Taalraad-persverklaring: Taalbeleid by die US, UP en UNISA

  • 2

Persverklaring deur die Afrikaanse Taalraad

Die Afrikaanse Taalraad is teleurgesteld oor die besluit van Stellenbosch Universiteit (SU) se Raad om die konseptaalbeleid te aanvaar; so ook oor die manier waarop die US die beleid met hul persverklaring regverdig. 

Alhoewel die indruk geskep word dat die beleid op meertaligheid geskoei is, is dit moeilik om te sien hoe dit in die praktyk tot ware meertaligheid sal lei. Die nuwe taalbeleid voldoen, gemeet aan beste praktyk, nie eens aan die mees basiese voorvereistes vir die volhoubare bestuur van meertaligheid nie.  Die beleid bevestig veel eerder Engels as verstektaal en sit ʼn administratiewe proses aan die gang wat Afrikaans betreklik vinnig tot ʼn minderwaardige soort “hulptaal” sal afgradeer. 

Daarby is dit doenbaar en heeltemal redelik om almal se belange by die US te akkommodeer.  ʼn Voorvereiste hier is dat die taalbeleid met alle belanghebbers onderhandel word, eerder as om dit met ʼn administratiewe proses af te dwing.

Volharding met die ontkenning van realiteite, soos dat die beleid gaan lei tot uitsluiting deur Engels, laat mens egter vermoed dat die ware redes vir die besluit nie bekendgemaak is nie. Dit is moeilik om te glo dat die US, Universiteit van Pretoria, en UNISA toevallig op dieselfde dag vir Afrikaans die trekpas gee. 

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

  • 2

Kommentaar

    • Johannes Comestor

      Unisa het reeds in April besluit dat hy 'n eentalige Engelse universiteit gaan wees. Die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal, na afskaling oor twee dekades heen, is as van so min belang geag dat hierdie skandalige besluit eers wêreldkundig gemaak is nadat dit bekend geword het dat sowel die Universiteit van Pretoria as die Universiteit Stellenbosch op 22 Junie effektief hulle rug op Afrikaans gekeer het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top