ATR se Kokertoekennings: Afrikaans is een familie

  • 0

Afrikaanssprekendes is een familie en moet ophou om na mekaar as “ons” en “hulle” te verwys. As Afrikaanse mense nie as een familie langs mekaar kan staan nie, het hulle hoegenaamd geen staanplek in Suid-Afrika nie.

Daar is geen “hulle” in Afrikaans is nie. Daar is enkel en alleen ’n “ons”, en ons is ’n groep mense wat van verskeie kante onder druk is met ’n taal, ’n hartstaal, ’n leeftaal, ’n liefhêtaal, wat ewe seer onder druk verkeer.

Dit was die boodskap van Marius Swart van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch tydens vanjaar se Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Die Kokertoekennings word jaarliks deur die ATR toegeken vir spesiale bydraes tot die Afrikaanse taal. Dit is ’n manier om erkenning te gee aan mense wat brûe bou, ’n verskil maak en die voortou in en deur Afrikaans neem. Vanjaar se wenners is Vrydagaand 17 November by ’n spoggeleentheid op die Zevenwacht-landgoed in Kuilsrivier aangekondig. Die Kokers is die hoogtepunt van die ATR se jaar en weerspieël die ATR se fokus op die bevordering van Afrikaans in sy volle diversiteit binne ’n meertalige bestel.

Swart, wat die gasspreker was, sê Afrikaanse mense moenie die toekoms met angs en paranoia tegemoet gaan nie, maar ook nie naïef wees oor die druk wat daar op Afrikaans is nie. Hy het die familie as metafoor gebruik om die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap te illustreer. “Kan ons ophou om onder mekaar klippe te gooi en na buite ’n verenigde, veelkleurige gesig voorhou, die gesig van sekerlik een van die mees diverse taalgemeenskappe in die wêreld, en definitief die mees diverse een in Suid-Afrika.”

Hy het gesê soos in ’n ware familie sal daar soms van die familielede wees wat jou irriteer. Ons kan nie maak asof hulle nie familie is net omdat een aspek van hul optrede op ons senuwees werk nie. Ons is almal gelyke lede en die familie het ons almal ewe nodig.

“Kom ons werk dus saam, en kom ons werk sodanig saam dat wanneer die druk van buite groter word, ons verder verenig word in ons diversiteit, sterker saamstaan, en eenvoudig nie bes gee wanneer hierdie taalskat van ons van buite af onregverdig behandel, onder druk geplaas, wanvoorgestel of bedreig word nie.”

Die aktrise Sandra Prinsloo, wat bekroon is vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans, het gesê hierdie toekenning dra vir haar baie meer gewig as enige ander toekenning wat sy al ontvang het. Sy sê ondanks die huidige woelinge wat daar oor Afrikaans is, glo sy daar is genoeg diverse groepe mense in hierdie land wat Afrikaans praat dat ons ons nie te veel daaroor hoef te bekommer nie.

“Ek dink ook as ons aanhou praat in Afrikaans, dig, skryf, toneelspeel, sing en veral ook deel in Afrikaans en daar plek is vir al die heerlike verskeidenheid in Afrikaans, sal daar nie ’n probleem wees nie.”

Een van vanjaar se wenners is Suzie Matlhola wat in Doornkop, Soweto woon. Sy werk sedert 1988 by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) as ’n hulporganiseerder by die projekte-afdeling.

Toe sy in 1998 na die tikkantoor skuif, het sy besluit om self haar Afrikaans te verbeter. In die tyd waarin sy haar eie Afrikaans verbeter het, het sy ook haar seuns en sy vriende met hulle Afrikaans begin help. Elke dag as sy van die werk af kom, het hulle gevra of sy hulle nie met Afrikaanse huiswerk kan help nie. Na ’n rukkie het sy besef dit is ’n geleentheid om die taal te bevorder en het sy met ’n Saterdagskool begin. Sy het met die dame by ’n kleuterskool in die buurt gaan praat en gevra of sy die skool Saterdae kan gebruik. Na ’n rukkie was daar soveel kinders dat sy nog iemand moes kry om te help.

Die projek het so uitgebrei dat daar nou agt onderwysers en vyf punte in Soweto is waar daar Afrikaans-klasse gegee word. Suzie sê as een mens die eerste klip kan optel om ’n betoging te begin, kan een mens ook die eerste stap doen om ’n brug te bou.

Die musiekmakers tydens vanjaar se bekroningsgeleentheid het ook die diversiteit van Afrikaans weërspieël. Die gaste is op die maat van musiek trakteer deur die Wasgoedlyn, die Affodille Vroueboerorkes en die Rieldansgroep van Tygersig Primêr.

Drie besonderse jongmense het erepennings ontvang vir hul bydraes in die onderskeie kategorieë en twee toekennings is vir lewenslange bydraes tot Afrikaans gemaak.

Die Kokerwenners van 2017 is:

Vir ’n lewenslange bydrae tot Afrikaans:

  • Shaleen Surtie-Richards: vir haar bydraes tot Afrikaanse kuns en kultuur en die manier waarop sy talentvolle plattelandse Afrikaanse mense inspireer om hul drome te verwesenlik en sterstatus te bereik.
  • Sandra Prinsloo: vir haar bydraes tot die uitvoerende kunste en die merkwaardige en verrykende impak wat sy op die Afrikaanse letterkunde en kultuurbelewenis gehad het.

Onder die leuse “Bemagtig, bevorder en beskerm”:

  • Suzie Matlhola – “Bemagtig”: vir haar vindingryke Afrikaansklasse in Soweto, wat mense nie net bemagtig om Afrikaans aan te leer nie, maar ook positiewe houdings jeens die taal kweek.
  • Diana Robertson – “Bevorder”: vir haar bevordering van Afrikaans in Eldoradopark onder jongmense deur middel van dramas, vertonings, boeke, gedigte, sang en dans.
  • Werner Human – “Beskerm”: as prokureur vir die beskerming van Afrikaans deur etlike suksesvolle hofgedinge.

Erepennings vir die jeug:

  • Mercy Kannemeyer, vir haar onverskrokke bevordering van Afrikaans as akademiese onderrigtaal met haar opspraakwekkende dokumentêr “Die ander kant”.
  • Sue Pyler vir haar werk as Afrikaanse radio-omroeper en haar positiewe bewusmaking van die veelkantige aard van Afrikaans.
  • Marelize Swanepoel vir die enorme rol wat sy speel in die ontwikkeling van studiehulpbronne vir Afrikaans Addisionele Taal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top