Asemrowende stilte

  • 0

Die stilte was amper asemrowend. Dit het my amper aan die slaap gesus. Die onbekendheid van ’n normale slaappatroon spook nog in die skaduwees van my klein, stowwerige kamertjie. ’n Onbekende kreungeluid het vanuit die romp van die skip gekom en my hart geruk. My hart, ’n origamigevoude hart van flenters papierstroke, hang slegs aan garedrade wat elke dag verder uitrafel. Die onnatuurlike kreun verander in ’n weergalmende kraakgeluid. Daar was geen twyfel oor die feit dat sulke geluide ’n aanduiding van die einde was nie. Dit was die einde van ons avonture, drome en onbeplande, mislukte pogings om meer te vind as wat al gevind was.

In daardie laaste sekondes flits geen heldedaad deur jou gedagtes soos in die films nie. Ek kan wel erken dat in die laaste oomblikke ek tog teruggehunker het huis toe. Ek het myself verwyt oor vele gebeurtenisse, en selfs meer oor die dinge wat ek nooit laat gebeur het nie. Die meeste van al hierdie ontelbare verwyte was die feit dat ek nooit die geleentheid gegun sou word om my gevoelens aan haar te verklaar nie. Ek het die woorde soveel keer oor en oor beplan, die soetsappige clichés, tog net uit die duim gesuig, geskrap uit my toespraak. Om vrede te maak met jouself het ewe skielik maklik voorgekom, in vergelyking met hierdie nuttelose toespraak wat sy nooit sou hoor nie.

Die gille het vroeër gekom as verwag. Gille van vrouens, huilende babas en selfs woedende uitroepe van angstige bemanning het die atmosfeer gevul. Ek kon nie meer die branders se geraas en die hewige storm wat die skip bedreig het, hoor nie, slegs die selfsugtige mense aan boord wat elk vir hulself wou veg. Matrose ken die see beter as hulself en op daardie oomblik het ek geweet die stormagtige, woedende oseaan sal nie stilbly vir gewetenlose mense wat rondskarrel soos miere nie. Ingee is soms die beste opsie, spesifiek in ’n geval soos dié wanneer jy weet jou opponent is jou meerdere.

Die skarrelende voetstappe bo ons koppe het harder geword soos die winde hul klappe en skoppe toegedien het. Ek het rustig, dog angstig my twee vriende se slapende lywe van die stapelbeddens afgetrek en hul na buite gelei. Buite die kamer was dinge meer vreesaanjaend. Onrustige bemanning het haastig rondbeweeg in die beheerkamers, op soek na ’n rede. As hulle tog net verstaan het dat die rede voor hulle was, maar ek kon in hul oë sien dat hul alles probeer ontken. Ek het my moeë, besope vriende gedra na die dek van die skip; daar het ons skuiling gevind agter reusagtige kratte.

Alles in my wou tegelykertyd die mense red en ook vlug terug na die donker kamertjie waar ons so lank weggekruip het. Maar ek en my vriende was lankal nie meer net matrose wat op ’n plaaslike vissermansdorpie saam klipvissies gevang het en oor onbekende eilande gedroom het nie. Die dae van brood, botter en ’n seldsame vissie op die tafel was verby; ons het ons werke as matrose gelos vir die lewe van vlugtelinge. In ons geval ’n sinoniem vir “kriminele”. Die feit van die saak is, as ons drie nie onwettige vlugtelinge op ’n luukse skip was nie, kon ons dalk nou duisende mense se lewens gered het. Om nie eers te praat van ons eie lewens nie, maar hoe red jy iemand wat nie verdien om gered te word nie? Om te dink oor minder as vier dae sou ek weer my arms om haar kon gevou het en my vriende na ’n beloofde troue in ’n oorsese, klein Europese dorpie toe genooi het. Ek sou uiteindelik die man gewees het na wie sy verlang en so hartlik verdien. Ek sou nie meer die armsalige siel wees wat aan die kus grootgeword het en aan die lewe gebly het afhangende van hoeveel vis hy op ’n dag kan vang nie. Soos die stormwind om die kante van die houtkratte waai, het ek hierdie onmoontlike drome finaal uit my geheue gewis. Ons enigste lot was dié van doodstraf, deur te verdrink in die omhelsing van die Atlantiese Oseaan. Dis tog immers wat ’n oneerlike man wat die kortpad na liefde toe probeer vat, verdien.

Die mans met grys strepe deur hul yl hare het ons in die laaste sekondes ontdek. In die middel van die seepgladde dek is ons op ons knieë neergegooi, arms en bene vasgeboei. Die oudste bemanningslid, vermoedelik die kaptein, het na die hemele gedraai en ek neem aan sy God geraadpleeg. Sy besluit het nie in my guns getel nie, want genade sou ek nie daardie donker aand ontvang het nie. Hul het vas geglo die storms sou bedaar toe hul my en my twee vriende sonder gewete, oorboord gegooi het. Tog weet ek hul het ook daardie selfde aand die krag van daardie branders teen hul vel, brose liggaam en skuldige harte gevoel brand.

Alhoewel ek nie presies kan onthou hoe dit geëindig het nie, onthou ek hoe die gille van my vriende stil word. Ek was alleen in die koue, bruisende waterstrome wat my heen en weer gepluk het. Water het oor my kop gespoel soos ek die liggies vanaf die groot skip sien wegkwyn het oor die beloofde horison. Met my heel laaste asem het ek gedog die vlugteling se geluk het finaal uit sy uurglas geloop, maar in daardie laaste sekondes is ’n hand na my uitgesteek. As ek daaraan terugdink, besef ek dat ek die geleentheid gehad het om verlos te wees van ’n tragiese, bedrukte, oneerlike lewe, maar ek kon nie laat gaan nie. Nie voordat ek nie verseker was oor wat daarna sou volg nie.

Al leef ek nou ’n lewe wat voel asof ek steeds vasklou aan ’n uitgesoekte boomstomp wat in die see ronddryf, het ek ten minste ’n tweede kans gekry. ’n Kans om seker te maak ek het alles gesê voor daardie laaste oomblikke aanbreek. Om hierdie keer geen verwyte te hê nie. Dit sou amper so lank duur soos die geduldige roete na die strande van ’n onbekende eiland, maar ek glo dit sal kom.

Om eerlik te wees, ek glo nie ek sou ooit net kon ingee voordat ek haar weer sien nie. Die asemrowende stilte sou in die ewigheid eenvoudig te alleen wees vir ’n enkele vlugtelingsiel …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top