ATKV-Applous: Administratiewe rompslomp keer nie dié koor se goud nie

  • 2

 

duinesig1

Daar is 'n ou Nederlandse gesegde wat lui: "Slegte mense sing nie."

Hierdie spreekwoord het skynbaar ook afgeskuur op 'n reeks doeanebeamptes wat geweldig baie moeite gedoen het om 'n menslike gesig te gee aan die streng nuwe wette wat ons regering deesdae afdwing op kinders wat sonder ouers reis.

Ten spyte van almal se omgee, moes 'n skoolkoor van Walvisbaai in Namibië vier-en-twintig uur lank by die grenspos in 'n bus sit weens die regering se regulasies.

Bessie Keun, ATKV-Applous Projekorganiseerder, verduidelik dat die ATKV moeite gedoen het om die kinders en die skool in te lig oor Suid-Afrika se vereistes. Die kinders hét volledige geboortesertifikate by hulle gehad, maar toe ontdek die grensbeamptes klein verskille tussen die geboortesertifikate en kopieë van ouers se dokumentasie wat die geboortesertifikate vergesel het.

duinesig2

Dit het gemaak dat die Suid-Afrikaanse kant nie die groep kon toelaat om die land binne te kom nie.

Keun vertel dat sy toe die grenspos gebel het. Daar het sy die menslike sy van die burokrasie teengekom. Me Happy Mashiane het die saak op haar geneem. "Sy het baie moeite gedoen," sê Keun. "Sy het selfs haar eie foon vir die kinders gegee om te bel sodat hulle planne kon beraam om die probleem op te los."

Intussen sit al die kinders van Duinesig Combined School in 'n bus. Hulle optrede kom nader en hulle is nie voorbereid vir 'n nag in die bus nie.

Dit is egter 'n eer om Namibië te verteenwoordig by ATKV-Applous. Uit die vyftien Namibiese kore wat meegeding het, kon net hierdie koor genoeg punte kry om genooi te word.

Intussen oefen die ander kore van nie-Afrikaanse Hoërskole reeds in die Veremarksaal in Port Elizabeth, en Duinesig se kinders sit steeds op die grens.

duinesig3

Ná baie moeite en rondbellery is die bus met die kinders deurgelaat. Volgens Florida Augustus, woordvoerder vir die koor, is al die leerders uiteindelik deurgelaat, danksy die harde werk van Mashiane. Die rompslomp het egter gemaak dat hulle nie meer vir die groot prys in aanmerking sou kon kom nie, want hulle moes Donderdagaand meegeding het en die bus het eers vier uur die Vrydagmiddag by die gasteplaas in Uitenhage opgedaag waar hulle akkommodasie bespreek het.

Die organiseerders van ATKV-Applous het gevoel die koor moet steeds toegelaat word om op te tree, al sou hulle nie meer vir die prys in aanmerking kom nie.

Hulle is toe genooi om die Vrydagaand op te tree saam met die finaliste van die Afrikaanse Hoërskole. Hulle sou vooraf oefentyd kry, dan optree.

En daar verdwaal hulle weer. Uiteindelik het 'n fotograaf van Die Burger, wat die storie gevolg het, die bus opgespoor en na die Veremarksaal begelei. Dit was te laat om vooraf te oefen, so tydens pouse is die koor die geleentheid gegee om te oefen. Ná die laaste koor op die program toe klaar was, is Duinesig Combined School se koor die geleentheid gegee om op te tree.

duinesig4

Otniel Tjombe en Japie Gouws, Hoofbestuurder van die ATKV-groep

Hulle het die gehoor op hulle voete gehad en is formeel met 'n goue sertifikaat vereer, wat beteken dat hulle meer as 80% behaal het. Bessie Keun sê: "Dit was ongelooflik. Na alles wat hulle deurgemaak het! Want onthou, as jy moeg is, is intonasie die eerste ding wat gaan."

Om alles te kroon, besef Keun na die uitslae bekend gemaak is, dat die kinders se laaste ete ontbyt was. "Die Applous-span is toe saam met die koor Steers toe en het vir elkeen 'n hamburger, tjips en koeldrank  gaan koop. Daarna het ons toe maar (2:00 die oggend) voor hulle uit gery tot in Uitenhage om seker te maak die bus verdwaal nie weer nie."

Foto's en teks: Izak de Vries

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top