ATKV-Woordveertjies 2016: Toespraak deur Japie Gouws

  • 0

Japie Gouws
Foto: Naomi Bruwer

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie as in die letterkunde
en baie meer poësie in die miskruier, in die toktokkie, in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak

So skryf TT Cloete in 1989.

Ons vier en vereer vanaand die beste in Afrikaanse skryfkuns die afgelope jaar.

Ons is bekommerd oor lees en die boekebedryf in die algemeen. Volgens opnames koop slegs 1% van Suid-Afrikaners gereeld boeke en net 14% lees boeke. 90% van skole beskik nie oor funksionele biblioteke nie. Jongmense wat universiteite toe gaan, kan nie behoorlik lees en skryf en spel nie. Ons maak kinders sonder boeke en lees- en skryfvaardighede groot.

Die afgelope tien jaar het die verkope van Suid-Afrikaanse boeke vanaf 1,5 miljoen na 3,6 miljoen toegeneem. Waar Afrikaanse boeke in 2004, 22% van totale plaaslike boekverkope uitgemaak het, beloop dit nou ongeveer 45%. Voorwaar ’n uitstekende prestasie! E-boekverkope het egter nie naastenby die vlakke bereik wat ’n paar jaar gelede voorspel is nie.

In Suid-Afrika leef ons in interessante tye. Mense twyfel. Hulle twyfel oor werk en brood-en-botter kwessies en oor gebrek aan goeie onderwys. Wat ons wel weet, is dat daar ’n diep behoefte by die meeste Suid-Afrikaners is vir gebeure wat die siel van die volk aanraak en wat mense se lewens kan verander.

Wat ons ook broodnodig het, is dat ons mekaar se geskiedenis en stories beter verstaan. Ons kan dit doen deur dit vir mekaar te vertel en na mekaar te luister, maar ook om dit te skryf en te lees.

Jan Rabie skryf in 1975 oor “Ons arme skrywelinge ...”:

... terwyl Europa wegkwyn uit groot dele van die planeet, moet ons ons boek nog skrywe. Hier moet alles terug smeltkroes toe; eerste gietsel onvoldoende, met ’n bars tussen die twee helftes. Gooi meer koekmakranka by, en leeuvet en water van die Maloeties.

Uys Krige beskryf ’n skrywer se werk as volg:

In party opsigte is die lewe soos die Oranjerivier wanneer hy in volle vloed verbyjaag. Hy is vol blikke en takke en goeters, daar’s ’n dooie donkie in of ’n skaap of ’n aasvoël of ’n jakkals en dit stroom alles verby en die ou rivier bly geel en troebel en onstuimig. Maar die skrywer of digter neem ’n deel van daai stroom en hy verstil hom tot ’n poel wat kalm en helder en deurskynend is en wat die son en hemel en die sterre weerkaats.

Marthinus Versfeld skryf “... die digter is die man wat in die donker waters van die chaos duik om skoon en blink dinge daaruit te haal”.

Die statistieke wys dat daar reuse potensiaal is om mense aan die skryf en lees te kry. As lojale Suid-Afrikaners is dit ons plig om mekaar se stories te vertel en op te skryf en daarna te luister en dit te lees.

Dit gaan oor ’n bewusmaking en oor ’n ingesteldheid.

In die woorde van Daniël Hugo: “Die digter sal onvolmaak bly skryf tot daardie dag van die leeu en die lam die kat en die duif”.

Baie geluk aan al die ATKV-Woordveertjie-genomineerdes en -wenners. Baie dankie aan alle ywerige lesers en boekkopers – julle is ’n skaars spesie.

Die werk is nog nie klaar nie. Die geleenthede lê braak. Ons elkeen het ’n pertinente rol daarin te speel. Neem dit asseblief op.

Baie dankie.

Japie Gouws
Besturende direkteur ATKV-groep
9 September 2016

Kyk na foto's van die geleentheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top