Beginafrikaans

Bron: IGN.com

Hierdie lesing is op 21 Oktober 2016 te Clanwilliam gehou as deel van die ATKV se Taalerfenissimposium.

Afrikaans se begin moet mens so stukkie vir stukkie ontrafel, omdat niemand daardie begindae van Afrikaans stap vir stap neergeskryf het nie. Eintlik het niemand geweet dat daar toe ’n nuwe taal begin het nie. Die eerste sprekers van Afrikaans het die avontuur van hierdie taalargeologie-snuffelwerk vir die mense gelos wat ná hulle sou kom. Die agternasoek na Afrikaans vra respekvolle geduld, en daarna is dit die meet-en-pas en bymekaarsit van die flenterstukkies Beginafrikaans wat op hulle beurt ook terg en hulle eie spel speel.

Wat weet hierdie agternakommers?

  1. ’n Taal val nie uit die lug uit nie.
  2. Taalkontakmakers het al dikwels gemaak dat nuwe tale begin het. Die een groep wat so ’n rol gespeel het, vier, vyf honderd jaar gelede aan die Kaap, weet ons, was die Khoi. Die ander groep? Hulle was die seelui wat van 1595 af in Hollandse skepe die Kaapse kus aangedoen het. Hulle het vir die ander taal/tale gesorg.
  3. Ons weet ook dat daardie eerste aanleerderstaal baie ooreenkomste met hedendaagse Afrikaans vertoon. Daarom kan iets wat vir lank skaars gesê is, weer gesê word: daardie eerste Khoi wat met die Nederlandse seelui kontak gemaak het, was die eerste sprekers van Afrikaans. Maar vir baie van die nageslagte van daardie eerste sprekers is dit nie nuus nie. Hulle sê dit nog altyd, al is hulle nie taalkundiges nie.
  4. Ons weet ook: om meer te wete te kom van Afrikaans, moet ons meer van die Kaapse Khoi af weet, en van hulle taal.
  5. Verder het ons belangrike snippers van die taal van daardie eerste jare bymekaargemaak. Ma’ daais nie allie. Ons het ook nageslagte van nageslagte van die eerste sprekers van Afrikaans. Hulle bewaar ou Afrikaans in hulle geheues. Woorde is soos saad wat jare lank in die sand kan lê sonder dat iemand daarvan weet. As daardie woorde agterkom dat iemand soek-soek vra om asseblief bietjie op te skiet met die taalsoektog, ontkiem hulle weer in die monde van hulle Afrikaanssprekende mense.

Iets van hierdie soek na Afrikaans se begin kan ons met mekaar deel in ’n storie oor ’n paar sulke woorde. Die woorde vertel ons soveel meer van Afrikaans – nie net van sy eerste woorde nie, maar ook van sy eerste sprekers.

Watter woorde is Afrikaans se eerste woorde? Dit was woorde wat sy sprekers in ruilverkeersituasies gebruik het. Handelswoorde. Die woorde van ’n taal is nie almal ewe oud nie. Woorde het hulle eie geskiedenisse. En hulle eie maats. Die woorde van ruiltransaksies is ouer as ander.

Die nuwe taal van die ruiltransaksies is later Khoi-Afrikaans genoem, en ander name ook. Dit was ’n ander taal as Khoi.

Wat het van hierdie Khoi-Afrikaans geword? Omstandighede het gemaak dat Khoi aan die begin van die 18de eeu nie meer die enigste taal van die meeste van die Khoi-sprekers was nie, en mettertyd ook nie hulle moedertaal nie. Khoi-Afrikaans het later een van die bekendste tale in Suid-Afrika se binneland geword, en reste daarvan kan nog oor die hele Suid-Afrika gehoor word.

En die eerste Afrikaanse woorde? Mens kan maklik uitwerk watter woorde onder die heel vroeë woorde gebruik is in daardie vroeë ruiltransaksies wat van 1595 af plaasgevind het. Dit was woorde soos:

1. Brood

Hoe het die eerste Afrikaans vir brood geklink?

Daardie vroeë seelui het, soos by vandag se uitverkopings ook die geval is, brood en skeepsbeskuit uitgedeel om mense met skape en beeste op die markplek te kry waar hulle wou handel dryf. Hulle het weer koper gehad, en ander ware waarin die Khoi toe geïnteresseerd was.

Hoe het die Khoi onder mekaar gepraat as hulle die Nederlandse woord brood wou sê? Hulle het brood op verskillende maniere gesê, maar het elke keer met bro- probeer begin.

1.1       Dit is vir ’n Khoispreker moeilik om b+r+o aan die begin van ’n woord uit te spreek. Die eerste aanleerders het die r+o omgeruil, soos ons nog dikwels hoor wanneer mense byvoorbeeld pro-beer wil sê, maar by per-beer uitkom. Hulle het op dieselfde manier nie bro- gesê nie, maar die woord vir brood begin met ber- of bar- (wat in 1626 al opgeteken is).

En vir die res van die woord? Daar het die Khoi se moedertaal oorgeneem. Brood se woordgeslag, wat vir die Khoisprekers aan die begin ’n ernstige saak was, en aangedui moes word, is manlik, daarom die b aan die einde, Dit verklaar ook die optekenings ber+ib, of ook bar+ab.

Die woord baraba is ook opgeteken, waar nog ’n betekenis by die betekenis van brood bykom. Wat beteken die optekening? Die a aan die einde beteken “vir iemand”, en die voorafgaande gedeelte verwys na brood + manlik. “Barab-a is my naam,” sou ’n Khoi-man in sy taal kon gesê het – die brood-vir-iemand-man, die broodman. Dit was die naam van die man wat met genoeg selfvertroue die brood by die skepe gaan haal het vir die ander wat gehuiwer het.

En die woordsaad onder die sand? Ber-ib leef van Afrikaans se vroegste tyd af tot vandag toe, al hoor mens hom nie so baie nie. Maar gee hom net water! Hierdie Khoi-Afrikaanse woord per-e-b vir brood is tot in 1977 nog opgeteken. Die volgorde p+e+r wys dat die woord baie oud is, en uit ’n tyd kom voordat die aanleerders bro- gesê het. Bestaan die woord nog? By die ATKV se Taalerfenissimposium op Clanwilliam op 21 Oktober 2016 was daar uit ’n groepie van vier bejaarde mense twee watt gesê het dat hulle die woord berep vir brood ken.

1.2       Bro-

Toe hierdie vroeë aanleerders Khoi-Afrikaans al beter begin praat het, het hulle nie meer die klanke omgedraai nie. Hulle het bro- goed geleer uitspreek. En vir die versameling van brood en skeepsbeskuit? Daarvoor het Khoi net die regte woorddeel: -kwa, en hulle maak dan die woord bro-kwa = broodgoed vir brood en (skeeps)beskuit.

-kwa kom nog baie voor, soos in Nama-kwa, wat die veeboere gehoor het as -goed, wat vir hulle dieselfde beteken het as -hulle, soos in ma-hulle, die ekwivalent van ma-goed.

2. Gee

’n Tweede broodnodige woord in ruilgesprekke is gee, dikwels met ’n dringende beklemtoning. Ghe-ma-re is in hierdie betekenis opgeteken. Wat beteken dié woord?

2.1       Die herkoms van die ghe- van ghe-ma-re is duidelik: dit is die vroeë verafrikaansing van die Nederlandse werkwoord geven. Die res van die woord het met die dringendheid van die handeling te make, en met verstaanbaarheid, volgens die aard van ruilgesprekke. Ma- is die Khoiwoord vir gee. Gee word so met dringendheid en vir beter verstaan herhaal, en daarby versterk -re, die bevelspartikel, die dringendheid nog. Iets van die dinamiek van ruilgesprekke kan hierin gelees word. Ghe-ma-re beteken dan “gee + gee + moet”. (In leeu-gamka bestaan die herhaling vandag nog: leeu-leeu.)

2.2       Daar is nog ’n vroeë vorm vir gee opgeteken. Hierdie vorm lê op die sand, en is oor die hele land bekend. Die Khoi het die Nederlandse woord vir gee (geef) gehoor as ou, (“ou my ook so ’n bietjie daarvan”), wat in ou+te+re ook van die vroegste Afrikaans se tyd af bestaan. Ti- is my, en -re weer eens die bevelsvorm, sodat dit “gee-my-moet” beteken. (Net so beteken at-re (at+re = eet-moet-jy!).)

Om gee vir my brood te vertaal is nou voor die hand liggend: Ou+te+re brokwa.

3. Biesie

3.1       harub beteken in Afrikaans “biesie”. Waar kom die bekende samestelling hartbeeshuis vandaan? Harub is herhaal met die woord biesie. Harub-biesie-huis het na taalkontak met ander sprekers hartbeeshuis geword.

4. Genusaanduiders

Agter aan Afrikaanse stamme het die Khoi-Khoi met sorg genusaanduiders geplaas, waarop alreeds gewys is. Garie-b is ’n groot rivier, dit wys die -b vir manlik. Die -s dui weer vroulik aan: Khoe-s is ’n vrou.

4.1       pyp

Die Khoi kon maklik die woord pyp sê. Die onoorkomelike probleem is net dat die woord dan manlik is, en die seelui se betreklik klein pype vroulik moes wees. Hulle aanleerderswoord vir pyp? Pe-s (wat vroulik is). Net so is kama-s die aanleerderswoord vir kam.

4.2       rug

Vir ’n mens se rug is re-n-a opgeteken, wat na Nederlands rug toe teruggevoer kan word. Maar later het ’n ondersoeker gesê: “Nee, die segsman wat hy uitgevra het, wys dit is skouer.” Die oplossing? Die segsman wou na sy rug toe wys, maar kon net by sy skouer bykom!

U moet mooi loop. Of moet ek sê !gaitse (mooi) ga (loop) re (moet)?

 

  • Christo van Rensburg is die skrywer van So kry ons Afrikaans wat deur LAPA uitgegee is.

Kommentaar

  • Leopold Scholtz

    Beste Christo, interessante artikel. Moenie ophou met jou navorsing nie. Ek vind net dat jy in die meeste van bogenoemde gevalle besig is met wat die Duitsers noem "hineininterpretieren". Ek kan met die beste wil ter wêreld nie Afrikaans sien in die voorbeelde wat jy noem nie. Wel geradbraakte Khoisan. Afrikaans? Nee. Maar dit bly interessant. Ek het lekker hieraan gelees.

    • Hans du Plessis

      Beste Leopold, met watter wil in die wêreld sien ons Nederlands in hebban olla vogola ...? Aan die ander kant, hoe meer ons vra, hoe meer verstaan ons die storie agter Afrikaans.

  • Christo van Rensburg

    Ek is baie bly dat jy hierdie stukkie oor Beginafrikaans interessant vind, Leopold. Of dit geradbraakte Khoi is? Miskien is nog ʼn kyk daarna nodig. Die Khoi-Khoi het juis ʼn ander teikentaal as Khoi in die oog gehad, wat maak dat die nuwe taal nie meer Khoi was nie. Die eerste deel van die woord bro- vir brood (in bro-kwa = verskillende soorte brood) illustreer dit. Bro- was nooit Khoi nie. Ghe- in ghe-ma (=gee-gee), ook nie, ens.
    Dat die Khoi-Khoi swarigheid gehad het met die uitspraak van die –d aan die woordeinde (byvoorbeeld bro- en nie brood nie), en dat hulle die nuwe aanleerderswoorde verbind het met dele van Khoi-grammatika (soos –kwa en –ma en -re), maak dat vroeë Khoi-Aanleerdersafrikaans op die oog af vreemder lyk as wat dit werklik is. ʼn Optekening uit 1655, in Saldanhabaai, van bor- (om uit te eet), wys dat die Khoi-Khoi onbewustelik woorde in die teikentaal sistematies saamgegroepeer het, en hulle sonder ʼn konsonant aan die einde uitgespreek het. Met ʼn bietjie luister, veral na sprekers van die verskeie soorte Dialekafrikaans, hoor mens vandag nog heelwat sulke gevalle. Hierdie kenmerk van gesproke Khoi-Afrikaans het ook oorgespoel na geskrewe Afrikaans toe.
    CP Hoogenhout het in 1874, in vroeë GRA-Afrikaans, byvoorbeeld geskryf: “Jy mot daar oer een bietjie in die koerante skry.” Hy het sy Afrikaans in Wellington geleer, maar kon Nederlands ook skryf, en het skrywe ook gebruik. TH le Roux het later by sy seun, P Imker Hoogenhout, oor skry navraag gedoen, en gehoor dat die nasate van sprekers van Khoi-Afrikaans in die Wellington-omgewing steeds so praat.
    Om by die skryf van skry in Afrikaans te bly: In die negentiende eeu is skry in ander streke, soos Montagu en die Klein Roggeveld, ook gebruik in Afrikaanse briewe aan koerante.
    Wat het in ander aanleerdersituasies gebeur? Die Romeinse soldate het Latyn gruwelik vermink, as mens op so 'n manier daarna wil kyk. Maar na ʼn bietjie soek, blyk dit dat Frans daarin verskuil lê ...
    Dankie vir jou reaksie, Leopold.
    Christo.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top