ATKV-Handevat: Waar protes én dade handevat

  • 0

Hoërskool Monumentpark vestig ’n traumahanteringsprogram by Kraaifontein AME Primêre Skool en wen ATKV-Handevat!

* * *

Vrydag 19 Februarie 2016 was ’n groot dag vir die ATKV, want die wenners van die Jaarlikse ATKV-Handevat is op daardie dag aan die publiek bekendgestel. Talle gaste is genooi na die Hoërskool Monumentpark in Kuilsrivier. Daar aangekom, is lede van die publiek, die polisie, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die ATKV ingewag deur twee mure van betogende skoliere.

"Hell, no! We won’t go!" en "Stop abuse now!" het weerklink by die skool se hekke. Dit was die leierskorps, die voorvatters onder die leerders wat hier betoog het en dit was wonderlik. Hoekom? Want dit was stemme wat teen onreg protesteer.

Hierdie besondere groepe leerders het nie net geskree nie. Hulle het iets gedóén. Uit hierdie protes is daar aksies gebore en dit is die rede waarom die Hoërskool Monumentpark ’n rukkie later met ’n wentjek van R30 000 weggestap het.

handevatfeb16.3

Die ander skool in hierdie wenvennootskap is Kraaifontein se Primêre Skool AME. Die hoërskool het dit hulle plig geag om die, soms haglike, huislike omstandighede van die laerskoolkinders te oorbrug. Kraaifontein word geteister deur armoede en misdaad en uiteindelik ook emosionele trauma. Die doel van die vennootskap tussen die Hoërskool Monumentpark en die Primêre Skool AME was om laasgenoemde se personeel te bemagtig om traumasituasies by leerders te identifiseer en onmiddellik die korrekte intervensie te bied.

handevatfeb16.4

Vrydag 19 Februarie se verrigtinge is amptelik geopen deur meneer David Jantjies, die hoof van Hoërskool Monumentpark. Hy het ons teruggeneem in die geskiedenis – na ’n protesbeweging.

Op 14 Februarie 1787 het 'n aantal vry slawe uit die Metodistekerk geloop uit protes teen die Kerk se rassistiese houding jeens swart mense. Die leier van die groep, Richard Allen, het glo sy Bybel op die aambeeld geplaas en aangekondig dat hulle ’n eie kerk moet begin. Uit hierdie protesaksie is die African Methodist Episcopal (AME) Kerk begin.

Die kerk het sigself oor die jare heen met gemeenskapsprojekte en onderwys besig gehou. Verskeie AME kerkskole is begin. Een van hulle is die Primêre Skool AME in Kraaifontein.

In 1987, presies 200 jaar ná Allen se protes, word die eerste sooie gespit en die konstruksie van die Hoërskool Monumentpark het begin. Die skool het in 1989 die eerste keer leerders ingeneem.

Jantjies is baie trots op die etos van die skool: "Hier is ons lankal verby die klakkelose reprodusering van die kurrikulum. Ons reik na die siel van die kinders. Hier kweek ons leiers."

Ook onder die onnies word leierskap bevorder. Die skool het nie meer detensieklasse nie. In die plek daarvan word onderwysers gehelp om die leerders te help.

handevatfeb16.5

Mercia Eksteen, die kommunikasiebestuurder van die ATKV, het daarna almal amptelik welkom geheet by die byeenkoms.

handevatfeb16.6

Divan Smit, ’n oudleerder van die Hoërskool Monumentpark, het toe die podium betree en die agtergrond tot die projek geskets.

Die Hoërskool Monumentpark het tradisioneel op 16 Junie elke jaar 'n optog na die plaaslike polisiestasie gehou om Soweto te gedenk. In 2015, op 16 Junie, het elf skole deelgeneem aan die optog. Hulle het, soos van ouds, die polisiekantoor omsingel en het aangedring dat die polisie na hulle griewe luister. Die leerders het beswaar aangeteken teen die voortdurende geweld waaraan hulle en hulle maats blootgestel word.

Die polisie het daardie dag 11 leerders ingenooi en het belowe dat saam 'n verskil gemaak kan word. Smit vertel die leerders self ook iets wou doen; alles kan nie op die polisie geblameer word nie. Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het byvoorbeeld ook maatskaplike werkers, maar hulle is so oorwerk dat dit soms ses maande duur voor ’n getraumatiseerde kind se saak deeglik ondersoek kan word. Om die nood te help verlig, is gevra dat klasse aan die onderwysers gebied word om trauma te hanteer, maar Divan en sy maats het daarop aangedring om óók opleiding te ontvang. Almal moet in ’n mate maatskaplike werkers wees, glo die leerders.

Aanvanklik wou die WKOD nie dat leerders aan die sessies deelneem nie, want, so is gevoel, van die goed is te traumaties vir 'n skoolkind. Tog het die leerders aangedring en daar is toegegee aan hulle versoek. Opleiding is gedurende ’n reeks kontaksessies aan die onderwysers en leerders verskaf.

Kristen Krige (links) en Kirsten Koopman, wat tans leerders van die skool is, verduidelik toe hoe die projek verder verloop het. Die leerders van Monumentpark wou hulle opleiding gebruik om iets vir die laerskool te doen wat sal aanhou dividende lewer, lank ná hulle die skool verlaat het.

handevatfeb16.8

’n Deel van die span by  die Hoërskool Monumentpark het ’n toneelstuk oor mishandeling en kinderregte geskryf. ’n Helpende Hand is op die planke gebring; leerders van die Primêre Skool AME in Kraaifontein was ook op die verhoog.

Vir die ouer leerders was dit lekker om iets te doen vir die laerskool, maar die lekkerste, sê hulle, was om op hierdie manier geselsies aan te knoop, uit te reik en bande te smee met die ander skool.

Vir die jonger kinders was dit ’n voorreg om met die hoërskoolleerders saam te werk. Een van die toneelspelers van die Primêre Skool AME, Itumeleng Bless, het geskryf: "I never thought that I would be able to do something to change a person’s life. Through the programme I was very proud to see that our school can also get involved in helping the community and the children of Kraaifontein."

Die doel van die drama is om jonger kinders in te lig oor mishandeling en dat hulle so gou as moontlik na iemand toe moet gaan en vertel.

handevatfeb16.9

Die hoofkarakter is ’n meisie wat probleme ervaar by die huis en val vir die sjarme van ’n ouer man.

handevatfeb16.10

Dan raak sy met die verkeerde maats deurmekaar.

handevatfeb16.11

Uiteindelik, wanneer sy besef sy het hulp nodig, aanvaar sy die helpende hand van mense wat werklik omgee.

Die ATKV het in 2015 R3 000 aanvangskapitaal aan die Hoërskool Monumentpark betaal om hierdie inisiatief ’n hupstoot te gee.

’n Deel van hierdie geld is deur die projekspan gebruik om pamflette te ontwerp en te druk wat kinderregte op ’n kindervriendelike wyse uitbeeld.

Die pamflette is saamgestel by Monumentpark. Genoeg is gemaak om vir elke kind by AME een te gee. Die pamflette vertel die leerders wat hulle regte is, gee raad oor wat om te doen as jy ’n probleem het, en verskaf ook kontaknommers. Op elke pamflet is ook ’n plek waar die kinders hulle eie kontakbesonderhede kon invul. So het hulle iets om aan ’n helper te wys, sou hulle in die moeilikheid beland. Die pamflette is ook deur die jaar uitgedeel aan die hele gemeenskap.

handevatfeb16.12

Op hierdie stadium het die protesgroep, wat ons by die hek ingewag het, die saal binnegestorm en vir elke persoon in die saal ’n pamflet uitgedeel terwyl hulle gedreunsing, gedans, plakkate geswaai en slagspreuke geskree het.

Dit was ’n baie effektiewe wyse om die boodskap tuis te bring.

handevatfeb16.14

Ná die protesaksie die saal verlaat het, is die inrig van die traumahoekie bespreek.

Kristen vertel dat dit ’n grootse poging deur verskeie leerders was.

Talle hoërskoolleerders het aangemeld om te help. Dit was nie net die projekspan nie. Indien hulle oor die interkom sou aankondig dat daar ’n sekere behoefte was, het daar altyd iemand na vore gekom om te help. Een van die leerders het aangebied om die kassies te bou wat nou in die hoekie staan. ’n Ander het gesê hy verf goed en wil graag kom help.

Ook die opsigter van die hoërskool het betrokke geraak. Hy en van sy werkers het spontaan aangebied om te gaan opknap by die laerskool.

Die beoordelaars het hierdie gemeenskapsbetrokkenheid uitgelig in hulle commendatio. Die Hoërskool Monumentpark en die omliggende gemeenskap het saamgestaan, was hulle bevinding.

Kristen vertel dat die projekspan ook die leerders van AME gevra het om te help en dié wat aangebied het, se handafdrukke is toe verewig in daardie hoekie.

Dié hoekie is 'n veilige hawe vir die kinders, daar voel kinders wat mishandel word, tuis. Een seuntjie het byvoorbeeld eenvoudig daar, in die arms van 'n reusebeer, aan die slaap geraak.

Kirsten sê hulle is trots daarop dat hierdie hoekie volhoubaar is, dit kan voortbestaan lank ná hulle uit die skool uit is.

Uiteindelik het hulle nog R500 oorgehad van die R3 000 wat die ATKV verskaf het. Hulle het daardie geld toe in ’n traumafonds gestort wat nou deur Badisa bedryf word. (Badisa is ’n baie groot welsynsorganisasie, sien hierdie skakel.)

handevatfeb16.15

Liezl Strauss, ’n graad 1-onderwyser by die Primêre Skool AME vertel toe oor die opleiding wat sy en die ander onderwysers van die maatskaplike werkers ontvang het. Sy het nooit besef hoeveel trauma die jonger kinders beleef nie. In een van die eerste sessies moes hulle aan die leerders vra: "Wat is julle vrese?" Sy het gedink die kinders gaan iets sê soos: "Ek is bang vir die donker."

Toe nie, dit was: "Verkragting op pad huis toe. Bendegeweld. Wat gaan vir aandete wees?"

Strauss sê trauma word dikwels vermom, dit is die nar in die klas, die stouterd wat dikwels die ergste getraumatiseerd is. Dit is hoekom soveel van die jonger leerders vir ’n onderwyseres "mamma" sê, sy is dikwels die enigste mamma wat daar is. Talle ouers is gewoon afwesig.

Een seuntjie kom uit ’n tikhuis en het gereeld sy maatjies afgeknou. Nou laat hulle die kind elke oggend eers in die speelhoekie ontspan, hulle gee hom Ritalin en hy is ’n ander kind.

’n Ander kind slaap eers elke oggend ’n bietjie, want by die huis kan hy nie behoorlik slaap nie.

Strauss praat met groot lof van die hoërskoolleerders. Die jong mense van vandag inspireer, sê sy.

handevatfeb16.16

Annatjie Oppel, die waarnemende hoof van die Primêre Skool AME, het daarna die woord gevoer. Sy sê in haar boekie beteken AME Almal Moet Eet, en by die laerskool maak hulle seker die kinders kry genoeg om te eet.

Tog, dis maklik om te sê "almal moet eet", en danksy borgskappe is dit self moontlik om vir almal ’n maaltyd per dag te gee, maar die kinders se huislike omstandighede manifesteer in hulle gedrag. Twee kinders sal maklik oor ’n stuk brood aan die baklei raak, al is daar genoeg vir almal.

Oppel sê: "Die ster van hierdie projek is die traumahoekie wat die leerders van die Hoërskool Monumentpark ingerig het by ons skool. In die kort tydperk was daar nog elke dag leerders wat die hoekie besoek het." Talle van die kinders word ook by die huis blootgestel aan konstante geraas en nou moet hulle in die klaskamer kom sit en stilbly. Vir haar het dit opgeval dat die kinders daar in die hoekie wel rustig kan raak.

Oppel was vol lof vir die projek en sê oor ATKV-Handevat: "Dit is duidelik die ATKV ’n warm hart het."

handevatfeb16.17

Meneer Bennie Schereka, distriksdirekteur van Metropool-Oos in die WKOD, het daarna almal in die kring gelukgewens namens die WKOD. Hy vermeld ook die werk wat kaptein Niemand, van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, doen in die gemeenskap en bedank toe ook die polisie vir hulle volgehoue steun.

handevatfeb16.19

JJ van Niekerk, ’n beoordelaar van ATKV-Handevat, was die laaste spreker voor die amptelike prysuitdeling. Hy sê wat hom opgeval het van hierdie projek is dat dit nie net ’n bakkie is wat kom brood uitdeel nie.

Die vraag in sy kop by die die beoordeling van al die projekte was: "Wat gaan gebeur ná ’n sekere tyd verloop het? Sal hierdie projek steeds ’n verskil maak?"

Hierdie een sal voortleef, sê hy.

Van Niekerk sê ook hierdie projek toon medeverantwoordelikheid. Die hele hoërskoolgemeenskap, ’n groot deel van die laerskool én mense uit die omgewing is betrek.

Die manier waarop die leerders opgestaan het om te protesteer teen dit wat verkeerd is, maar toe ook hard gewerk het om ’n verskil te maak, was vir hom ’n pluspunt. Hier is ’n projek met ’n hart, maar meer nog: Hy sien dit as ’n projek met verskeie stemme. Die stemme van hierdie projek praat van innoverende leierskap.

Van Niekerk is baie positief oor hierdie stemme. Hy sou graag die stemme wou insluk sodat hy ook met hierdie jong leiers se stemme sou kon praat. Dit is hierdie stemme wat die land sal help genees. Hierdie stemme is blind vir kleur en doof vir taal. Hierdie jong leiers het reeds van die wêreld ’n beter plek gemaak.

Die pryse is hierna uitgedeel.

Danny Titus,  uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, het die pryse oorhandig. Die Hoërskool Monumentpark en Kraaifontein se AME het elk R30 000 prysgeld ontvang.

handevatfeb16.20

Annetjie Oppel het die prys namens die Primêre Skool AME ontvang. Saam met haar op die foto is Danny Titus.

handevatfeb16.21

Die volle span van Hoërskool Monumentpark was op die verhoog om hulle prys te ontvang.

handevatfeb16.22

Hier ontvang die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman (LGHS) van Hartbeespoort hulle tjek van R20 000 vir hulle tweede plek. Dié skool het in 2015 uitgereik na die Laerskool Skeerpoort met die doel om vyf behoeftes van die skool aan te spreek: akademie, kultuur, die skoolterrein, sosiaal-maatskaplike kwessies en die infrastruktuur. Skeerpoort se speelterrein is verbeter met ’n nuwe sandput en klimrame; ’n weeklikse skenking van vleis, groente en vrugte is gefasiliteer vir die voedingskema; skryfbehoeftes, skoonmaakmiddels, klere, legkaarte en ’n fotostaatmasjien is ingesamel. Sanitêre geriewe is ingerig, ruite is vervang en die hoofingang beveilig met palissade.

Onder leiding van ’n onderwyser van die LGHS is ’n spreekkoor by Skeerpoot op die been gebring wat ’n A++ verwerf het tydens die kunswedstryd.

Stoele, tafels en tafeldoeke is aan Skeerpoort geskenk sodat die skool se saal verhuur kan word vir geleenthede, wat nou volhoubaar as entrepreneuriese inisiatief dien.

Die onderliggende tema was deurgaans vaardigheidsontwikkeling, sodat die onderwysers, leerders en die gemeenskap van Skeerpoort tydens alle geleenthede bemagtig word.

handevatfeb16.23

Die Laerskool Skeerpoort ontvang hulle prys.

handevatfeb16.24

Ripple Reading en Blair Atholl Primary Farm School in Lanseria is in die derde plek aangewys. Elkeen ontvang R10 000. Hier ontvang Riple Reading hulle prysgeld.

handevatfeb16.25

Blair Atholl Primary Farm School ontvang hulle prys. Die doel van die Handevatprojek was om ’n gevoel van samehorigheid, hoop en positiwiteit onder die lede van die Blair Atholl-gemeenskap te bewerkstellig deur die vestiging van ’n leessentrum en -program wat ook drama inkorporeer om begrip te kweek. Die vennootskap het ook gefokus op die ontwikkeling van personeel en die verbetering van sekuriteit. Hierdie projek het ook verskeie rolspelers betrokke gekry as borge en adviseurs.
handevatfeb16.26

Winnie Viljoen, die projekbestuurder by die Hoërskool Monumentpark, was die laaste spreker. Sy vertel die kinders het aan haar gesê: "Hulle gee nie om of hulle wen of nie, dit was steeds die moeite werd."

Sy het toe die woorde van JJ van Niekerk, die beoordelaar, geëggo. "Ek slaap nou beter, want julle is in beheer."

handevatfeb16.27

Die skoolkoor van die Hoërskool Monumentpark, saam met ’n aantal leerders van die Kraaifontein AME Primêre Skool, het toe die amptelike verrigtinge afgesluit.

handevatfeb16.28

Ek het toe ná die tyd ’n kort onderhoud met kaptein Niemand van die SA Polisiediens (regs) gevoer, want in die commendatio het die beoordelaars gesê hierdie traumahanteringsprogram verleen koste-effektiewe hulp waar dit benodig word. Die hele gemeenskap het ingekoop by hierdie projek, onder ander die Gemeenskapsintervensiesentrum, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, asook die plaaslike polisie en brandweer. Kaptein Niemand bevestig dit. Soseer dat die Polisiediens op Dinsdag 23 Februarie, slegs vier dae ná die prysuitdeling, ’n amptelike jeuglessenaar in die streek geopen het waar leiers van elk van die elf hoërskole amptelike seggenskap gaan kry in die werkinge van die polisie.

handevatfeb16.29

Die stemme van die jongmense eggo dus voort. Ook die gemak waarmee die pers hanteer word, is indrukwekkend. Hier staan Divan Smit ’n onderhoud aan e-nuus toe.

Ek het verlede jaar, na ek die voorreg gehad het om die ATKV-Tienertoneel by te woon, geskryf hoe opmerklik dit is dat die jongmense kragdadig die ouer orde uitdaag en sake benader wat ons nooit sou durf waag toe ek op skool was nie. Die stuk is hier te lees. 

Ek het ook, tydens ’n bespreking van Jaco Jacobs se boek, ’n Goeie dag vir boomklim wat deur LAPA uitgegee is, genoem hoe opmerklik dit is hoe gemaklik jongmense protes omarm. Lees meer hier

Protes kan gewelddadig en sinneloos kan wees, maar hier was egter dit nie die geval nie. Die jongmense van die Hoërskool Monumentpark in Kraaifontein het gefokusde protes aangeteken, hulle moue opgerol en iets aan die probleem gedoen. Die laerskool het saamgewerk en was die gemeenskap ter wille.

handevatfeb16.30

Meneer Herman Bailey, direksielid van die ATKV, skud hand met van die laerskoolleerders.

handevatfeb16.31

Die nuwe stemme van die nuwe Suid-Afrika lig hulle vuiste teen my generasie, hulle eis hulle regte, maar doen waaragtig ook meer as wat ons generasie ooit gedoen het.

* * *

Die twee beoordelaars wat die land vol gereis en twaalf vennootskappe geëvalueer het is Charles Viljoen (senior lektor by die Skool vir Opvoedkunde by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit) en J.J. van Niekerk (handelsmerkbestuurder by Forever Friday en projekleier van die 2011-wenvennootskap van ATKV-Handevat tussen die Hoërskool Jan van Riebeeck en die Primêre Skool Weber Gedenk). 

Die kriteria waarvolgens die projekte beoordeel is:

  1. Albei skole moet verantwoordelik wees, help met die beplanning en dan ook met die uitvoer daarvan.
  2. Die projek moet in die minder bevoorregte gemeenskap uitgevoer word.
  3. Die projek moet die minder bevoorregte gemeenskap in die algemeen ter wille wees, nie bloot ’n baie gefokusde groepie nie.
  4. Dit moet ’n volhoubare projek wees.

Gedurende 2015 is twaalf projekplanne goedgekeur. Al die skole het R3 000 aanvangskapitaal ontvang. Die ander nege finaliste was die Laerskool Paul Greyling (Vishoek), St Dominic’s College (Welkom), Grey High School en die Hoërskool DF Malherbe (Port Elizabeth), Laureus Manskoshuis (NWU, Potchefstroomkampus), die Hoërskool Paul Sauer (Kareedouw), die Hoër Tegniese Skool Drostdy (Worcester), die Hoërskool Parel Vallei (Somerset-Wes) en New Horizon College (Harrismith).

Vorige wenners:

  • Die Laerskool David Brink en die Môrester Kinderhuis (2009)
  • Doxa Deo Skool Xanadu en Ennis Thabong Intermediate School (2010)
  • Die Hoërskool Jan van Riebeeck en die Primêre Skool Weber Gedenk (2011)
  • Die Hoërskool Stellenberg en die Paarl Vaardigheidskool (2012)
  • Die Laerskool Jan van Riebeeck en Soyisile Primary School (2013), klik hier vir ’n berig en foto’s. 
  • National Instuitute for Higher Eduaction (NIHE) Kimberley en Tshiamo Primary School (2014), klik hier vir ’n berig en foto’s. 

Die sluitingsdatum vir 2016 se ATKV-Handevatkompetisie is 31 Maart 2016. Besoek gerus www.atkv.org.za vir meer inligting oor ATKV-Handevat.

handevatfeb16.32

Kontak vir Lizané Basson by telefonnommer 011 919 9078 of e-pos lizaneb@atkv.org.za

Kyk gerus na hierdie video wat meer vertel van ATKV-Handevat.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top