"Artisjokhart" deur Karen de Wet: ’n bespreking

  • 0

Ek het “Artisjokhart”1 vir die eerste keer raakgelees in nuwe stemme 3 (Tafelberg, 2005). Die skoonheid van hierdie gedig het my dadelik oorrompel. Onlangs soeklees ek deur die inhoudsopgawe van Groot verseboek, Band 3 (Tafelberg, 2008), en was ek nou aangenaam verras om te sien dat beide “Artisjokhart” en “nagwind in maart” van Karen de Wet daarin opgeneem is.

In die eerste reël van die gedig eis die ongewone gebruik van die woord “Vanlaatmiddag” (’n samevoeging van “vanmiddag” en “laatmiddag”) onmiddellik die leser se aandag op. Die woord skep ’n gevoel van onmiddellikheid en “vastigheid”. Om net daarna in kontras te staan met “weggewaai”. Hiermee word ’n deurlopende opposisie in die gedig ingelei, nl dit wat bly (duursaam) en dit wat verbygaan (vervlietend).

Saam met die wegwaai van die middag stap die verkopers van die markplein huis toe. Die geur van speserye kleef aan hulle “geurige hande” en volg hulle huis toe.

Chronologies gelees, skep die tydsfrases “sononder” en “naskemer” ’n gevoel van tyd wat duur. Die verkopers loop vir ’n periode van tyd huis toe; daar is geen haas nie.

Die terugloop huis toe is deel van die gang van elke dag. Dit gebeur in die gees van ’n vrou se dienswilligheid (“gedienstig”) en ’n kind se gehoorsaamheid (“geseglik”). Die vergelykings in strofe 1 skep ’n gevoel van intimiteit en vertroudheid. Die g-klanke in dié strofe is opvallend en ondersteun dié gevoel.

Dis steeds laatmiddag in strofe 2 en daar is geen bote meer op die water nie. Die blare van die karee wieg nou, soos bote, op die deining van die wind. “Kanoblare” vervang bote en die wind/lug vervang see.

In kontras met die beweging van die blare bly die twee mense (“ons”) in ’n restaurant sit. Die “drywende wolke” word gepersonifieer: hulle is lig soos drome en hande, hulle het vingers wat vat.

In strofe 3 bestel die “jy” ’n artisjokslaai. Ten spyte van die feit dat dit “buitenstyd” (buite seisoen?) is, daag dit wel op. Die woord “opdaag” skep ’n gevoel van onverwagsheid. Die slaai herinner die spreker aan tapas uit Spanje, dus iets uitheems en eksoties. Die beskrywing van die slaai in reëls 15 tot 18 is ryk en sensueel. Die alliterasie van die g-klanke (in “goud en glad en gul”) en die s-klanke (in “brons soos die Spaanse son”) suggereer die besondere kleur en fluweelagtige tekstuur van die olyfolie. Die stukkies rooirissies lyk soos dansende Spaanse figuurtjies (“flamenco’s”).

Wanneer die “jy” die lae van die koningsprotea afdop en oopvou, gebeur dit weer eens – soos al die aktiwiteite dié middag – sonder haas (“tydsaam”). Daar is ’n interessante spel tussen beweging en bewegingloosheid/stilstand in die gedig. Opvallend is die afwesigheid van ’n werkwoord in die slotsin. Die olieverfskildery is ’n gestolde moment tussen twee mense.

Die titel moet op verskillende vlakke gelees word. Letterlik verwys dit na die binneste kern van die artisjok. Tweedens versinnebeeld dit iets besonders wat twee mense deel – ’n gestolde moment vol intimiteit en sensualiteit. Derdens word die artisjokhart ’n metafoor van die binneste kern van die mens, die hart. Die spreker se hart word onomkeerbaar aangeraak.

In die eerste reël het vanmiddag weggewaai. In die slotreël bly die olieverfskildery. So ook die gedig.

 

Artisjokhart
deur Karen de Wet

Vanlaatmiddag het weggewaai.
Soos wat die geur van speserye op die markplein
teen sononder en naskemer agter die verkopers
se goudbruin arms, se sagte geurige hande aan
– en gedienstig soos vrou, geseglik soos kind –
na huis en gemeensaamheid loop

Buite is daar geen bote meer nie –
net die smal kanoblare van die karee
bly wieg op die deining van die wind.
Maar hier binne waar ons deur die skadu’s omhul
bly sit, word dit die see – die drywende wolke lig
soos drome, soos hande, en met vingers wat vat.

Tot jy aartshonger en buitenstyd die artisjokslaai
bestel en dit opdaag soos tapas uit Spanje:
Klein porseleinkommetjie waarin die olyfolie
met stadige hale swem, goud en glad en gul,
brons soos die Spaanse son die soet flenters
rooirissie soos flamenco’s aan die bloei daarin.
En in die middel die koningsproteakleur,
die eindelose papierbaslae, van die artisjokhart
wat jy tydsaam sit en afdop, oopvou.

Klein olieverfskildery tussen my en jou.

Uit: nuwe stemme 3, Tafelberg, 2005

Marié Jacobs is ’n vryskutskrywer en blogger.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top