As iemand in die donker skree, hoop hy altyd iemand anders skree terug

  • 0

Sometimes I think the reason we still have feelings for each other is that we’ve never spoken about it. – Catherine in The Verbalists

Kommunikasie is die boustene van demokrasie. Mens het dus ’n stem, en mag hom laat hoor. Maar mens maak jou eie self bekend deur wat jy sê, en veral deur hoe jy dinge sê.

As mens jouself uitgee vir ’n toffie, moet jy dit maar opvreet as jy gekou word. ’n Ou wat deur ’n pantserlaag sal praat, newwermaaind toffie, was in ’n stuk by die UCT Hiddingh-kampus.

The Verbalists, deur Louis Viljoen
Geregisseer deur Louis Viljoen

Viljoen en Greg Karvellas is Dark Red Productions. Beide is op ander terreine nou betrokke by die vermaaklikheidsbedryf. Hulle is grotendeels op hulself aangewese om hul eie produksies op die planke te bring.

Die teks van The Verbalists is ’n vreemde, en interessante, waarneming van ’n situasie, wat sekerlik ’n motto verteenwoordig, dat realiteit gereeld vreemder is as fiksie. Want die gehoorlid sal maklik dink dis vergesog, totdat hy agterkom die kopklem van die wêreld daar buite ontsien niemand nie.

Carel Nel, onlangse Fleur du Cap-wenner, wys sy gemak en krag op die verhoog - as ’n berader, Max. Max waag die fyn lyn – beraad sy “kliënte” so baldadig en robuust dat hulle of hul eie lewens met vreugde sal neem om aan Max se wrede wêreld te ontsnap, of hulself regruk en die lewe “soos ’n man” in die oë kyk. Skoon is Max se eie lewe ook nie.

Carel deel die verhoog met Danieyella Rodin en Rebecca Makin-Taylor. Rodin is ’n sterk, afgeronde aktrise wat haar al voorheen onderskei het – byvoorbeeld in produksies saam met The Mechanicals.

Makin-Taylor is op die oog af onervare. Die karakter wat sy speel, lyk of sy haar van kwessies afsny om sonder om te emosioneel betrokke te raak haar werk te probeer doen. Sy verduur Max ten beste. Sy sien hom omtrent nie. Soos hulle sê in die classics: “No love lost here.” Maar uiteindelik is die apatie in sulke oormaat dat dit lyk asof die aktrise nie die selfvertroue had om op ’n emosionele terrein betrokke te raak nie. Soms is dit of sy maak asof sy Max nie sien nie; dat die aktrise hom nie eintlik waarneem nie. ’n Stelling van een van ons grootste akteurs, Cobus Rossouw, oor hoe belangrik, amper dié belangrikste, die luister op die verhoog is, sal haar baie in die toekoms help.

Net enkele verstellings aan die regie sou van ’n baie interessante stuk ’n sukses kon maak. Net soos dit is, bestaan The Verbalists uit suksesvolle elemente van teks, spel en beligting – maar nie volledig of as ’n eenheid nie.

Kat en die Kings is ’n Taliep Petersen/David Kramer-meesterstuk. En hulle gebrúik nie sterre in hul shows nie; hulle máák sterre. En hul tekste is nie meesterlik nie; hulle musiek is. Die storie gebeur in die musiek. Hul kan nogal wegkom met minder goeie performers ook, omdat die musiek, storie en al, so goed is. Hul gebruik ook die klassieke dramatiese struktuur meesterlik in hul produksies. ’n Stuk wat flouerig begin, met selfs flouerige werk deur sanger-akteurs, gaan jou 90% van die tyd steeds wegblaas na die einde toe.

Kat is geen uitsondering nie. Rolle wat destyds deur byvoorbeeld Emo en Loukmaan vertolk is, word nou deur ewe jong kêrels vertolk. En in die rolverdeling is byvoorbeeld Dean Balie – ’n aks te kort, maar met geen tekort aan akteursvernuf nie! En hy sing en hy dans. Nog ’n outjie met lekker akteurscharisma is Carlo Daniels. En almal sing goed.

Beste van alles is dalk die verwerkings, en die gimmicks in terme van rekwisiete. Kat is lekker vermaak, met meesleurende musiek, ’n outop - Danny Butler, wat hoe later hoe kwater raak, en die hele pakket in ’n teater waaroor dwars geskryf staan – WELKOM! ’n Teaterervaring wat Taliep en David se reputasie gestand doen. ’n Fugard-teater met ’n warmte met daai ietsie ekstra – tot die parkering buite, en die verwelkoming buite en binne die deur!

Soms is ’n opinie so ongewild soos ’n rugbymening. Vir ’n jaar torring die kenners aan Peter de Villiers om John Smit te laat gaan en Bismarck du Plessis te kies. En as Bismarck op die veld kom, maak hy inderdaad ’n impak. Toe bewys PdV homself reg deur die sterkste, bes-gekondisioneerde span nóg by die Wêreldbeker te hê wat verloor in ’n wedstryd. Hulle had met bulspel en onder die leiding van ’n dissipline-kaptein, John Smit, die oorhand. En, soos Jake White, het PdV nou meer vyande as vriende. Want elke rugbykyker, hoe oningelig ook al, het ’n mening. En kyk hoe suksesvol is Jake se Brumbies-span!

Kyk, om te wil moord pleeg oor iemand se opinie is simpel. ’n Jaar later is John Smit weg, Bismarck du Plessis die hele tyd, sonder veel impak, op die veld, en dit wil lyk of Chilliboy, op verdienste, bo hom gekies gaan word. As Bismarck nie geheel en al van die veld af is met ’n besering nie. Waaroor was die groot fight dan?

Peter, ek wonder net wat dink mense oor jou Son-onderhoud. Peter, jy’s great. Laat staan daai dinge, laat staan!

People always want to shout into the darkness and they always hope someone shouts back. If no one does, they truly know they are alone. Which we all are. – Max in The Verbalists

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top