Barend J Toerien (1921–2009)

  • 1
barendtoerien280

Sêgoed van Barend J Toerien

“Die bruin mense sê ‘moenie kommer nie’, en dis baie nader aan die hart van Afrikaans. Afrikaans vat altyd die kortste pad. Maar die taalpuriste kom toe met die nonsens van ‘moenie bekommerd wees nie’! Toe wen die Engels natuurlik! ‘Moenie worry nie!'” (Volksblad, 1 Mei 2009)

“Ek was aanvanklik huiwerig om die politiek openlik te kritiseer omdat ek as ’n Suid-Afrikaner by die Verenigde Nasies gewerk het. Dit was egter die gebeure in Kanaldorp (die destydse Distrik Ses) wat my aangegryp en laat skryf het.” (City Press, 17 Februarie 2002)

“So ek was altyd, letterkundig gesproke, in Afrikaans ’n randfiguur. Ek was altyd buitekant. Omdat ek nie hier gewoon het nie. En ek nie juis letterkundig geweet het wat aan die gang is nie.” (Die Burger, 19 Oktober 2007)

In 2007: “Onthou, ek is nie meer ernstig oor poetry nie. Ek lees meer non-fiction. Veral geskiedenis. Wat ek nou probeer opvang, is geskiedenis. Ek het nou daai boeke gelees van Prescott: The conquest of Mexico, The conquest of Peru. Dié soort boeke; ek verslind hulle. En ook Suid-Afrikaanse geskiedenis, wat ek nie ken nie. So poetry is vir my ’n bietjie shitty. Behalwe Antjie Krog. Ek het nog vol vir daai vroumens. Daai Verweerskrif-bundel van haar. Dis bleddie goed, jong! Sy práát. Sy sê ’n ding. Sy’s nie bang om te sê nie.” (Die Burger, 19 Oktober 2007)

In 2007 of hy nog gedigte skryf: “Ek wil, maar ek wil nie. Ek is te lui. Ek lees te lekker. En ek kyk so baie sport.” (Die Burger, 19 Oktober 2007)

Helize van Vuuren het vertel: "Op ’n Port Elizabethse Oujaarsaand in 2001 het hy ter aller vermaak ’n volksagtige liedjie gesing wat hy glo 'as kind oor die radio' gehoor het:

Koffie is ’n ding wat lekker smaak,
water is om mee te was
koeimelk smaak te veel na die gras
bokmelk smaak vir my ook nie lekker nie
maar met wyn saam kan jy binne lekker kry,
lekker – tot die diender jou vang!
Maar wie’s nou vir ’n poliesman bang?" (Rapport, 12 September 2009)

Gebore en getoë

Barend J Toerien is op 29 Maart 1921 op die plaas Steenwerp buite Porterville in die Swartland gebore – tussen plekname wat “sing soos kleilat: Koringkas, Kersbosgat, Middeldeurvlei, Tierkloof, Bladbeen, Driebos”. Vandag is die plaas Voorberg-gevangenis.

Charl-Pierre Naudé (Beeld, 8 Januarie 2002) skryf dat Barend in die gedig “Die resitasie” die geskiedenis van sy familie vertel en “gelykertyd sy eie rites of passage deur die plekname van sy kontrei op ’n bepaalde manier teen mekaar op te stel”.

Barend het ’n broer en suster gehad en oor sy ma het hy gesê: “She was allright.”

Oor sy pa: “Ek is baie stupid grootgemaak. My pa het my absoluut geboelie, so ek is ’n baie suppressed personality. Weet jy, die ou mense was so gewees ... darem nie almal nie, maar ... Jy mag nie gehoor word nie. Jy mag nie praat nie. Jy moet net doodstil wees. Stupid! As ek nou terugdink, kom dingetjies terug na my. Toe ek seker so vyf jaar was of jonger het my pa my wragtag met ’n horse-sweep kom uithaal uit my crib uit en geslat omdat ek nie ’n stokkie vir hom gebring het nie, want hy wou in sy tande krap. Jy weet, daai soort. En langs tafel ... jy mag nie ’n woord sê nie. Ek het eendag iets gepraat ... weet jy, hy het my geklap dat my kop daar gerol het. [...] Nee, daardie man was heeltemal verkeerd. Toemaar.” (In ’n onderhoud met Murray la Vita, Rapport, 15 April 2009.)

“My skool was baie swak. Die Porterville-hoërskool. Ons het nie eers ’n biblioteek gehad nie. Jy weet dit was pateties. Ek het ’n groot agterstand gehad,” vertel Barend aan Murray la Vita.

Barend het in 1938 aan die Hoërskool Porterville gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Hy was nie ambisieus gewees nie en het op skool geen idee gehad van wat om te word nie. “Ek het gehou van Afrikaans, toe gaan ek maar BA neem. En wat doen jy dan? Dan gaan jy maar SOD. Destyds het almal maar gaan skoolhou. Maar toe hoor ek skielik, toe ek op Ikeys was, van hierdie biblioteekwese. En ek was so oorstelp. Dank die Vader dat ek hom toe neem” – weer aan Murray la Vita.

Universiteit Stellenbosch is waar hy sy aanvanklike tersiêre opleiding ontvang het. Hy is saam met Etienne Leroux en sy neef Hubert du Plessis, die komponis, in die manskoshuis Dagbreek. Hy het in 1941 sy BA-graad aan Stellenbosch behaal; daarna is hy na die Universiteit van Kaapstad, waar hy as student vir ’n diploma in die onderwys by NP Van Wyk Louw in die klas was. Louw het filosofie van die opvoedkunde doseer en Barend het die klasse glo “erg vervelig” gevind, die kursus gedruip en daarna ’n diploma in biblioteekkunde geloop, wat hy in 1943 verwerf het.

Hy het in verskeie biblioteke in Suid-Afrika gewerk en twee Afrikaanse pulpromans onder ’n skuilnaam geskryf. Met die geld wat hy daarmee verdien het, het hy in 1947, soos so baie ander jongmense van sy generasie, per skip na Engeland vertrek. Vanaf 1947 tot 1949 is hy redakteur van Bibliography of Industrial Diamonds Applications in Londen. In Londen en in Europa het hy saam met uitgewekenes soos Uys Krige, Sheila Cussons, Stoffel Nienaber en Hennie Truter gereis en gewerk. Gedurende hierdie tyd doen hy ook somerwerk in Noorweë (bou paaie) en Switserland (trek bossies in die Switserse Alpe uit).

In Engeland het hy hom tot die skryf van radiodramas gewend om geld te verdien. Die twintig ghienies wat hy per drama verdien het, was genoeg om die pot aan die kook te hou, maar ongelukkig, vertel hy vir Erns Grundling (Rapport, 17 Februarie 2002), het “die dônners nooit gesê wanneer hulle dit oor die lug uitsaai nie”.

In 1949 is Barend na die VSA, waar hy tot 1962 as bibliotekaris by die VN (destyds die VVO genoem) in New York gewerk het. Van 1963 tot 1967 was hy inligtingsbeampte by die United Nations Industrial Development Organisation. Hy was ook ’n dosent in die Departement van Gevangenisse in Woodburn.

Barend het in 1966 ’n plaas in die staat New York gekoop en in 1978 is Amerikaanse burgerskap aan hom toegeken. As eienaar van ’n plaas aan die voetheuwels van die Catskills het hy met bye leer boer, en ’n duisend boompies per jaar aangeplant. Later, tydens ’n tweede verblyf in Amerika, was hy ’n tyd lank werkloos en het hy as veiligheidswag, tuinier, saagmeulassistent en car hop by ’n hotel gewerk. Oor laasgenoemde vertel hy aan Johann Botha (Die Burger, 6 November 1992): “Vrouens tip nie. Hulle is te prakties. Dis mans wat tip. Hulle wil wys hoe macho hulle is.”

In Amerika het Barend in die huwelik getree met ’n Tsjeggiese vrou, Maria Krikevowa. Hulle het ’n dogter, Janna, wat gimkana op haar perdeplaas in Maryland in Amerika afrig. In 1963 is hy en Maria geskei. In 1979 is Barend weer getroud, met Johanna, weduwee van sy neef, Jan Toerien, hoogleraar in anatomie aan die Vrystaatse Universiteit. Hulle het op Barend se plasie buite Kerhonksen sowat 160 km noord van New York gebly. Saam het hulle later die plasie Eldorado buite Onrus gekoop, maar is ook later geskei.

Gedurende Barend se verblyf in die VSA (1949–1983) keer hy elke dekade vir lang tye terug na Suid-Afrika om berg te klim en die “heuning van die name te kom drink,” skryf Helize van Vuuren op LitNet. “Hier vat ’n swerwersmentaliteit pos en ’n rusteloosheid wat hom nooit sou verlaat nie. ’n Patroon word vasgelê van voortdurend tussen kontinente te bly beweeg, veral tussen Suid-Afrika, Amerika, Engeland, Europa, wat sou bly tot die einde van sy lewe – ewe tuis op alle kontinente met oral vriende, oud en nuut, en in baie tale tuis. Hierdie kosmopolitiese aard kom sterk na vore in sy briewe en poskaarte deur die jare uit talle oorde.”

In Augustus 1991 (toe was hy al sedert 1983 terug in Suid-Afrika, gevestig in Kaapstad, en hoofsaaklik besig met bergklim in die Bolandse berge) het hy vir ’n maand na Moskou gevlieg, op uitnodiging van ’n Russiese uitgewershuis. Hy was vergesel van Albert Piterski, ’n jong Rus, as vertaler en metgesel. Hy het gaan bergklim in die Oekraïne, het gedien as verteenwoordiger van Afrikaans, in ’n staatsgreep in Moskou beland en veel beleef. Tydens die toer het Barend aantekeninge gemaak, en dit is in 1992 gepubliseer as Augustus in Moskou. Hy was waarskynlik een van die min Suid-Afrikaners wat die voormalige Sowjetunie nie op ’n gewone toer nie, maar heeltemal op sy eie gaan sien het.

Vir Dimitry Greshnev (Die Burger, 26 Mei 1992) was dit goed dat die boek wel gepubliseer is, maar daar is tog foute in. "Dit is egter begryplik en die boek toon hoe moeilik dit is om ou stereotipes te laat vaar en aan nuwe toestande gewoond te raak."

Albert Piterski (Beeld, 11 Junie 1992) skryf in sy bespreking van die boek dat dit die belangstelling van die Suid-Afrikaanse leser kan wek. "As die boek deur iemand geskryf is wat sy hele lewe in Rusland gewoon het, sou dieselfde storie natuurlik anders gelyk en sou die aksente op ander aspekte geval het. Barend was in Moskou met die beroemde Augustus 1991 se staatsgreep, en dus is sommige feite en besonderhede weggelaat en mense se name is verander nadat hulle gevra het dat hulle regte name nie gebruik word nie. Weens die erns en akuutheid van die politieke en ekonomiese probleme van die land is die boek met ’n goeie sin vir humor geskryf wat ’n leser baie sal kan waardeer en wat een van die resenseerders ongelukkig volstrek gemis het. ’n Leser sal ook sien dat die outeur vir Rusland liefgeraak het en dat hy baie optimisties oor die toekoms van die land is. As ’n mens bogenoemde in ag neem, is die paar onjuisthede in die boek niksbeduidend en bly dit ’n interessante en opwindende boek.”
 
In 1993 het hy vir ’n maand of twee alleen in die digter-diplomaat Julian de Wette se ou vervalle plaashuis in Bretagne gaan bly, waar hy groente gekweek het en daagliks (op 72-jarige ouderdom) per fiets dorp toe gery het vir inkopies en koffie, terwyl hy sy Frans verbeter het deur Xaviera Hollander te lees! Later is hy na Berlyn, het hy ’n huis in Darmstadt opgepas en in die Switserse berge berg geklim.

Barend het vir hom ’n woonstel in die Strand gekry en het gedurende die Suid-Afrikaanse somer daar gebly. In die Suid-Afrikaanse winter is hy na Amerika, waar hy vir sy dogter gaan kuier het.

Barend het in die jare dertig reeds op skool en universiteit gedig, maar nie veel geleentheid gehad om sy werk met ander te deel nie, en dit is in “lessenaarlaaie opgegaar”. In 1946 het hy saam met Sheila Cussons, GA Watermeyer en Ina Rousseau in die tydskrif Stiebeuel gedebuteer. Van sy vroeë gedigte is ook in Groot verseboek opgeneem en in ander tydskrifte gepubliseer.

Sy eerste digbundel, Gedigte, het egter eers in 1960 verskyn, toe hy al amper 40 jaar oud was. Die bundel was al in 1956 gereed vir publikasie en is aan Uys Krige voorgelê. “Korrespondensie was destyds ’n veel groter gesukkel as met vandag se tegnologie en omdat ek in Amerika was, het die proses maar gesloer,” vertel hy aan Erns Grundling. “Aanvanklik het ek gedig oor onderwerpe en emosies waarvan ek nie baie geweet het nie, maar toe ek besluit om te fokus op wat binne my ervaringswêreld val, het my werk heelwat beter reaksie van kritici gekry.”

Ernst Lindenberg skryf in Die Burger van 24 Februarie 1961: "’n Mens is bly om die ligter, sjarmante toon van party van die gedigte en ook dat Toerien nie sy talent onnatuurlik verwring in ’n poging om ’n klein Oppermantjie te wees nie. Maar Toerien se gedigte is, ten spyte van die geestigheid, eentonig.”

Vir AP Grové (Huisgenoot, 27 Januarie 1961) is daar tegniese tekortkominge in die bundel, maar daar is ook "mooi verse en sieninge" teenwoordig.

Met die verskyning van Toerien se tweede bundel, 39 gedigte, in 1963 skryf WEG Louw (Die Burger,13 Maart 1964): "Hoewel die titel kleurloos is, is die verse allermins kleurloos en toon Toerien – ten spyte van tekortkominge – dat hy ’n digter uit eie reg is. Die toon van die verse is nugter en selfs ligtelik sinies, in so ’n mate dat ’n mens ’n baie wêreldwye gees daaragter vermoed. Maar die verse is terselfdertyd nooit heftig nie: selde alte gevoelig en nooit sentimenteel nie.” Hy noem Barend ’n "Sondagsdigter".

FIJ van Rensburg (Die Volksblad, 8 April 1964) beskryf Barend as ’n tipiese tydskrifdigter wat in ’n bundel so ’n bietjie ontmasker staan. “Hy is in staat om van tyd tot tyd ’n gedig te skryf, soms ’n goeie, maar hy is geen digtersfiguur nie.”

Barend is een van die min digters wat gedurende hierdie tyd sy hand aan die skryf van regstreekse politieke gedigte gewaag het. Veral Verliese en aanklagte, wat in 1973 uitgegee is ná ’n stilswye van tien jaar wat bundels betref, het ’n sterk politieke bewussyn getoon. Hieroor laat PD van der Walt (Transvaler, 11 Maart 1974) hom as volg uit: “Ook Barend J Toerien sluit in sy digbundel by hierdie koor aan wat tot die ontgogelende gevolgtrekking gekom het dat ons in ’n maatskappy leef wat ’n mooi sye rok aan het maar met vuil onderklere. Hierdie infame peshol van ’n Suid-Afrika met sy fanatici en martelare is die onderwerp van sy kritiese litanie wat hy sing in die tweede deel van die digbundel. Die eerste afdeling, ‘verliese’, is meer persoonlik van aard. [...] Maar dis die stert van die likkewaan wat seer slaan. Die laaste deel van die versameling is dan ‘aanklagte’ teen die sosiaal-ekonomies-politieke toestande in die land. Soos Barend se gevoel vir die underdog opreg en eerlik is, is egter ook sy verbondenheid aan die land en sy mense."

Vir H Ohlhoff (Hoofstad, 14 Junie 1974) is daar baie mooi vondste in die bundel, maar die gedigte is nie almal van dieselfde gehalte nie. Ook is daar soms tekens van ander gedigte, soos by die Opperman-procédé van "Die getuienis". “Gelukkig egter is hierdie invloede meestal selfstandig verwerk.”

Met die verskyning van Illusies elegieë oorveë transfusiesin 1975 skryf Abraham de Vries (Die Burger, 15 Januarie 1978): "Hoewel die titel miskien die indruk wek dat die genoemde dinge (in die titel) van mekaar te skei is, die grondtoon van die bundel tog eintlik elegies: die verse staan in die teken van ’n verskerpte besef van afbraak, van ouderdom en agteruitgang. Toerien is op sy beste tog skerp in die oopvlek van toestande in Suid-Afrika. Ongelyk, maar tog die moeite werd,” is De Vries se laaste uitspraak.

André P Brink (Rapport, 8 Februarie1976) beskou hierdie bundel as een van die verrassings van 1975 – “boweal omdat ’n digterskap wat tot dusver, in weerwil van ’n handjievol goeie verse, eintlik betreklik ónmerkwaardig gebly het, hier eensklaps met byna ongelooflike blyke van groei heeltemal ryp en trefseker geword het. Daar is steeds gedigte in die bundel wat minder geslaag is, [...] [m]aar dié gedigte is uitsonderinge in ’n bundel wat deurgaans op so ’n hoë peil staan. [...] Barend Toerien se nuwe bundel is kort en klaar ’n voortreflike en belangrike bydrae tot die poësie van Sewentig.”

Een van die gedigte wat Brink uitsonder, is “Steenwerp se Bruinmense”:

Diep onder die wingerd lê ons, Steenwerp se Bruinmense.
Waarom het baas so gekommer om vir ons lêplek te kry?
Dit maak tog nie saak dat die wortels ons uitsuig nie; dis murg vir ons
beendere en proe effens na vaaljapie,
Ons is altyd begrawe al in die uithoeke
Tussen die wingerddraad en latbosse en in die diep sandgrond
want wie wil hom nou doodgrou vir ’n dooimens?
tot eendag baas meer stokke wou plant
en ons sandhopies platstryk met tweevoor en ghrop.
Nou voel ons hoe wortels kan kielie
maar al wil ons ook lag
is niks meer snaaks genoeg nie.

Vir Johann Johl (Die Volksblad, 31 Maart 1976) is hierdie bundel ’n keerpunt in die oeuvre van Barend Toerien. “Maar dit is ook beginpunt vir ’n stygende ontwikkelingslyn, waarvan hier veel belofte is.”

Aanvange, wat in 1983 gepubliseer is, is ’n keur uit Barend se gedigte vanaf 1938 tot 1962. Volgens EC Britz (Die Burger, 21 Desember 1983) kan gedigte wat oor so ’n lang periode geskryf is, as dit op styl en inhoud bekyk word, nie ’n eenheid vorm nie. "Daar word oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe gedig en dit bied ’n oorsig oor Toerien se ontwikkeling van die veertigerjare toe die heersende stylmodes hulle invloed laat geld het tot die sestigerjare, waarin hy ’n natuurliker, kragtiger Afrikaans skryf.”

Vir Henning Snyman (Die Vaderland, 3 Oktober 1983) lewer Aanvange as ’n bundel poësie "betreklik min op, maar as ’n literêr-historiese studie-onderwerp is hier heelwat materiaal."

André P Brink (Rapport, 18 Desember 1983) beskryf die bundel as volg: "Dit is poësie wat telkens tussen twee pole beweeg: die romantiese verlange (wat meermale ’n Krige-klank dra) en ’n halfnugter en verleë betragting van ’n wêreld gestroop van illusies. Die mens in die skaduwee van die dood: soms wrang bereid om te berus, maar meermale in drome en verlangens aan ’t ontsnap daaraan, of ander in heftige opstand daarteen; en altyd, altyd uitgrypend na die alte vervlugtige bietjie mooi wat ons op dees aardbodem het – dit is wat Toerien met soveel geldigheid in dié vroeë werk te sê het, soms in konvensionele vorme, dikwels met ’n digte, drukke sintaktiese weefwerk wat hom verrassend ‘modern’ maak.”
 
Volgens Joan Hambidge in Dolos van 29 Junie 1985 is Barend se volgende bundel, ’n Plek op die land: Catskillverse (1985), ’n "soort verslag van die digter se jare lange verblyf in die Catskill-berge in die staat New York. Toerien se belangrikste bydrae tot die Afrikaanse poësie lê in sy guitige, speelse aanslag. Vele van die gedigte in ’n Plek op die land word gekenmerk deur dié debonair-aanslag. [...] Die bundel se beplanning is imponerend. Die sikliese opbou en intertekstuele verband is fyn uitgewerk. Met ’n Plek op die land het Barend J Toerien vir hom ’n groter plek oopgeskryf binne die Afrikaanse letterkunde.”

Brink skryf in sy resensie in Rapport, 28 April 1985 as volg: "Die beste gedigte, die werklik onthoubare verse, in hierdie bundel word gekenmerk deur hul skerp etswerk, die soort bedrieglike eenvoud wat op sy beste herinner aan Robert Frost. Die gedigte is soos voëlspoortjies in die sneeu: party raak toegeskif en die paar bestes trap skerp en presies deur die geheue."

Phil du Plessis is die volgende mening aangedaan: "Die aantreklikste aspek van Barend se digterskap is sy ongekunstelde menslikheid met knorrigheid, kruheid en hulle polariteite, teerheid en sensitiwiteit en al. Sy vers vloei selde sonder ’n natuurlike ritme deur die gekose versstrukture, wat mens met genot hardop laat lees. Klaarblyklik het sy muse hom geensins verlaat nie, al gee die prostaat nou wel probleme.”

Daniel Hugo (Die Burger, 12 November 1991) beskou Parte speel (1991) as die beste digbundel van 1991 en ’n "bundel vol skatte, skatjies en skatologieë”. Ook Barend se vertalings van Bertolt Brecht se gedigte slaag volgens hom as Afrikaanse gedigte uitmuntend.

Phil du Plessis (South African Literary Review, June 1992) skryf dat Barend ’n mens is wat die natuur lief het, wat soos ’n kind op die berge van die Kaap en op die vlaktes van die Sandveld verkeer. “Sy gedigte oor land en veld is dan ook van die beste in Afrikaans. Daarby is hy sterk humanisties ingestel, met deernis vir hulle wat die minste is, dikwels nie sonder ironie nie, want hy het gewoonlik ’n goeie komiese slag. Met sy nuutste digbundel is al hierdie fasette van die digter daar, in ’n rype vorm wat Parte speel van sy beste werk maak.”

Met die publikasie van Afrikaans literature in translation, wat in 1993 by Carrefour Press verskyn het en in 1998 deur Tafelberg Uitgewers heruitgegee is, het Barend ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse naslaanmark gelewer. Fanie Olivier (Beeld, 31 Augustus 1991) is verheug dat "Barend Toerien se liefdestaak vir Afrikaans en die Afrikaanse boek uiteindelik deur Suid-Afrikaanse uitgewers erken word en dat hierdie stuk werk van Barend baie groot waarde het, want in die gesprek oor Afrikaans is hierdie buitelandse resepsie belangrik, en kan ’n mens waarskynlik aanneem dat die belangstelling sal groei soos ander mense ontdek watter voortreflike letterkunde daar hier aan die onderkant van Afrika bestaan en wat alles deur die klein, klein beiteltjie van Afrikaans vermag is en word.”

Barend was ’n uitstekende vertaler van gedigte uit veral Europese tale in Afrikaans en het daardeur ander poësie vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak. Baie van sy bundels bevat van hierdie vertalings, maar in 1997 verskyn Houtjies van die galg, wat gedigte bevat uit die Duitser Christian Morgenstern se “Galgenlieder”. Hieroor skryf Wilhelm Grütter (Die Burger, 12 Desember 1997): "Vir iemand wat die oorspronklike gedigte ken, slaag nie al die vertalings nie, maar dit is wanneer Toerien sy taalspel vryste teuels gee dat jou tone wil opkrul, en daarvan bied die keur oorgenoeg.”

JC Kannemeyer (Rapport, 28 Desember 1997) meen dat Toerien dit baie goed reggekry het om die gees van Morgenstern se werk weer te gee, "en dikwels met vertalings vorendag te kom wat nie alleen die oorspronklike eer aandoen nie, maar as Afrikaanse gedigte uit eie reg kan staan. Met hierdie bundel word ’n bydrae gelewer om die geestelike horison van die Afrikaanse leser te verruim.”

Na ’n digterlike stilswye van byna tien jaar verskyn Die huisapteek in 2001 by geleentheid van Barend se tagtigste verjaardag. AP Grové (Beeld, 28 Mei 2001) sê dat van die gedigte jou ’n aanduiding gee wat om van die bundel te verwag: “’n werk waarin die digter sentraal staan en waarin hy as ’t ware ’n verweer teen die ouderdom soek deur terug te kyk op die jare wat agter hom lê terwyl hy rekenskap gee van die kragte wat vormend op hom ingewerk het”.

Grové meen dat die bundel in sy geheel ’n goedbeplande outobiografie word – "goed beplan, maar nie opdringerig nie. Dis ’n biografie wat ’n lewensgang skets van kindwees tot volwassenheid tot ’n ryp ouderdom. Maar deur die verwysings na faktore wat daardie lewensgang help rig het: milieu, geskiedenis, lektuur, onderwys, reise ... word dit meer as die lewensverhaal van ’n enkeling en kry ons, sy dit op beskeie skaal, iets te sien van die geskiedenis en aard van die eeu wat agter ons lê. In hierdie sinvolle opset lê die waarde van die bundel, meer as in die vers wat eerder mededelend as beeldend of dramaties wil wees en daarom ook dikwels spanningloos aandoen.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 18 Junie 2001): "Die huisapteek sitdie stygende gehaltekurwe van veral sy vorige drie bundels voort, asook ’n tematiese patroon wat uitkristalliseer."

Daniel Hugo (Die Burger, 4 Junie 2001) het groot plesier uit die bundel geput en vir hom was dit ’n gepaste verjaardagpresent aan een van Afrikaanse se "heel interessantste digters".

"Die huisapteek word gekenmerk deur Barend se skerp humorsin en satiriese aanslag. En die verse is grotendeels herinneringe aan sy grootworddae op die plaas Steenberg." (Erns Grundling, Rapport, 17 Februarie 2002)

In 2002 het Barend as hoofskrywer die grootse werk van die Toerien-familieregister voltooi en is dit deur Genealogiese Publikasies in Port Elizabeth gepubliseer. Dit het Barend etlike dekades geneem om dit te voltooi. Hy vertel aan Murray la Vita: “Dis ’n enórme job. Dit het my omtrent veertig jaar geneem saam met baie ander mense. Daai boek is beter as enige k-k poetry wat ek geskryf het.”

Met die publikasie van Die wegraak van Frans Joosten (2004) begewe Barend hom op die gebied van die geskiedenis. Dit is die verhaal van die moord op Frans Joosten waarvoor sy vrou en twee slawe gevonnis word tot verwurging, blakering, empalering en geledebraking. Nàomi Morgan (Volksblad, 23 Augustus 2004) skryf in haar resensie dat die belangrikheid van die verhaal gesetel is in die intieme verhouding tussen Maria Joosten, ’n nooi Mouton van Hugenote-afkoms, en Barend, ’n slaaf wat op die Moutons se familieplaas, Steenberg, gebore is, met die rasse- en sosiale implikasies wat met so ’n verhouding gepaardgaan. "Die verhaal van Joosten se verdwyning en die eindelike ontdekking van die waarheid word feitelik oorgedra en daarin lê die probleem. Die karakters bly bloedloos en selfs gesigloos, terwyl die titel, die aanbieding en die eerste sin die verwagting skep dat ’n menslike verhaal hier vertel gaan word wat die leser sal boei en die agtiende eeu sal laat herleef. Die algemene indruk is egter eerder dié van ’n historiese dokument ...” Morgan sou verkies het dat die verhaal eerder as ’n geskiedkundige roman uitgegee moes gewees het.

Met Barend se 85ste verjaardag publiseer Protea Boekhuis ’n keur uit sy gedigte, saamgestel deur Louise Viljoen, onder die titel Om te onthou (2006). In Beeld van 4 Julie 2006 skryf Fanie Olivier dat ’n keur uit Barend Toerien se verse ’n lofwaardige idee was en dat die keuse van Louise Viljoen ’n goeie oorsig oor sy werk bied. Want “’n byeenbring van ’n lang digterskap soos dié van Barend J Toerien lê uiteraard ook gebreke in die versmakery bloot, sodat ’n mens soms verbaas staan by die maklike en gemaklike opsetlikheid van sekere gedigte. Moes die samesteller dit korter gesnoei het? Of is dit juis die klompie mindere gedigte wat terselfdertyd verseker dat ’n betroubare geheelbeeld van die digter se werk hier in die hand kom lê? Ek kies die tweede opsie. Want dis hoe ek Barend ken (hoe gelukkig is ek nie!), en hoe diegene wat ná ons kom, sal weet: Om te onthou.”

Vir Hennie Aucamp (Rapport, 5 Oktober 2007) is dit onverstaanbaar dat hierdie bundel so ongemerk gekom en gegaan het. “Een probleem is waarskynlik dat Toerien se werk nie maklik geëtiketteer kan word nie. Toerien is ’n urbane gees wat oor alles wat op sy pad kom, skryf. Hy laat hom nie deur mode-ismes bind nie. Hy is ’n man vir alle seisoene, veral vir die herfs en die winter. Maar weerkerende motiewe is daar tog: die natuur, die liefde, die kunste. En hierin is hy, ondanks sy ironie en satires, ’n aartsromantikus.” Vir Hennie Aucamp is Barend moontlik die "laaste groot natuurdigter in Afrikaans, al het sulke terme soos ‘natuurdigter’ en ‘natuurpoësie’ verouderd geraak".

Barend het gereeld Afrikaanse boeke in World Literature Today geresenseer en daarmee die Afrikaanse letterkunde aan ’n breër publiek bekendgestel.

Rots- en bergklim was nog altyd een van Barend se groot liefdes. In sy gedigte het hy geskryf oor staptogte in die Sederberge, die ontmoeting met die thar-bok teen Tafelberg, die ysterkramme, ysrots en klimtou teen die Alpe. Behalwe dat dit hom fiks en gesond gehou het, het die natuur onlosmaaklik deel van sy werk geword:

’n Wit berk het in die bos gestaan
drie wit stamme met wit basse aan
dun vingers
met vingertoppe in ’n blou bak blare.

Tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufees in 2009 het hulle ’n Eeufeesmedalje aan Barend en ander persone wat oor ’n tydperk besonderse bydraes tot Suid-Afrika gelewer het, toegeken. Hieroor het hy aan Danie Botha gesê: “Nee, die Kakkademie kon dit maar gehóú het; wat kan ek tog daarmee dóén? 'Plaas hulle vi’ my sjeld gee.' Ja, ek sal maar gaan en luister na Louise Viljoen se lofrede. (Maar sy wou van my beste verse weglaat uit haar keuse. Ek moes haar ompraat!) En dan gaan ek dankie sê en kla oor die digters wat so ‘baja Ingelse woorde in hulle Afrikaanse gedigte ingooi’. Daarna gaan ek stilletjies wegglip. What do you think?” Danie se reaksie hierop: “Ja, ja, Barend, sê dit. Ek gaan jou staande toejuig.” (Die Burger, 5 September 2009)

In 2009 het Laurinda Hofmeyr twee gedigte van Barend getoonset. Die verse wat sy in haar vertoning Asof vir die eerste keer gebruik het, is “Dagboek” en “Soms kan ’n man”. Sy sê aan Charl-Pierre Naudé (Rapport, 15 April 2009) dat daar iets is wat hom soos ’n jong stem laat klink, “vars en baie cool. Eenvoudig en understated. Ek kan nie glo ek ontdek hom nou eers nie.”

Op 4 September 2009 om 11:00 is Barend J Toerien in die Vergelegen Medi-Clinic in Somerset-Wes, waar hy die laaste paar jaar gebly het, oorlede na twee hartaanvalle kort na mekaar. Hy het ’n dogter, Janna, agtergelaat.

Huldeblyke aan Barend Toerien

• Breyten Breytenbach: "Met die heengaan van Barend Toerien verlaat die bul van Porterville dan die verhoog. Hy was iemand wat eintlik nie binne die generasie-indelings van die Afrikaanse letterkunde gepas het nie, miskien omdat hy ook op ander maniere ’n buitestander was. Onder sy nors en dwarskoppige uiterlike was hy eintlik ’n eensame mens. Bergklimmer van formaat, ’n wêreldburger met ’n skerp oog vir vertalings, ’n belese bibliotekaris, iemand wat Engels deur sy neus gepraat het soos ’n Yank en Afrikaans met die bossiegeur en bry van ’n Bolander – en ’n heeltemal onderskatte digter. Ons gaan sy skerp blou oë mis." (Die Burger, 5 September 2009)

• Petra Müller: "Hy het die ligtende erns waarvan Van Wyk Louw gepraat het, beoefen. Behalwe vir Peter Blum en Uys Krige ’n bietjie was daar nie juis ander wat so gedig het nie, ’n gesofistikeerde woordspelerigheid." (Die Burger, 5 September 2009)

• Elsa Joubert: "Hy was een van ons vroeë versetdigters. As jong man is hy na Amerika [...] Sy lojaliteit het geleidelik na die VSA gereik. [...] Sy liefde was steeds die Afrikaanse taal en die Afrikaanse boek. [...] Mense het Barend as ’n moeilike mens beskou, waarskynlik omrede sy verskeurdheid tussen Amerika en Suid-Afrika. Waar hoort hy? ’n Paar jaar gelede het Louise Viljoen uit sy werk ’n bloemlesing, Om te onthou, saamgestel, uitgegee deur Protea. Lieflike, opregte, menslike verse wat duidelik sê – hier hoort jy." (Die Burger, 5 September 2009)

• Hennie Aucamp: "Hy was ’n wandelende ensiklopedie wat die letterkunde betref. Hy kon aanhalings onmiddellik plaas. Met Barend in die omtes, het jy die internet nie nodig gehad nie. En altyd is hy weer terug, ná al sy reise, na Porterville se wêreld. 'En Onder-Steenwerp heet my plaas' is ’n jubelende herontdekking van sy kindertyd op ’n plaas, die naaste wat ons in Afrikaans aan Dylan Thomas se jeugevokasies gekom het." (Die Burger, 5 September 2009)

• Louise Viljoen: "Die groot waarde van Toerien se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lê veral in die wyse waarop hy die gees en sofistikasie van ’n wêreldburger in die Afrikaanse poësie ingedra het sonder om kontak te verloor met die Suid-Afrikaanse aarde; in die wyse waarop hy vanaf die sestigerjare in sy poësie die rol gespeel het van bewusmaker wat Afrikaanse lesers se aandag gevestig het op die politieke onreg wat rondom hulle afspeel; die wrang-ironiese maar ook speelse verse waarmee hy die nogal ernstige Afrikaanse poësie opgelug en asem gegee het; sy uitstekende vertalings van gedigte uit die wêreld-letterkunde in Afrikaans waarmee hy in ’n groot mate die gelyke was van Uys Krige. Wat die persoonlike betref: die woord 'dood' is nie mooi te rym met die kwasterige, maar immer vitale man wat ek in die laaste dekade of wat van sy lewe geken het nie." (Die Burger, 5 September 2009)

• Charl-Pierre Naudé: "Hy het ’n wêreldgees, en wel die beste soort – gemedieer deur ’n empatiese, volstrekte betrokkenheid by sy eie lokaliteit – die Afrikaanse gees met sy gedigte ingedra. Met sy uitmuntende vertalings van Europese poësie het hy die Afrikaanse gees, wat so geneig is tot die dogmatiese, verruim met ’n wonderlike tentatiwiteit van verbeelding. Hy was die beliggaming van ’n vrysinnige gees, ’n frontiersman met ’n heerlike minagtende houding teenoor enige sentrum, van die mag of van die idee. Ons sal sy voorbeeld verbeur. Mooiloop, Barend." (Die Burger, 5 September 2009)

• Danie Botha: "Ek sien hom hof hou by ’n sypaadjiekafee in die Tuine. Die stille Ina Rousseau kom verby en hy terroriseer haar met sy dawerende invraery. Mý het hy altyd 'beledig' oor my korpulentheid en my vuil gay-stories. Nou sal ek hom nooit weer hoor sê nie: 'Toe, watse skindernuus het jy vir my oor Hambiets? Daniel Hugooo? En Kénnemeyhur? ... Ou Barend is so éénsaam!'" (Die Burger, 5 September 2009)

• Helize van Vuuren: “Hy was ’n besonderse mens, ’n kleurvolle mens met ’n humorsin soos min – en wat mense erg kon kwaad maak deur sy direktheid – soos die siniese filosoof Diogenes van Sinope, met geen respek vir staat of instansie nie, wat in die vat gebly het. Toe Diogenes eendag in die son naas die vat lê en bak, kom Alexander die Grote verby om na dié raarling te kyk wat in ’n vat woon. ‘Is jy Diogenes?’ vra Alexander. ‘Ja,’ antwoord Diogenes, ‘maar staan tog uit my son uit!’ So ’n man was Barend Toerien – ’n man wat die son geniet het, sonder aansien des persoons.”

• JC Kannemeyer: "Naas die literatuur het Barend se belangstelling uitgegaan na die musiek, waarvan hy ’n uitgebreide kennis gehad het. Maar sy eintlike passie was vir die poësie. Hy het lewenslank die indruk gehad dat sy werk nie genoeg aandag gekry het nie, al het sommige kritici wel met groot waardering oor hom geskryf. Op die dag van sy skielike dood was ek toevallig Philip Roth se Exit Ghost aan die lees. Daar kom ek af op die volgende: 'The end is so immense, it is its own poetry. It requires little rhetoric.' Barend sou hiervan gehou het. Retoriek was ver van dié man. Helize van Vuuren skryf op LitNet dat hoewel Barend gereeld na sy eie 'wortelloosheid' verwys het, hy onwrikbaar verknog was aan hierdie Bolandse wêreld van berge, fynbos en Boesmantekeninge in Die Hel met sy waterval en die magiese versteekte bergpoel hoog in die Winterhoekberge. Hierheen het hy dwarsdeur sy lewe bly terugkeer – vir stap in die berge en swem by die waterval. Die laaste woord gaan aan Hennie Aucamp: 'Barend Toerien was moedswillig, kwasterig, maar end-uit volle mens. En dit kan nie van alle mense gesê word nie'." (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Gedigte

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

39 gedigte

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Verliese en aanklagte

Publikasiedatum

1973

ISBN

0798103086 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Illusies elegieë oorveë transfusies

Publikasiedatum

1975

ISBN

079810659X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Aanvange: Verskeuse 1938–1962

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624018911 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

’n Plek op die land: Catskillverse

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118350 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Parte speel

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030385 9 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Augustus in Moskou: ’n reisjoernaal

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031322 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisjoernaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afrikaanse literature in translation: a bibliography

Publikasiedatum

  • 1993
  • 1998

ISBN

  • 0958317895 (sb)
  • 0624036359 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Carrefour Press
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Bibliografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die huisapteek

Publikasiedatum

2001

ISBN

1919825363 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toerien – Torien-familie = Family

Publikasiedatum

2002

ISBN

9780869887813 (hb)

Uitgewer

Walmer (Port Elizabeth): Genealogiese Publikasies

Literêre vorm

Familiegeskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die wegraak van Frans Joosten

Publikasiedatum

2004

ISBN

1869190548 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om te onthou.Verskeuse saamgestel deur Louise Viljoen

Publikasiedatum

2006

ISBN

1869190963 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Barend Toerien as vertaler

Artikels oor Barend Toerien beskikbaar op die internet

Artikels deur Barend Toerien beskikbaar op die internet

Laagwater
Animal Planet
Fractured Afrikaans
Hiersein ist herrlich
Vir die wis en die onwis
Vonds
Bome
Van swem in die rivier
P.A.: dagsê! 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-05-07

  • 1

Kommentaar

  • Kaylene Dampies

    Kan enige iemand my vertel hoekom Barend Toerien as die Bul van Porterville bekend gestaan het?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top