Anglo-aardbewing

Foto van Ebbe Dommisse: Naomi Bruwer

Die geleidelike agteruitgang van die Suid-Afrikaanse ekonomie en staatsbestel in die laaste klompie jare word aan ’n hele klompie faktore gewyt, onder meer politieke onsekerheid. Maar aan een van die belangrikste oorsake, taalbeleid in ’n disfunksionele onderwysstelsel, word hoegenaamd nie genoeg aandag gegee nie.

Juis hieroor het pas ’n hoogs aktuele boek verskyn. Dit is Carolyn McKinley se Language and power in post-colonial schooling: Ideologies in practice (Routledge), waarin sy ’n sleutelvraag stel wat die hele Suid-Afrikaanse onderwysstelsel soos ’n aardbewing behoort te tref.

Eintlik is dit ’n baie eenvoudige vraag, maar soos Van Wyk Louw se klein, klein beiteltjie tik dit na die land se donker naat wat moet oopskeur om uiteindelik “met ’n bars dwarsdeur die sterre” te loop.

Sy vra gewoon: “Hoe is dit moontlik dat die waardevolste hulpbron wat ’n kind na formele skoling kan bring, taal, konstant as ’n probleem hergiet word?”

Klaarblyklik is hierdie priemende vraag allereers van toepassing op onvoldoende onderrig in huistaal of moedertaal. Tog is toenemende verengelsing die groot bekommernis in die ontleding van McKinley, en wat sy bepleit, is niks minder nie as die ontwrigting van ’n magtige beperkende taalideologie. Dis hierdie aardbewing wat die land se opvoedingstelsels benodig.

McKinley, medeprofessor aan die opvoedkunde-departement van die Universiteit van Kaapstad, het in haar omvangryke ontleding die term Anglonormativity geskep: die vaslegging van Engels as normatief, met gevolglike opperheerskappy in opvoeding.

Hieroor is sy hoogs krities, want dit belemmer in ’n vroeë stadium reeds skoolgaandes wat vanuit laerskool op groot skaal na Engels moet oorslaan. Sy praat van “asymmetrical relations of knowing”. (Aan haar universiteit is in die bekende Child Gauge-verslag bevind dat die onderprestasie van veral swart skoolgangers – wat huistaalonderrig net tot graad 4 het – so groot is dat hulle teen die einde van die sekondêre skoolfase minstens vyf jaar agter hul “bevoorregte” eweknieë met huistaal tot graad 12 is. Vyf jaar!)

Sy wys daarop dat die mins veeltalige mense in Suid-Afrika Engelssprekendes is. Eentaalopvoeding, boonop in WSafE (White South African English), is egter nie meer relevant in ’n globaliserende wêreld nie, en dit gee aanleiding tot skadelike rasse- en klasseverskille. Bowendien diskrimineer ’n dominante taal nie net teen anderstaliges nie; dit benadeel ook die eentaliges, omdat hulle eentalig bly!

McKinley se navorsing is veral op gevallestudies in Suid-Afrikaanse skole en Spaans en Afro-Amerikaanse Engels in die VSA gebaseer. Sy sluit aan, ofskoon sy nie daarna verwys nie, by een van die jongste werke oor hierdie verskynsel, Imprisoned in English deur Anna Wierzbicka. Hierdie Pools-gebore Australiese taalkundige betoog dat hoewel Engels globale betekenis as gebruikstaal het, dit nie ’n neutrale instrument is nie. Daar is goeie redes waarom Engels nie as die Stem van Waarheid en Menslike Begrip behandel moet word nie, en dis tyd dat geleerdes begin uitbreek uit die mure van die virtuele gevangenis wat hulle self met hul parogiale en ahistoriese anglosentrisme gebou het, sê Wierzbicka.

Voorts is in gesaghebbende verslae van Unesco bevind dat die gebruik van die voormalige koloniale tale in Afrika slegs die elite baat en die oorgrote deel van die bevolkings benadeel, veral wanneer dit as rookskerm vir politieke motiewe van dominansie en hegemonie dien. Pleks dat die inheemse tale saam met koloniale tale ingespan word, soos McKinley ook bepleit, gebruik die meeste Afrikastate steeds die koloniale taal as primêre taal van onderrig. Dit is een van die vernaamste oorsake wat ontwikkeling in Afrika strem, met die negatiewe gevolge van laegehalte-onderwys en marginalisering van die kontinent.

In Suid-Afrika het die statistikus-generaal, Pali Lehohla, wat die onderwysstelsel reeds as ’n “cocktail of disaster” beskryf het, pas weer verklaar dat dit enige kans pootjie om voordeel uit ’n gunstige demografiese dividend te trek. Volgens hom het die vlak van geskooldheid van die getal swart mense in die ouderdomsgroep 25 tot 34 ingekrimp tot laer as wat dit in 1994 was. Hierdie kreeftegang in die stotterende ekonomie hou ongetwyfeld verband met die heersende, tipies postkoloniale taalideologie.

’n Leemte in McKinley se boek is dat daar geen vermelding is van wat bereik is in Afrikaans, die een inheemse taal wat tot die hoogste vlak van akademiese en wetenskapstaal ontwikkel het nie. Presies hieroor het Kole Omotoso, die Nigeriese intellektueel wat aan Suid-Afrikaanse universiteite klas gegee het, in 1994 verklaar: “If the Afrikaners need a new language that could make the Western influence on the one hand and their African experience, on the other, intelligible, why would Africans think that they could have the same experience in the language of Europe alone, without domesticating that thought in African languages?”

McKinley se progressiewe insig is nogtans van groot belang ook vir tersiêre onderrig, noudat voorheen Afrikaanse universiteite so roemloos tou opgooi, met ’n onderrig-, werwings- en toelatingsbeleid wat aan Engelssprekende studente en dosente voorkeur gee. Tukkies, Kovsies en Unisa wil geheel en al verengels, en op Stellenbosch het ’n onervare bestuurspan verlede November ook sowat alles probeer verengels.

Sedertdien het Maties ’n taalbeleid aanvaar wat Afrikaanstaliges en hul taal as minderwaardig beskou, en poog die bestuur om die nuwe beleid, wat sommige akademici as ’n “pedagogiese dopstelsel” beskryf, aan sekere bruin mense te verkwansel. Op die hoogste vlak is egter erken dat Afrikaans nie gelyke status met Engels beklee nie (die universiteit sal dan glo “brand” as dit die geval sou wees). Tereg is daar vrese dat die verheffing van Engels tot dominante taal, met die bywonerstatus wat na ’n eeu van “geen mindere plaats” aan Afrikaans toebedeel word, net een uiteinde sal hê: klaarpraat.

Die eentaalworsmasjien produseer dalk “wêreldburgers” (vir ander lande?), maar hier te lande vererger verengelsing ’n disfunksionele skoolstelsel, waarin die helfte van leerders nooit matriek haal nie. Die reeds skrikwekkende druipsyfer aan universiteite styg, tog word grandiose dinge soos “wêreldklas” op internasionale ranglyste nagejaag. Pleks dat instellings uitgebou word wat allereers van betekenis en waarde vir die ontwikkeling van hul gemeenskap is, sodat hulle daardeur kan uitstyg tot die universele.

Begryp die Engelse taalbulle hoe retrogressief, hoe kolonialisties hulle eintlik is?

McKinley is sterk ten gunste van dinamiese meertalige onderwys, wat so vroeg moontlik moet begin terwyl onderrig in leerders se mees vertroude taal minstens 6–7 jaar moet voortduur.

Haar benadering omvat tweetalige of meertalige handboeke. Deesdae beweeg universiteite, waarvandaan kennis na skole moet deursyfer, egter na Engels vir verpligte studiemateriaal.

In postkoloniale konteks word dikwels verklaar dat ouers hul kinders graag in die dominante taal wil laat opvoed, maar McKinley weerlê dit. Navorsing in Suid-Afrika toon die teenoorgestelde aan: verreweg die meeste ouers is eerder ten gunste van én huistaal én Engels as hulle kan kies. Dit slaan terselfdertyd die wanstaltige propaganda die nek in dat, as jy prohuistaal is, jy anti-Engels is.

Ek het by die bekendstelling van McKinley se boek kortliks met haar gepraat oor GelykeKanse se veldtog om gemeenskapsontwikkeling deur huistaalonderrig te bevorder. Toe ek opmerk dat ’n mens nie iets van ’n taal moet wegvat nie, het sy die sin voltooi: “Yes, you must add!” 

Klaarblyklik gaan hierdie besef moeilik deurdring, veral tot ’n sogenaamde bevrydingsbeweging wat hegemonie op alle terreine nastreef. Voeg hierby Zuptafikasie in ’n rampokkerstaat, die vakbondwurggreep in onderwys, dalende standaarde. Ook die gonswoorde “dekolonisering” en “afrikanisering”, wat helaas uitloop op die vernietiging van “koloniale” simbole deur boekverbranders, tsotsi-geweldenaars, beeldebestormers op die nagwa …

As ’n mens dit alles gadeslaan, kan jy bra mismoedig word. Maar dan, wanneer die duisternis dreig om jou te oorval, moet jy ’n kers aansteek. McKinley het ’n kers aangesteek wat ’n helder lig oor die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel kan laat skyn.


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Kommentaar

  • Ja Wilhelm, solank ons glo dat ons Eerstewêreldstatus/standaarde in opvoeding gaan bereik deur 90% van ons leerlinge in hul tweede of selfs derde taal op te voed, sal ons gedoem bly tot 'n ewige ontwikkelende/afwentelende status. Geen ander land in die wêreld het dit al reggekry om hul mense in 'n tweede taal behoorlik op te voed nie. Die geforseerde gebruik van 'n tweede taal as medium van onderrig deur opvoeders wat meeste self nie die taal onder die knie het nie, beteken noodgedwonge dat ons die dwarslat moet verlaag om die slaagsyfer te handhaaf. Nou voeg ons nog gedekoloniseerde kennis daarby. Ironies gaan die eindproduk nogal gedekoloniseerde tweederangse Engelse kennis wees. Wie op aarde buite Afrika gaan hoegenaamd enigsins in sulke nuttelose kennis belangstel? Solank politieke agendas die opvoedkundige beginsels bepaal, sal ons politieke uitkomste verwerf. Vader behoed ons as ek kyk hoe onbeholpe ons land se politieke leiers is om enige iets net te laat werk , "never mind" te verbeter. Dit laat my dink aan die olifant wat van die krans afgespring het om van die lastige bosluis ontslae te raak - nie een van die twee het die val oorleef nie. Die gedehumaniseerde koerante het wel gespog dat die olifant 100% in sy doel geslaag het. Die politici se doel is om Afrikaans nek om te draai - net soos by die olifant, heilig die doel die middele. Die byproduk van 'n swak opgevoede massa wat maklik gemanipuleer kan word, is 'n bonus vir daardie gewetenlose politici.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top