Anna M Louw (1913–2003)

  • 2

 

[Foto: Philip de Vos]

Sêgoed van Anna M Louw

Haar soort geluk: “Om alleen in die Karooveld te wees, vry om selfs op my ouderdom te huppel en te lag. Dis vir my ’n oomblik van ekstatiese geluk. Maar nie minder nie, om oor die dinge wat saak maak met iemand te gesels wat my taal praat met die lippe en die hart. Ook die voorreg om my beskeie talent te gebruik. Dit bring ’n ander bitter-soet soort geluk en suiwer dankbaarheid as ek dink aan die baie mense vir wie hul dagtaak dooie sleur is.”

“Die drang (om te skryf) was altyd daar, maar my Calvinistiese gewete sou my nie rus gegee het voor ek my kinders grootgemaak het nie. Dalk sou ek ook nooit geskryf het nie, was dit nie dat ons geld nodig gehad het nie. Nou nie dat ons in ellende verkeer het nie, maar met ’n groot gesin is daar altyd gaatjies om toe te stop.”

“As ’n mens wil skryf, moet jy opoffer. Ek beskou my skryfwerk as ’n Godgegewe talent, want Hy is ook God van die letterkunde. Wat anders as ’n Baasstorieverteller was Christus met Sy wonderlike gelykenisse?”

“Ek beskou myself nie as ’n woordkunstenaar nie, maar wel as ’n filosoof. Ek wil wel hê dat elke woord, paragraaf of hoofstuk iets moet sê, maar ek is nie noulettend op elke ou woordjie nie. Ek skryf net.”

Oor die feit dat sy nêrens ingeskakel het by enige letterkundige generasie of beweging nie: “Is dit ’n sonde? Ek gaan my eie gang. Dis die soort lewe wat ek lei, dis my besondere temperament. Ek is van nature ’n eenloper. Ek is agterdogtig teen in die bondel doen. Ek is geen meeloper nie. Wat sal die ander skrywers van my dink as ek my laat voorsê?”

“’n Boek rus op jou. Jy wil dit van jou gewete afkry. Alleen kan jy dikwels nie. En as dit afgehandel is, is daar wonderlike verligting. Jou las word ook ou vreugde. Maar dan is die ander boek reeds in jou kop. Terwyl jy aan die vorige een gewerk het, het die tema boontoe gekom. Dan maal dit by jou en jy weet net jy het nog nie klaar geskryf nie.”

Oor resensente en kritici: “Ek is nie iemand wat sleg voel oor kritiek nie. ’n Mens moet nederig wees en dit ter harte neem. Maar ek kan nie verstaan wat party kritici met aftakelende kritiek bereik nie. Daar moet onthou word dat daar letterlik op ander mense se drome geloop word …”

Hoekom skryf sy? “At the risk of sounding precious and melodramatic, I can only say that I have no choice in the matter. Like most writers I am prompted by an indefinable inner force to give literary body to certain beliefs and observations.”

“Maar elke intermenslike verhouding – dit het persoonlike ervaring my geleer – word nie bepaal deur stand, of geld, of velkleur nie, of selfs geslag nie, maar deur persoonlikheid, karakter en in die laaste instansie morele integriteit.”

Is skryf deel van haar leefwyse ter vervulling van ’n basiese behoefte of is dit vir haar so noodsaaklik soos eet en asemhaal? “Ek sê altyd vir mense as hulle my daardie vraag vra, dat ons almal ’n skeppingsdrang het – almal het die behoefte om iets tot stand te bring wat nie vantevore daar was nie. Maar ek dink ’n skrywer het ’n spesiale sterk uithouvermoë om aan te gaan en aan te hou, wat ook al gebeur. Daarin is ook ’n element van behaagsiekheid, moontlik is dit ’n kwessie dat jy nie mooi genoeg is na jou sin nie en dat jy nou op ’n ander manier liefde wil wen.”

“Geloof is irrasioneel. Dis ’n sprong in die duister, maar as jy God se hand voel, dan weet jy … Dis soos iemand eendag gesê het: Geloof begin met ’n eksperiment en eindig in ’n ervaring. Ja, ek glo soos ’n kind.”

Hoe versoen sy haar skryfkuns met haar Christenskap? “Dit is nie so maklik nie. Ek wonder of dit moontlik is. Moenie dink ek is ongelowig nie – ek is gelowig. Dit is die Faktor X, soos ek dit noem, waarmee die skrywer moet rekening hou. Daarmee bedoel ek daardie onbekende, onbestemde onderdeel van die skeppende gees wat die skrywer beetkry wanneer hy besig is met watter tema ook al (noem dit inspirasie of verbeelding of ’n demoon) en wat as ’t ware die laaste woord wil spreek. En as ek tussen my Christenskap en my skryfwerk moet kies, sal dit my Christenskap wees. Ek kan nie daarsonder lewe nie. My lewe sal sinloos wees. My Christenskap is vir my ’n stukrag.”

“Ek stel belang in die mens as verskynsel. Biologies, maar ook méér as dit: daar skuil kragte in die mens waarvan ons skaars bewus is, ongetapte donker dele van die brein.”

In 1991 oor die ouderdom: “Ek haat dit om oud te wees. Ek moes al lankal dood gewees het. Ek dink aan wat TS Eliot gesê het toe hy my ouderdom was: ‘I’ve seen it all, I’ve seen it all, I’ve seen it all.’”

“Ek was nog nooit gesteld op verjaardae nie; ek het ’n Peter Pan-mentaliteit. Ouderdom word soos ’n etiket aan jou gehang … maar binne-in voel ek nog altyd dieselfde.” (Beeld, 5 Januarie 1994)

“Skryf is verskriklik harde werk. Jy raak vereensaam, jy raak mismoedig, jy raak partykeer tot die dood toe bedroef. Dis net eenvoudig die swaarste werk op aarde wat my betref.” (Die Burger, 18 September 1996)

Oor die lyflike wat in haar laaste boeke aandag gekry het: “Seks is dinamiet. ’n Mens moet van jongs af leer om dit beheer. Maar ek wil nie preek nie.” (Beeld, 5 Oktober 1999)

Gebore en getoë

Anna Margaretha Louw is op 31 Desember 1913 om 11:45 in die Louws se destydse nagmaalhuis gebore, op Calvinia, waar haar vader ’n skaapboer in die distrik op die plaas Soetwater was en deels ook ’n skaapinspekteur. Sy was die tweede van vier kinders en is Louw van drie kante en Van der Merwe van een kant. Van die Rooi Louw-kant is sy ’n kleinniggie van WEG en NP Van Wyk Louw. Haar oupa en die skrywerbroers se oupa was broers en die jong Van Wyk Louw het ’n kwartaal lank vir Anna skoolgehou.

Anna deel ook ’n bloedlyn met ’n klompie ander Afrikaanse skrywers wat na ’n plaas in die Hantam lei, en wat ’n familieverband het met ’n stamvader wat as Oupa Klaas Honderdjaar bekend geword het. Amptelik was hy Nicolaas Salomon Louw, wat van 1810 tot 1910 geleef het. Die plaas se naam is Groot Toren, noord van Calvinia. Van die ander skrywers wat hierdie bloedlyn met haar deel, is NP Van Wyk en WEG Louw, George Louw, Peter Louw, Rona Rupert, Charles Fryer, Willem Steenkamp, Johnita le Roux, Nico Louw en Pieter Strauss.

Sy het op die veeplaas Soetwater grootgeword, ’n ou kerk- en skoolplaas wat halfpad tussen Calvinia en Nieuwoudtville geleë was. Haar moeder (’n kwekeling van die Wellingtonse Seminarium) was onderwyseres op die plaasskool vir sowat 20 tot 30 kinders van die omgewing.

Haar kinderjare was baie gelukkig en sy het baie aangename herinneringe aan die lang tye wat sy alleen in die veld deurgebring het. Anna se ma het haar op vyfjarige ouderdom skool toe gestuur, en omdat daar net een kamer vir al agt standerds was, het sy “kennis” opgepik wat buite haar sub A-status geval het. “G’n wonder nie dat ek al op twaalf in die dorpskool op Calvinia in standerd sewe beland het nie.”

Sy het haar senior sertifikaat behaal voordat sy sestien geword het en het so goed gedoen dat sy beurse vir verdere studie aan beide die Universiteit van Stellenbosch én Kaapstad ontvang het.

Op die plaas het sy graag agter haar pa-hulle aangeloop en na hulle boerefilosofie oor die lewe en die natuur geluister. Dit was reeds as jong kind opvallend dat Anna ’n besondere skeppingsdrang het, en hierdie dringendheid in haar om uiting te gee aan alles wat net eenvoudig tot uiting moes kom, het al die jare die dryfkrag agter haar skryfwerk gebly. As skoolkind was haar opstelle reeds van hoë gehalte en was dit een van die dryfvere vir haar latere skryfwerk. Haar kunstenaarstalent het ook tot uiting gekom in klavierspeel, sang en skilder. Sy was veral baie erg oor haar skildertalent, maar het gemeen dat die “filosofiese streep in my oorheers het”.

In Rooi Rose (23 Oktober 1991) het Anna haar ma so onthou: “My ma was plaasskoolonderwyseres en ek het die manier bewonder waarop sy jaar ná jaar in primitiewe omstandighede elke oggend die skoolklok gelui het. My pa het geboer, en in die droogtejare was my ma se salaris soms die enigste inkomste wat ons gehad het. Sy was ’n godvresende vrou wat graag gedigte geskryf het – nogal in Engels.

“Sy het my Victoriaanse maniertjies geleer. Ek moes ’n kappie dra en wanneer ek by die sitkamer ingekom het, moes ek sê prô-ô-mise– sodat daar ’n aangename uitdrukking op my gesig sou wees! Ek het gerebelleer teen die kappie en hom afgehaal sodra sy buite sig is. Nou is ek spyt – as ek na haar geluister het, het ek dalk vandag ’n beter vel gehad!”

In haar essay “Hoogland onder die sterre” in Klein koninkryk skryf Anna: “Die mens van Calvinia waar my eie wortels baie geslagte diep sit, is ’n lug-mens, ’n ver-kyk-mens, ’n mens met ’n liefde vir wonder, helde en legendes. Want waarna kyk jy as die aarde onder jou voete in ’n skyndood is, wanneer diere van hongerte bly lê en dit lyk of die tyd self gaan staan het? Jy kyk in die verte, jy kyk na die lug. Jou hoop is op die lug, jy leer die lug ken.”

Verdere studie en werk

Anna het vertel: “Ek verkies om (in 1930) na die Afrikaanse universiteit (Stellenbosch) te gaan waar ek inskryf vir ’n BA-kursus – Engels III, Afrikaans-Nederlands III, Duits II, Frans I, Sielkunde en Etiek. Op dié jeugdige ouderdom is ek waarskynlik te onryp vir tersiêre opleiding en my universiteitsloopbaan is in hoofsaak van sosiale aard met bykomstige aktiwiteite soos hokkie en swem, en ook nog toneelspel.

“Ná drie jaar (in 1932) behaal ek my graad. Dis die dertigerjare en ’n swaar tyd vir Suid-Afrika met ’n langdurige droogte in my eie kontrei. Ek kry werk by Sanlam, wat indertyd onder die leierskap van dr MS Louw gestaan het. Ná sowat 18 maande (op twintigjarige ouderdom) trou ek met dr Lewis A Hurst, later professor in psigiatrie aan die Universiteit van die Witwatersrand.” Op 25-jarige ouderdom is sy en hulle twee klein kindertjies saam met hom na New York waar hy met behulp van ’n beurs nagraads gaan studeer het.

“Die twee jaar in Amerika is ’n verrykende ervaring. Ek woon aandklasse in joernalistiek en die tekenkuns by die Columbia Universiteit by, maak talle vriende en reis gedurende die eerste somervakansie drie maande lank deur die ganse Amerika, met besoeke aan Kanada en Mexiko.” Dit was toe dat sy vir die eerste keer begin dagboek hou het en ernstig aan skryf begin dink het, al was sy op skool lief vir essays skryf. Kinders grootmaak het haar egter jare lank besig gehou.

“Gedurende die laaste jare van my eerste huwelik het my verwaarloosde intellektuele lewe weer koers gekry. Aan die Universiteit van Kaapstad behaal ek (in 1944) die graad BSocSc wat vir my kosbare nuwe leesrigtings open. Kort na dié studie tree ek in die huwelik met dr Gerhard Bassel (ekonoom) wat my vroeë belangstelling in die Duitse letterkunde en kultuur in die algemeen laat opleef. My man het my in 1990 ontval.”

Anna het vyf kinders gehad. Wendy, Nicholas en Elizabeth is gebore uit haar huwelik met Lewis Hurst. Uit haar huwelik met Gerhard Bassel is die tweeling Christina en Editha gebore. Christina is in 2002 oorlede.

Anna se skrywersloopbaan het in alle erns begin gedurende die eerste jare van haar tweede huwelik. “Aanvanklik was dit ligte stof om den brode: tydskrifartikels, radiopraatjies en hoorspele, novelles wat in die geheel destyds deur die vrouetydskrif Sarie geplaas is. Ek neem deel aan elke moontlike letterkundige wedstryd, steeds om den brode, en wen ’n aantal minder belangrike pryse – byvoorbeeld derde in die Van Riebeeck-fees se dramawedstryd en eerste in ’n vervolgverhaalwedstryd van Naweekpos. [Hierdie prys het betaal vir haar eerste Europese reis, wat later in Agter my ’n albatros weergegee word.] My heel eerste ernstige roman-poging (Die koms van die komeet) is merkwaardig alleen weens die feit dat ek met die skryf daarvan ’n persoonlike religieuse bekering ondergaan het.” (Rapport, 15 Junie 2003)

Haar eerste kortverhaal het in die vroeë vyftigerjare in Die Huisvrou verskyn. Die tema het sy goed onthou: ’n wit seun wat in ’n kleurling-weeshuis grootgeword het en in die witmanswêreld sy plek gesoek het. Anna se eerste werklike aanmoediging om te skryf het gekom van Audrey Blignault, destyds redaktrise van Die Huisvrou, toe sy vir Anna gesê het dat sy wel kán skryf. Audrey en Anna was later groot vriendinne. Haar eerste gepubliseerde skryfwerk was ’n eenbedryf, Goud, wat ’n inskrywing was vir ’n ATKV-wedstryd en wat Gerhard J Beukes in ’n bundel opgeneem is.

In 1956 is Anna se eerste roman, Die onverdeelde uur, gepubliseer. Dit is tot 1988 in verskeie herdrukke uitgegee, asook in ’n spesiale grootdrukuitgawe in 1969. “Dit is die verhaal van twee broers, Giel en Jannie van Rensburg, so verskillend in geaardheid as wat kan wees. Giel is soos sy oupa Giel, sterk en deurdrywend; Jannie, swak en hulpeloos, soos sy ma en pa. En dan is daar Elmien, die buurdogter op wie albei die broers verlief is sonder dat die een van die ander se gevoel weet. Elmien is heimlik verlief op Giel, maar trou met Jannie. Om vas te stel hoekom Elmien met Jannie getrou het, moet ’n mens die boek lees,” het Abraham Jonker (Huisgenoot, 28 Januarie 1957) geskryf. “Elmien, Jannie, Collie, hulle kind, en Giel kom op die ou familieplaas bymekaar waar Giel op sy sterfbed lê. Voor Giel die oggend sterf, herleef die leser die hele geskiedenis van hierdie paar mense.”

Jonker het voortgegaan: “Die verhaal sit goed inmekaar, met niks oortolligs daarin nie, maar die gegewens leen hulle tot sterker en meer dramatiese verwerking. Die verhaal is soos ’n goed-ontwerpte staalbrug wat egter met die gebruikmaking van die aanwesige materiaal voorsien kon gewees het van ’n paar ekstra boë; dit sou dit nie net kragtiger nie, maar ook sierliker gemaak het. Ons kan nog meer van Louw verwag. Anna M Louw staan midde in die Afrikaanse realisme, is vry van sentimentaliteit en wydlopigheid. Haar groot gevaar is dat sy kan verval in sielkundige ontrafeling – ’n erfsonde wat ons Afrikaanse literatuur al ontgroei het en waarin ons nie weer moet verval nie.”

Abel Coetzee (Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1957) het gevoel dat Anna M Louw met hierdie “eersteling getoon het dat sy die vraagstukke van die lewe moedig aanpak. Daarby beskik sy oor ’n ontwikkelde taalgevoel en het sy insig in die hart van die mens. Die verdere ontwikkeling van haar aanleg sal met aandag gevolg word.”

Anna se volgende roman, Die koms van die komeet, beleef ook verskeie herdrukke na die eerste publikasie in 1957. In hierdie roman word vertel hoe die skielike koms van ’n komeet groot verwarring in die stad teweegbring. AP Grové (Huisgenoot, 15 November 1957) het geskryf: “In ’n aangename trant (te gesellig miskien) word ons vertel hoe die hele gang van die natuur versteur word en hoe die noodsaaklike openbare dienste tot stilstand kom. Nie sonder ’n mate van opwinding nie – hoewel die vertelling soms dreig om mat te word – merk ons hoe die gemeenskap gaandeweg uit sy alledaagse gevoel van selftevredenheid geskud word. Epidemies breek uit; die paniek laai op en so word die gewoonteverhoudings getoets en die mens gedwing om homself te openbaar, die een in sy swakheid, die ander in sy krag en offervaardigheid. By die een lei die beproewing tot histerie, by die ander tot eerlike selfondersoek.” Grové het gevoel dat die deurslaggewende vraag is in hoeverre daardie afgeslote wêreld ’n volkome wêreld met universele geldigheid geword het, en volgens hom is dit hier waar Die koms van die komeet tekortskiet. Ons sien wel sekere individue in hulle karaktervastheid, andere in hul kleinlike dwaasheid, maar dit bly van bloot lokale betekenis, kenmerkend vir daardie bepaalde situasie.

Vir Rob Antonissen (Standpunte, April 1959) was Die koms van die komeet ’n teleurstellende agteruitgang op Die onverdeelde uur.

Anna se eerste reisverhaal, Agter my ’n albatros, word in 1959 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer en ook hierdie boek beleef etlike herdrukke. Izak le Roux (Huisgenoot, 25 Desember 1959) het gevoel dat hoewel reisbeskrywings maar vervelig kan wees, die reisbelewenisse van die skrywer in hierdie reisverhaal deel word van die belewenis van die leser. Die vermoë van die skryfster om die gees van die land te voel, die siel uit die beeld te haal en die mens agter die ding te ontdek, maak hiervan soveel meer as ’n reisbeskrywing: ’n boek wat ’n mens gerus kan koop.”

In ’n ander resensie (bron en datum onbekend) word melding gemaak van die “skryfster se gevoel vir die atmosfeer van ’n stad, dorp of kamer, haar peilende insig in die gemoedere van mense, haar beelding van situasies, haar reddende humorsin en haar oorspronklike taalgebruik. Haar uitsprake is dié van ’n uitgelese, fyngevoelige besoekster, en die taal van hierdie reisverhaal is geskoolde en beeldende taal – die taal van ’n gestileerde skryftalent.”

Anna se verhaal Die voortreflike familie Smit het oorspronklik in Sarie verskyn, waarna dit onder dieselfde titel in boekvorm uitgegee is. Dit is ook verfilm, en later deur Stephan Bouwer tot ’n televisiereeks verwerk en uitgesaai. AP Grové vertel meer oor Die voortreflike familie Smit in Die Huisgenoot van 9 November 1962: “Die verhaal gaan oor die familie Smit wat van die platteland af kom en vir hulle ’n staanplek in Kaapstad probeer vind. Die gesin het dit nie breed nie, maar dit is ’n gesin wat deur sy solidariteit, trots en selfrespek staande gehou word. Die aksent val dus nie op die armoede nie, maar eerder op die ingebore adel en ordentlikheid wat hierdie familie, onder leiding van Oupa Smit, in staat stel om, ondanks terugslae, sy man te staan en bo uit te kom.

“In hierdie vertelling is Grietjie, ’n matriekdogter in die familie, aan die woord. Ons lees aan die begin dat sy eintlik op versoek van Oupa die famieliegeskiedenis van die Smitte sou opteken, maar in plaas daarvan vertel sy op so ’n lewendige en kostelike wyse van die doen en late en wedervarings van haarself en die familie dat sy self vir ons ’n lewendige persoonlikheid en die hoofpersoon van die vertelling word.”

Grové het dit beskryf as ’n “optimistiese werk vol gesonde idealisme, waarin die skryfster, sonder om uitgesproke didakties te word, ’n alledaagse gesin as die sout van die aarde sien. Daarby het die skryfster haar gebied noukeurig afgebaken sodat sy sonder pretensie kan vertel. Dit alles dra by tot die lesenswaardigheid van die boek.”

In Kriterium (Julie 1963) beskryf R Schutte dit as ’n “ligte verhaal en ’n mens moet dan ook nie na diepte of diepsinnigheid daarin soek nie. Dit bied baie aangename leesstof, nie net omdat dit so lewendig en met soveel humor geskryf is nie, maar ook omdat die taal sprankelend en goed versorg is.”

Die voortreflike familie Smit word in 1968 met die Scheepersprys vir Jeuglektuur bekroon. Elize Botha het in Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare geskryf dat die verhaal beslis nie sonder diepgang is nie, “want in die grond daarvan beskryf dit die jong vertelster op ’n keerpunt, hoe sy reageer op onvoorspelbare gebeure wat haar baie intens raak, met ’n besonder mooi en aanvaarbare uiteinde. Dit is goeie jeuglektuur – nie net omdat dit eenvoudig geskryf is of omdat sake deur die oë van ’n jong meisie gesien is nie, maar omdat daar so suiwer te werk gegaan is in die afweeg van waardes en verhoudinge binne die grense van die vasgestelde opset van die vertelling.”

Die voortreflike familie Smit het die leser, volgens Elize Botha, glad nie voorberei op die “verskeidenheid lewensvorme en die bedrewe tegniek wat ons in 20 days that autumn, 21st March – 9th April 1960 (1963) sou aantref nie. Hierdie werk gee ’n beeld van die reaksies van verskillende enkelinge op die gebeurtenisse wat in 1961 gevolg het op Sharpeville: die onluste in Nyanga en Langa by Kaapstad. Hierdie roman probeer geen algemeen-geldige politieke waarheid propageer of na ’n oplossing vir ’n ganse volk soek nie. As ek 20 days that autumn reg gelees het, sou ek die opset daarvan so wil beskryf: dag na dag word die lewe van mense uit vier groepe van ons samelewing in oënskou geneem, ’n blanke Afrikaner, ’n Engelssprekende, ’n Kleurling, ’n Bantoe. Maar hulle word getoon in die wyse waarop hulle reageer op ’n krisis wat van hulle rekenskap vereis. Dit is trouens ’n tema waarin die skryfster al geoefen is, want in sekere sin was dit ook die grondmotief van haar vroeëre roman, Die koms van die komeet. Dat die verbondenheid aan ras en aan ’n volk ’n verbondenheid letterlik tot die dood toe is – dit is ’n feit waarmee ook ons, die lesers, in die loop van hierdie verhaal gekonfronteer word.
“Maar weer in eerste instansie gee hierdie boek ons nie ’n betoog of verhandeling nie. Dit toon vir ons mense in hul verskeidenheid van aard en lotgeval. Miskien moet ’n mens sê dat die boek nie ’n deurlopende verhaal aanbied nie, dat dit vir sy eenheid eerder afhanklik is van die raamwerk wat die onluste vorm en die geestelike inhoud wat elke karakter uit die gebeure vir homself moet red. Maar dit is geen fout nie, dink ek; elke mens in die boek beweeg oortuigend na ’n insig toe, wat, as ’n mens die boek klaar gelees het, al die verskillende benaderingswyses in die boek saambind tot ’n geheel.

“Want elkeen, die fynbeskaafde, gevoelige intellektueel Jacobus van Reenen, die ambisieuse, materialistiese Ian Smyth, sy gekwelde vrou Pat, en ook die welvarende Mrs Shuba, gewoond aan en gesteld op haar fatsoenlike bestaan as vrou van ’n Bantoekonstabel in Langa, haar kwaadstokende pleegkind, en die verbitterde Kleurlingskrywer Dawid Dawids vind dat hulle slegs kan voortleef deur ’n skerper besef van hul persoonlike verantwoordelikheid; dat hulle, hoe dan ook, met hul gegewe talent moet bly woeker. Hulle vind ook, dat selfs in ontreddering, die deugde van vriendskap en goeie menslike verhoudinge bly bestaan. Dit alles kan in opsomming ’n bietjie prekerig klink, maar prekerig is hierdie boek allermins. Die blywendste genot was vir my juis die fel maar volkome geldige kontras tussen die skryfster se hantering van die intellektueel en die gesofistikeerde bestaan, en haar uitbeelding van Mrs Shuba – as mense en nie as protagoniste van ’n slagspreuk of ideologie nie.”

20 days that autumn word in 1964 met die Olive Schreiner-prys bekroon.

Die eerste deel van Anna se tweedelige werk oor Paul Kruger, Die banneling: die lyfwag, het in 1964 verskyn. Dit is gegrond op die dagboeke van Manie Bredell, wat eers lyfwag en later privaatsekretaris van Paul Kruger was. Dit vertel die verhaal van die president se pelgrimstog na Europa tot aan sy dood in Clarens uit Bredell se oogpunt.

Volgens Elize Botha in Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare is die boek in meer as een opsig boeiend: “Om die rekonstruksie van die beeld van die ou President in die landskappe en stadsbeelde van ou Europa; om die naby-opnames, soos ’n mens dit kan noem, van die kwynende ou reus deur die oë van die gekwelde lyfwag Bredell. Dit hou die aandag. Maar dit is geplaas binne ’n relaas van menslike verbondenheid, in die verhaal van Manie Bredell wat homself moet rekenskap gee van die suiwerheid van sy trou aan die kolos wat sy lewe jare lank beheers het.”

Anna M Louw het self vertel van haar navorsing oor Paul Kruger en hoe die belangstelling begin het: “Dit is eienaardig dat ek as Kolonialer nie eintlik bewus was van Kruger as volksheld nie. Ek was nie ’n Transvaler nie en op skool het ons ’n geskiedenisonderwyser gehad wat die Afrikanersaak so in ons ingemoker het, dat ek dodelik verveeld was daarmee. Ook toe ek by die Universiteit van Stellenbosch kom, was ek eintlik ’n soort rebel, glad nie polities gesind nie. So, dit was bloot ’n emosionele ding toe ons Clarens besoek, gedagtig aan die ou banneling in die vreemde. Dit was ’n reënerige somerdag en ek het op die groot stoep gestaan en uitkyk oor die meer. En skielik het die oorweldigende beeld van die eensame ou man by my opgekom. Hy, die seun van die Transvaalse veld, wat in die vreemde so oor die reën en mis op die meer sit en peins het. Toe ek daar weggaan, het ek vir my man gesê: ‘nou weet ek ‘waaroor ek gaan skryf.’

“Ek het na Den Haag gegaan en gaan kyk na die groot boek in die hotel waar hy oorgebly het. Ek was by die Koninklike Argief om te lees oor sy verblyf en die ontvangs deur die koningin van Holland. Toe ons terug was in Suid-Afrika, het ek by die argiewe begin; ek het intens belanggestel in die Krugerfiguur en ek wou alles weet van hom. Nou het ’n klomp donkiewerk voorgelê.

“Ek het twee keer in Pretoria gaan bly. By Boekenhoutfontein was ek hoeveel keer. Ek was telkens in die Kaapse Argief. Die boek wat prof Kruger oor hom geskryf het, wou ek egter nie lees nie, want dit kon my met vooroordeel laat. Ek het gevind dat ek weer Europa toe moes gaan. Ek en my man het oral gaan kyk – die hele geskiedenis langs die ooskus van Afrika op gevolg, deur Suez, die Middellandse See, die pelgrimstog deur Europa tot in Duitsland, die hele droewige terugkeer Holland toe met die ballingskap en die vredesluiting. Tóé eers het die hele storie vir my reg uitgelê. Toe het ek gaan sit om die roman te skryf en het ek die navorsingswerk grotendeels opsy geskuif. Die materiaal was daar, maar ek het nie weer daarna gekyk toe ek die boek geskryf het nie. Ek het vir my ’n kantoortjie in die stad gehuur en daar het ek gaan sit en skryf. Dit het sowat nege maande geneem om Die banneling: die lyfwagte skryf en die skryf van Die groot gryse het my ’n jaar geneem.”

Maria Hugo het geskryf: “Die het by Louw in hierdie verhaal in die eerste instansie nie gegaan om die chronologiese daarstelling van al die historiese feite of die uitbeelding van president Kruger nie, maar om die persoonlikheid van sy privaatsekretaris, Manie Bredell, teen die agtergrond van daardie droewige bedevaart en die lang eensame maande in die vreemde. Die titel van die werk Die banneling slaan op Kruger, maar eweseer op Bredell, wat in sy verbondenheid met die President in ’n voortdurend innerlike stryd gewikkel was tussen die begeerte om die vryheid aan te gryp om ’n nuwe toekoms vir homself te skep en die belofte en ooreenkoms, andersyds, wat hy met die vereensaamde grysaard aangegaan het dat hy by hom sou bly totdat hy sou sterf. (…)

“Min aandag is – sover my kennis strek – tot nog toe aan die Bredell-figuur in die geskiedskrywing gewy. (…) In die werk van Anna Louw maak ons kennis met Bredell as mens, met al sy voortreflikhede en gebreke. Geskiedkundig van belang is sy weergawe van sekere historiese gebeure en veral van die sfeer waarin hulle plaasgevind het. Meer as een keer was hy as stille toeskouer aanwesig. Ook sy mededelinge in sake die menslike verhoudinge wat rondom en met betrekking tot die President bestaan het, veral ten opsigte van die familielede is insiggewend. (…)

“Anna Louw wat die spore van Paul Kruger van stad tot stad, van hotel tot hotel en van villa tot villa deur Europa gevolg het, gee in haar boek nie alleen die juiste feite nie: sy het die sfeer probeer herskep waarin die historiese gebeure afgespeel het en die verskillende nuanses in die stemminge en gemoedere van diegene wat rondom hom gestaan het, fyn gesuggereer. Roerend-treffend – soos in geen historiese geskrif vermeld – is haar weergawe van die gesprek tussen president Kruger en dr Leyds oor die kwessie van die grysaard se terugkeer na sy geliefde vaderland (bl 195–197). (…) Daar is ongetwyfeld veel in Die banneling wat die waarde besit van ’n geskiedkundige dokument.”

Anna se tweede reisverhaal is Dié wat met die fluite loop, wat in 1967 by Tafelberg gepubliseer is. In hierdie boek vergesel die leser die skryfster op haar reise deur Engeland en Hamburg, maar veral die Skandinawiese lande en Rusland. Volgens George Louw in Die Huisgenoot van 23 Februarie 1968 word dit gou duidelik dat sy weet wat sy soek, en self reeds genoeg weet om die kennis wat sy opdoen te vertolk. Dit maak haar afleidings en nuwe perspektief soveel meer aanvaarbaar.

Anna se tweede roman oor die figuur van Paul Kruger, Die groot gryse, is in 1968 gepubliseer en is in 1971 met die WA Hofmeyr-prys bekroon. Hierdie werk fokus op die ou president self aan die einde van sy lewe in sy villa aan die meer van Genève. Nadat hy vergeefs probeer het om in Europa hulp vir die Boererepublieke te kry, reflekteer hy oor sy lewe, sy land en sy volk. Sy liggaam is swak, maar geestelik is hy baie sterk as gevolg van sy onwrikbare geloof in God en Sy Woord. Hoewel die verlede nie altyd meer so helder is sy geheue is nie, word dit deur middel van “gesigte” weer onthoubaar.

PD van der Walt skryf in sy resensie (Taalgenoot, Junie 1969) dat die skryfster in hierdie “romanmatige rekonstruksie van Paul Kruger se lewe, hede en verlede deurmekaar laat speel; sy gryp ordenend en deurskouend herskeppend in op die stof; en sy laat feit en verbeelding hersmelt tot ’n nuwe kunstige geheel. So verrys die figuur van Kruger in hierdie boek, word die wonder van sy grootheid en wysheid gerekapituleer, en wel in ’n taalgestalte wat Die groot gryse ’n triomf van die sierlike eenvoud maak, van die realisme as styl en van die historiese roman as kunsprosagenre. In sy soort is dié roman die beste wat ons het in Afrikaans.”

Anna het haar stempel wel deeglik op die Afrikaanse letterkunde afgedruk met die publikasie van Kroniek van Perdepoort, wat in 1975 verskyn het. Met Perdepoort het Anna al die belangrike literêre pryse in Afrikaans ingepalm: die Hertzogprys in 1975, die CNAprys in 1975 en die WA Hofmeyr-prys in 1977. Sy was die vierde vrou ná Elisabeth Eybers, MER en Elise Muller wat die Hertzogprys gekry het. Dit was ook die eerste keer dat een boek al drie hierdie pryse ontvang het.

Kroniek van Perdepoort is deur die voorste letterkundiges in Suid-Afrika aangeprys as een van die grootste romans wat nog in Afrikaanse geskryf is en dit kon bestempel word as ’n werk wat onder die beste van die moderne romans in die wêreldliteratuur tel. WEG Louw het gesê Perdepoort het bereik wat ons skrywers 100 jaar gelede vir hulle voorgeneem het om met Afrikaans te bereik. André P Brink (Rapport, 13 Julie 1975) het dit bestempel as “een van die seldsame handjievol waaragtige indrukwekkende werke van ons prosa”, terwyl dit vir PD van der Walt (Transvaler, 3 Julie 1975) “ongewoon en modern in die beste sin van die woord” was.

Anna het ongeveer drie jaar aan Kroniek van Perdepoort gewerk. Nadat sy gehoor het dat sy die CNA-prys gewen het, het sy aan Kerneels Breytenbach (Die Burger, 9 April 1976) gesê dat sy verheug is oor die prys. “Bly oor die geld veral. Dit is ’n baie groot aanmoediging vir iemand wat skryf.”

“Die tema van Perdepoort handel oor die sewe doodsondes – die boek self is ’n kruising tussen ’n allegorie en ’n realistiese roman,” het sy aan Gertrude Cooper van The Cape Times (19 Maart 1976) vertel. “Die eerste weergawe was streng allegories. Ek het dit aan my vriendin Alba Bouwer gewys (sy en Audrey Blignault het my nog altyd aangemoedig en raad gegee met my skryfwerk) en sy het haar kop geskud. Ek moes toe die enorme taak aanpak om die materiaal te verwerk na ’n realistiese roman – om al die kaal bene in te klee. ’n Mens skenk jou lewensbloed vir so ’n taak.

“Daar het tye gekom wat ek gevoel het dat ek nie genoeg talent het nie, dat ek realisties moes wees en handdoek ingooi.” Intussen het ander idees na vore gekom waarmee sy makliker kon werk, maar “in die môre, na ’n slapelose nag”, het sy weer begin. “Ek werk normaalweg nege maande aan ’n boek, maar Perdepoort het my 2½ tot 3 jaar geneem. Een van my groot probleme was hoe om tyd te hanteer – die tyd wat dit sou neem om die boek te lees en die integrasie van tyd in die boek self.”

Aan Audrey Blignault het Anna vertel dat Kroniek van Perdepoort begin het met die idee van ’n allegorie wat haar in die ribbes kom druk het. “Ek het baie gelees van Augustinus, Aquinas en ander wat as ’t ware ’n stelsel van die sonde gemaak het en gesê het hoogmoed is die moedersonde. Aan hierdie stelsel het ek begin werk en ook die accidia, die traagheid van gees, nagegaan. Dié traagheid van gees, die bitter, laaste vrug, het die sonde van ons eeu en van ons Afrikaners geword: ons oumense was onbewus trots, afgrondelik trots, en niemand het dit hulle kwalik geneem nie. Miskien pluk ons teenswoordig die vrug daarvan in ons jongmense wat so traag en ook so blasé is: niks is eintlik die moeite werd nie, en hulle sal byvoorbeeld ’n yslike Weltschmerz hê oor die ekologiese toestand maar tog niks daaraan doen nie, want oor nog ’n geslag sal daar tog niks meer oor wees nie.”

Audrey Blignault het verder vertel: “So het Anna haar stelsel uitgewerk en toe karakters gesoek om dit mee in te klee. Net daar val die storie van die wandelende Jood haar te binne en sy dink: hier is die stof vir my inkleding, hierdie Jood wat in sewe inkarnasies as ’t ware sy sonde afgelê het. Maar hoe meer sy hieroor gedink het, hoe meer het sy die onmoontlikheid daarvan besef, want hoe sou sy die noodsaaklike stuk navorsing vir so ’n stuk werk gedaan kry in die verskillende Baltiese state waar die wandelaar in verskillende tye verskyn het? Die volgende oplossing was om sewe geslagte Afrikaners te neem en die sewe sondes in hulle uit te werk. ’n Paar somme het egter gewys ons geskiedenis is nog nie oud genoeg om sewe geslagte te akkommodeer nie.

“Net daar het Anna besluit dat as die hoogmoed die vader van die ander sondes is, sy maar ’n familie moet neem, en sy begin toe met ’n lewende pa en sy seuns. Maar op die ou end moes sy Koos Nek, die pa, doodmaak om die verhaal makliker te laat loop.”

Toe sy die agtergrond vir haar storie op Calvinia gaan soek het, was dit ook nie daar nie: “Dit was daar te oop, te winderig, te skoongebrand. Toe het ek die plaas by Clanwilliam onthou, ’n plaas wat ek van my jongdae ken en waar die ou strooidakhuis vir Koos Nek was. Die omgewing, ingesluit deur die berge, is vir my ook ’n simbool van verderf. Paul Kruger sê mos in Die groot gryse dat die hel ’n skeur is waarin die gestaltes van die sonde mekaar opdonder. Dis eintlik oorspronklik ’n idee van Lewis Carroll.” En só het Kroniek van Perdepoort sy ontstaan gehad - ’n veelbesproke boek wat deur meeste letterkundiges opgehemel is, maar ook gesorg het dat baie van die Afrikaanse lesers baie geskok was oor die “lelike woorde” daarin.

“Verstaan hulle dan nie,” het sy aan Audrey Blignault gevra, “verstaan hulle nie en sien hulle nie die lyn wat deur al my werk loop nie? Ek skryf altyd oor ’n ou man en daardie ou man verteenwoordig altyd vir my die geestelike waardes. In Perdepoort was dit Koos Nek, sy sonde, sy trotsheid, sy bekering, sy hele mortifikasie wat ek wou teken, en wat ek, goeiste weet, nie heeltemal reggekry het nie. Ek probeer skryf oor die mens op sy pad van geestelike mistifikasie. Ek lees al jare mistieke werke en een ding wat almal sê, is dat die mens deur die donker nag van die siel moet gaan en sy self moet aflê om geestelik êrens te kom.”

Audrey wou weet wat van “die lelike woorde, die noem-by-die-voornaam van dinge waaroor daar nie in die voorkamer gepraat word nie?” Anna se antwoord hierop was: “Kyk, laat my nou voor begin: een basiese ding het deur eeue heen nie verander nie en dit is die mens se verhouding tot ’n goddelike orde, dit loop soos ’n draad deur al die godsdienste van die wêreld. En jy kan nooit in die hoogste sin van die woord mens wees as jy nie die goddelike imperatief van selfloos word, nakom nie. Dit is absolute waardes, maar sedes het beslis verander en hierdie verandering moet ’n skrywer in ag neem, hy moet daarvoor skryf. Tien jaar gelede sou ek nie so openhartig oor seks geskryf het nie, maar nou vind ek dit reg om so te skryf. Dis tog ’n integrale deel van die lewe en die geslagsmotivering is ’n baie belangrike motivering in die menslike lewe. Hoe dan daarsonder?”

Ook wou sy weet wat van “al die liggaamlike funksies wat in Perdepoort so kaalbas uitgelê word?” “Wat van die totale milieu waarin die mens leef? Wat van die liggaamlike funksies wat die hele gemoedstoestand van die mens bepaal? Ek het geen enkele woord ingesit om te skok of aandag te trek nie, ek wou net meer oortuigend teken, ek kon nie anders nie. Kyk net hoe en waaroor skryf Patrick White nie alles nie – ek het groot bewondering vir sy werk – en moet hy in die ban gedoen word? Nog nooit!”

En waaroor gaan Kroniek van Perdepoort? Audrey Blignault skryf: “Koos Lotriet, ’n Bolandse jintelman, grondkenner en perdekenner, het aan die begin van die twintigste eeu die poort aan die voet van die Swartberg gekoop en daar ’n pragplaas aangelê. Sy trots en hovaardigheid het hom die bynaam Koos Nek besorg. Hy en sy vrou is ook nooit werklik deur die gemeenskap aanvaar nie. Elkeen van die vyf seuns wat op Perdepoort gebore word, kry in sy volwasse lewe sy verdiende bynaam: Jan Pampoen, Attie Hardehand, Kobus Karba, Klaas Kamer en Chris Predikant. Vyftien jaar ná Koos Nek se dood leef vier van sy seuns nog op Perdepoort. Die jongste is ’n Kweekskoolstudent in sy vyfde jaar.

“Met die jare het ’n verandering oor die plaas gekom. Die eens so trotse familie het agteruitgegaan en niemand kan sê waarom nie, al voel die eenvoudigste van die gemeenskap waarvan die Lotriets deel uitmaak, dat dit met straf en skuld te maak het.

“Attie Hardehand, die eintlik boer van die Poort, besluit om die kosbare riviergrond van die ou familiebegraafplaas waar sy ouers al vyftien jaar begrawe lê, as spanspekland te gebruik en sy ouers te herbegrawe in ’n grot teen die onbruikbaarste kop op die plaas. ’n Herbegrafnis word gereël, ’n gebeurtenis waarby die hele dorp en besoekers uit die naburige dorp betrokke is. By die seremonie vind ’n ongeluk plaas: Koos Nek se kis gly met die steilte af en val in stukke. Dié voorval ruk ’n hele verlede in hierdie besondere gemeenskap oop omdat ’n brok menslike beskawing onthul word soos dit op die huidige tydstip van die geskiedenis van die Westerse mens bestaan. (…)

“Op die verhaalvlak loop die gebeure oor drie kritieke dae: die dag ná Koos Nek se herbegrafnis, die dag van die herbegrafnis en die dag voor die begrafnis. In haar nie-chronologiese hantering van die tydsverloop wend die skryfster ’n struktuurelement aan wat vandag kenmerkend van die moderne roman geword het.”

Die dag ná die begrafnis, Sondag 9 Maart, begin met die lykskouing, gesprekke en gedagtes ná die begrafnis. Saterdag 8 Maart word die makabere herbegrafnis verbeeld met die verskeidenheid belewenisse van die familie, en in Deel 3, Vrydag 7 Maart, word getuienis gelewer soos in ’n verhoor. Hier word die introspeksie en ontmaskering duideliker, volgens AvZ (Volksblad, 31 Julie 1975). “Dit word ’n verhoor waarin die oorsaak van Koos Nek se dood nagespeur word. Maar dit is veel meer as dit. Hier word ook redes geopenbaar waarom die vyf seuns so boos geword het. (…) Die boek begin moeilik lees weens ’n effens swaartillende styl met eienaardige sinswendinge, maar mettertyd neem Kroniek van Perdepoort sy loop en beweeg al hoe vinniger na sy einde. (Dit) is een van die belangrikste letterkundige gebeurtenisse vanjaar. Mens het hier ’n hegte verbondenheid tussen denksubstraat en gestaltegewing.”

Audrey Blignault (Die Burger, 19 Junie 1975) het gevoel dat Kroniek van Perdepoort ’n nuwe groeipunt stel in die ontwikkeling van die Afrikaanse roman. “Dit is ’n onbetwisbare hoogtepunt in die Afrikaanse letterkunde en kan gunstig vergelyk word met die beste werk wat vandag in ander lande geskryf word.”

Jan Rabie (Cape Times, 26 September 1975) het gevoel dit is jammer dat die roman so deur en deur Afrikaans is dat dit moeilik sal vertaal, want hy het dit as een van die beste ses boeke beskou wat tot op daardie tydstip in Afrikaans geskryf is.

Kroniek van Perdepoort staan vir Helize van Vuuren uit as Anna M Louw se grootste werk. “Die boek was eintlik ’n inversie van die destydse plaasroman. Van Wyk Louw het destyds gesê die Afrikaanse prosa is te gemoedelik, lokaal en realisties. Louw het met Kroniek van Perdepoort die teendeel bewys.” Sy meen Kroniek van Perdepoort kan as ’n tipe voorloper van ’n latere roman soos Etienne van Heerden se Toorberg beskou word, veral wat die hantering van die band tussen die plaaswerkers se lewe en die boer se familie betref.

“Daar is ook die een toneel in Kroniek van Perdepoort van ene Koos Karba, wat ’n hele speenvarkie opeet en hom skuldig maak aan vraatsigheid, een van die sewe doodsondes. Die karakter se maag begin dan borrel, skiet en knal. Hoewel dit nogal humoristies voorkom, is dit nogal tiperend van ’n oertipiese Afrikaanse man wat ’n slagoffer van sy eie luste word,” het Van Vuuren gesê.

Tydens die oorhandiging van die CNA-prys aan Anna in April 1976 (Die Transvaler, 9 April 1976) het sy in haar toespraak soos volg gesê en verwys na van die moderne mens se grootste belangstellings, soos die ekologie en die etologie, asook na die modewoorde van die eietydse Afrikaanse letterkunde – “oopskryf en betrokkenheid”: “Ek wil reageer op diegene onder ons skrywers wat kla dat daar so min oorbly waaroor die Afrikaanse skrywers kan of mag skryf. Ek stel ook belang in die ekologie en bewaring en nou wil ek die aandag van mede-skrywers wat betrokke wil wees, vestig op die lotgevalle van ’n vrywel rare, wit sub-sub-spesie van homo sapiens in Suider-Afrika – ’n groep wat ’n bestaanskrisis deurmaak, ’n oorlewingskrisis. Hul eeue-oue habitat word bedreig en is dit geen tema vir ’n skrywer wat betrokke wil skryf nie?”

In 1975 het Anna ’n benoeming as lid van die Kaapse komitee van die nuwe Publikasieraad aanvaar en daarmee het sy haar rug gedraai op die Afrikaanse Skrywersgilde, waarvan sy lid was. Ingevolge die grondwet van die Gilde word enigiemand wat hom verbind tot ’n staatsliggaam wat sensuur op die letterkunde probeer uitoefen, outomaties as lid van die Gilde uitgeskakel. Anna het gemeen dat sy waardevolle werk in die komitee kan doen. Bartho Smit, destyds voorsitter van die Gilde, het gesê dat hulle haar baie graag nog as lid sou wou gehad het, maar die grondwet het dit nie toegelaat nie. Anna het gevoel dat sy as lid van die komitee daar is om verdienstelike boeke en letterkunde te beskerm en te verdedig teen verbanning en sy kan onverantwoordelikhede uit die letterkunde hou.

Ná die verbanning van Magersfontein, o Magersfontein! van Etienne Leroux in 1977 het Anna saam met Merwe Scholtz as lid van die Publikasieraad bedank, omdat sy nie kon keer dat hierdie boek verban word nie. Sy het haar as volg uitgedruk teenoor Gary Bowes Taylor van The Star (6 Desember 1977): “We have so few works of a really high standard that it breaks one’s heart when one of them is put out of circulation. The directorate were with us all the way in getting Magersfontein through. And then complaints reached the Minister from people who, judging by the samples of their reading matter as given to the Press, read only unknown and slight Afrikaans novels, teenage romance. The most rudimentary fiction. Magersfontein is a closed book, it’s not easily accessible, it’s not easy to understand what Leroux has to say. It moves on a symbolic, satiric, ironic level. (…) Differences of opinion on a book are bound to arise, all the more need for experts to decide on literary matters. What do you do in a so-called democratic society? It is a badly constructed law and it should be completely revised. It is not workable now – there is too much power in the hands of certain people.”

In 1982 het sy bedank as lid van die paneel deskundiges wat die Direktoraat van Publikasies geadviseer het. “Die werk het vir my onaanneemlik geword weens die tyd wat dit ingesluk het wat ek aan my werk en ander leesstof kon gee. Ek wou lankal die bedankingsbrief skryf en het kort-kort vergeet. Dan het daar net weer ’n boek opgedaag en ek het hom maar gelees.”

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond het in Oktober 1976 ’n huldigingsgeleentheid vir Anna gehou. Berta Smit het die huldigingsrede gelewer. Sy het onder meer gesê (Die Burger, 25 Oktober 1976): “Die Christelike denke is nie net die verwysingsbasis van Louw se werke nie, maar as ’t ware die dampkring waarbinne haar werk beweeg. Anna M Louw se simboliek is volkome geïntegreer met haar werklikheid, sodat ’n mens inderdaad van realisme moet praat. Dit is ’n realisme wat gebore is uit haar lotsverbondenheid met haar mense. Die afgelope jare het betrokkenheid in die letterkunde baie sterk prominensie gekry, maar die begrip is alte dikwels te eng gesien as politieke betrokkenheid.

“‘I am,’ sê John Donne in sy klassieke uitspraak, ‘involved in mankind.’ En daarom gaan dit by Anna M Louw. Sy is volledig betrokke by die mens in sy menslike gesitueerdheid, en sy het hom lief.”

In 1978, ná ’n besoek aan Israel, is Die derde tempel gepubliseer. In hierdie boek lewer Anna verslag oor ’n reis wat sy afgelê het met die spesifieke doel om al die plekke te besoek wat in die Bybel genoem word of waar belangrike gebeurtenisse in die Bybel plaasgevind het.

M Nienaber-Luitingh (Beeld, 27 November 1978) skryf dat ’n reisverhaal uit die aard van die saak altyd subjektief sal wees en Louw het self in die boek geskryf dat die essay nie beskou kan word “as die volle waarheid nie. Al wat dit kan wees, is een mens se siening op ’n besondere dag en plek en uit eie omstandighede en ingeboesemde kultuur.”

Nienaber-Luitingh sê verder: “Wanneer daardie mens dan egter ’n bekende Afrikaanse skryfster is wat vir een van haar werke reeds die Hertzogprys verower het, dan kry hierdie subjektiwiteit vir die leser ’n bykomende bekoring, omdat sy deur haar visie op Israel so duidelik aspekte van haar eie persoonlikheid openbaar. Uit Die derde tempel leer ons Anna M Louw ken as ’n gevoelige, intelligente en veral ook gelowige mens, van jongs af vertroud met die wêreld van die Bybel. (…) Oor die algemeen is Die derde tempel ’n lewendige verslag van ’n persoonlik beleefde besoek aan ’n land wat vir elke Suid-Afrikaner persoonlike betekenis besit – sowel weens die gebeurtenisse wat in die verre verlede daar plaasgevind het as om sy huidige, haglike situasie binne ’n grotendeels vyandiggesinde wêreld.”

In 1981 het Op die rug van die tier verskyn en dit sluit in ’n sekere sin aan by Kroniek van Perdepoort en kan gesien word as ’n soort antwoord daarop, volgens Frits Gaum (Die Kerkbode, 9 Junie 1982). “Die bose voer in Perdepoort enduit die heerskappy, terwyl Op die rug van die tier egter eindig met die oortuiging dat God steeds engele op ons pad stuur, al neem hulle in ons koddige tyd soms koddige gestaltes aan. Hierdie werk is die beskrywing en ontginning van die geestelike reis van ’n volkome, gewone man, Wynand Vercuyl. Louw wil die karakter as volledige mens uitbeeld, nie net vroom, nie net boos nie, en sy doen dit met ’n sonderlinge seggingskrag en wrange humorsin. Vercuyl is laat-middeljarig, onindrukwekkend, deur sy werkgewer in die pad gesteek, besig om sy lewensverslag te skryf. (…) Vercuyl misluk as eggenoot, as vader, as beroepsman. Hy dink na oor sy armsalige lewensloop en word daarin van die wal in die sloot gehelp deur sy sewe ‘skedelgenote’, skeppings van sy gees: Grapjas, Jongeling, Vrek, Agie, Slimmerd, Verbeelder … name wat selfverklarend is. Vercuyl soek na godsdienstige diepgang en strewe na heiligmaking, maar kom onderweg by die vreemdste plekke en gelowe uit. (…) Die roman het ongetwyfeld groot verdienste. Dit het diepgang, openbaar op ’n ontstellende wyse die bestaanstryd van Jan Elkeman, laat ’n mens jouself onverwags in Wynand Vercuyl-in-die-put herken. Dit is ’n veelduidige, dikwels aangrypende werk. Anna M Louw herbevestig met hierdie werk dat sy een van Afrikaans se groot romansiers is.”

Audrey Blignault (Sarie, 9 Desember 1981) het aan Anna gevra waarom sy juis Op die rug van die tier as titel gekies het. “Die tier is ’n imponerende, verskriklike dier. Die tier het ’n soort metafisiese betekenis verkry in al die kulture van die wêreld. Dink aan William Blake se gedig oor die tier.

Tyger! Tyger! Burning bright
In the forests of the night,
What immortal hand or eye
Could frame thy fearful symmetry?

“Die tier kan gesien word as simbool van die lewe in al sy skoonheid en verskrikking. Sonder dat ons gevra word, word ons as ruiters op die rug van die tier geplaas. Om af te klim, is om tou op te gooi, om ’n lafaard te wees. ’n Mens moet maar ry tot aan die einde van die rit totdat jy leer om die dier te tem.”

Oor hoekom sy Op die rug van die tier geskryf het, het Anna aan Audrey Blignault (Die Burger, 19 Junie 1975) gesê wat sy graag wóú doen, was om ’n lekker snaakse boek te skryf wat baie mense met groot genot sou lees. “’n Skrywer moet ’n storie vertel of sy boek beteken niks. En ek wou ’n karakter skep met wie die grootste gros mense hulle sou kon vereenselwig. Ek hoop ek het met Wynand Vercuyl daarin geslaag. Wat ek graag wou sê, is dit: My sentrale tema, soos so dikwels tevore, is die – myns insiens aangebore – drang by die mens om homself te oortref, om uit sy eie-ek te reik na ’n goddelike dimensie. Anders gestel: om die Beeld in homself te ontdek en te bevry. Dit kan alleen geskied deur selfaflegging. So leer al die groot godsdienstige stelsels, insluitende die Christelike geloof. Dit verg onvermydelik die navolging van ’n bepaalde lewensweg.

“Omdat ek geen hoog-heilige, prekerige relaas wou skryf nie, omdat die tyd waarin ons leef so koddig geword het dat mense net nie vatbaar is vir so ’n relaas nie, het ek my hoofkarakter ’n soort nar van God gemaak – ’n tipe karakter wat my al lank boei en wat ek al in my vorige romans soos Die groot gryse (in die persoon van die bejaarde Kruger) en Kroniek van Perdepoort (in die persoon van die bejaarde Koos Nek) aangesny het.

“Die godesnar in Op die rug van die tier beweeg in die moderne werklikheid met al sy chaos en verwording en sy onweerlegbare wetenskaplike waarhede. Hy verduur ook die strooptogte van gebeurlikhede in sy lewenslot as wit Afrikaan in ’n voëlvrye, maar o so geliefde land. Algaande probeer jy die gebeurtenisse en gebeurlikhede verwerk, in sy eie persoonlike verhoudinge asook op politieke gebied – altyd op eerlike, maar soms absurde wyse.”

Anna het verder aan Audrey Blignault verduidelik: “Op die rug van die tier is in sekere sin en doelbewus ’n antwoord op Kroniek van Perdepoort. Dit is in die essensie daarvan ’n bekeringsroman. Bekering is ’n langsame proses, ’n voortgesette stryd met die lewe en dié dinge wat in elkeen se persoonlike lewe opduik. Eintlik is die lewe ’n spiraal wat ’n mens keer op keer klim. Soos ’n mens klim, sien jy hoe die landskappe verskillende seisoene ondergaan. Daar kan geen twyfel bestaan dat Op die rug van die tier ’n groot ironiese werk is nie, dat dit as godsdienstige roman geskryf is nie.”

Tydens die bekendstelling van Op die rug van die tier het Elize Botha (Die Burger, 1 Desember 1981) gesê: “Anna M Louw het sedert haar debuut ’n kwarteeu voortgewerk en nie alleen feitlik een koers gekies en daardie koers getrou en toegewyd gevolg nie, maar haarself die uiters gevaarlike ding gegun om te eksperimenteer, haarself te vernuwe, nuwe weë te beproef en as hulle die proef werd was, hulle verder in te slaan. Op dié wyse het sy dit gewaag om ná die opspraakwekkende sukses wat Kroniek van Perdepoort was, soos dit ’n rasskrywer pas, te gaan sit en net nog weer ’n roman te skryf, en dit daarby ’n totaal anderse roman. Op die rug van die tier is ’n onvergelyklike boek waarin Louw bewys het dat sy kan werk met die ‘stuff of human living’. Die skrywer het bewys dat, God weet hoe, wonderwerke wel moontlik is: die wonderwerk nie net van die epiphany, die verheldering wat ons gegun word in ons lewe van sonop tot sononder nie, maar die wonderwerk dat dit waarlikwaar moontlik is om van Jedermann, Everyman, Elckerlyc, die onvervangbare, unieke wese te maak wat die Liewe Heer waarskynlik bedoel het dat ons sal wees.”

In 1985 was Anna die enigste Afrikaanse skrywer wat ’n aanmoedigingsprys gekry het in die groot jaarlikse dramakompetisie wat deur Sakruk aangebied is. Haar drama, getiteld Seun van die daeraad, sou in 1987 deur Truk-Drama opgevoer word.

’n Bundel van vier novelles, Die loop van die rivier, is in 1986 gepubliseer. Hierdie bundel het oor ’n hele klompie jare ontstaan. Die sade vir drie van die verhale het in Louw se gedagtes begin groei in ’n vroeër tydperk toe sy nie bedoel het om kortverhale of novelles van die gegewe te maak nie. Daarteenoor het die langer eerste verhaal – oor twee broers op reis deur Namakwaland – onder meer uit ’n fisieke reis van die skryfster in daardie deel van die wêreld ontstaan. In elkeen van die verhale, sê sy teenoor André le Roux (Die Burger, 28 Oktober 1986), is daar iemand wat min of meer aan die einde van sy lewe ’n ontdekking oor homself maak.

Oor hierdie bundel het André P Brink (Rapport, 9 November 1986) geskryf: “Uit haas elke bladsy is dit duidelik dat Anna M Louw haar slag met storievertel kén, veral in die omgaan met ’n taal wat dinge op nuwe maniere oproep, maar haar duidelike vertelvermoëns kry in dié bundel regtig nie kans om oortuigend met die leser te werk nie. Daarvoor is alles darem te berekend en geskematiseer.”

Anna het in 1990 kans gesien vir ’n vliegrit wat selfs geharde manne nie sommer sal aanpak nie. Sy was ’n passasier in ’n Harvard SNJ5 terwyl die vlieënier aërobatiese toertjies gedoen het. Sy het vertel dat hierdie begeerte haar eers veel later in die lewe beetgepak het. “In my jonger jare moes ek maar altyd eers ’n kalmeerpil of twee sluk voor ek binnenslands of buitelands gevlieg het. Maar as jy ouer word, verloor jy jou vrese vir alles. Jou kinders staan op hul eie voete en jy weet jy het nog soveel ervarings om deur te maak. Die vliegrit self was wonderlik. Ek het daarna twintig jaar jonger gevoel.” Die idee van die vliegrit het by Dirkie de Vos, die man van een van Anna se kleinkinders, ontstaan (Die Burger, 5 Januarie 1990).

In April 1990 het Anna ’n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang. Sy het ook die Victoria vergulde medalje van Premio Adelaide Ristori ontvang. Die medalje is ’n Italiaanse onderskeidingstoekenning aan vroue wat hulle gemeenskap op uitstekende wyse gedien het.

Ongeveer tien jaar ná die verskyning van Op die rug van die tier is Anna se volgende roman, Wolftyd, in 1991 gepubliseer. Johann Botha skryf in sy resensie (Die Burger, 16 Julie 1991): “Die aanhaling van ’n gediggie van NP Van Wyk Louw (‘Epitaphe pour lui-même’) as motto voor in dié boek vertel, dalk meer as bedoel, iets van sy aard: ‘Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè? Maar watter danige lieflikheid was hy?’ In die verhaal is dié ‘hy’ sekerlik Luk Obach, wat sy jongelingsjare in die Nazi-Duitsland van net voor die oorlog deurgebring het, as seun met ’n Joodse pa en heftig pro-Duitse sentimente; en wat nou, jare later, as ongelowige, siniese en ontnugterde ou man in Suid-Afrika sterf. En die een wat hom ‘nooit danig waffer liefde ooit’ gegee het nie, is sy Calvinisties-Afrikaanse weduwee, Leonie, wat dié verhaal vertel.

“Anna M Louw is geen simplistiese romanskrywer nie, en hierdie Leonie van haar het juis die selfkennis om te weet dat sy medeverantwoordelik was vir die bitter en onbevredigende afloop van haar huwelik. Nogtans sit ’n mens met die gevoel dat sy haar verbittering nooit wérklik transendeer nie, dat sowel sy as die skryfster end-uit oordeel dat Luk darem maar régtig geen danige ‘lieflikheid’ was nie. Dit gee aan die boek ’n somber en enigsins pessimistiese trant. Dat Leonie tot die insig kom dat haar heil lê in skeppende werk en die helende betragting van die lewe met liefde, wil ’n mens graag glo. Dit word egter nie vir die leser ’n heeltemal oortuigende werklikheid nie; dit lê te lig in die skaal teen al die somberheid.

“Die verhaal word in sewe hoofstukke, eintlik afdelings, aangebied. Dit begin met ‘Op soek na verlore tyd’, waarin die weduwee, ná Luk se dood, in Duitsland op sy vroeëre voetspore gaan stap. Dan volg ‘Tweede afskeid van die emigrant’, wat van Luk se dood vertel. In ‘Stukke van die legkaart’ kom Leonie uit Luk se nagelate stukke – eintlik ’n soort nadoodse wraak – agter hy het haar stelselmatig verkul met ander vroue, selfs ’n seun by ’n Duitse minnares verwek en dié kontak deur die jare heen vertroetel. Dan word ‘Leonie se storie’ vertel. Sy begin weer skilder, kry les by die aantreklike jong dosent Anton, en raak halsoorkop op hom verlief. ’n Vuurwarm verhouding volg, maar loop, soos te verwagte, uit op niks. Nou volg die twee kortste hoofstukke. In ‘Winter’ verdiep Leonie haar in haar grafiese kuns en leer opnuut na die lewe kyk. In ‘Job se troos’ ontvang sy besoek van Luk se seun uit Duitsland. Hy besorg aan haar Luk se kommerboeke – die dagboeke wat hy as jong man in Nazi-Duitsland gehou het. Ten slotte word die langste (en oortuigendste) afdeling aangebied – ‘Eerste afskeid van die emigrant’, ’n rekonstruksie van Luk se ongelukkige jeugjare. Dit eindig met sy afskeid van Duitsland en emigrasie na Suid-Afrika, en by implikasie Leonie se groter begrip vir die prosesse wat van mense maak wat hulle is.

“Die bedoeling met dié agterstevoor-vertelwyse is duidelik om die mees dramatiese gedeelte na die einde te skuif, en om dit te laai met die energie van ’n agterna-perspektief: terwyl jy dit lees, is jy deurentyd bewus van ’n jammerlike, selfs tragiese afloop. Reeds hier, besef jy, lê die oorspronge van die skeefloop van ten minste twee lewens. Dit werk, maar ’n mens moet eers daar uitkom, en dit kos van tyd tot tyd nogal swoeg. (…) Ten slotte wonder jy of die kool van die handelingsverloop die sous van die verwringing van tyd en perspektief werd is. Dit werk vertragend en beproef die leser se geduld waarskynlik onnodig. Aan die pluskant: karakterbeelding, die atmosfeer van die Duitsland van destyds, flitse van insig in die mens, die versoberende kontras tussen toe en nou in haas elke lewe.”

AP Grové (Beeld, 12 Augustus 1991) het gevoel dat die laaste afdeling miskien net te bewus informatief en verklarend aandoen, te veel brokstukkies onverteerde geskiedenis bevat, nie sterk genoeg met die res van die roman geïntegreer is nie en die menslike warmte en noodwendigheid mis wat ons in die vrou se ‘verhaal’ teengekom het. “Ten spyte van hierdie bedenking bly dit ’n boek wat met sy soliditeit, sy wysheid en mensekennis, sy strewe om gevoel en begrip in ewewig te hou en bowenal sy sterk sin vir die onafwendbare gang van sake as ’n belangrike bydrae tot ons romanliteratuur moet geld.”

Oor die tien jaar wat verloop het tussen die verskyning van haar laaste twee romans het Anna aan Charles Fryer gesê dat sy net geskryf het wanneer sy iets dringends te sê gehad het. “Of iets wat vir my belangrik lyk op daardie tydstip. In die tussentyd speel ek met ligter uitinge. Jy sal onthou dat Die loop van die rivier verskyn het in daardie tydperk, wat ek nou nie as ’n baie ernstige werk bedoel het nie. In die geval van Wolftyd was daar wel ’n baie sterk prikkel. My man het gesterf en ek het baie skielik sterk te staan gekom voor dinge wat ek moes verwerk. Die skielike eensaamheid, jy’s stokalleen in ’n huis. Dan is dit asof die ouderdom sommer onmiddellik nader staan, mense behandel jou anders. Dan die probleem van weduweeskap: dat jy skielik dinge moet begin doen wat jy nooit vantevore in jou lewe gedoen het nie, wat die man altyd waargeneem het.”

Oor die navorsing wat sy vir Wolftyd gedoen het, veral oor die Nazi-tydperk, oor die latere Duitsland en oor grafiese kuns het sy vertel: “In die geval van Wolftyd, moet ek jou sê, het ek net aan die navorsing ’n volle jaar gewy. Ek het besoek gebring aan Berlyn, Innsbruck, en die omliggende Tirool wat die milieu was van Luk, die manlike hoofkarakter se skool- en studentejare. Ek het na die berge ook gegaan waar hy geski-loop het. Waar was ek nie, nè? En dan in Berlyn self, waar die meer skouspelagtige gebeure van die Nazi-tydperk afgespeel het. Daar was juis tóé baie dokumentasie wat ek vertaal het – dit was die 750ste bestaansjaar van Berlyn, wat gevier is met allerlei uitstallings. Dan was daar ook ander dokumentasie in moeilike ou Duitse druk, wat ek weke en maande lank sit en vertaal het in Afrikaans. En uiteindelik het ek nog sowat twee jaar verder bestee aan die skryf en die herskryf van die roman.”

Oor die titel, Wolftyd, het sy haar as volg uitgelaat: “Ek dink nogal dit was ’n gelukskoot. Die wolf word ’n baie besonderse simbool in hierdie boek. Dit het ’n groot rol gespeel in die Nazi’s se rassemistiek, soos jy weet, en die Nazi-geskiedenis is natuurlik die eintlike verwysingsraamwerk van hierdie boek. Die manlike hoofkarakter, Luk Obach, was, soos dit in die boek uitgebeeld word, sielkundig deur die Nazisme dermate in homself verdeel en beskadig omdat hy van gemengde bloed was. Verdeel en beskadig, dat hy self eintlik die simbool van ’n alleenloperwolf geword het. Dis ook van toepassing op die tyd waarin ons vandag leef, dink ek. Weet nie of ek onnodig pessimisties is nie, maar dit lyk vir my so.”

Een van die hooftemas van die boek is die erotiese liefde wat Anna in haar vorige boeke verontagsaam het, maar sy het nog altyd gedink “eendag se eendag moet ek ook oor die liefde skryf. Ek het nooit vantevore werklik daaroor geskryf nie. Afdelings van die liefde het ek wel behandel, maar nie erotiese liefde nie. Wat my eintlik daarby gebring het, is dat sekere wanopvattings in verband met bejaarde mense my getref het toe ek ’n weduwee geword het. Een van hulle is die geringskatting van die bejaarde se gevoelslewe, van die begeerte tog by alle mense, of hulle nou bejaard is of nie, na liefde, die groot ding wat darem nog die lewe draaglik maak. Waarom is dit so half skandelik en snaaks as ou mense, veral ’n bejaarde vrou, verlief raak?”

Romi van der Merwe (Rooi Rose, 23 Oktober 1991) het aan Anna gevra of sy enigsins met Leonie in Wolftyd kan identifiseer. “Ek kan goed verstaan hoe sy gevoel het, want my eerste man was ook ’n womaniser. Dit het my darem beter laat voel dat sy tweede vrou ook soos ek deurgeloop het!” En oor haar egskeiding: “Dis ’n bitter ding om te skei. Ek kom uit ’n streng Calvinistiese huis. Ek het egter hopeloos te jonk getrou. Ek het dan al op agtien my BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. My eerste man was ’n mediese student en hy het baie gewedywer om my hand. Ek was nogal aantreklik. Toe ek twintig was, is ons getroud en ek het ’n interessante lewe saam met hom gelei.”

Anna wou met Wolftyd die ironie uitbeeld van ’n vrou wat sonder liefde geleef het en tog het haar man haar op sy manier liefgehad. “Dis ’n soort goddelike ironie dat hy dit nie kon wys nie. Ook die feit dat Luk Obach na ’n puriteinse lewe gestreef het, volgens Hitler se ideale, en dat dit toe sy buite-egtelike seun is wat die voorbeeldige lewe gekies het.”

Vyf jaar ná Wolftyd het Die donker kind in 1996 verskyn. Anna het gemeen dat hierdie roman baie toeganklik is. “Die hoofkarakter is ’n vissersvrou met ’n baie moeilike lewe. Die verhaal speel teen die agtergrond van die Weskus af. Die taal van die boek is eenvoudig, die intrige is nie ingewikkeld nie en die boek is veral gewild onder vroue. Ek het die boek aanvanklik ’n melodrama genoem, soos Jane Eyre en Wuthering Heights.”

Anna het aan Herman Wasserman (Die Burger, 18 September 1996) vertel dat sy eintlik nie ’n seemens is nie. “Ek het in die Karoo grootgeword, en die storie van Die donker kind het eintlik onverwags in my skoot geval. Tog, as ek daaraan dink, kom die karakters, omgewing en gebeure in dié tragiese, menslike Weskusverhaal (wat sy ’n “melodrama” noem en dit om daardie rede in “bedrywe” eerder as hoofstukke geskryf het) uit my eie ervaring. Ek is maar skrikkerig vir die see, maar ek het dikwels saam met my seun by Port Owen gaan vakansie hou en selfs saam met hom op sy seiljag uitgegaan. Só het ek die see en die Weskusomgewing leer ken,” sê sy. Eers later het sy dieper ingegaan op die geskiedenis van Velddrif en só die mense van die Weskus leer ken. Hulle het ook vir haar baie staaltjies vertel. Sy wil egter nie sê dat sy die karakters in die boek gebou het op die mense wat sy só leer ken het nie. “Tog kan ek iets van die karakter Leah Esau in ’n huishulp herken wat ons gesin gehad het, en Sam trek so bietjie op ons tuinier. Die onkonvensionele dominee, die mevrou dominee wat oudhede versamel, al dié soort mense het ek al ontmoet.

“Die Noor is seker die karakter wat die meeste uit my verbeelding kom, hoewel ek al in die Skandinawiese lande gereis en Noorse gebruike leer ken het. Maar in die tragiese hoofkarakter, Antjie-die-Skipper, en haar eensaamheid, kan ek myself herken. Antjie self, jy weet … daar’s seker iets van my in haar. Maar in hoofsaak is die roman natuurlik heeltemal denkbeeldig. Die satiriese behandeling van die Weskuskarakters, veral met die wroegende Breggie wat so bewus is van haar sondes, is nie sonder deernis nie,” verduidelik sy.

Sy het ook nie bedoel om te spot met van die karakters se vrome Christelikheid nie. “Ek het baie Calvinisties grootgeword, weet jy, was baie jare lidmaat van die Rondebosse NG-gemeente, selfs diaken vir ’n ruk. Dit is dus deel van my ervaring, maar daar is ook so ’n bietjie satire in. Veral as jy ouer word, besef jy die kleinheid van ons gelowe in die yslike kosmos rondom ons. Ek is nie ongelowig nie, maar kan die dogma van die kerk nie meer heeltemal sluk nie. Maar miskien kom ek tog weer terug na die kraal toe.”

Deur die storie van Die donker kind het Anna M Louw probeer om uitdrukking te gee aan die pynlike gevolge van apartheid op mense. Vir Sam het die Nuwe Suid-Afrika te laat gekom, het sy aan Herman Wasserman verduidelik: “Dit het met baie mense gebeur, mense wat as gevolg van apartheid hul kanse in die lewe verbeur het. Maar ek wou nie die groot politieke arena betrek nie, dis genoeg gedoen deur skrywers soos André P Brink, Elsa Joubert, John Miles. Ek wou die persoonlike aspek daarvan belig, en ek hoop dit het geslaag.”

Fanie Olivier (Beeld, 7 Oktober 1996) het as volg oor Die donker kind geskryf: “Na die dood ter see van die legendariese Antjie-die-Skipper (haar lyk word ook heel melodramaties deur twee dolfyne land-toe gebring), probeer die gesagsfigure van die gemeenskap (die dominee en die sersant) reëlings tref vir haar begrafnis/verassing. Saam met hulle is daar die ou dokter, die Joodse winkelier, die nuuskierige gemeentevrou en Hermanus Jooste, wie se oupa destyds die grondeienaar was waar die grond gekoop is. En elkeen van hulle het maar sy eie geraamtetjie in die kas, of in die bed.

“Dit doen nogal bekend aan, maar word hinderlik en geensins funksioneel nie binne ’n gegewe wat afspeel aan die Kaapse Weskus ’n jaar of twee, drie gelede. Byderwets is darem die predikant se vrou wat hoop om ’n skryfster te wees, maar wie se doen en late geen bydrae tot die vervlegting of die ontknoping lewer nie. Ook die predikant self en sy oppervlakkige hunkering na ’n ander lewe, dra niks wesentlik by tot die verhaal nie.

“En ’n verhaal wil daar wel wees, want deur die herinneringe en vertellings van die ander karakters in die groep word die lewe van die gestorwene inmekaar gepak. En buite die groep staan die bruin visserman Sam wat ook oor die jare hierdie vrou leer ken het.

“Die verhaal wat ontvou, is van die jong onderwyseres wat trou met die Noorman wat by die vissershawe opdaag in die middel van die Dertigerjare en dan deur hom met twee dogters agtergelaat word vyf jaar later. Later het haar dogters haar ook verlaat en bly sy alleen as stoere vissersvrou agter, in baie opsigte die omgekeerde gegewe van Nic Tredoux se Die Noorman, waaroor ek onlangs geskryf het. Na haar dood, in ’n poging om die dogters op te spoor, word Tant Breggie afgevaardig om die briewe in die huis deur te werk, ’n volgende tegniek wat die skryfster gebruik om die verlede te onthul. Nuuskierig soos sy is, krap Breggie rond in die ou groen Noorweegse kis en ontdek getuienis van ’n derde kind. Is dié dalk vermoor? Die testament sluit die dogters uit en wys immers die ou vrou Leah as erfgenaam aan. Leah se vertelling van die maande rondom die bevalling (dis nie seker hoe en aan wie sy vertel nie) word eintlik Antjie se vertelling, en so ontdek ons dat die derde kind (deur Leah grootgemaak) Sam s’n is. ’n Goeie leser het dit reeds lank tevore by die ontdekking in die kis vermoed; Sam sê hy’t dit jare eintlik aangevoel. Dis die donker kind van die titel, maatskaplik onaanvaarbaar met sy geboorte in 1959, maar wat deur sy voorkoms tog daarin slaag om as ‘wit’, ’n suksesvolle sakeman te word. Die laaste stukkie van die legkaart word sonder werklike spanning gepas, maar met die vergesogte rasionalisering van Sam dat hy die aand toe hulle lyf gegee het, eintlik geweet het dat hy al jare op haar verlief is. Dit maak die in sonde ontvang en gebore darem ’n bietjie aanvaarbaarder.

“Wanneer Antjie verdrink, is ons reeds in die jare negentig en het Suid-Afrika reeds onherroeplik verander. Hierdie tydsgegewe en maatskaplike vertellings word egter in die slothoofstuk (sonder rede word hulle ‘bedrywe’ genoem, en daar is 7 van hulle) besonder slordig hanteer, ook ideologies. En die vanselfsprekende konfrontasie by ’n toevallige ontmoeting tussen vader en seun teen hierdie agtergrond, word glad nie deur die skryfster aangedurf nie. Niemand verwag ’n ‘hêppie ending’ nie; wel iets meer sinvol oor ’n vader en ’n seun wat nooit van mekaar geweet het nie en nou ontmoet teen ’n agtergrond waar die ‘donkerte’ van die kind nie meer deurslaggewend is nie. En waar die seun sou kon hoor oor sy ma … Die donker kind word verder gekniehalter deur onnodighede, vlak morele bevraagtekening, mooiskrywery en ’n onvermoë om die fokalisators en die verteller(s) tegnies te onderskei, ook ten opsigte van hulle taalgebruik.”

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Anna in 1996 vereer vir die groot bydrae wat sy gelewer het tot die bevordering van die Afrikaanse geskiedenis. Piet Badenhorst, destyds voorsitter van die FAK se gebiedsraad: Wes-Kaap, het ’n oorkonde aan haar oorhandig.

Anna se laaste boek voor haar afsterwe was Vos, wat in 1999 by Human & Rousseau verskyn het. Stephanie Nieuwoudt skryf in Beeld van 5 Oktober 1999 dat Louw vir hierdie roman weer gebruik maak van argetipes. “In Vos is dit die eeue oue verhaal van Faust, wat sy na die Noordweste verplaas het. Hier word die hoofkarakter, Vos, gedwing om sy siel te verkoop. Die tussenganger is ’n ou San-man, Hans Bokpoot, so genoem vanweë die twee tone aan sy een voet.”

Anna het aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 5 Oktober 1999) vertel dat daar volop Khoi en San was wat op die plase gewerk het toe sy grootgeword het. “Daar was ’n San-stam waarvan die lede weens genetiese mutasie gekenmerk is deur hul voete met twee tone.”

Nieuwoudt skryf verder: “Uiteindelik word die bose deur ’n predikant uit Vos gedryf en vat hy die pad om die Boodskap aan ander te verkondig. Die mistiek is ook ’n kenmerk van Anna se werk.”

Anna het voortgegaan: “Ek het as kind al mistieke ervaringe gehad. Ek sou deur die veld loop en dit sou wees asof ’n gordyn skielik voor die alledaagse lewe weg is. Ná so ’n ervaring sou ek ’n gevoel van geweldige liefde ervaar.”

Die laaste jaar voordat Vos verskyn het, het sy haar afgesonder om die boek klaar te kry. “Dit moes klaar. Ek moes al dood gewees het. Dis die Evaskruis om oud te word. Oral is ’n oortollige mengelmoes vroue. Dit maak my moeg. Ek is lief vir my eie geslag, maar ek is bly as daar ook ’n klomp mans bykom,” vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt.

Joan Hambidge (Die Burger, 29 September 1999) meen dat dit in hierdie roman gaan “om die magte van die onbewuste wat losgelaat word en wat die hoofkarakter, Vos, se lewe dwingend verander. Die gegewe is oerbekend. Dit gaan om die mense wat uitgelewer is aan die natuur en meer spesifiek, die reën wat uitbly. Vos kry te make met die Boesman, Hans Bokpoot, die reënmaker, wat dan op die voorwaardes van die ‘bose’ net vir sy plaas reën bring in die dorre Noordweste van 1932. 

“Anna M Louw speel dus in op die leser se kennis van Eugène Marais se Dwaalstories en ‘Die dans van die Reën’. Op ’n briljante manier wanneer die poltergeeste hul wreek op die boerhuis, vind ons natuurlik verwysings na Marais se verhale van die bo-natuurlike. Ook die onderhandeling met die duiwel is so reg uit Faust. Dominee Kossies gryp in om die bose magte stil te kry wat hul wreek op Vos. Die skryfster plaas Westerse geloof teenoor sogenaamde primitiewe toorkuns en dit is natuurlik nie om dowe neute nie dat Vos uiteindelik ’n soort reisende prediker deur die Hantam se Rôeveld word. 

“Die vertelling word op ’n konkrete, bykans poëtiese wyse weergegee sodat die leser verdere aanduidings kry dat dit nie hier om ’n metonimiese verhaal gaan nie, maar om die metaforiese vertelling (om Roman Jakobson se klassifikasie te eggo). ’n Mens vind dan ook etlike verdere sleutels na CG Jung se uitsprake oor die kollektiewe onbewuste. (…)

“Dit is haas al ’n cliché om te verwys na die onversoenbaarhede tussen Westerse en sogenaamde ‘primitiewe’ Afrika- of Boesmankulture. Tog het Jung hom nooit verminderend oor laasgenoemde uitgelaat nie. Vos is dan, só gelees, ’n simboliese roman en die reis wat ten slotte onderneem word, verwys na die lang tradisie van die peregrinasieroman (Everyman, Odusseus, die wandelende Jood, Orpheus) wat eweneens die individuasieproses van die hoofkarakter weergee.

“Diegene wat nou al lang sugte sug en dink hierdie roman is net vir die ingewydes in Jungiaanse denke, hoef nie beswaard te raak nie. Die roman is op stoeivlak so genoeglik en onderhoudend en boers vertel dat ’n mens jou daaraan verstom. Soos in Kroniek van Perdepoort, Anna M Louw se chef de roman, word die simboliese goed staangemaak in die banale en alledaagse. Soos die toneel met Eva (’n kragtoer in seksuele beskrywing); die seun se absurde voorstel vir sy keuse as strooijonker; die wonderbaarlike beskrywing van die landskap. Ook die predikant is so eg soos gannabos.

“Of Vos ooit aan die magte van die Bose ontkom, is die vraag wat hierdie roman wil beantwoord. En dit sal afhang van die leser se eie spirituele instellings. Ook die slot, en die wyse waarop ’n lyk as’t ware sy manier van dood aan die predikant en dokter verraai, getuig nogmaals van ’n insig in die menslike syn.

“Die een wat verbrand neem die houding van ’n vuisvegter aan en die verkluimde een gaan lê in ’n fetale posisie.

“Die toets vir ’n roman wat ’n sterk filosofiese lading dra is dat dit die leser op storievlak steeds moet boei. Hierin slaag Anna M Louw beslis. Hierdie leser was nog altyd ’n bewonderaar van die skryfster se prosakuns en soos die genoemde Kroniek van Perdepoort en Wolftyd, is Vos ’n hoogtepunt in haar oeuvre. Dis ’n ryk roman wat vele van die oppervlakkige wegkomkanse en windrigtings na die loef steek.”

Op Donderdag 12 Junie 2003 is Anna M Louw in die ouderdom van 89 in haar woonstel in Rondebosch oorlede. Sy was geruime tyd nie gesond nie en volgens Wieland Gevers, ’n skoonseun, was sy weens haar hart en longe die vorige paar maande in en uit hospitale.

Huldeblyke

  • Chris van der Merwe: “Die skryfster het ’n lang intellektuele en geestelike reis onderneem vanaf die tradisionele verbinding van die Christelike, die nasionale en die patriargale in Die groot gryse tot by die denkklimaat van Wolftyd. (…) En nou is Anna M Louw se dae van skryf vir goed verby. Gelukkig is haar boeke nog daar om met ons te praat, en hulle is vandag meer relevant as ooit tevore. Mag sy steeds gelees en herlees word; mag haar werk in Suid-Afrika, maar hopelik ook later, deur vertaling, in die buiteland die erkenning kry wat dit verdien.” (Die Burger, 14 Junie 2003)
  • Elsa Joubert: “Ek gaan haar baie mis. Ons kon mekaar begryp en het baie gesels oor wedersydse probleme met die skryfkuns en die godsdiens. Sy was ’n baie goeie vriendin. Sy was ’n ernstige en toegewyde skrywer en was altyd besig met temas oor die geesteslewe en die religie. Sy was ’n baie diepsinnige skrywer en ek het ’n baie hoë dunk van haar werk en haar integriteit. Sy was ’n eerlike en aangename mens.” (Rapport, 15 Junie 2003)
  • JC Kannemeyer: “Sy was ’n baie belangrike skrywer. Met haar debuut, Die onverdeelde uur in 1956, het sy ’n baie sterk indruk gemaak. Die groot gryse (oor die lewe van Paul Kryger) was ’n baie belangrike historiese werk, en Louw het tot in haar laaste roman, Vos, wat in 1999 verskyn het, ’n baie hoë peil gehandhaaf.” (Rapport, 15 Junie 2003)
  • Kerneels Breytenbach: “Haar bydrae tot die Afrikaans letterkunde is belangrik en onmisbaar. Van haar debuutwerk tot en met haar laaste boek het sy lesers betower en meegesleur met haar fyn waarneming, haar wonderlike gebruik van ironie, en die manier waarop sy die mens uitgebeeld het in sy eenvoud, omgeef deur die magte van die natuur en geknelter deur die kragte van die menslike swakheid. Die hoogtepunt in haar romankuns is sekerlik Kroniek van Perdepoort, waarvoor sy talle bekronings, onder meer die Hertzogprys, ontvang het. Dit was vir sowel Tafelberg as Human & Rousseau ’n voorreg om ’n skrywer van haar statuur en integriteit te kon publiseer.” (Die Burger, 13 Junie 2003)
  • Elize Botha: “Louw was een van ons grootste Afrikaanse skrywers. Sy was ’n skrywer van romans in die groot klassieke tradisie. Sy was ’n onbevreesde skrywer wat nie teruggeskrik het vir die uitbeelding van vergrype en ongeregtighede nie, maar ewe min onbevrees was om die wondere van God te beskryf. Sy was langer as 40 jaar ’n rykdom in my leserslewe, ook omdat sy my ma se geboortegrond, die Hantam, tot mitiese wêreld omgeskep het.” (Die Burger, 13 Junie 2003)
  • Charles Fryer: “Haar intellek was tot op ’n hoë ouderdom onmiskenbaar. Tog was sy haar lewe lank ook “’n kind van Soetwater”, die plaas waarop sy grootgeword het, en sy kon die natuur soos sy dit daar leer ken het, in fyn besonderhede laat herleef. Nou is sy by God, en haar woorde is padvinders vir ons wat nog “die berg wat daar donker staan”, moet óór.” (Volksblad, 13 Junie 2003)
  • Beeld-hoofartikel: “Anna M Louw, wie se loopbaan oor 50 jaar gestrek het, was ’n skrywer in die tradisie van die groot klassieke roman. Tien romans en twee kortverhaalbundels het uit haar pen verskyn. Sy was nie ’n eksperimentele skrywer nie. Maar om dít te sê, sal te min van haar sê, want Anna M se werk het groot kwessies, aktueel én tydloos, aangeraak. Sy was geobsedeer met die metafisiese in die mens. Vir haar het dit nie net gegaan oor hierdie wêreld waarin sy leef nie, maar oor die ewigheid. In haar romans, kortverhale, dramas en hoorbeelde het sy die mens in al sy fasette beskryf as sondig én triomfantelik goed. Die goeie het sy altyd beskou in die lig van ewigheidswaardes. Wat nie beteken dat sy geskryf het uit ’n eng Christelike denkraamwerk nie. Sy het ruim gedink oor die mens en die lewe. As Hantam-boorling het Anna M se denke groot ruimtes ingesluit. Ons eer haar vir haar verruiming van die Afrikaanse taal- en denkwêreld.” (Beeld, 17 Junie 2003)
  • Louise Viljoen: “Anna M Louw het veral die godsdienstema op ’n boeiende en onkonvensionele wyse hanteer. Sy het ’n worsteling met die bose fisiek, konkreet en oorspronklik aangepak op ’n wyse wat min ander Afrikaanse skrywers kon nadoen. Daar was ook ’n soberheid en strengheid in haar beste boeke, en sy het die vermoë gehad om die onnodige en oortollige af te gooi in haar skryfwerk. Hoewel haar boeke deesdae nie te gereeld voorgeskryf word vir studente nie, sou dit interessant wees om te sien hoe die jong geslag Louw se konfrontasie met die bose sou ervaar. Kroniek van PerdepoortOp die rug van die tier en Vos kan uitgesonder word as hoogtepunte uit Louw se oeuvre.” (LitNet)
  •  Helize van Vuuren: “Anna M Louw was ’n sterk vroueskrywer, een van die oergrootmoeders van die Afrikaanse letterkunde.” (LitNet)

In 1986 skryf Charles Fryer oor Anna M Louw: “In elke mens lê ’n landskap van die jeug, wat grootliks bygedra het tot die soort mens wat jy is. Vir Anna M Louw is dit die plaas Soetwater in Calvinia se skaapwêreld. Daardie oop blou lug lê nog in haar oë, wat jou vas aankyk en jou peil. ’n Boorling van die Noordweste dra nie ’n masker nie, en met ’n ander se geleentheidsgesig het hy nie geduld nie. Dis ’n wêreld wat jou stroop van pretensie, valsheid, hoogmoed. Dis ook ’n wêreld wat jou aanwys op God se genade en op jou ewemens. Daarom glo ’n mens Anna M Louw wanneer sy sê dat as dit by ’n keuse kom, sy haar godsdienstige lewe bó die wêreld van boeke sal stel; daarom kan jy haar onvermoeide speurtog, deur talle romans heen, na die wesentlike aard van die mens begryp.

“Naasteliefde is ’n moeilike opdrag, sê sy egter self. Dit is geen natuurlike liefde nie, en dit hang ten nouste saam met jou verhouding tot God. Sy self het vreemde metafisiese paaie gevolg voordat sy teruggekeer het na die Calvinisme en die geloof in ’n persoonlike God.”

Publikasies:

Publikasie

Die onverdeelde uur

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1958
  • 1961
  • 1965
  • 1967
  • 1969 (Spesiale Grootdrukuitgawe)
  • 1977
  • 1980
  • 1984
  • 1987
  • 1988
  • 1989

ISBN

  • 0624009653 (sb)
  • 0624-14894 (hb)
  • 0624020185 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die koms van die komeet

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1960
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agter my ’n albatros

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1961
  • 1963
  • 1965
  • 1966
  • 1969

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die voortreflike familie Smit: ’n vertelling

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1964
  • 1968
  • 1972
  • 1977

ISBN

062401018X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1968

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

20 days that autumn, 21st March – 9th April 1960

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Olive Schreiner Prize 1964

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die banneling: die lyfwag

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oom Kolie gee raad: ’n klug in drie bedrywe

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Blyspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dié wat met die fluite loop

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die groot gryse

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1969
  • 1970
  • 1973
  • 1987

ISBN

0624024695 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

  • Biografiese roman
  • Historiese roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Geseënde dag: nege verhale

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kroniek van Perdepoort

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1976
  • 1977
  • 1986
  • 2007 (Klassieke uitgawe)

ISBN

  • 0624006905 (hb)
  • 0624023672 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Hertzogprys 1975
  • CNA-prys 1975
  • WA Hofmeyr-prys 1977

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die derde tempel: ’n essay oor ’n besoek aan Israel

Publikasiedatum

1978

ISBN

0624011895 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op die rug van die tier

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624016803 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die loop van die rivier

Publikasiedatum

1986

ISBN

0624024008 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wolftyd

Publikasiedatum

  • 1991
  • 1994 (Sakformaatuitgawe)

ISBN

  • 062403030X (hb)
  • 0624033503 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Kaapstad: Ametis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die donker kind

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135794 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vos

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139412 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Anna M Louw beskikbaar op die internet

 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Zandra Bezuidenhout

    Kroniek van Perdepoort is in 2013 in Nederlands vertaal deur Rob van der Veer. Hy was ook verantwoordelik vir die Nederlandse vertaling van etlike boeke deur André P Brink en Karel Schoeman. Het uur van de engel het in 2015 verskyn.

  • Leave a Reply to Pierre-Marie Finkelstein Cancel reply

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top