiteitsvoorsiening is onder druk.

Die munisipale bestuurder ... nou ja. Die munisipale bestuurder bly nie in Grabouw nie. Dis miskien al wat oor hom gesê hoef te word.

Daar is hoeveel ander Masiphumeles en Grabouws daar buite. Plekke waar daar te min van alles behalwe verwagtinge is. Te min water. Te min huise. Te min elektrisiteit. Te min toilette. Te min leiers wat omgee.

En al groter aanvraag.

Ons leiers moet ’n manier vind om met gewone burgers in gesprek te tree. Dit help nie Zuma en sy kamerade op nasionale vlak, en elke tweede amptenaar op plaaslike vlak, verryk hulself en verwag van gewone mense om tevrede te wees daarmee nie.

Vir sommiges is paaie met slaggate hul grootste probleem. Vir ander is gebrek aan behuising die probleem. Wat dit ook al is, frustrasie met leierskap op plaaslike vlak gaan een of ander tyd oorkook. In ’n land waar ’n klip of vuurhoutjie meer effektief as ’n kruisie op ’n stembrief is, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die volgende pappot oorkook.

Tensy daar drasties ingegryp word, gaan die postapokaliptiese fiksie ons huidige werklikheid word.

Die vraag is: Bestaan die politieke wil op plaaslike vlak om dit te voorkom?

  • 6

Kommentaar

  • Hierdie is die punt van die ysberg. Om antwoorde te gee en oplossings te kry is legio. Dit raak baie areas. Daar word verwys na "lyste", is dit deursigtig? Sien mense die lyste, is dit beskikbaar vir insae?
    Wat kruisie trek betref. Eerstens is ons kiesstelsel verkeerd. Jy moet 'n persoon verkies wat aan jou verantwoordelik gaan wees, nie vir 'n party stem wat gaan besluit wie hulle gaan aanstel namens jou nie, anders lê so 'n persoon se lojaliteit nie by jou wat kruisie trek nie, maar by die party wat hom/haar aanstel.
    Tweedens sit ons met 'n kultuur van "entitlement", die hardwerkende belasting betaler word uitgekryt as 'n soort van 'n ondier en die "entitled" word beskou as 'n slagoffer. Dit is interessant om te dink dat baie van die wat op lyste is van huise kom van ander areas waar hulle huise het, dan word groener weivelde gaan soek in stede waar daar aangedring word op gratis huise.
    Maar wat van my as die belastingbetaler? Ek moet vir al die dinge betaal maar kry nie die voordele daarvan soos polisie, gesondheid ens. Ek moet my eie medies betaal, privaatsekuriteit ens. Wanneer kry ek die waarde van my hardverdiende belastinggelde?
    Wanneer sê die wat van my ontvang, dankie daarvoor?
    En so kan mens aangaan ...

  • Algehele chaos is op hande. Konflik met lewensverlies. Dit moet gebeur.Elke jaar raak die probleem groter en meer problematies om agterstande in te haal. Die probleem is soos 'n grammofoon plaat wat oor en oor gespeel word.

  • Lynette Prozesky

    Daar is 'n fundamentele fout in die redenasie. Eerstens, die idee dat IEMAND verantwoordelikheid moet neem om vir ander te sorg en dat hierdie iemand die regering is. Mense moet self verantwoordelikheid neem.
    En die wat wel neem, soos Blikkiesdorp word uitmekaar gejaag: hoekom? Boere moet mense wat lewenslank op hul plase woon en werk, toelaat om daar te woon tot hul doodgaan. En energie wat voorkom waar mense self huise oprig, moet gehelp en beloon word.
    In 'n land met 55 miljoen mense, kry 17 miljoen al toelae. Dit is amper een uit Drie! Die res steier onder die las. En die ewige kritiek dat die regering nie sy "plig" nakom nie, moet ophou. Hoe meer die regering vir ander sorg, hoe meer moet die res van ons betaal.
    Ons steier onder die las, en baie van ons swaarverdiende geld verdwyn boonop langs die pad. Ek het nie geld vir my kinders se studies nie, maar ek moet betogers se studies betaal. Ek sorg vir my ouers, nou moet ek vir 'n 100 anders se ouers sorg.
    A nee a, tot hiertoe en nie verder nie!

  • Die groot probleem is die snelle aanwas van ons bevolking. Ouers wat nie kinders kan bekostig nie het te veel kinders.

  • 'n Verdere vraag wat opkom betreffende regeringstoelaes is, dit is verstaanbaar dat diegene wat te oud is of fisies as gevolg van geneeskundige redes nie iets kan doen nie, nie 'n deel kan bydra nie, maar wat is fout met die wat kindertoelaes ens ontvang en daar niks met hulle fout is om iets soos arbeid by te dra by bv munisipaliteite met skoonmaak van strate of sulke goed vir wat hulle ontvang nie. Waarom 'n kultuur skep van ontvang en niks gee nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top