"Beautiful in Beaufort-Wes": Koos en Kannetjie Kombuis skryf oor twee kante van 'n saak

  • 12

Gert Vlok Nel (foto: Naomi Bruwer)

"Beautiful in Beaufort-Wes" is sý song, skryf Gert Vlok Nel op sy Facebook-blad aan Theuns Jordaan. (Netwerk24-berig hier beskikbaar.) Theuns Jordaan reageer in Huisgenoot: "Ek is stomgeslaan deur Gert se aantygings en hoe hy die werkinge van die musiekbedryf verstaan."

'n Saak het altyd twee kante. Kannetjie, Koos Kombuis se vrou, vertel eers oor die praktiese kant van die musiekbedryf, een liedjie en twee musikante. Daarna is Koos aan die woord om oor die menslike gevoelens te skryf.

Kannetjie: Die praktiese kant

Die oorspronklike eienaar(s) van kopiereg in ‘n liedjie is die skrywer(s) van die lirieke en die komponis(te) van die toonsetting. In baie gevalle is daar ook ‘n derde party, die uitgewer, wat aanspraak maak op ‘n gedeelte van die kopiereg. Skrywers en komponiste sou hul kopiereg oordra aan ‘n uitgewer, wie se werk dit dan sou wees om die liedjie aan die publiek bekend te stel, aan ‘n sanger voor te lê, te bemark, tantieme in te vorder, ens. Vandag is skrywers/komponiste wyser: hulle besef dit is nie nodig om hul regte aan ‘n uitgewer oor te dra nie, veral in die geval van skrywer-sangers wat hul eie materiaal sing en opneem.

Wanneer iemand ‘n liedjie wil opneem waarvan hy of sy nie die kopiereg besit nie, sonder enige wesenlike verandering in die melodie of lirieke (‘n sg cover version), is dit nie nodig om enige toestemming te vra nie (alhoewel dit sekerlik die ordentlike ding is om te doen). Wat wél nodig is, is dat die oorspronklike kopiereg-eienaar(s) in kennis gestel moet word dat die liedjie opgeneem gaan word en hoeveel eenhede (CD’s) gedruk gaan word. ‘n Fooi vir elke gedrukte CD, of elke digitale download, word dan aan die oorspronklike kopiereg-eienaars betaal. Dit is meganiese-reproduksie-tantieme, betaalbaar omdat die liedjie meganies geproduseer word met elke CD wat gedruk of digitale kopie wat afgelaai word.

Die meeste uitgewers/skrywers/komponiste behoort aan ‘n organisasie wat namens hulle hierdie fooie hef en insamel, in Suid-Afrika is CAPASSO hiervoor verantwoordelik. Dit is die verantwoordelikheid van die platemaatskappy wat die cover version opneem om seker te maak dat die meganiese tantieme aan die regte persoon of persone betaal word.

Sou die cover version oor die radio gespeel word, of deur die sanger wat dit nou vertolk opgevoer word voor ‘n gehoor, is uitvoertantieme (performance royalties) eweneens aan die oorspronklike kopiereg-eienaar(s) betaalbaar. SAMRO is verantwoordelik vir die insamel en uitdeel van hierdie tantieme. Skrywers, komponiste en uitgewers moet hul kopiereg by SAMRO registreer, en sangers en radiostasies moet aan SAMRO verslag doen oor wat hulle gespeel en gesing het. SAMRO reik lisensies uit en deel dan die geldjies uit aan wie dit toekom.

In die geval van ‘n cover version kan die persoon wat die liedjie net vertolk, dus geen aanspraak maak op enige kopiereg of tantieme nie. So ‘n persoon sal wel geld verdien uit die verkoop van sy CD en optreefooie.

As daar verander word aan ‘n bestaande liedjie – as die lirieke byvoorbeeld vertaal word, of die melodie wesenlik verander word – word ‘n geheel nuwe werk geskep. Voordat dit kan gebeur, moet uitdruklike toestemming van die oorspronklike kopiereg-eienaar(s) verkry word. In so ‘n geval sal die persoon wat die liedjie verander het, wel op ‘n gedeelte van die kopiereg van die nuwe werk kan aanspraak maak en sy of haar deel van die meganiese en uitvoertantieme kan opeis. Dit is dan nie meer ‘n cover version nie, maar ‘n afgeleide (derivative) werk.

Dit klink alles goed en wel, maar probleme ontstaan waar cover versions in die naam van die vertolker (sanger) daarvan by SAMRO geregistreer word as ‘n nuwe liedjie. Die sanger maak dan (wederregtelik) aanspraak op kopiereg en ontvang die tantieme. SAMRO neem eenvoudig aan dat inligting wat aan hulle gegee word, eerlik en korrek is.

Soms word die foute uit onkunde gemaak en soms is dit kwaadwillig. Uitgewers (wat dikwels verbonde is aan groot platemaatskappye) word ook gereeld daarvan beskuldig dat hulle nie die oorspronklike skrywers/komponiste op die hoogte hou van inkomste wat hulle musiek verdien het en hulle ooreenkomstig vergoed nie. Groot platemaatskappye doen ook nie altyd die moeite om seker te maak dat individuele skrywers/komponiste wat nie hul regte aan groot uitgewers oorgedra het nie, hul regmatige vergoeding ontvang nie.

Koos Kombuis (foto: Naomi Bruwer)

 Koos: Die menslike gevoelens

Wat my betref: dit pla my feitlik nooit as mense my werk cover nie, en as die papierwerk in orde is, voel ek ook nie dis nodig dat hulle my toestemming persoonlik vra nie.
 
Die rede is eenvoudig: baie mense in die musiekindustrie sing in elk geval mooier as ek, en feitlik almal deur die bank, kan instrumente beter bespeel! 
 
Dis vir my heerlik om al die verskillende weergawes van "Lisa se klavier" te hoor. Moet ook nie vergeet nie: daardie eerste version deur Laurika het my op die map gesit! Daar is ook 'n paar wonderlike vertalings wat die ronde doen.
 
Dis natuurlik 'n ander saak as iemand sonder my toestemming wil verander aan die akkoorde en woorde, of as iemand slegs 'n cover version doen en dan beweer die werk is hul eie. Dit gebeur soms per abuis dat iets verkeerd genoteer word. Dis belangrik dat sulke foute so vinnig moontlik uitgesorteer word en uit te vind presies wat die feite is - voor mense te nagekom voel of finansieel skade ly.
  • 12

Kommentaar

  • Die vraag ontstaan nou: het Gert die nodige registrasies gedoen? En indien hy het, het Theuns die nodige toestemming gevra? Ek is baie nuuskierig hieroor en sal graag wil weet. As iemand weet, vertel asb.

  • Paul C Venter

    Ek verstaan nie hoekom val die komponis die performer aan nie, hy moet tog sy geld uit die record company kry - of was daar die een of ander persoonlike deal?

  • So dit bedoel as Jy 'n geparkeerde kar sien wat jy like dan klim jy net in en sê ok dis nou my kar.

  • Richard van der Westhuizen

    Wat doen jy as 'n magtige platemaatskappy vir jou sê, ons weet ons skuld jou, vat ons gerus hof toe as jy wil?

  • Johann de Lange

    Soos ek dit verstaan, is die liriek opgeneem in Gert Vlok Nel se bundel "Om Beaufort-Wes se Beautiful Woorde te Verlaat", maw hy het kopiereg daarop, en sy uitgewer maak aanspraak op 'n gedeelte van die tantieme verkry uit die verkope van die boek. Daarbenewens het Nel die gedig/liriek getoonset.
    Theuns Jordaan sou toestemming moes vra van Nel se uitgewer om die gedig te gebruik; die uitgewer op hulle beurt sou Nel gekontak het. Jordaan het 'n cover van Nel se song gemaak wat hy by openbare optredes gesing het, en wat hy op CD opgeneem & verkoop het. Ook wat betref die openbare optredes waar hy dit gesing het, sou ek meen dat hy gelde verskuldig is aan die oorspronklike kopiereghouer, Gert Vlok Nel, want Jordaan verdien sy geld hoofsaaklik deur optredes en CD/digitale verkope. Hierdie gelde moet deur SAMRO ingesamel en oorbetaal word aan Nel, dis nou te sê as Jordaan elke optrede waar hy die song gesing het aan SAMRO verklaar het.
    Mense het die indruk dat die oomblik wat iets op die internet verskyn dit in die openbare domein is. Dit staan enigeen sekerlik vry om 'n gedig te toonset, maar die oomblik as hy/sy geld verdien daarmee, moet die oorspronklike kopiereghouer in kennis gestel en vergoed word.

  • Die antwoord lê moontlik in wat die kontrak, wat Gert aanvanklik met sy platemaatskappy aangegaan het, bepaal. Ek hou duim vas dat hy nie daarin van sommige regte en aansprake afstand gedoen het nie.

  • Ek is nie in musiekbedryf nie, maar wel in die vermaaklikheidsbedryf.
    Om een of ander vreemde rede word alle kunstenaars, hetsy sangers of akteurs, as deel van dieselfde trop gesien deur die breë publiek. My bekommernis is, elke keer wat vuil industrie-wasgoed in die openbaar (die media) uitgehang word, skaad dit die beeld van die groter bedryf. Dit beïnvloed die beeld van geloofwaardigheid, professionaliteit, integriteit wat borgskappe (wat alreeds so moeilik in die kunste is) moeiliker KAN maak. Gisteraand sê twee kunsteborge vir my: " Hoekom baklei julle kunstenaars al weer soos werfbrakke? Die openbare beeld van die bedryf is ons almal se verantwoordelikheid en ja, daar is iets soos slegte publisiteit. "We sell magic, smoke and mirrors." Vermaak op watter manier ook al. Kon die geveg nie privaat gehanteer word tussen die twee partye nie? Ander bedrywe probeer hul binnegevegte buite die oë van die media hou om hul beeld te beskerm. Die twee kunstenaars het tog toegang tot mekaar. Kon hul dit nie so uitsorteer nie?

  • En toe net so lief vir geld soos die res van ons. Net toe ek gedog het hulle is op een of ander troon ... hehehehe

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top