Bacchus in Hillbrow by US Woordfees 2017

  • 1

Op die planke by US Woordfees 2017: François Maree gesels met Naomi Meyer oor Bacchus in Hillbrow

Hallo François. Bacchus in Hillbrow ... in Stellenbosch? Klink of dit reg in die Wynlande tuishoort. Watter soort produksie is dit – musiek, drama, komedie?

Bacchus se liefde vir wyn sal beslis in die wynlande van Stellenbosch tuishoort, maar in hierdie toneelstuk bevind hy hom in ’n koorsdroom. Hy wandel in die eklektiese en gevaarlike strate van Hillbrow, Johannesburg. Ek is seker dat almal al van Hillbrow se vreesaanjaende kwale gehoor het. Die stuk is ’n drama, met baie komiese oomblikke. Peter Crafford het ’n beeldskone klankbaan ontwerp, wat wissel tussen sterk opera en eksentriese kwaito. Bacchus in Hillbrow is ’n interdimensionele breinspoel wat in gesprek tree met verskeie temas, onder meer die spanning van sosiopolitiese strukture, familieverhoudings, afsterwe, aanpassing asook die rol van die kunstenaar in die samelewing. Die stuk is ’n uitbeelding van die mensdom as ’n narrespel van die absurde.

Waar het jy die idee hiervoor gekry? En wat gebeur in die storie?

Ek het ná my studies in 2016 Johannesburg toe verhuis. Ek en Peter het op een Sondag, na die hoeveelste besoek aan die enigmatiese oerwoud wat Johannesburg se middestad is, begin om stories uit te dink wat moontlik sal werk in teater, film of selfs ’n musiekvideo. Die aansoeke vir die Aardklop Nasionale Kunstefees 2016 het ook in daardie tyd oopgemaak, dus was dit gepas dat ons probeer om nuwe werk vir dié fees te skep. Ons het gehou van die idee van ’n god wat kla oor alles wat op aarde gebeur, al het hy die mag om dinge daadwerklik te verander. Ek het die stuk in minder as twee weke geskryf weens die druk tyd om die inskrywings te laat slaag, en toe het die bal net begin rol. 

Bacchus is die Romeinse god van spys, drank, landbou en teater, en hy is ’n absolute hedonis. Sy lewe is groots en mooi. Hy hou partytjies met baie wyn, die nuutste modes en die waaghalsigste individue. Hy is ’n donker prins. Hy en sy pa, die koning Jupiter, het glad nie ’n goeie verhouding nie. Daar was ook al die jare vir hom vertel dat sy ma, ’n vrou van die aarde, verskroei is. Die stuk speel af waar Bacchus die groteske waarheid ontdek dat sy ma nog lewe en in Hillbrow woon. Bacchus onderneem ’n pelgrimstog om sy ma te vind. Bacchus in Hillbrow is ’n soeke na identiteit. ’n God wat in die neonbeligte strate van Suid-Afrika wandel en homself probeer vind. Op hierdie pad kom hy chaos teë in die vorm van ander karakters wat hom beide probeer help en vernietig, asook waarhede wat soveel seerder maak.

Wie is die akteurs en watter rol(le) vertolk elkeen? 

Bacchus in Hillbrow is ’n eenmanvertoning. Ek is die enigste speler op die verhoog. In 75 minute vertolk ek die volgende karakters: Die Skrywer, wat ook as die verteller van die stuk beskou kan word. Daar bestaan parallelle tussen hom en Bacchus. Hy moet insnypunte verleen, aangesien hy die teks van Bacchus in Hillbrow moet skryf. Sy studeerkamer ondergaan verskeie transformasies en verander in die Romeinse hemele, Hillbrow en ’n hospitaal. Die ander karakters word ook in hierdie spasies geskep, wat die god Bacchus, sy pa, die koning Jupiter, Bacchus se ma, Semele, asook ’n transseksuele sekswerker in Hillbrow, Destiny, insluit. Dis ’n mondvol, maar die kyker word blootgestel aan hierdie karakters se humor, behoeftes asook al hulle teer punte. Uiteindelik besef mens dat die gode en die mensdom maar baie na aan mekaar skaaf.

Bacchus was ook al in Potchefstroom, verlede jaar in Aardklop. Hoe is dit ontvang? 

Teaterstukke wat deur die jaar na verskillende feeste toe gaan, is beslis in konstante ontwikkeling, veral as mens kyk na die narratief en die algehele uitvoering van die produksie. Die stuk het sy debuut op Aardklop gemaak, en wat ons as teatermakers vasgevang het, was die reaksies van die gehoorlede. Daar was ’n jong dame wat vir ons vertel het dat sy vir drie ure ná die vertoning net gesit, gelag en toe gehuil het. Sommige mense het heeltemal aanklank gevind by die storie, en ander was totaal en al vervreemd. Ek dink jy het ’n goeie resep beet as daar soveel verskillende reaksies en debatte uit die werk ontlok word. Dit is gesond. Daar was ook ’n klomp jongmense gewees, wat wonderlik is. By produksies sien mens meestal ouer gehore wat meer bekend is met teater. Ek is daarop gefokus om teater te skep vir alle ouderdomme, maar veral vir jongmense wat nie heeltemal met die kunsvorm bekend is nie. Resensente het ook lof vir die produksie besing. Op stuk van sake is dit ’n groot eer, asook ’n enorme geskenk om hierdie ontvangs te kan kry.

Vertel my asseblief iets van wie jy is?

Ek is gebore op die plaas Vreugde in Noordwes, waar ek nog ’n skaap- en beesboer is. Andersins is ek ’n opkomende kunstenaar wat vele hoede probeer dra, onder meer as akteur, skrywer, regisseur en vervaardiger, in beide film en teater. Ek het my honneursgraad in drama en teaterstudie: toneelspel in 2015 by die Universiteit Stellenbosch olv die meesterlike Marthinus Basson gekry, en het daarna ’n paar projekte aangepak, wat die bekwame hibriede film (deels rolprent en deels dokumentêr) Alison insluit. Ek het die rol van Tiaan Eilerd vertolk. 

Ek het my eie werk begin skep toe ek die benoude landskap van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gewaar het, en het saam met die talentvolle musikant, ontwerper en regisseur Peter Crafford ’n produksiemaatskappy, THOC (The House of Creatives) in 2016 gestig. Ons het Bacchus in Hillbrow onder hierdie maatskappy geskep, waar ek die teks geskryf het en ook in die stuk speel. Peter behartig die regie. Ek doen ook die regie vir my volgende selfgeskrewe teaterstuk, Wanneer wolke sing, met Elzabé Zietsman in die hoofrol, wat op die Vrystaat Kunstefees 2017 gaan debuteer. Verder gaan Bacchus ook na ander feeste en stede toer.

Tussendeur teater werk ek ook aan die teks van ’n nuwe film wat in die 1980’s afspeel met die titel Johannes. Ek probeer soveel as moontlik self te skep en nie te wag vir werk nie. My groot droom is om oorspronklike stories met interessante karakters met gehore regoor die hele wêreld te deel.

Bacchus in Hillbrow

Drama
Geen o/14 (T, V, D)
Met: François Maree
Vervaardiger: The House of Creatives (THOC)
Teks: François Maree
Regie: Peter Crafford
Klankbaan en ontwerp: The Helix Kid 
Oorspronklike storie: François Maree en Peter Crafford

Sinopsis

Bacchus, Romeinse god, gatvol god. Hy beland in Hillbrow met sy dwelmbase, Ponte se monsters en verlore drome, en moet aanpas en oorleef. Hy is moeg en natgesweet. Gatvol. Hy soek net ’n dop.

75 min

R110 | R130 by die deur

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

4 Maart 2017 | 16:00 
6 Maart 2017 | 18:00
7 Maart 2017 | 18:30

Hoërskool Cloetesville, Stellenbosch

Lokprent van Bacchus in Hillbrow

  • 1

Kommentaar

  • Gistermiddag sesuur was ’n ongelooflike optrede. Die oorskakeling van een karakter na die ander was so oortuigend en ongelooflik - en dan die "black humor". Dit was jammer dat die gehoor baie klein was en die kunstenaar kon definitief nie uit sy gehoor se response put nie. Ten spyte daarvan het ek dit oortuigend en meesleurend gevind.
    Baie baie goeie wense vir die toekoms!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top