Antwoord vir Angus oor my hereksamen

  • 2

Dagsê Angus

Hoe lei jy nou af dat “taal moet wees soos [Jan Rap] dink dit moet wees” as ek sê die grammatika van ’n taal gee jou die spraakreëls, maw skryf vir jou voor?  Dis nie ek wat “wil hê” nie; dis die grammatika wat sê wat moet.

Jy sê ek “slaan verklarende woordeboeke mos hoog aan”.  Oorbodige stelling (terloops, slaan jy hulle laag aan?).  Ek het maar net vir jou vertel hoe jy jou probleem om ’n leenwoord te identifiseer te oorkom – as die woord NIE in die Afrikaanse woordeboek voorkom nie maar wel in die Franse of Russiese of Armeense of Engelse woordeboek dan is dit ’n Franse of Russiese of Armeense of Engelse woord, nie ’n Afrikaanse woord nie. 

Dis mos maklik, of hoe?  Maar nee, as dit nie strook met wat Angus sê nie moet die probleem nou by die woordeboekmakers lê; hulle is konserwatief en hulle wil nie die boeke te dik maak nie en is te stadig om “nuwe” woorde op te neem en wie weet wat nog als.  Dan is jy die ou wat sê ék is die ou wat altyd stry.

Op pad werk toe in die bus het vier van ons altyd brug gespeel, ’n aktetas in die gangetjie gesit en gebruik as ’n tafeltjie.  Een van die outjies in die bus, hy was van die onderhoudsafeling, het altyd oor sy stoel se leuning gelê en ons dopgehou. Eendag het een van die gereelde spelers nie opgedaag nie en die onderhoudsoutjie sê toe hy sal instaan.  Hy speel toe ’n barshou en toe ons hom vra waar hy geleer brug speel het, sê hy nêrens, hy’t dit maar opgetel deur ons dop te hou. Hy het dus die reëls, die grammatika, opgetel bloot deur blootstelling.  Indien hy egter wou kon ons die reëls van die spel (maw die grammatika) in een dag aan hom verduidelik het en dan het hy dit vinniger geleer.  Daar is reëls wat voorskryf hoe die spel gespeel moet word; jy kan nie, as ruitens byvoorbeeld troewe is, sommer besluit skoppens is nou troewe nie.

Net so kan ’n ou ’n taal leer deur blootstelling aan daardie taal (die metode wat jy as die beste beskou) maar daardie blootstelling leer jou die reëls, die grammatika, wat nodig is om die taal te praat.  Jy kan nie sommer “I are” gaan staan en sê nie, want die grammatika skryf voor dat dit “I am” moet wees.  Dis nie jou taalgevoel nie; dis die reëls.  So, of jy nou die taal leer deur blootstelling of telepatie of die towerkrag van feetjies, dis die grammatika wat jy op hierdie manier optel.  Die maklikste is natuurlik bloot deur die bestudering van daardie taal se grammatika (uit ’n grammatikaboek of dmv ’n leermeester).

Jy sê: “Grammatikakennis en kennis van ʼn besonderse taal is slegs vir die onderwyser, die linguis, en die student van ʼn taal.” Student?  Ek dog dan jy sê as jy ’n nuwe taal leer het jy nie ’n grammatikaboek nodig nie?  Buitendien, om watter rede is die grammatikakennis dan nodig vir die onderwyser en linguis; wat maak hy daarmee?  Ek sê nou weer vir jou, om ’n taal te kan praat moet jy die grammatika onder die knie hê en die woordeskat ken. Die grammatika  plus die woordeskat (en fonologie natuurlik) IS die taal.  In die skakel wat jy gegee het oor die Bertlitzmetode sluit die artikel af met “the Total Immersion method involved creating additional support such as vocabulary and grammatical training techniques (my vetskrif)”.

Jy vra my in ’n vorige brief (31 Januarie): “As jy beweer dat grammatika voorskriftelik is, dan moet jy vir my kan sê wie het dit voorgeskryf? Wie het by sy studeertafel gaan sit en vir Engelssprekendes voorgeskryf dat hulle moet sê “I am”, en nie “I is” nie?’  Hoe kan jy so ’n vraag vra, want jý is dan juis die ou wat sê grammatici bestudeer die taal en skryf dan die grammatika vir die taal?  Ek het vir jou gesê daar is nie so iets nie; niemand skryf VIR ’n taal ’n grammatika nie, dis nie ’n nuutskepping nie; BESTAANDE grammatika word opgeteken. Net soos ’n woordeboek; niemand skryf woorde vir daardie taal en sê “dis nou die woorde wat julle moet gebruik” nie; die bestaande woorde word opgeteken.

Jy vra verder: “Bedoel jy daarmee dat julle nie sou kon praat as julle nie daardie reëls geleer het nie?” Natuurlik bedoel ek dit – jy kan nie ’n taal praat as jy nie die grammatika (en die woordeskat) ken nie, of jy dit nou aan moedersknie geleer het of waar of hoe ook al.

Jy gee weer jou weergawe van ’n geskiedenis van Afrikaans as onderskraging van jou stelling dat “Afrikaans gestig is omdat die mense ’n renons in Engels gehad het”.  Angus, dit het met “stigting” niks te doen nie; dit was maar bestekopname, bietjie skoonmaak hier en afstof daar, amper soos die bywerk aan ’n skildery op pad na die finale produk.  Ek kan my goed voorstel dat die Franse, Duitsers, Engelse, ag al die tale, deur dieselfde proses gegaan het (en nog steeds gaan, anders was daar nie byvoorbeeld die Académie Française nie).  Die GRA is gestig ja, en ook Die Taalbeweging maar Afrikaans kon nooit “gestig” gewees het nie.

Jy sê die gebruik van Engelse woorde mag dalk lei tot die ontstaan van ’n nuwe taal maar nie Engels nie.  Kennelik het jy die voorbeeld wat ek van die Skotte, Iere en Walliesers gegee het nie raakgesien nie.  Daardie Kelte is nou Engelssprekend, hulle tale is deur Engels oorgeneem.  Die voorkoms van al hoe meer Engelse woorde en spreekwyses van Afrikaans is simptomaties van die agteruitgang van Afrikaans, NIE die vorming van ’n nuwe taal nie.  Die mense wat hierdie geradbraakte Afrikaans praat maak baie seker hulle Engels is goed en, soos jy self al uitgewys het, maak hulle hul kinders Engels groot.  Hulle WORD Engels, nie die kampvegters van een of ander nuwe taal nie.

Jy sê Engelse sit hulle in Afrikaanse skole en jy noem ’n klomp vanne.  Ek reken ’n klomp van daardie mense is in elk geval Afrikaans.  Hoe dit ook al sy, daar was wel, gedurende die vorige bedeling, Engelssprekendes wat hulle kinders in Afrikaanse skole gesit het blykbaar oor die beter dissipline volgens hulle, daar was sulke kinders in die koshuis waar ek was.  Die ouers het egter nog Engels met die kinders gepraat, hulle het hulle nie Afrikaans grootgemaak nie.  So, die Engelse het hulle kinders in Afrikaanse skole gesit omdat hulle geglo het die dissipline is beter (en die skoolfonds was dalk minder) maar die hedendaagse Afrikaners wil so graag Engels wees hulle maak hulle kinders Engels groot, vandaar die plasing in Engelse skole.  Dieselfde met universiteit – daar was Engelse studente op Tukkies vanaf Johannesburg en Kaapstad (wat langs Ikeys of Wits gebly) maar die klasgeld was minder en die universiteit rustiger.

Jy sê ek stry omdat stry stry is.  Ek het begin Januarie met die vreedsaamste gemoed, en ’n lied in my hart, uitgewys dat Afrikaans verdwyn het uit groot dele van die samelewing en, te oordeel aan hoe mense deesdae praat (onder andere op Afrikaanse radio en TV), ook besig is om te verdwyn as spreektaal.  Dadelik is jy en Dirk toe vreeslik verergd daaroor en begin stry.  Dirk stry en sê dis nie ons skuld soos ek beweer nie, dis die ekonomie en jy stry en sê Afrikaans meng nou met Engels om ’n nuwe taal te word.  So wie is dit nou eintlik wat stry?

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Angus,
    Ek is bevrees Jan het dit toe nié gemaak in die hereksamen nie. Die rede? In plaas daarvan om jou vraestel te antwoord, het hy net met jou gestry. En die grammatika-ding kan hy net nie onder die knie kry nie.
    Groete
    Dirk

  • Beste Dirk,
    Ons moet maar ook geduldig met Jan wees; hy is andersins nogal 'n gawe ou.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top