Another Country – South Africa: New Portraits

  • 0

Titel: Another Country – South Africa: New Portraits
Outeurs: Reiner Leist
Uitgewer: Jacana
ISBN: 9781431409563

Koop Another Country – South Africa: New Portraits by Kalahari.com

"Another Country is gebaseer op Suid–Afrikaners se siening oor hulle land en hul persoonlike geskiedenis; dit is ’n onverbloemde weergawe van verandering wat plaasgevind het deur die lens van bestaande foto’s. Hierdie boek is die opvolging van Reiner Leist se South Africa: Blue Portraits, wat in 1993 – op die vooraand van die eerste demokratiese verkiesing gepubliseer is. Another Country bevat die oorspronklike swart–en–wit foto’s van die oorspronklike deelnemers wat in jukstaposisie met nuwe kleurfoto’s geplaas word. In die geval van afgestorwenes het die lens verskuif na oorlewende seuns en dogters, ’n kleinseun, nuwe ampsdraer of dieselfde terrein waar die oorspronklike foto geneem is. Elke portret word vergesel deur geredigeerde weergawes van die gesprekke; verhale van menslikheid binne die Suid–Afrikaanse landskap." (Aldus die flapteks.)

http://www.gustavogermano.com/

Herfotografie is ’n integrale strekking van dié medium, hetsy in wetenskaplike opnames met die aanduiding van sikliese toestande in die natuur (soos erosie) of as maatstaf van politieke vergrype soos in die geval van die Argentynse fotograaf Gustavo Germano in sy reeks "The Missing."

http://www.gustavogermano.com/

Tydens die militêre diktatorskap (1976–1983) in Argentinië het ongeveer 30 000 mense spoorloos verdwyn. Germano het die foto’s wat hy gedurende daardie tydperk van families geneem het, dekades later ge–herkonstrueer. Dit is ’n aangrypende dokumentasie waarin soms slegs ’n leë strand oor is, soos in die geval van "La Tortuga Alegie" (foto's heel bo en bo).

Hierdie "toé en nou" benadering is veral betekenisvol in die geval van Suid–Afrika, waar ’n skeidslyn tussen apartheid se verlede, teenoor ons demokratiese hede, ons daagliks in die gesig staar. Om dus die uitwerking van so ’n metamorfose te toets deur middel van die lens se kalibrasie, maak volledig sin omdat fotografie aan ons die geleentheid bied om die gewig van ’n gebeurtenis te weeg aan die hand van die historiese dokument.

Waar Germano egter sentraal tot sy dokumentasie geposisioneer is, is Leist se perspektief afstandelik, ten spyte van die feit dat hy wel etlike jare in Suid–Afrika deurgebring het en onder andere aan die Michaelis Kunsskool ’n kunsgraad verwerf het.

Die aanspraak van Leist se projek Another Country, ontleen van Karel Schoeman se ’n Ander Land, werp moontlik lig op Leist se benadering. Is Leist ’n Versluis? Is dit bewustelik die standpunt wat hy wil inneem om homself te vrywaar van die moontlike kritiek waaraan die onbetrokke bespieder blootgestel is?

Goed en wel, indien dit die geval is, maar kardinale elemente van die fotografiese medium ontbreek telkens, met die resultaat dat Leist die lig herhaaldelik misskiet, soos in die volgende gevalle:

Vuyiswa Charlie (31)

Marika Craig (89)

Abel Moloi (117)

Jürgen Schadeberg (141) en Hlonipha Mokoena (225.)

Daar is ’n gebrek aan digtheid omtrent die kwaliteit van die foto’s en dit suggereer ’n verloëning van die medium se vermoë om die kyker uit te daag, sodat poseerders dikwels "troebelrig" figureer:

Janneke Wiid (151)

Hluma Saffa (155)

Bulelani Ngcuka (195)

en Franklin Sonn (217.)

Vanuit ’n bedeesde, oorwegend eenpunt–perspektief volg ondeurdagte komposisies soos dié van Nete Yvonne Maebela (17), Damon Galgut (23) en Elizabeth Ndlebe (61).

Elizabeth Ndlebe (61)

Obskure kontinuïteit laat die kyker telkens wonder oor die onderlinge afhanklikheid tussen foto’s; Ishmael Nkwagae en Seleke Olebogeng (93) se portret (hierbo) is suksesvol.

Maar die voorafgaande foto van Chris Hani (91) – hierbo – is nie die historiese teenwig wat mens sou verwag nie.

Die foto van Marika Cilliers wat geneem is in November 1991 (97) slaag, maar die opvolg van April 2013 (89) stel teleur.

Die portret–genre is vandag meer meedoënloos as ooit vantevore en daar is ’n oorvloed fotograwe wat hierdie onderwerp ontgin, dus moet mens jou storie ken as jy jou hierin wil begeef. Ten beste sou ek die fotografiese konstruk van Another Country as ’n sosiaal–antropologiese verwysingsbron oproep. Die oortuiging van die projek berus in die samesnoering van beeld/teks asook (tot ’n mindere mate) die herbesoek. (Dit is uiteraard moontlik dat die onderwerp hier ter sprake, só oorbekend is aan die kyker, en dat die oorvloed sosiaal–dokumentêre werk uit Suid–Afrikaanse bodem jou tot ’n mate óf afgestomp óf hiper–krities gelaat het.)

Soms is dit daardie kriptiese inligting binne die komposisie wat mens se aandag fokus, soos byvoorbeeld die geraamde skêr aan die kant van die foto van Raymond Ackerman (175) – hierbo – teenoor die meegaande vertelling oor sy persoonlike verlies binne die breër raamwerk van ’n ontluikende politieke bestel: "Around the same time I lost my sister, my wife lost her sister, my daughter lost her baby, my wife lost her mother and my wife lost her father, it wasn’t an easy time."

Binne die portret van Harry Oppenheimer (183) – hierbo – gaan rus my oog op die kierie in die hoek – ’n bekwame foto met die fotografiese toonwaarde intak – tussen fluweelswart en yswit.

 

Meewarig–opvallend is die persepsie dat daar mense is wat tussen die twee tydruimtes gekrimp het; daar is ’n groot verskil tussen Robert Charlton (201), die selfversekerde Wits vise–kanselier van Mei 1991 – hierbo – wat plek gemaak het vir die kwesbare figuur van Maart 2010 (203) – hieronder.

Dít is wanneer Leist se lens die assimilasie snap.

Ook in die treffende verbinding tussen Denis Brookstein (19) en Fannie Malatjie (21) word die leser bewus van ’n meer empatiese blik na ’n wêreld wat nie arbitrêr is nie.

Herhaaldelik skoppelmaai die leser tussen teks en beeld, soekend na vashouplek.

Dit gebeur wanneer verhale soos dié van Bernidene Mol (63) vertel word en die foto van die sittende jong meisie nader beweeg aan die lens van die Amerikaanse fotograaf William Eggleston se aangrypende werk. Dán ontwikkel teks teenaan foto soos die numeriese spesifikasies op ’n film se soom.

Die verskeie (foto)tekste is wyd uiteenlopend; vanaf Nelson Mandela, Desmond Tutu en Mangosuthu Buthelezi tot voorheen naamlose landsburgers soos Nompumelelo Madyia, Maria Ntseko en Janneke Steyn, wie se verhale wissel tussen vertwyfeling en verwagting. Verrassende staaltjies vonkel oor moedverloor se vlakte in Reana Meissenheimer se anekdotes oor Helen Joseph (208) "We used to call her ‘The Bat’" en Ben Dekker se vertelling van die burgemeester genaamd "Double Breakfast" (110.) Die eksentrieke Dekker het wrintie nie ’n dag ouer geword nie.

Die afstand tussen Ken Owen (75) – bo – en Mondli Makhanya (77) – onder – is ingekort.

Makhanya se optimistiese uitkyk en vertelling maak sy meegaande foto des te meer sinryk op ’n tydstip waar menslike onverdraagsaamheid en konflik besig is om ander dele van die wêreld uitmekaar te skeur.

Hiér, as balans op Leist se skaal, kan mens – helaas, tereg sê dat die onbekende land vertroud word en die bestemming vermoedelik reeds bereik is. (Met apologie aan Karel Schoeman.)

Foto's deur uitgewer verskaf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top