Antwoord op Angus se kommentaar op my repliek van 8 Januarie 2018

  • 6

Beste Angus

Ek sê (2 Januarie) Afrikaans is besig om te verdwyn – dit het reeds van alle verpakkings, winkelsentrums, die openbare sektor ens verdwyn en dan ook, aan die hand van hoe sekere mense praat, is dit besig om as spreektaal onder daardie mense te verdwyn. 

In jou repliek fokus jy op laasgenoemde en beweer “die Afrikaans waarvan [ek] praat is dood.  Morsdood, soos Latyn dood is”.  Dit is ’n ander onderwerp, weliswaar interessant maar nogtans ’n heeltemal ander onderwerp en een waaroor ons al baie gepraat het.  Aangesien dit egter ’n kwessie is wat jou na aan die hart lê antwoord ek graag op ’n paar van jou stellings.

Jy sê ’n taal “groei hoofsaaklik deur gebruik te maak van ander tale se woordeskat”.  Ek weet darem nie; die implikasie is ’n taal wat nie in aanraking met ’n ander een is nie kan nie eintlik groei nie. Dit maak nie sin nie. Of, verder, waar daar net twee tale in ’n gegewe gebied is, groei hulle deur onderling gebruik te maak van mekaar se woordeskat. Maak nog minder sin; dis soos ewigdurende beweging, of om jouself aan jou eie skoenveters op te tel.   

Taal groei deurdat sy sprekers hom kreatief aanwend, hy word as’t ware gebrei.  Beoefenaars van die taal skep gedurig woorde en begrippe en ander bou voort op hierdie voorbeelde. Hoe meer die sprekers, en dus die aanwending van die taal, hoe meer word hy gebrei. Jy kan dit vergelyk met die speel van, sê, ’n viool. Die taal is die instrument (die viool) en hoe meer die vioolspeler speel hoe meer bedrewe word hy – die viool is nie besig om beter te word nie maar die aanwending van die viool is wel.

Daar is wel woorde aan ander tale ontleen maar dit is vir begrippe waarvoor die taal nie eintlik woorde gehad het nie.  Dink maar aan Angst, Zeitgeist ens wat die Engelse by die Duitsers gekry het.  Hierdie leenwoorde is egter meestal beperk tot ’n spesifieke vakgebied maar is definitief ’n uitbreiding van woordeskat. 

Waar woorde egter “net so kaalkop” soos jy dit stel van ’n ander taal, Engels in ons geval, oorgeneem word en boonop nog veroorsaak dat die “Afrikaanse woord in die vergetelheid verdwyn” (jou woorde) is dit mos logies dat die Afrikaanse woordeskat nie uitgebrei word nie.  As jy twee items het en jy vervang een het jy nog steeds twee items, dis graad 0-wiskunde. Die woord wat nie eers fonologies by Afrikaans inpas nie het dan nou ’n Afrikaanse woord vervang. Dit verteenwoordig die uitsterf van Afrikaans, NIE dat hy floreer soos jy beweer nie.

Jou stelling “so het Afrikaans dan ook maar ontstaan dmv ’n vervangingsproses, soos jy dit noem” is heeltemal verkeerd.  In die eerste plek het ek nooit so iets gesê nie en in die tweede plek is dit ’n teenstrydigheid - niks wat vervang word kon ontstaan het nie.

So, laat ek dit weer vir jou duidelik stel – die Engefrikaans-mengelmoestaal wat deesdae deur so baie gepraat word is ’n manifestasie van die vervanging van Afrikaans deur Engels (jy sê dit ook self).

Groetnis

Jan Rap

 

  • 6

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Miskien moet ek jou weer daaraan herinner dat 'n taal se woordeskat bestaan uit erfgoed, (woorde wat Afrikaans van 17de eeuse Nederlands gekry het), neologismes, (woorde wat die sprekers van die taal self geskep het), en leengoed, (woorde wat van ander tale af kom). Erfgoed kry 'n taal glad nie meer as wat hy het nie. Neologismes is by jong tale heelwat produktief, maar neem af hoe ouer die taal word. Leengoed is produktief. Afrikaans se grootste groei lê dus in ontlening. Ontlening neem verskillende vorme aan. 'n Woord kan netso oorgeneem word van 'n ander taal (bv amazing), dit kan verafrikaans word (konfiskeer), dit kan fonologies verander word (minister, parlement) en dit kan heeltemal vertaal word ( confiscate x verbeurd verklaar, beslag lê op).
    Groete,
    Angus

  • Oom, dis obvious dat Angus reg is, jy wil net nie verstaan nie, want jy hou daarvan om slagoffer te speel. Vergeet daarvan man, geniet 'n drankie en praat die taal soos jy wil, saam met vriende wat ook so voel.

    • Nou Klein Jannie, ten opsigte waarvan is Angus reg?
      Ek het gesê Afrikaans het verdwyn van verpakkings af, verdwyn wat straat- en plekname betref ens ens en Angus is dit met my eens. Niemand sal dit betwis nie, want jy kan maar net na jou naaste supermark, poskantoor of polisie-aanklagkantoor toe stap om dit te bevestig.
      Ek het verder gesê Afrikaans word al hoe meer deurspek met Engelse woorde en dis lelik. Angus stem saam daarmee, selfs op ’n kol gesê dis afskuwelik lelik. Hy beskou dit egter as groei wat Afrikaans betref en ek beskou dit as agteruitgang. Dit is hier waar ek en Angus verskil.
      So, as jy sê Angus sê dis “obvious dat Angus reg is” dan stem jy saam met hom in hierdie verband want dit is al waar ons verskil. Jy glo ook dus dat, om Afrikaanse woorde met Engelses te vervang verteenwoordig groei van die taal. Natuurlik is dit jou goeie reg om so te glo en jy kan daardie standpunt met wat jy as goeie redes beskou, verdedig.
      Wat jy nie kan doen nie is die sinnelose bewering dat mense wat NIE hierdie standpunt huldig nie net slagoffers wil wees. Hoe bring jy die kloutjie by die oor, want ek kan mos nou vir dieselfde prys sê dat mense wat glo verengelsing bevoordeel Afrikaans wil net slagoffers wees, of hoe?
      Klein Jannie, jy praat net omdat praat praat is, jy dink nie.

  • Beste Klein Jannie
    Dit is ooglopend dat mense al hoe luier (niks uitvoer) word,want "obviously" is dit makliker om 'n woord uit 'n ander taal te gebruik.

  • Beste Jan,
    Klein Jannie mag miskien dalk klein wees, maar hy is getrein. Jy wil graag martelaar wees, want jy wil nie insien dat Afrikaans besig is om geweldig te groei nie. En wie moet ons bedank? Natuurlik Engels. Saam met Engels sal Afrikaans ook groei tot 'n groot taal, gelykstaande aan Frans, Nederlands, Duits, Spaans en nog 'n paar ander. Net Engels sal ons 'n stappie vooruit wees, want die rooitaal het nou sy vlerke uitgesprei en is nie meer geografies gebonde nie. Miskien is daar nog net êrens 'n versteekte oerwoud waar die bewoners nog nie kan Engels verstaan nie, maar ek betwyfel dit.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      Jou stelling dat Engels Afrikaans laat groei is so absurd ek weet nie of jy die draak steek en of jy werklik so naïef is om dit te glo nie.
      Groetnis
      Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top