Jannie Hofmeyr

Jannie Hofmeyr is Professor van Biokompleksiteit en Biochemie aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy sedert 1975 aan die Biochemie-departement verbonde is. Hy begin  sy navorsingsloopbaan as eksperimentalis en werk veral op die effek van die katechol “Verbinding Z” op die spektrale en katalitiese eienskappe van adrenale sitochroom P-450-11beta, en daarna ook op die mikotoksien moniliformien as ’n selfmoordinhibitor van die ensiem pirovaatdehidrogenase. Oor die afgelope 25 jaar doen hy as teoretikus sy navorsing in die veld van rekenaarmatige sisteembiologie met die regulering en regulatoriese ontwerp van metabolisme as sy hooffokus. Hy verkry sy PhD in 1986 by die Universiteit Stellenbosch ná noue samewerking met Henrik Kacser (een van die vaders van metaboliese kontroleanalise) en die ensimoloog Athel Cornish-Bowden, met wie hy daarna jare lank saamwerk.

In die laat 90’s vorm Jannie en sy kollegas Jacky Snoep en Johann Rohwer die Tripel-J-groep vir Molekulêre Selfisiologie in die Departement Biochemie. Hierdie navorsingsgroep bestudeer die kontrole en regulering van sellulêre prosesse deur van teoretiese, eksperimentele en rekenaarmatige benaderings gebruik te maak. Hy lewer vele fundamentele bydraes tot metaboliese kontroleanalise en rekenaarmatige sisteembiologie, en ontwikkel beide ko-responsanalise en aanbod-aanvraaganalise as ’n basis vir ’n radikaal nuwe begrip van metaboliese regulering in samewerking met Athel Cornish-Bowden.

Meer onlangs is ’n nuwe interesse die soeke na ’n manier om die funksionele organisasie van die lewende sel te beskryf in terme van ’n teorie van molekulêre vervaardiging, wat uiteindelik ’n teoretiese grondslag vir beide sisteembiologie en nanotegnologie sou kan vorm. Hierdie studie lei tot ’n wyer belangstelling in komplekse sisteme in die algemeen.

In 2009 vestig hy en die kompleksiteitsfilosoof Paul Cilliers die Sentrum vir Studies in Kompleksiteit, uniek op die kontinent en een van die Universiteit Stellenbosch se vlagskipprojekte onder die vaandel van haar oorhoofse strategiese plan. Hy is ook ’n lid van die navorsingsprogramkomitee van STIAS, die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing, ’n instelling waarby hy sedert die beplanningsfase nou betrokke is.

Jannie Hofmeyr is die outeur van meer as 70 navorsingspublikasies en boekhoofstukke, was op die redaksionele advieskomitee van FEBS Journal en The Biochemical Journal en lewer gereeld bydraes tot internasionale en nasionale kongresse, simposia en somerskole. Hy is sedert 1999 ’n A-geëvalueerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting, en is in 2010 vir ’n derde maal in hierdie kategorie geplaas. Hy is ’n Genoot en Raadslid van die Royal Society of South Africa en lid van die Academy of Science of South Africa. In 1999 ontvang hy die Universiteit Stellenbosch se Rektorstoekenning vir uitmuntende navorsing. Hy is ook die ontvanger van die Harry Oppenheimer Genootskapstoekenning in 2002, die Beckman Goue Medalje van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie in 2003, en die Havenga-prys vir Biologiese Wetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2009. Hy is tans die Nasionale Voorsitter van die Artritis-stigting van Suid-Afrika. Jannie is ook ’n gereelde verklaarder op die gewilde RSG-program Hoe verklaar jy dit?, 'n program waar luisteraars se vrae oor die Natuurwetenskappe beantwoord word.

Jannie is met Zoettje getroud en het twee dogters, Clara en Nell. Sedert sy skooldae leef hy hom ook uit as musikant en amateurakteur. In die 70’s en 80’s toonset hy menige lirieke vir die Afrikaanse musiekbeweging en vir kabarette van Hennie Aucamp en Etienne van Heerden, waarin hy self optree.

Akademiepryse 2017: Havengaprys vir fisiese wetenskappe aan Hendrik G Geyer

Jannie Hofmeyr Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017-06-23

"As uitmuntende navorser maak professor Geyer ’n enorme bydrae tot aspekte van kwantum meganika en word hy beskou as ’n pionier in die breë veld van nie-Hermitiese kwantumfisika, veral met betrekking tot PT-simmetriese kwantummeganika."

YouTube-onderhoud: Jannie Hofmeyr gesels oor LitNet Akademies

Jannie Hofmeyr, Jannie Hofmeyr 2011-02-24 Jannie Hofmeyr, ’n ereredakteur van LitNet Akademies, gesels oor sy loopbaan, sy liefde vir Afrikaans en die behoud van Afrikaans as wetenskaptaal, en sy visie vir LitNet Akademies se Natuurwetenskappe-afdeling . In Deel 1 beantwoord ...
Top