Barrie Hough (1953–2004)

  • 0

Gebore en getoë

Barrie Hough is op 17 Januarie 1953 in Johannesburg gebore. Barrie se pa, Johannes Petrus, ’n huurmotorbestuurder, is oorlede toe Barrie maar vyf jaar oud was en sy ma, Susanna, ’n teatersuster en later ’n woonstelopsigter, moes hom en sy twee ouer broers, Charl en John Peter, alleen grootmaak. Sy ma was ook ’n goeie skrywer, maar het nooit iets laat publiseer nie.

Al wat sy pa agtergelaat het na sy dood, was ’n baie groot swart huurmotor, het Barrie aan Susan Coetzer (Rooi Rose, 13 Desember 1995) vertel. "Hy't vir Rose's Taxis gewerk. Toe trek ons na ’n woonstel (California-woonstelle) in Hillbrow en my ma ry elke dag met die swart droomwa hospitaal toe om ekstra skofte te werk. En dan is ek nou alleen in die woonstel met die yskas vol lekkernye om my gelukkig te hou."

Hy kon uit die aard van die saak nie veel van sy pa onthou nie, maar hy het die geur van die naskeermiddel Old Spice en die reuk van sy pa se skeerroom "teen sy sagte manswang soggens voor werk" in sy herinneringe gebêre. "En ek onthou dat my pa dikwels met blomme in die hand huis toe gekom het. Hy was trots op sy groot, blink taxi, hy het dit gereeld poleer en g’n mens toegelaat om daarbinne te rook nie."

Hy het dus sy tweede boek, Droomwa, geskryf as ’n soort monument aan sy pa: "Dis vir hom geskryf. Oor ek nie duidelik herinnerings van hom het nie. Ek kan nie eers die begrafnis mooi onthou nie."

In die 1960's was Hillbrow ’n baie lekker woonplek, het Barrie aan Corlia Fourie in Rooi Rose van 25 November 1998 vertel: "Die strate was veilig en daar was parke om te speel. Dit was vreeslik kosmopolities met Portugese, Hollanders en Duitsers. Ek onthou kabaretkunstenaars wat in straatkafees musiek gemaak het.

"Die middestad van Johannesburg was ook veilig. Op sewe het ek elke dag deur die middestad geloop om ’n tweede bus na en van die Laerskool Voorbrand te haal."

In sy ma se jong dae was sy ’n groot en sterk vrou wat gesorg en beskerm het: "Ek onthou haar eindelose stories wat sy op reëndae op die bed vertel het; die stapels foto's wat sy met elke vertelling uitgepak het. Die geur van pannekoek met kaneel in die woonstel. En daardie reuk van skoongewaste lakens teen jou gesig voor jy aan die slaap raak. Ek het haar altyd gehelp om dit netjies en presies op die regte manier op te vou. Ek onthou mense, wonderlike teatermense, wat saans by my ma kom kuier het. Ek het my aan hul stemme verluister."

Barrie het vertel dat dit aan sy ma te danke was dat hy ’n belangstelling in die kunste gekry het. Hy was baie geheg aan sy pa en nadat hy oorlede is, het die jong Barrie vir twee weke nie gepraat nie en toe hy wel weer begin praat het, het hy gehakkel tot die dag van sy dood. Omdat hy gehakkel het, was hy op skool ’n eenkantkind.

Barrie kon reeds lees toe hy skool toe is en, het hy aan Corlia Fourie vertel, "was ek bietjie te groot vir my skoene en kinders van my eie ouderdom het my verveel. In die woonstelgebou het ek vriende gemaak met ’n Joodse vrou en ’n Hollandse vrou met Siamese katte. Dis waar my liefde vir Europeërs vandaan kom.

"Aan die ander kant het ek die swartmense leer ken wat bo-op die gebou in dakkamers gewoon het. Ek kon nooit verstaan waarom hulle nie saam met ons in dieselfde hysbak mag ry nie omdat niemand ooit apartheid aan my verduidelik het nie."

Hy het probeer ontsnap van die frustrasie wat die hakkelry meegebring het deur in die droomwêreld van boeke te leef, het hy aan Susan Coetzer in Rooi Rose (13 Desember 1995) vertel. "Terwyl die ander gespeel het, het ek die een dik boek na die ander deurgelees. Goed soos Charles Dickens, op laerskool. En ek het elke bladsy as ’n intense werklikheid beleef."

Hy het met boeke in die huis grootgeword en sy ma was baie lief daarvoor om vir hom uit die werk van haar gunstelingskrywers in Afrikaans, AG Visser en Eugène Marais, voor te lees. "Ek onthou ook die verhale van Mikro. My ma het gedigte geskryf en een van haar vriende was bevriend met Ernst van Heerden, en as die digter by ons aan huis gekom het, het sy haar gedigte vir hom gewys. (...)

"Ek is kleintyd aan baie dinge blootgestel. Daar was anti-Nazi-boeke in ons huis en ek onthou hoe geskok ek na die prentjies van die konsentrasiekampe gekyk het.

"Op my veertiende verjaardag het my ma my Lady Chatterley's lover present gegee toe dit nog hier verbied was. Ek was mal oor DH Lawrence en hy het ’n groot invloed op my as skrywer gehad."

Barrie het sy ma as ’n matriarg aan Corlia Fourie beskryf. En dit was dalk onderbewustelik die rede hoekom hy so ’n groot feminis was. "My ma was ’n waardige vrou, só ook my tantes, en ek het groot respek vir vroue. Ek weet wat in vroue se koppe aangaan, van my heel beste vriende is vroue."

Later jare vind hierdie aardse beelde uit sy kleintyd neerslag in sy skryfwerk. "Eintlik skryf ek uit ’n baie sterk plaasagtergrond," het hy aan Susan Coetzer vertel. "Vakansietye is ek gereeld by my grootouers op die plaas afgelaai. Daar was die twee families: een in die Vrystaat en een in die Transvaal. Die een klomp was konserwatiewe, geharde boeremense, die ander heeltemal vreemd en eksentriek. Daar's baie wonderlike, uiteenlopende verhale ..."

Nadat die eienaar van California-woonstelle die gebou verkoop het, het die Hough-gesin baie rondgetrek. Sy ma was eers opsigter by ’n woonstelblok in Highlands North en sy het ook toe koek gebak vir ekstra inkomste. Sy broers het toe al die huis verlaat en Barrie en sy ma is na ’n hoenderplaas waar sy dagoudkuikens oor die foon verkoop het. Daarna het sy twee losieshuise gehad, een in Auckland Park en daarna een in Melville.

Barrie se twee broers was op daardie stadium redelik moeg daarvoor om in armoede te lewe en hulle het albei in 1965 huursoldate in die Kongo geword. Met die geld wat hulle huis toe gestuur het, het Barrie se ma hul eerste huis in Melville gekoop. Dit was ook daar waar Barrie se liefde vir katte begin het - hy het sy eerste Siamese kat, ’n skoukat, in Melville gekry en hy het met hulle begin teel. Dit was ’n liefde en belangstelling wat die res van sy lewe geduur het.

Sy laerskooljare het hy aan die Laerskool Voorbrand deurgebring. Hy het in 1970 aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer. Hier was die digter, Lucas Malan, sy Afrikaanse onderwyser en sy inspirasie om te skryf.

Hy het in matriek as skrywer gedebuteer in Drumpel, ’n bundel met kreatiewe skryfwerk deur matriekleerlinge.

Verdere studie en werk

Ná skool is Barrie na die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (vandag Universiteit van Johannesburg) waar hy sy BA in kommunikasiekunde verwerf het. Hy het sy MA in Engels aan dieselfde universiteit gekry met sy tesis oor die dramaturg Athol Fugard.

Hy het aanvanklik vanaf 1975 tot 1979 onderwys gegee by St Barnabas College waarna hy die dagblad Beeld se toneelresensent geword het. Daarna was hy lid van die Sondagkoerant Rapport se kultuurredaksie waar hy onder meer oor rolprente, die teater en boeke geskryf het. Hy het in 2003 afgetree. In 1984 is die AA-Vitaprys vir teaterjoernalistiek aan Barrie toegeken.

Oor sy rol as kritikus het Barrie aan Fiona Fraser (The Star, 15 Maart 1988) gesê dat hy dit sien as tweeledig - om konstruktiewe kritiek te lewer, of negatiewe kritiek as dit regtig nodig is en ook om op te voed. Al klink dit arrogant, het Barrie geglo dat kritici nuwe neigings kan raaksien en definieer.
Barrie was ook van mening dat kritici daarin geslaag het om die rigting waarin die teater in Suid-Afrika beweeg het, te beïnvloed. Tien jaar tevore (1978) toe hy as kritikus begin het, is swart teater nie so geredelik deur wit gehore aanvaar nie, maar deurdat kritici dit onder die teatergangers se aandag gebring het met hulle besprekings, het dit ’n integrale deel van die teater geword.
Vir Barrie moet ’n kritikus oor ’n uitgebreide literêre agtergrond beskik. Ook moet ’n kritikus alles sien wat op die planke gebring word en moet hy ook verdere agtergrond opdoen deur te werk as verhoogbestuurder of iets dergeliks.

Maar dit was as skrywer van verhale vir die jeug waarvoor Barrie veral bekend geword het. Hy het vroeër gedigte geskryf, maar dit is nooit gepubliseer nie en toe in 1986 is sy eerste boek My kat word herfs gepubliseer met die Engelse vertaling My cat turns autumn in 1990. Sedertdien het dit al meer as tien herdrukke beleef en is dit, soos al sy latere werke, vir skole voorgeskryf.

Barrie het aan Paul Boekkooi in Insig van Oktober 1990 vertel dat hy begin skryf het nadat hy as onderwyser besef het hoe min jeuglektuur daar is met die stad as agtergrond. "Die jong mense vir wie ek skoolgehou het, was verveeld met hul Afrikaanse voorgeskrewe werke omdat die meeste ’n landelike agtergrond gehad het en hulle nie daarby kon aanklank vind nie. In ’n sin het ek ook uit die jong mens wat ek eenmaal was, geskryf. Op skool baie jare gelede moes ek voorgeskrewe boeke lees waarmee ek my glad nie kon identifiseer nie. Omdat ek die poësie wat ek vroeër gepleeg het, nooit juis ernstig opgeneem het nie, het ek my met die skryf van My kat word herfs vir die eerste maal skrywer gevoel."

In The Star (3 April 1991) het Barrie met Andrea Vinassa gesels oor sy skryfwerk vir die jeug. Hy het nie sy kinderjare gesien as een lang avontuur nie en dit was nog nooit een nie en dit is hoekom hy verkies om die werklikheid in sy skryfwerk te ondersoek eerder as om fantasie te fabriseer: "South African children and teenagers are not challenged nearly enough by existing literature. You need not have trolls and fairies if you can conjure up familiar myths which are rooted in reality. And you don't have to invent mysteries with which to entertain your audience."

Hennie Aucamp was baie positief oor My kat word herfs (Die Burger, 31 Julie 1986). Die gevoel wat Aucamp gekry het toe hy hierdie jeugverhaal gelees het, was een van: "Die skrywer knoop ’n gesprek aan met die kind wat hy eenmaal was".

My kat word herfs is ’n semi-outobiografiese storie van Danie, ’n standerd nege-leerling en die enigste kind van geskeide ouers. Sy ma is ’n regisseuse en aktrise en sy pa kom kuier slegs as ’n "gas" af en toe wanneer sy ma nie by die huis is nie. Danie se grootste struikelblok is egter die feit dat hy ’n hakkelaar is. Aucamp noem Danie se kat, Nefertiti, die "belangrikste fokus vir Danie se emosies".

"Hy bou ’n hele Egiptiese kultus rondom haar op, sodat hy uiteindelik meer insig in die toneelstuk Equus het as sy vriend, Karel, die akteur. En dis miskien die oomblik om nog ’n verdienste van My kat word herfs te noem: die volkome spontane manier waarop kultuurverwysings in die verhaal opgeneem word - nie as versiering nie, maar as struktuurelemente.

"Danie se ontmoeting met Louise, die mooi doofstom meisie, is ’n ware vonds. Neffie, die kat, is die verbindingsteken tussen Danie en Louise, albei bewonder haar om haar skoonheid."

Dan gaan Neffie dood en word haar dood, volgens Aucamp heel ironies, ’n belangrike groeipunt in Danie se emosionele lewe. "Dis Louise waarna hy uitreik ná Neffie se dood, nie na Karel of sy ma nie. Hy het nie meer ’n kat nodig as emosionele stut nie; hy het ’n medemens gevind. (...)

"Hough se styl is meestal verkwiklik sober. Sy skryfwerk getuig naas skerp waarnemings, van ’n vanselfsprekende aanvaarding van die groot stad as lewensvorm. Ouer geslag skrywers vir die jeug maak hulle telkens weer skuldig aan 'veldtschmerz'. Vir die stadskind is die geteem oor landelike onskuld op die duur iets verwyderds: hoe kan húlle nostalgies raak oor iets wat hulle nooit gehad het nie? My kat word herfs bevestig dat die Afrikaner nie vanselfsprekend ’n plaasmens is nie.

"Uit opvoedkundige oogpunt bekyk, is My kat word herfs ’n belangrike toevoeging tot die skraal voorraad substansiële jeugboeke vir junior sekondêre leerlinge. En dis hierdie groep lesers, almal in ’n oorgangstadium, wat sensitiwiteitsopleiding, via hul leesstof, so broodnodig het. Deur op ’n veilige afstand van ’n ouderdomsgenoot se groeipyne te verneem, kan hulle, straks half-bewustelik, tot ’n vergelyk kom met hul eie emosionele probleme. (...)

"My kat word herfs van Barrie Hough is ’n baie mooi debuut, en van meet af aan professioneel: nie te veel nie, nie te min nie, net mooi reg."

Ook Lucas Malan het ’n gunstige resensie in Die Vaderland van 1 September 1986 oor My kat word herfs geskryf: "Reeds die pakkende titel dui op ’n verhaal wat met minder gewone materiaal werk, en op ’n besonder natuurlike wyse word die nogal esoteriese wêreld van die teaterlewe en die gebruike rondom die teel van skoukatte by die meer alledaagse verloop van ’n skoolseun se lewe ingebou.

"Die traumatiese ervarings en tipiese konflikte wat die sensitiewe aanpassingstadium van die laat-puberteit kenmerk, word subtiel en geskakeerd aangebied in die gedagtes en stamelende uitings van Danie. (...)

"Saam met die akkurate weergawe van dialoog tussen skoolseuns en onderwysers, en skoolseuns onderling, is die gebruik van suggestie eerder as uitleg besondere winste in hierdie werk."

Wat vir Barrie met die skryf van My kat word herfs "gefassineer het, is die kreatiewe beeldklitse soos die kommerwoorde wat die seun aan homself herhaal teksture van herinnering wat nie eintlik deel is van die tradisionele bende-jeuglektuur nie." (Die Burger, 12 Julie 1986)

Barrie se tweede jeugverhaal, Droomwa, was net so ’n groot sukses soos sy eerste. Daarmee palm hy drie pryse in - in 1990 die Sanlam-prys vir jeuglektuur (silwer), in 1992 die Alba Bouwer-prys en ook in 1992 die CP Hoogenhout-medalje. Barrie het Droomwa self in Engels vertaal met die titel Dream chariot.

Die droomwa van die storie is Paul van Zyl se 1948-Buick Special. Sy pa vertroetel die motor, net soos hy ook sy gesin vertroetel. Maar toe gaan sy pa dood en moet die gesin na ’n woonstel in Hillbrow trek waar die Buick in die parkeerruimte staan. Paul beskou die motor as syne en dit is die plek waar hy gaan sit wanneer hy aan sy pa wil dink.

Die Buick het nog ’n aanhangsel gekry in die persoon van Joseph, "die boss boy by die flats", wat ook droom om die motor te besit. Joseph word dan ook in ’n mate ’n vaderfiguur vir Paul en wanneer sy ma dan die Buick aan Joseph verkoop, vernietig sy amper Paul se droom en hulle verhouding.

Marina le Roux skryf in Die Burger (11 Oktober 1990) dat Droomwa, ten spyte van die doodstema, nie sentimenteel geskryf is nie. "Daarvoor is hierdie gesin ’n te hegte verweer teen vereensaming en verbrokkeling. Verhelderende en verrassende flitse van humor deurstraal die verhaal en maak dit vir die leser maklik, ja, selfs onweerstaanbaar om met die karakters te identifiseer.

"Saam met die menslike karakters word die Buick ’n formidabele en unifiserende medespeler. Paul se fisieke en veral sy psigiese afskeid van die droomwa word oortuigend en met besondere insig en deernis hanteer. Paul se inisiasie tot volwassewording, en die rol van Joseph as mentor, is uitstaande positiewe kenmerke van die verhaal. Die slottoneel, wat byna ’n perfekte sirkulêre slot vorm met die eerste hoofstuk, is ’n onvergeetlike en roerende hoogtepunt, net genoeg gedistansieerd om ’n pynlike ervaring aanvaarbaar te maak."

Marina le Roux beskryf Hough se skryfstyl as "aantreklik en vlot met oortuigende dialoog en knap situasieskepping" wat opmaak vir enkele punte van kritiek wat sy teen die verhaal geopper het.

Ook Elsabe Steenberg (Beeld, 22 Oktober 1990) meen dat ’n "jong leser wat gewillig is om sy innerlike te laat aanspreek, om saam met die hoofkarakter versigtig maar trefseker te groei, dié verhaal nie gou sal vergeet nie".

In 1992 word Barrie se volgende jeugroman Vlerkdans gepubliseer. Weer pak hy ’n ongewone tema vir ’n jeugverhaal, naamlik dié van vigs. Twee tienerseuns is die hoofkarakters in Vlerkdans – die een is ’n kunsskilder en die ander ’n balletdanser. Met hierdie verhaal het Barrie die Sanlam-prys (goud) vir jeuglektuur ingepalm en het tienerlesers Vlerkdans aangewys as wenner van die ATKV-kinderboekprys vir die kategorie 13 - 15 jaar. Dit is in 1996 in Engels vertaal onder die titel In full flight.

Lizz Meiring het Vlerkdans in 1999 vir die verhoog verwerk en dit is in die Momentum in die Staatsteater in Pretoria opgevoer. Meiring was ook die regisseur en die rolverdeling het  Isadora Verwey, Greg Melvill-Smith, Annelise Bosch, Wikus du Toit, François Henning, Jeanine Cordani en Karen Wessels ingesluit.

Die verhaal word in die eerste persoon vertel deur Hannes Bezuidenhout, ’n standerd nege-leerling, wat ’n ontluikende jong kunsskilder is. Hy volg in die spore van sy ma, Anna, wat reeds gevestig is as skilder. Weer eens is daar ’n afwesige pa aangesien die ouers geskei is.

In die loop van die verhaal word vigs as hooftema geneem en "uiters gevoelig en eerlik ontplooi," het Elsabe Steenberg (Beeld, 22 Desember 1992) geskryf.

Hannes sluit by ’n gimnasium aan omdat hy skraal gebou was en daar ontmoet hy vir Anton wat baie mooi gebou is en instem om as model vir Hannes te sit. Hy is ’n balletdanser en is dus ook ’n kunstenaar in eie reg. Die twee seuns vind dus ook op geestelike vlak aanklank by mekaar. Nadat Anton vuil naalde gebruik het toe hy dwelms gebruik het, ontwikkel hy vigs en raak hy progressief so swak dat hy nie meer kan dans nie, waarna die titel ook verwys.

Vir Elsabe Steenberg word Anton se siekte en afsterwe "oortuigend gebruik om die 'ek' te laat ontwikkel. Hy word van die begin af gebeeld as ’n skilder wat sintuiglik baie bewus is van wat hy waarneem. (...) Dat hy (Hannes) Anton in ’n skildery volmaak teken, wys aanvanklik dat hy die lewe nog wil dwing om perfek te wees en sy ma se beter oordeel verwerp. Met sy vriend se dood kan hy hom sonder model skilder. (...)

"Die skildery bring hom en sy ma nader aan mekaar en word ook vir ’n uitstalling aangevra. Op dieselfde wyse laat dieper begrip van menswees hom sy pa vergewe. Inderdaad staan Anton, soos die feniks, simbolies uit sy eie as op om in Hannes verder te lewe. (...)

"Op oortuigende wyse spreek hierdie verhaal situasies in die hede aan: die moderne stad en die kasuele gebruik van talle Engelse woorde lyk bekend. Minder bekend vir volwassenes, miskien opsetlik misgekyk, is die erns waarmee tieners die wêreld beleef – en hul vermoë om positief te ontwikkel as ouers hulle ondersteun en eerlik wil kommunikeer."

Barrie het aan Andriette Stofberg (Beeld, 12 Desember 1992) vertel dat toe hy Vlerkdans in 1991 begin skryf het, het hy sy liefde vir afluister na die volgende vlak geneem. Hy het vir ’n week die matriekkunsklas by ’n Johannesburgse skool gaan bywoon om te luister hoe die kinders met mekaar kommunikeer. Dít wat hy daar gehoor het, het neerslag gevind in die gesprekke tussen die tieners in die verhaal: Afrikaans met so hier en daar ’n Engelse woord en sleng nes die tieners praat.

"Ek weet taalpuriste se wenkbroue sal lig, maar dit sou onsinnig gewees het om ’n kind byvoorbeeld te laat sê iets is 'voortreflik' as tieners die woord 'stunning' sou gebruik het."

In Insig van Februarie 1993 skryf Marina le Roux dat sy lanklaas ’n jeugboek gelees het wat so ’n gebalanseerde en deernisvolle verhouding tussen ma en seun uitbeeld. "Dis die eerlikheid binne hierdie verhoudings wat juis die intiemste gevoelens so skreiend blootlê. Die verhaal word verryk deur talle uitdagende intertekstuele verwysings, byvoorbeeld die terugkerende feniks-simbool en die vlerkdans.

"Simon Ford se verbeeldingryke, vitale band-illustrasie daag nie net die leser tot deelname uit nie, maar rond ook die teks perfek af. Lewendige byderwetse taalgebruik dra by tot die aantreklikheid van die verhaal. Daarby skryf Hough nooit neerbuigend oor sy karakters nie. Hy vertrou sy lesers en dit is onweerstaanbare motivering tot die deurlees van Vlerkdans in een sessie.

"Enkele punte van kritiek is handige cliché-frases soos motorvensters wat altyd 'outomaties snor', p 51 en 78, en hier en daar ’n sentimentele snikkie. Maar dit terloops, want Vlerkdans is ’n tydige en relevante roman wat met plesier en waardering ontvang word."

JC Kannemeyer het in Die Transvaler (18 Maart 1993) geskryf dat Barrie Hough baie moed aan die dag gelê het om ’n jeugroman met só ’n tema  aan te pak. "Dat hy dit met soveel deernis en soberheid kon doen, is ’n aanduiding van sy volwassenheid as kunstenaar. My enigste bedenking teen Vlerkdans is die enigsins te opsigtelike aanwending van die feniks as simbool van die herrysenis, al leen die verhaal hom miskien juis tot so ’n soort simbool of embleem. Die fyn suggestie, ook in die woordgebruik en beelding, wat ’n mens elders aantref, vergoed in elk geval meer as genoeg vir dié nadruklikheid."

Vir Hilda Grobler (Tempo, 20 - 26 Augustus 1993) is Vlerkdans ’n lekker storie wat die leser groot vreugde by die lees daarvan verskaf. "Dit is een van die min jeugboeke in Afrikaans wat die leser nie probeer manipuleer om ’n bepaalde morele standpunt in te neem nie. Dit is bekroon omdat dit ’n puik verhaal is wat vir tieners geskryf is in ’n taal en idioom wat hulle kan verstaan en waarmee hulle kan identifiseer. Dit dring die tienerwêreld binne – en kyk nie van buite af nie."

Barrie het op ’n gereelde grondslag bydraes gelewer tot Rapport Tydskrif se weeklikse rubriek Skuins voor Maandag. In 1995 is hierdie bydraes van hom in ’n bundel getiteld Skimmelstreke deur Tafelberg Uitgewers saamgebring. Hy het aan Susan Coetzer in Rooi Rose vertel dat Skimmelstreke vir hom soos ’n "laslappie-biografie" is. "Nou en dan verander ek die feite effens, of ek verander die verteller na die derde persoon om darem ’n mate van privaatheid te behou. Maar die res is alles waarheid. Dit het als gebeur."

Vir Lucas Malan (Rapport, 19 Desember 1995) is die stukke in die bundel "meer verhalend as besinnend" en is dit meer gerig op die mens. Daarby is baie van die vertellings persoonlik van aard "met ’n sterk gevoel vir die dramatiese of onthullende effek, wat natuurlik ’n vereiste is vir dié kort tipe prosa.

"Hy stel sy visier ook meermale in op situasies en figure waar gebrek en verlies vir die emosionele trefslag sorg. In dié opsig het hy veel by Hennie Aucamp geleer en dít alleen verseker al ’n bevredigende leeservaring. Die stories van bloedverwante uit vroeër tye en eietydse teatermense dra verder by tot die bont patroon menslikheid in hierdie genotvolle boek."

Cecile Cilliers was nie heeltemal tevrede met die inhoud van die bundel nie. In Beeld van 15 Januarie 1996 skryf sy dat rubrieke gebind word aan tyd en lengte en dat dit gemik is op "vlugtige bevrediging". Hoewel daar juwele in Skimmelstreke is, veral die kort sketse en vertellings wat mense en hulle dinge met empatie beskryf, is daar ook "rommelwerk, onversorgde taal en onnodige sentimentaliteit. Skimmelstreke is tog leesstof wat in die werklik goeie stukke ’n verhelderende kier oopmaak op ons menslike kondisie. Maar ons weet Barrie Hough kan veel beter."

Met sy volgende boek Skilpoppe het Barrie die Sanlam-prys vir jeuglektuur vir ’n derde maal verower en het hy ook in 1999 die MER-prys vir jeugliteratuur by sy arsenaal pryse gevoeg.

Hy het die idee vir Skilpoppe gekry toe hy Russiese baboesjka-poppe van ’n vriendin gekry het: "Ek het die poppe uitgepak en besef dat hulle nes mense is. Elke mens bestaan uit verskillende lae, en al dink jy jy ken iemand, kan jy hom nooit werklik ken nie," het Barrie aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 29 Oktober 1998) vertel.

Skilpoppe vertel die storie van Anna Meyer wat nie haar gevoelens oor haar gay broer se selfmoord kan verwerk en konfronteer nie. En haar suster het nog ’n dwelmprobleem ook. Dan, terwyl daar al die krisisse in Anna se lewe is, kry sy die rol van Juliet in ’n skoolproduksie.

Barrie het as deel van sy navorsing vir hierdie boek met baie hoërskoolleerlinge gepraat en almal het gesê dat hulle niks van die Shakespeare-boek wat voorgeskryf was, hou nie. En hy wou vir hulle wys hoe wonderlik die verhaal van Romeo en Juliet is: "Honderde jare nadat dit geskryf is, is daar steeds mense soos wat in dié boek uitgebeeld word."

Nieuwoudt wou by Barrie weet of kinders nie moeg word van al die gewroeg oor dwelms en selfmoord in die jeugboeke nie. Hierop het Barrie geantwoord: "Wanneer ek by skole met tieners gaan praat, vertel die kinders my van hul probleme. Die dwelm crack is op die oomblik (1998) ’n groot probleem in die tienerkultuur. Dis deel van hul lewe. Ek hoop om deur die boek te wys op die verskriklike gevare wat die dwelm inhou."

Oor die gay-tema in Skilpoppe verduidelik Barrie aan Nieuwoudt dat mense al jonger erken dat hulle gay is en daar is nie meer die groot probleem van aanvaarding soos in die verlede nie.

Die tema vir die Sanlam-prys was die einde en begin van ’n millennium en hy meen dat die probleme waaroor hy in sy boek geskryf het, net groter kan word in die 2000's. "Veral wat die misbruik van crack betref. Ek het met verskillende mense gepraat handelaars en gebruikers en ek weet hoe skokkend die crack-kultuur is."

Maar aan die einde is die storie een van healing of herstel en Barrie hou daarvan om oor die helingsproses te skryf, aangesien hy daardeur dalk sy eie duiwels ook kan besweer.

Nog iets wat anders is in Skilpoppe is dat hy vir die eerste keer ’n meisie as verteller gebruik en dit was vir hom ’n uitdaging: "Ek wou sien of ek wel ’n vroulike hoofkarakter kon skep. Anna het net met my begin praat en my die eerste sin van die boek gegee."

In Die Burger van 18 November 1998 is Skilpoppe beskryf as ’n "veelfasettige verhaal wat inderdaad so vaardig en vindingryk gekonstrueer is soos die Russiese baboesjkas of skilpoppe. (...) Hough se intieme kennis van en begrip vir die stadstiener maak van sy karakters geloofwaardige en realistiese jongmense met wie die leser kan identifiseer. Weer eens oortuig Hough met ’n genuanseerde, vervlegte roman. Dit verval egter nooit in ’n enumerasie van morbiede eietydse problematiek nie.

"Vir elke geteisterde karakter is daar ’n helende katarsis wanneer alle pretensie afgeskil word en medemenslikheid sy terapie begin. Die kronologiese ouderdomme van die tienerkarakters in Skilpoppe hoef geensins hierdie lesenswaardige roman te beperk tot die kategorie jeugboek nie. Allermins. Dit is literatuur sonder leeftyd."

Eugene Ras, ’n hoërskoolleerling, het in Beeld Jip (26 Julie 2000) geskryf dat hy net een woord het vir Skilpoppe en dit is WOW!

Barrie se vriendin Lizz Meiring het nie net Vlerkdans vir die verhoog verwerk nie, maar ook Skilpoppe. Barrie vertel aan Susan Coetzer (Rooi Rose, 16 Augustus 2000) oor die wisselwerking tussen hom en Lizz: "Wanneer ek skep, lees net ek dit en dis vir my moeilik om altyd perspektief te behou. Om my eie werk objektief te beoordeel. Dis wanneer ek Lizz gebel het. Sy was altyd my eerste leser. Soms het ek haar elf- of twaalfuur in die nag gebel. En dan kom sy net so in haar Mickey Mouse-pantoffels en haar rooi lipstick en sy gaan sit voor my rekenaar en lees. En as sy nie van iets hou nie, sê sy: ’nee, Barrietjie, mense praat nie meer so nie.' En dan verander ons saam aan die teks. Lizz is intelligent, sy't ’n fyn humorsin en kreatiewe aanvoeling wat ek vertrou.

"Ek skrywe in ’n redelike baster-Afrikaans. Ek gebruik Engels. Maar Lizz se grense strek nog verder. Sy het nog meer sleng ingewerk. Ek dink sy is eintlik ’n closet-skrywer."

Die verhoogverwerking van Skilpoppe is baie goed ontvang tydens die KKNK in 2000. Vir Barrie het die sukses van die stuk daarin gelê dat die karakters nie stereotipes is nie. "Dit gaan oor regte mense - oor hul kunstenaarskap en vriendskap. En dan is daar dinge soos dwelms en vigs. Dinge wat met ons is. Wat ons nie kan miskyk nie. Maar ek het nooit probeer om oor issues te skryf nie. Die mense was altyd op die voorgrond. Die humor en tekstuur van hul lewe. En ek dink dit het dit vir die gehoor maklik gemaak om hulle daarmee te identifiseer."       

In Junie 2001 was Barrie in ’n redelike ernstige motorongeluk betrokke. Hy het ’n kopwond opgedoen en hy het ook veelvuldige breuke aan sy linkerbeen gehad. Daar is ’n staalpen in sy been aangebring. Hy was op pad na Rapport se kantore toe hy in die botsing betrokke was.

In 2002 is Breek deur Barrie en sy vriendin en aktrise, Lizz Meiring, geskryf en uitgegee deur Tafelberg Uitgewers. Die verhoogdrama was by 2001 se KKNK te sien voordat die boek nog verskyn het.

Lizz het aan Johan Eybers in Rapport Tydskrif van 8 April 2001 gesê dat een van Barrie se wonderlikste karaktertrekke is dat hy geen ego het nie. "Ek geniet ook Barrie se werk en die inslag daarvan op jong mense. Ek soek altyd na iets nuuts oor die human condition en ’n mens vind dit beslis in Barrie se werk. Sy karakters is nooit swart of wit nie en daarom is sy werk nooit prekerig of sentimenteel nie. Hy verstaan mense.

"Dit kon duidelik gesien word uit die terugvoer wat ons oor Vlerkdans en Skilpoppe gehad het. Al die opvoerings was uitverkoop en resensente en gehore het dit as grensverskuiwend, aangrypend en as ’n nuwe teatergenre bestempel. Dit het destyds ’n snaar geroer en ek kry nou reeds oproepe van skole wat wil weet waar en wanneer Breek opgevoer gaan word en wanneer die roman uitgereik gaan word. Barrie het ’n groot aanhang in die land." 

Breek vertel die verhaal van twee studente, Tom en Gideon, wat ’n meisie, Justie, in ’n wassery ontmoet. Vir Tom is sy sy droommeisie, maar dinge loop aanvanklik bietjie skeef. Die drie het egter een ding in gemeen: hulle verhoudings met hulle ma's is nie lekker nie. Justie se ma is ’n alkoholis, Tom se stiefma maak asof sy biologiese ma nooit bestaan het nie en Gideon vermoed dat sy ma ’n verhouding met ’n ander man het.

In Volksblad van 25 November 2002 skryf Jaco Jacobs dat Hough ’n meester is om jeugboeke te skryf wat oor ernstige temas handel sonder op prekerig te wees. In Breek gaan dit oor "brose verhoudings". Vir Jacobs is daar slegs ’n paar punte van kritiek, onder andere dat die dialoog plek-plek stokkerig en geforseerd is. Andersins is Breek ’n "puik" boek.

Maritha Snyman (Beeld, 31 Maart 2003) skryf dat die roman nooit in die "tradisionele wroeging" van ander Afrikaanse jeugromans verval nie ten spyte van die problematiek waarmee die hoofkarakters gekonfronteer word. Daar is ’n ligte ondertoon van humor in al die situasies en veral in die dialoog.

"Die roman is so geloofwaardig gevestig in die hedendaagse realiteit – ook ten opsigte van die taalgebruik – dat  een van die teikenlesers opgemerk het: ‘’n Mens lees die boek asof dit deel van die lewe is. As jy klaar gelees het, gaan jy net aan. Dis real.'

"Die beeld van glas wat breek word deurgaans effektief aangewend as metafoor vir die delikaatheid van menseverhoudings. Dit word ten slotte treffend omgekeer sodat die roman op ’n positiewe maar realistiese noot eindig: soms moet dinge eers breek voordat dit heel kan word.

"Breek is ’n puik boek en die moeite werd om te lees. Ek het nog niemand raakgeloop wat dit nie geniet het nie. ’n Opvoering of twee van Breek hier in die noorde kan dalk net aan die boek die publisiteit gee wat dit verdien."

Oor sy hakkelry het Barrie aan Reinet Louw (Sarie Marais, 24 September 1986) vertel dat hy as kind baie swaargekry het, veral as hy ’n telefoonoproep moes antwoord of ’n mondelinge eksamen moes aflê. "Hakkel gee jou ’n slegte humeur. Die meeste hakkelaars het slegte humeure. Hulle krop dinge op, dan ontplof dit."

Maar met verloop van tyd het hy so goed aangepas dat hy selfs grappe oor sy gebrek kon maak: "Eers het dit seergemaak; vandag vertel ek self grappe. Al wanneer dit my hinder, is in openbare debat. Selfs as ek ’n mening het, bly ek liewer stil, want mense ken my nie en ek wil hulle nie verleë maak nie."   

Barrie Hough is op 17 Augustus 2004 oorlede. Dit was selfdood. Vroeg op die oggend van 17 Augustus 2004 het die opsigter van die woonstelle in Melville, Johannesburg waar Barrie gewoon het, gas geruik. Toe hy gaan ondersoek instel het, het hy op Barrie se liggaam op sy slaapkamerbed afgekom. Hy laat sy broer, Johnny, na.

Huldeblyke

  • Louise Steyn, uitgewer van kinder- en jeugboeke by Tafelberg Uitgewers: "Barrie laat ’n yslike leemte in die Afrikaanse letterkunde. Hy het die vermoë gehad om in jong mense se koppe te klim en was een van die gewildste jeugboekskrwyers in Afrikaans, indien nie die héél gewildste nie." (Die Burger, 18 Augustus 2004)
  • Lucas Malan: "Barrie het my gevlei deur te sê ek het hom leer skryf. Jy kan nie iemand met soveel talent léér skryf nie." (Die Burger, 18 Augustus 2004)
  • Danie Botha: "'Die grootste lewende Afrikaanse jeugboekskrywer!' Só het ek Barrie Hough begroet by Tafelberg Uitgewers wanneer hy vir die soveelste maal ’n jeugboekprys in die Kaap in ontvangs kom neem het. (...) Sy wens om ’n 'boek vir grootmense' te publiseer is in 1995 verwesenlik toe ek sy redakteur was vir Skimmelstreke, ’n keur uit sy rubriek Skuins voor Maandag in Rapport. Dis daarin dat hy skryf oor hoe depressie ’n mens kan oorweldig. Selfs in ’n roostuin. Maar jy dwing aanhoudend om die vrolike, selfs verspotte van Hough te onthou. En sy idealisme." (Beeld, 19 Augustus 2004)
  • Magda Vermeulen en leerders, Hoërskool Bekker Magaliesburg: "Ek het jou nooit persoonlik geken nie ... (...) Ek is hier (by die Boekehuis) omdat ek en honderde tieners wil huil oor jou stem nou vir ewig stil is. Die Afrikaanse jeugboek het een van sy grootste en eerlikste stemme verloor.  (...) Jy het by uitstek die uitdaging om die jeug se psige in jou werk te ontleed, aanvaar. Jy het nie geskroom om vir die wêreld te wys dat byderwetse Afrikaanse jongmense weet van seks, dwelms, vigs en selfdood nie. In hulle taal het jy meer as stories vertel. Jy het aan jou lesers ’n wêreld gewys met rebelse jong karakters soos hulself wat in opstand kan kom, norme kan ignoreer en reëls kan verbreek. Sonder om te preek of te oordeel, het jy altyd die ander kant van die munt gewys. Karakters van vlees en bloed, waarmee hulle kom identifiseer, wat hulle verbeelding kon aangryp en uit wie se lewens hulle kon leer. Jy het geweet hoe om die werklikheid van jongmens wees, eg en geloofwaardig uit te beeld. (...) Ek skryf hierdie brief aan jou om hulde te bring en ook om jou te vertel van Polonie - ’n swart graad 10-seun. Soos sy bynaam aandui, is eet en speel hoër op sy prioriteitslys as akademie, maar hy het onlangs uitasem by die wiskunde-onderwysers ingestorm met Skilpoppe in sy hand en dit in haar hand gestop met die volgende woorde: 'Jufrrou MOET hierdie lees, dis só cool, maar vanaand nog, want ek wil dit môre terughê!' Waar wil jy ’n beter getuigskrif kry van hoe universeel jou stem was en hoe wyd jou invloed? Ons probeer verstaan van die swart hond wat jou - soos vir Sebast in Skilpoppe - uiteindelik ondergekry het. Ons harte is seer oor jy nou vir altyd stil is, maar dankie dat jy deur jou stories áltyd by ons sal wees." (Kakkerlak, Somer 2004)
  • Sonja Loots: "Barrie was ’n hakkelaar, sodat gesprekke soms hortend verloop het, maar op papier het sy sinne vlot gevloei. By die herlees van resensies deur hom wat in die afgelope jaar of twee in Rapport verskyn het, word ’n mens getref deur sy raak seggingskrag, asook deur sy veelsydigheid.

"Hoewel kunsflieks sy kos was, kon hy ook genot put uit ’n betreklik verspotte fliek soos Todd Phillips se Old School, wat hy beskryf het as 'guitig maar geldig' (en hoe lief was Barrie nie vir guitigheid nie!) Hy verkneukel hom voorts in die 'vitterige visse' in Finding Nemo. 'Die animasie is fabelagtig driedimensioneel, kleurryk en die beweging so komies dat jy soms jil van die lag,' skryf hy. Dié wat hom geken het, weet dat dit aardskuddend was wanneer Barrie aan't lag geraak het.
"Uit sy laaste resensies blyk dit egter ook hoedat hy toenemend begin aanklank vind het by meer gefolterde karakters: Laura Brown in The Hours, wat hy beskryf as iemand 'wat die hele opset van haar lewe bevraagteken', of die 'donker, ontspoorde en uiteindelik byna ontredderde Perry' in Dark blue.

"In sy resensie oor Pollock vind ’n mens ’n opmerking wat, in die lig van Barrie se kunstenaarskap en selfdood, ekstra piëteit kry. Hy skryf: 'Met Pollock, soos met ander kunstenaars, bly dit ’n raaisel hoe ’n intense skeppingsdrang en die neiging tot selfvernietiging so sy aan sy kan bestaan.' " (Rapport, 22 Augustus 2004)

  • Sonja Loots: "Al hoe ons nou nog vir Barrie kan lig maak, is met die gloeilampie van onthou. Nie net die dinge waarmee hy ons moeg gemaak het nie, maar ook dit waarop hy en ons met reg trots kan wees: die werk wat hy as resensent op kuns- en literêre akker gedoen en, veral, ’n hele gerf boeke wat kinders nog lank sal help deur dae net so swart soos Barrie se laaste dag op aarde. Net só, met die koester van sy boeke, die terugdink en die onthou saam sal die belofte van daardie song van The Walkabouts op ’n manier vir Barrie waar word:

    And long after we're gone
    the lights will stay on
    the lights will stay on;
    And log after we're safe
    the lights will not fade
    the lights will not fade
    (Rapport, 22 Augustus 2004)

  • Elize Vos: "Barrie Hough-jeugverhale bied die hedendaagse adolessent die geleentheid om omstrede, kontensieuse kwessies te konfronteer en om tot die uiteindelike besef te kom dat daar ’n oplossing is vir andersheid, vreemdheid en seerkry. Barrie Hough se afsterwe laat ’n groot leemte vir sy vriende, literatore, leerkragte, studente en lesers; hy sal altyd deel bly van die kollektiewe Suid-Afrikaanse literêre en kulturele bewussyn." (Literator, November 2004)
  • Daniel Hugo:

    Die hakkelaar
    – Barrie Hough (1953-2004

    hy moes elke volsin snakkend
    uit ’n eindelose stilte red
    soos ’n hengelaar iets wat skitter
    uit die donker na die lig toe trek

    onderhoude met hom was moeilik
    maar maklik om te redigeer:
    haal net die dooie lugtyd
    tussen die vinnige sinne uit

    nou het hy tog die stilte gekies
    die diepste wat te vinde is
    die een wat sonder snitte
    uiteindelik ten volle sin maak
    (Die Burger, 30 Augustus 2014)

  • Terrence Carney, Pretoria: "Dit voel soos dood in die familie. Ek het só groot waardering vir sy skryftalent en insig as resensent gehad. Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat sy stem nou stil is. As tiener het sy boeke my oneindig plesier gegee en selfs as jong volwassene lees ek steeds sy boeke. Ai, my hart is net so seer. Een van my helde is dood en ek gaan hom so baie mis." (Beeld, 19 Augustus 2004)
  • Maretta Bellingan: "Daar was baie Barrie. En nie net op die skaal nie. Daar was die publieke Barrie. Bekroonde skrywer. Deurwinterde joernalis. Fliek-, teater- en kunsresensent. En daar was Barrie die swakste motorbestuurder met wie ek al ooit in ’n motor geklim het. Daar was Barrie die diereliefhebber, wat eers geroosterde hoender by die kafee in Brixton se hoofstraat moes koop voordat ek hom by sy huis kon aflaai. Daar was Barrie, meer verstrooid en vergeetagtig as ’n blondine op steroïed. Daar was Barrie die hakkelaar, wat wanneer hy jou bel soms so lank aan ’n woord wurg dat die koue sweet op jou voorkop uitslaan. En daar was Barrie die hartseer nar met die piri-piri-tong. Daar was slim Barrie en dom Barrie. Slim Barrie kon Shakespeare aanhaal en Oxford-Engels praat. Hy kon jou vernuftig en gemaklik gelyk gee of gelykvee. En slim Barrie het gewéét ’n mense eet nie biltong en cream soda vir ontbyt nie. Veral as jy aan depressie ly en oorgewig is. Maar dom Barrie wou nie luister nie. Bly stil, heks, sê hy, vat jou besem en kry koers.

"Wanneer presies die verf begin afdop het, sal nie een van ons kan sê nie. Ná die motorongeluk, amper drie jaar gelede, toe hy sy been gebreek en ’n lelike kopwond opgedoen het? Of was dit die eindelose, dikwels vernietigende gesoek na liefde en erkenning? ’n Soort moedswillige pokerspel met die donker man. Afgeval en seergekry, afgeval en weer gery. Afgeval. (...)

"Hy het altyd lekker geruik. Hy was so sterk as wat hy groot was. Hy het my vermaak, hy het my geleer, hy het my geïnspireer. Dis Barrie wat die titel Klitsgras vir hierdie rubriek gegee het. En hy het met groot geduld geluister as ek een vir hom voorlees. Daar was soveel meer Barrie as wat ek vandag onthou." (Rapport, 19 September 2004)

  • Lizz Meiring: "By Corina se Boekehuis (die arme vrou moet meer funksies gee as Edith Venter) het hulle nie net gekom uit ordentlikheid nie, hulle't tot laatnag gebly – asof elkeen nog net ’n stukkie van sy groot gees wou ervaar.

Ons het uitbundig gelag, die odd traan afgevee, maar nooit, ooit het enigiemand in sentiment, trane-trekkery of clichés verval nie, want Barrie was so ’n besonderse, unieke, oorspronklike mens – he defied clichés. Barrie was baie lief vir rituele – sy boeke is deurspek daarvan (ook maar ’n drama queen gewees) – en gisteraand was weer ’n ritueel. Hy het – ironies – met sy dood so baie van ons weer bymekaar gebring. Die lewe gaan aan, en ons sal weer vergeet dat mens, soos my ouma gesê het, 'blomme vir mekaar moet gee terwyl ons nog leef'. Maar … maak nie saak hoe ver in die verskiet nie: my dierbare, gekompliseerde, talentvolle, rowwe en sensitiewe vriend en mentor, Barrie Hough, sal nooit ’n cliché wees nie. En daar's min mense van wie jy dit kan sê." (LitNet)

  • Pieter van Zyl: “Hoekom bring ’n mens altyd hulde eers as iemand dood is? Barrie, jy het my lewe in Johannesburg gered in daardie jare toe ek amper ingesuig is deur daardie bodemlose stad. Tog was ek nie daar om jou lewe ... Wie gee my in elk geval dan nou die reg om aan jou hulde te bring? Barrie, die blomme in my hande is verlep en ek verwag nie jy moet dit aanvaar nie, maar ek hoop jy weet ek was baie lief vir jou en is jou ewig dankbaar. Ek hoop jy ry nou uiteindelik weer saam met jou pa in daardie droomwa van hom. Dit was immers jy wat vir my oorreed het hoe belangrik my pa in my lewe behoort te wees. Dankie dat jy vir byna ’n jaar jou plek in Brixton met my gedeel het! Daar kon ek gaan wegkruip vir die demone wat my al met Nuggetstraat afgejaag het. Jy het my uitgebail toe ek monsters geld geskuld het. As dit nie vir jou was nie, het ek nooit in die teater of fliek gekom nie. Jy het my dikwels aan die hare saamgesleep. As dit nie vir jou was nie, het ek nooit uitgevind dat die kere dat ek gedink het ek is besig om ’n hartaanval te kry, dit eintlik ’n paniekaanval was nie. Ek sal nooit vergeet hoe jy met my na die ongevalle-eenheid by die Rosebank-hospitaal gejaag het en die einde van die première van Gladiator moes misloop nie. As jy my nie help veg het om soos ’n wafferse Russell Crowe in daardie movie my gedrogte een vir een nek om te draai nie, was ek ook dalk nou …”(LitNet)
  • Kerneels Breytenbach: "Ek dink dis werklik tragies dat hy so moes heengaan. Sy lewenspad was nie altyd op gelyke aarde nie, maar daar was baie hoogtepunte gewees. Hy het veral aanklank gevind by jong lesers. Dit is ’n gawe wat nie vir almal beskore is nie. Daar was ook nog baie skryfwerk in hom gewees wat nou nooit ontsluit sal word nie. Ek ken hom reeds sedert die vroeë 80's toe ek as joernalis saam met hom gewerk het. Hy het ook as joernalis ’n besondere manier van skryf gehad.” (LitNet)
  • Charl-Pierre Naudé, digter en vriend van Barrie: "Nog so ’n tragedie kom nie as ’n verbasing nie. Ek dink die manier waarop die fokus op kuns, letterkunde en ’n spirituele lewe besig is om weg te kalwe in die aangesig van blinde materialisme is iets wat akteurs en skrywers sleg affekteer. Ek het nou die dag vir iemand gesê dat nog ’n Kerkorrel-geval op hande is, so hoewel ek absoluut geskok is, verbaas dit my nie. Daar is altyd persoonlike redes by iemand se besluit om sy eie lewe te neem, maar daar is onderliggend daaraan ook ’n ‘grid of despair’ wat meer sosiaal as persoonlik is. Barrie was net so ’n groot gees, hy kon daarin slaag om die letterkunde en die populêre wêreld te fuse, nou is daar weer eens ’n groot gaping." (LitNet)
  • Jackie Nagtegaal (deur Barrie geïnspireer om te begin skryf): "Ek is speechless, dis way te sad om aan quotes te dink ... I don't know. Hy was a kind, kind, amazingly awesome mens." (LitNet)
  • Louise Steyn, Barrie se redakteur by Tafelberg Uitgewers: "Ek onthou hom as hierdie groot, joviale mens wat hierdie wonderlike grappe kon vertel en uit sy maag kon lag daarvoor. Maar daar was ook ’n ander, donker kant ... hy kon verskriklik terneergedruk raak en het aan depressie gely. Hy het ’n ongelooflike slag gehad met tieners en jong mense. Ek het gehoor hy was destyds ’n uitstekende onderwyser by die St Barnabas-skool in Johannesburg. Die kinders het altyd wonderlik gereageer as ons skole besoek het; hy het hulle as gelykes en met respek behandel." (LitNet)
  • Neels Clasen, akteur wat saam met Barrie gewerk het: "Barrie was amazing, veral tydens Breek. Hy het byna elke oudisie self bygewoon en was nooit haastig om kritiek uit te deel nie. Hy het eerder sy eie opinie gedeel. Saam met Lizz Meiring het hulle ’n ongelooflike werksverhouding gehad. Sy vriendekring was vir hom so na as familie, waar hy regtig homself kon wees. Hy het ook baie insig gehad. Tydens die repetisies van Skilpoppe het hy ons gevat na die tronk en voorgestel aan die persoon op wie hy die hoofkarakter baseer het. Dit was ’n voorreg om hom te kon ken en saam met hom te werk." (LitNet)

’n Bietjie meer as ’n maand na Barrie se dood, op 27 September 2004, is ’n rolprentweergawe van Skilpoppe op M-Net uitgesaai. Lizz Meiring was die draaiboekskrywer en André Odendaal die regisseur. In die rolverdeling was bekende Suid-Afrikaanse akteurs soos Marius Weyers as die pa en Sandra Prinsloo as die ma. Thérèse Benade was die ouer dogter, Elise, en Brendan Pollecutt, haar minnaar. Anna is vertolk deur Kate Ascott-Evans.

Emile Joubert was in sy bespreking in Volksblad van 2 Oktober 2004 glad nie vleiend oor die produksie nie. Hy kon nie verstaan dat só ’n aktuele en treffende storie met ’n span bekwame akteurs só ’n mislukking was nie.

Joubert het onder andere geskryf: "Kenmerkend van Hough se oeuvre, het die boek ’n hart. ’n Hart wat na die gehoor uitreik. Kyk na mý. Kyk na die wêreld om jou. En veral, kyk na die mense óm jou. Waar die uitbeelding van die dramatiese elemente, onder meer patriargale verwerping, konflik oor gay wees, selfdood, dwelms en seks in die boek rondom daardie kern-hart verweef is, word die drama as ’n reeks opsitwekkende foefies ingespan. Die resultaat is sielloos en vlak, ondanks die dapper toneelspelpogings."

Publikasies

Publikasie

My kat word herfs: ’n jeugverhaal

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1991
  • 1996 (20+ herdrukke)

ISBN

  • 0624023427 (sb)
  • 0624023567 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1990 Engels My cat turns autumn

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Droomwa

Publikasiedatum

1990 (+ 24 herdrukke)

ISBN

062402976X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

  • 1990 Sanlam-prys (silwer) vir jeuglektuur
  • 1992 Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur
  • 1992 CP Hoogenhout-medalje vir beste kinderboek

Vertalings

1993 Engels Dream chariot

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlerkdans

Publikasiedatum

  • 1992
  • 2013 (31 herdrukke)

ISBN

  • 0624031861 (sb)
  • 978062405705 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

  • 1993 ATKV-prys 13–15 jaar
  • 1992 Sanlam-prys vir jeuglektuur (goud)

Vertalings

1996 Engels In full flight

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skimmelstreke

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624034321 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skilpoppe

Publikasiedatum

1998 (+ 18 herdrukke)

ISBN

  • 0624036987 (sb)
  • 0624038394 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

  • 1998 Sanlam-prys vir jeuglektuur
  • 1999 MER-prys vir jeugliteratuur

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Breek / saam met Lizz Meiring

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2009 (10 herdrukke)

ISBN

9780624039785 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Artikels oor en deur Barrie Hough beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top