As tale verdwyn

  • 3

Na analogie van spesies en spesies wat uitsterf, word daar dikwels ook gepraat van tale en tale wat uitsterf. Alhoewel ʼn taal nie ʼn lewende organisme is nie, is dit tog, wat Darwinistiese evolusie betref, ʼn voor die handliggende analogie. Net soos nuwe spesies gevorm word, kom nuwe tale ook tot stand. Veronderstel ʼn groep mense, wat dieselfde taal praat, verdeel in twee, sodat elkeen sy eie rigting inslaan, dan sal die twee groepe se tale ook van mekaar begin verskil, sodat hulle mekaar na so ʼn paar duisend jaar kwalik sal kan verstaan. Afrikaanssprekendes sukkel al om Nederlands te verstaan, en die skeiding is kwalik 300 jaar.

Net soos spesies besig is om te verdwyn en nuwes te voorskyn kom, so sterf tale ook en soms word nuwes gevorm. Linguiste weet op die oomblik van 6912 tale in die wêreld, en hulle voorspel dat teen die jaar 2100 slegs die helfte daarvan nog gepraat  sal word. Hulle weet van ongeveer 200 tale wat minder as 10 sprekers het, en 300 tale met tussen 10 en ʼn 100 sprekers. Hierdie sowat 500 tale sal beslis binnekort heeltemal verdwyn, want daar kan nie staatgemaak word op die jonger generasie om dit verder oor te dra nie. Die neiging is om nie die taal van die ouers te praat nie, maar liewer die dominante taal van die omgewing. ʼn Taal soos Ös in Siberië bv sukkel om te bestaan met sy 30 sprekers. Hulle vergeet dikwels die woorde en idiome omdat die Russiese woorde en idiome bekender is. Dit is die situasie waarin duisende ander tale oor die wêreld verkeer. Lees verder: https://livingtongues.org/os-chulym/

Daar word bereken dat, teen die huidige spoed, die wêreld een taal elke tien dae verloor, en Ös sal beslis een van hulle wees.

(Word vervolg)

Angus

 

  • 3

Kommentaar

  • Die laaste sensus het getoon dat Afrikaans GROEI, in teenstelling met swart inheemse tale, ten spyte van 'n groeiende swart bevolking, kwyning ondervind as gevolg van al hoe meer swartes wat eerder Engelstalig wil wees. Die probleem wat skrywers soos Jan, et al, hier op LitNet met Afrikaans ondervind, gaan nie oor die groei van Afrikaans in die algemeen nie, maar wel oor die kwyning van (standaard) Afrikaans onder blanke geledere. Blanke getalle het gedaal vanaf die tweede getalrykste in die vorige eeu, tot huidig die derde getalrykste naas die bruinmense, en indien die blanke negatiewe aanwas die huidige tempo voortsit, word bereken dat hulle teen die draai van die eeu minder in getal as die Asiërs hier in SA gaan wees, en dat Afrikaans, pleks van derde, die tweede mees gesproke taal gaan wees, danksy die bruin bevolkingsaanwas, en swarttaal-afname, en in die proses gaan Standaardafrikaans teen die draai van die eeu kapoet wees!

  • Hans Richardt

    Angus, ten minste nie in ons leeftyd nie. Daarom maak ons dit so moeilik vir politieke korrektes deur eie Afrikaanse organisasies in Orania te skep. Duits moes al 100 jaar gelede in Namibië verdwyn het, maar tog bly die ou dialek bestaan. Lekker ...

  • Beste Hans,
    In ons leeftyd, ja! In 2001 was daar ten minste 7000 tale wat wêreldwyd gepraat is. Baie linguiste voorspel nou dat teen die jaar 2101 meer as die helfte uitgestorwe tale sal wees. Sulke voorspellings berus op bewese demografiese feite. Oor die 200 tale het toe minder as 10 sprekers gehad, terwyl oor die 300 tale tussen 10 en 99 sprekers gehad het. Hierdie meer as 500 tale is omtrent een tiende van die tale wêreldwyd, en sal beslis binnekort heeltemal uitsterf. Ek praat nie van Afrikaans nie. Dit groei nog danksy Engels. Standaardafrikaans kwyn en word deur Engels verswelg.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top