Alana Bailey
Alana Bailey is in Krugersdorp gebore, het aldaar aan Hoërskool Monument gematrikuleer en haar studies aan die Universiteit van Pretoria voortgesit, waar sy ’n meestersgraad in historiese en erfenisstudies behaal het. In 1990 het sy die wêreld van migrasie betree en is in 2003 as die hoof van die Kom Huistoe-Veldtog vir remigrerende Suid-Afrikaners aangestel. Sy is tans adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, ʼn onafhanklike burgerregte-inisiatief wat deur die vakbond Solidariteit gestig is vir die konstruktiewe aktivering van die burgerlike samelewing buite partypolitiek tot deelname aan die openbare debat en aksies. Naas Suid-Afrika, migrasie en geskiedenis, is lees en skryf Alana se passies. Verskeie van haar artikels oor kultuurgeskiedenis en migrasie is reeds gepubliseer en sy skryf ook gereeld resensies vir vakwetenskaplike tydskrifte. Haar eerste kinderboek, Die Prinses van die Afrikavlaktes, het in 2007 verskyn en is bekroon met ’n ATKV-Woordveertjie en die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur.
Opgedateer/Updated: 2010-04-21
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za