André P Brink (1935–2015)

  • 1

Gebore en getoë

André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy was die oudste van vier kinders – met twee susters, Elsabé en Marita, en ’n jonger broer, Johan. Sy pa, Danie, ’n Swartlander van geboorte, was ’n magistraat en as gesin trek hulle baie rond – van Vrede na Jagersfontein, Brits, Douglas, Sabie, Bothaville en Potchefstroom.

André matrikuleer in 1952 aan die Hoërskool Lydenburg met die hoogste punte in die destydse Transvaalse matriekeksamen. Hy skryf sy eerste gedig toe hy nege jaar oud is en sy eerste roman, Vakansie in die noorde, op twaalfjarige ouderdom. Sy pa tik die manuskrip vir hom – maar die uitgewers stuur dit terug, omdat dit te eroties is! Daarna stuur hy verhale aan Die Jongspan.

Al vier die Brink-kinders behaal in hulle latere lewe hulle doktorsgrade – André en Elsabé in die letterkunde, Marita in sielkunde en Johan in fisika. Hulle ouers het nie die kinders onnodig gedryf om te leer nie, maar hulle is altyd aangemoedig om soveel as moontlik te lees. Hulle ma, Lettie, ’n nooi Wolmarans vanaf Bedford in die Oos-Kaap, was onderwyseres en het self kinderboeke geskryf .

André vertel aan Murray la Vita in Die Burger, 9 Mei 2008: “Ek was tussen twee en drie jaar oud en het iets aangevang wat my hoogswanger ma laat besluit het ek moet ’n pak slae kry. Ek het tot by my pa, die landdros van die Vrystaatse dorpie Vrede, se kantoor gehardloop. Buite die gebou het ’n swart polisieman wat in die wintersonnetjie gestaan het, aan my beduie waar my pa se kantoor is.”

Die jong André was so verlig toe hy sy pa sien dat hy in trane na hom toe gestorm het. Hy het aandagtig na sy seun se storie geluister en hom toe ’n paar stewige houe op sy boude gegee en die polisieman gevra om hom huis toe te vat.

“Dit is grootliks waar my dubbelsinnige verhouding met my pa begin het. Ek is steeds nie seker of ek ooit vrede gemaak het met die versnit van verraad en veiligheid in daardie voorval nie,” het hy aan Athol Fugard op LitNet in ’n onderhoud gesê.

Aan La Vita: “Dit is iets wat sekerlik dwarsdeur ons verhouding daar gebly het, want ek het altyd geweldig opgesien na hom. Hy was die landdros. Hy het absoluut oor reg en verkeerd besluit. Hy was vir my die inkarnasie as’t ware van god op aarde gewees.”

Maar alles in ag genome, het hy ’n goeie verhouding met sy ouers gehad.

“Veral met my ma. Ons was mááts in baie opsigte, alhoewel daar was kléin goetertjies waardeur sý my weer in die steek gelaat het. Soos, gewoonlik as ons albasters gespeel het, het sy gekroek, want sy was ’n verskriklike kuller. Maar met die mooiste glimlag in die wêreld en die beste bedoeling. Ek hét haar vergewe daarvoor, maar ek het ’n soort van ’n wrok bly koester ook, want wen was vir my verskríklik belangrik van kleins af al. Dit was eintlik een van die groot sondes wat ek in my jeug gehad het; ek moes altyd bo uitkom,” vertel hy aan Murray la Vita.

Verdere studie en werk

Na skool gaan André na Potchefstroom, waar hy BA studeer met Afrikaans, Engels en geskiedenis as hoofvakke. Later neem hy ook Frans as ’n ekstra hoofvak. Hy behaal sy MA-graad in beide Engels (1958) en Afrikaans (1959) cum laude. As jongman was hy lid van die Ruiterwag, die Jeugbond en die KJV. Van sy dosente op Potchefstroom was TT Cloete en Gerrit Dekker. Om sy sakgeld op universiteit aan te vul skryf hy onder skuilname kortverhale vir tydskrifte – op daardie manier kon hy meer as een kortverhaal in dieselfde uitgawe gepubliseer kry.

Hy vertrek hierna na Parys in Frankryk, waar hy vergelykende literatuur aan die Universiteit van die Sorbonne studeer. Sy skryfloopbaan begin in alle erns hier. Lobola vir die lewe dateer uit hierdie tyd. Die twee jaar in Parys was ’n deurbraak vir hom. Hierdie beginjare in Parys was André eensaam, aangesien hy "homself en sy werk moes aanvaar het". Hy het daar begin eksperimenteer met die roman-genre en ook om sy "potensiaal na te vors op onkonvensionele wyses”. Hy was egter nie alleen met hierdie eksperimentering nie en só is die Sestigers gebore.

André sê self: "Ek is ‘gebore’ op ’n bank in die Luxemburg-tuin in Parys – toe ek 23 jaar oud was. Voorheen het ek in Suid-Afrika my eie, byna oorbeskermde agtergrond geken. Daar was my kinderdae op klein plattelandse dorpies, studentedae aan ’n Afrikaanse universiteit ... en toe Parys.”

In 1958 word Die meul teen die hang en Die gebondenes gepubliseer en in 1960 Eindelose weë. Sy eerste drama, Die band om ons harte, verskyn in 1959. Ook in 1959 is André met Estelle getroud. Die huwelik hou egter nie baie lank nie.

In 1961 word hy aangestel as lektor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan Rhodes-universiteit in Grahamstad. Hy is “versot op die idee van ’n klein universiteit waar ’n mens saam met jou studente om ’n tafel kan sit en praat”.

In 1962 betree André sy eerste belangrike fase in sy kunstenaarskap met die publikasie van Lobola vir die lewe, wat as sy werklike debuut beskou kan word. Hy verower met hierdie werk die Reina Prinsen-Geerligs-prys. Lobola vir die lewe moet gesien word in die lig van ’n totale reaksie teen en die verwerping van die maatskaplike norme van daardie tyd. Nog nooit tevore is godsdiens en erotiek só tematies in die Afrikaanse letterkunde uitgebeeld en ontgin nie.

Hierna volg Die ambassadeur (1963) met Parys as agtergrond; Orgie (1965), wat hy volgens berigte saam met Ingrid Jonker geskryf het; en Miskien nooit (1967). In 1965 trou hy met Salomi Louw, ’n aktrise, maar die huwelik word na ’n jaar ontbind.

Orgie is later vir die toneel verwerk en is tydens die Woordfees van 2014 opgevoer met Stian Bam en Tinarie Van Wyk Loots in die rolle van "hy" en "sy".

Twee jeugverhale, die Bakkies-reeks, verskyn ook in hierdie tyd, asook ’n klompie toneelstukke, soos Caesar (1961), Bagasie: triptiek vir die toneel (1965) en Elders mooiweer en warm (1965). In 1963 word Caesar met die Eugène Marais-prys bekroon. In 1969 sê André na kritiek op Miskien nooit: “Ek is geamuseerd oor die kritiek op my werke. Dit laat my koud. Ek sal voortgaan op die pad wat ek ingeslaan het, want ek weet ek skryf vir my mense.”

André se sosiale verbintenis met Parys word in 1968 herbevestig met sy tweede besoek aan die Franse hoofstad. Hy het nie gedink hy sou ooit weer na Suid-Afrika terugkeer nie, maar in Parys was dit die tyd van die studente-oproer en hy het besluit om tog maar terug te kom en die reaksie op sy skryfwerk vierkantig in die oë te kyk. Ook het hy homself voor die keuse gestel of hy met geweld wil oprul teen die regering van die dag en of hy eerder sy skryfwerk sou gebruik as ’n manier om sy eie mense bewus te maak van die euwels van apartheid.

Intussen word hy as senior lektor by Rhodes aangestel en in 1975 word hy benoem tot medeprofessor in Afrikaans-Nederlands ná die verwerwing van sy DLitt-graad op grond van sy gepubliseerde werke, Aspekte van die nuwe prosa, Aspekte van die nuwe drama en Die poësie van Breyten Breytenbach. Hierdie DLitt-graad was die eerste in die geskiedenis van die Departement Afrikaans-Nederlands aan Rhodes.

Met ingang 1980 word André aangestel as hoof van die departement met die aftrede van Johan Smuts, ’n posisie wat hy beklee het tot die einde van 1990, toe hy in die Departement Engels van die Universiteit van Kaapstad aangestel is.

In 1970 trou André met Alta Miller nadat hulle mekaar in Bloemfontein ontmoet het tydens die opvoering van een van André se verhoogstukke. Alta was op daardie stadium hoof van die destydse Sukovs se garderobe. Uit hierdie huwelik is twee kinders, ’n dogter en ’n seun, gebore. Daar is ook twee kinders uit sy ander huwelike. In 1987 skei André en Alta, en nie lank daarna nie tree hy in die huwelik met Marésa de Beer. Hy dra sy boek States of emergency aan haar op.

In Junie 2006 trou André en Karina Szczurek nadat hulle mekaar in 2004 by ’n simposium oor South Africa in perspective in Salzburg ontmoet het. Van haar sê hy dat sy “Dié Een” is en dat hy sy "hele lewe sien as voorbereiding op haar” (Rapport, 19 Junie 2005)

In 1969 is André die spreker op ’n vergadering van die Pretoriase Skrywerskring. Die titel van sy lesing is “Letterkunde van 60 en 70: diagnose en voorskrif”. Hy “beskou die letterkunde as vloeiend uit ’n tyd waarin daar geen absolute waardes meer bestaan nie. Dit hang saam met die ontwikkeling van die wetenskap.” Een van die "voorskrifte" is dat die letterkunde van die 1970's hom moet bemoei met die probleme van die gemeenskap van daardie tyd. En dat dit gedoen moet word met die "wapens wat deur die Sestigers verower is".

As gevolg van André se weiering om dinge waarteen hy gekant was, sonder meer te aanvaar, is hy gereeld in die pers en op ander gebiede gekritiseer. In 1969 word hy aangestel om die regie van Die terroriste van Albert Camus vir Truk te behartig. Truk se raad was baie ongelukkig oor die aanstelling, wat hulle as omstrede gesien het, en dring daarop aan dat Francois Swart die regie moet waarneem met Brink as slegs ’n medewerker. André was egter in alles behalwe naam die regisseur.

In 1970, tydens die Gandhi-gedenklesing naby Durban (“Mahatma Gandhi and his relevance to present-day South Africa”), lewer hy ’n striemende aanval op die regering van die dag se apartheidsbeleid. In Januarie 1972 skryf hy in ’n brief aan Die Transvaler dat geen Afrikaner homself ’n Christen kan noem nie. In Februarie 1974 moet die direkteur van onderwys van die Wes-Kaap toestemming verleen aan André dat hy uittreksels van sy werk kan voorlees aan leerlinge van die Cape Town Hoërskool: “Mr Brink will be required to confine himself to comments on his own work and to avoid contentious matters and political questions.” Hy word ook gevra om in 1975 ’n toespraak tydens Bram Fischer se verassing te lewer.

André se loopbaan as kritikus lewer ook vele polemieke op. In ’n artikel in 1975 getiteld "’n Eerste verkenning van enkele aspekte van André P Brink se kritiese werksaamhede" wat in 1975 in ’n uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde veskyn het, kritiseer Gerrit Olivier hoofsaaklik Brink se werk as resensent in Rapport. In 1988 bevind hy hom midde in ’n “storm” as dat hy nie links genoeg sou wees nie en dat hy wins sou trek uit die stelsel wat hy so veroordeel het. Die aanval is geloods deur Chris Coetzee in die tydskrif Stet.

En toe, in 1973, verskyn Kennis van die aand. André vertel self: “Agt jaar se sweet en bloed sit agter Kennis. Die titel het sy oorsprong in die geskrifte van die Spaanse filosoof San Juan de la Cruz wat hier in Suid-Afrika St Jan van die Kruis genoem word. Hy verwys na ‘dagkennis’ en ‘aandkennis’ wat die mens besit. Omdat ons God nie direk ken nie, is ons kennis van Hom ‘aandkennis’. Dit is nie helder nie, maar donker, bykans onvolledig – soos die kennis wat ’n minnaar van sy beminde het. Daarby kom my eie interpretasie dat die ‘witmens’ ’n dagmens is en die man met die donker huid ’n aandmens.”

Kennis is ’n belangrike keerpunt in sy oeuvre. Dit betrek die dilemmas van die veelrassige Suid-Afrikaanse samelewing. Nie lank na die verskyning van die boek op die rakke nie, word ’n klag by die Publikasieraad ingedien en word Kennis van die aand die eerste Afrikaanse boek waarop ’n algehele verbod deur die destydse Sensuurraad geplaas word. Na ’n hofsaak en geweldige publisiteit plaaslik en oorsee word Kennis uiteindelik in 1982 ontban. In 1975 word die Engelse weergawe van Kennis met die titel Looking on darkness die eerste boek van Brink wat in Amerika verskyn.

Intussen gaan André voort met skryf en in 1975 verskyn Oomblik in die wind. Vir die eerste keer wys die uitgewers Human & Rousseau ’n manuskrip van die hand uit vrees vir die sensuurwet. Dit word gevolglik op ’n niekommersiële basis in ’n beperkte oplaag slegs aan intekenare uitgegee. Binne drie dae was Oomblik in die wind se tweede druk uitverkoop. In Oktober 1976 besluit die Sensuurraad dat die boek nie ongewens is nie.

André ontvang ook aanbiedinge vir die filmregte van sy romans en A dry white season is vir die internasionale filmmark gemaak. Hy skryf in 1972 die draaiboek van Peetpa, ’n satire op The godfather. Koos Roets is die regisseur. Hy verkoop ook die regte van Oom Kootjie Emmer aan Quadro-films. In 1975 verwerk hy Olive Schreiner se Story of an African farm vir die verhoog en in 1975 word dit in Pretoria opgevoer. Sy Hamer van die hekse, wat ’n verwerking van Leipoldt se Die heks is, word ook in Pretoria op die planke gebring. André is ook die verwerker en regisseur van die filmweergawe van CM van den Heever se Somer. In 1979 skryf hy die draaiboek vir die televisiereeks The Settlers, wat oor die 1820-setlaars handel, asook ’n dramareeks van 13 episodes, Glitter, oor Kimberley en die diamantbedryf. ’n Verhaal van Herman Charles Bosman, “The picture of Gysbert Jonker”, word deur hom vir TV1 verwerk.

In 1982 word Houd-den-Bek gepubliseer, en hier word die kwessie van slawerny wat André só gefassineer het, reeds aangeraak. In 2012 is Houd-den-Bek in Occitaans vertaal, ’n skaars dialek wat in die suide van Frankryk gepraat word. Hy vertel aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 6 Desember 2011): “Daar’s maar ’n handjievol sprekers van dié taal in die wêreld en om daarin vertaal te word, is vir my een van die wonderlikste dinge wat nog ooit met my gebeur het,” sê ’n Brink wat baie in sy noppies was met die vertaling. “Die taal is soort van ’n soort oorgrootjie van Frans, ’n variant van Provensaals,” verduidelik hy. “’n Argentynse skrywersvriend van my het gesê nie eens Gabriel García Marquez is al daarin vertaal nie! Dit bring nou, sê hulle my, die aantal tale waarin my werk verskyn het, op 36 te staan. Hierop, kan ek jou verseker, gaan daar ’n baie, baie spesiale wyn oopgemaak word!

“Kyk, ek het al vantevore jubelend gevoel om te verskyn in tale soos Chinees of Viëtnamees, of Serwies of Kroaties, of nader aan die huis Xhosa of Ndonga. Of om opgevoer te word in Bulgaars of iets dergeliks. Maar ’n besonderse kersie moet aangesteek word vir dié Occitaanse oomblik.”

Hy weet steeds nie hoe en waar die Occitane sy boek oorspronklik in die hande gekry het nie. Al wat hy weet, is dat hy ’n paar van hulle ’n ruk gelede by ’n uitgewery in Toulouse raakgeloop het. Vandag word Occitaans (oftewel die langue d’oc – waar ook die streek sy naam vandaan kry) nog plek-plek in die suidweste van Frankryk gepraat, veral rondom Toulouse naby Bordeaux en dan na die Pireneë se kant toe.

“Toe ons meer as ’n jaar gelede daar was, het ek gehoor dat so iets dalk kan gebeur. Hulle het ook ’n geleentheid gereël waar daar uit die Franse en Occitaanse tekste voorgelees en voorgedra is, maar ek het nooit gedink ’n vertaling het ’n kat se kans om ooit werklikheid te word nie,” sê hy.

André P Brink was ook meester om sketse te skryf. Hy het vanaf 1968 gereeld sketse geskryf vir die Sondagkoerant Beeld en later Rapport, en ook vir Wynboer. Baie van hierdie sketse is opgeneem in bundels soos Die wyn van bowe, Die klap van die meul, ’n Emmertjie wyn, Loopdoppies en Die fees van die malles. In 1986 is van hulle weer uitgegee onder die titel Mal en ander stories. Dit het etlike herdrukke beleef, met die laaste in 1999. Deur hierdie sketse te lees het baie lesers met ’n ander sy van sy skrywerskap te doen gekry en baie plesier daarvan gehad. Hy self het dit "vingeroefeninge" genoem. (Rapport, 6 Februarie 2000)

André se internasionale statuur bly groei en in 1983 word hy gevra om ’n anti-apartheidsartikel te skryf vir ’n eksklusiewe publikasie wat as katalogus sal dien vir ’n internasionale kunsuitstalling met die titel Kuns teen Apartheid wat onder beskerming van die VVO se sentrum teen apartheid georganiseer is.

Met sy 50ste verjaardag in Mei 1985 sê sy vriend Koos Human: “(B)y die breë publiek staan André waarskynlik opgeteken as rebel, volksvyand, dalk selfs kommunis ...”, maar vir Human het hy vir 30 jaar “’n ewewigtige, rustige en besadigde vriend, skrywer en adviseur” gebly.

Die Universiteit van die Witwatersrand ken in 1985 ’n eredoktorsgraad aan André toe, met die Universiteit van die Vrystaat wat dit in 1997 doen vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse letterkunde en geesteswêreld, en die Universiteit van Pretoria in 2003.

In Oktober 1994 woon koningin Beatrix van Nederland en haar man ’n lesing van Brink by op ’n simposium wat deur die Stichting Koninklijk Paleis te Amsterdam in Nederland gereël is. Hy lewer die inleidende lesing getiteld "Anatomy of a miracle". Hy praat oor hoe die verandering in Suid-Afrika internasionaal en plaaslik voorberei is, in watter mate die verandering ’n laboratorium vir die wêreld word, en wat die toekoms daarvan kan bedreig.

In 1998 lewer André die Langenhoven-gedenklesing ("Grense van waarskynlikheid") tydens die KKNK en in 1999 die tweede TT Cloete-gedenklesing ("Die duisend-en-tweede nag"). In September 2003 lewer hy die NP Van Wyk Louw-gedenklesing oor "Van Wyk Louw en die idee van vernuwing".

André se teenkanting vanaf die 1960’s tot die 1980’s en sy onversetlike afkeer van ”man’s inhumanity to man”, die geweld van die apartheidsera en die briljantheid van sy aanval op "die stelsel” maak van hom een van die mees omstrede letterkundige figure in Suid-Afrika. Ten spyte van, of dalk te danke aan, al die kontroversies behaal André se boeke ongekende sukses oorsee en word hulle vertaal in onder andere Fins, Noorweegs, Sweeds, Nederlands, Duits, Frans, Spaans, Engels, Turks, Japannees, Yslands, Italiaans en Russies. Die vertaling van ’n Droë wit seisoen in Viëtnamees bring die aantal wêreldtale waarin sy boeke vertaal is, op 30 te staan.

Aanvanklik word hy wat toekennings betref, ook meer in die buiteland geëer as hier plaaslik. Looking on darkness is in 1976 saam met 11 ander benoem vir die toekenning van die beste buitelandse boek wat in Frans vertaal is. In Januarie 1977 is dit in Swede die boek van die maand. In 1983 is 280 000 eksemplare van sy boeke in Swede verkoop. In 1976 en 1978 word An instant in the wind en Rumours of rain albei benoem vir die hoogaangeskrewe Booker-prys in Engeland en word Brink vir Rumours of rain saam met Kingsley Amis naaswenner ná Iris Murdoch. Hy word ook drie maal benoem as kandidaat vir die Nobelprys vir Letterkunde.

Op 4 April 1980 ontvang André die Martin Luther King-prys vir A dry white season. Hierdie prys word jaarliks in Brittanje toegeken vir die bevordering van geregtigheid en gelykheid vir almal op ’n niegewelddadige manier – dit wil sê aan enige letterkundige werk wat die ideale van Martin Luther King nastreef.

In November van dieselfde jaar word Brink die eerste Suid-Afrikaner wat die Prix Médécis Étranger in Frankryk ontvang. Die Franse eerbewyse stroom in: in 1983 ontvang hy lidmaatskap van die Franse Legioen van Eer; in 1987 word hy Officier de l’Ordre des Arts et Lettres; en in 1993 Commandeur de l’Ordre des Arts et Lettres.

In 1992 vereer die Universiteit van Uppsala in Swede hom met ’n toekenning vir sy bydrae tot die bevordering van menseregte. Hierdie Monisamiën-toekenning word al om die ander jaar in Uppsala deur die Monisamiën-stigting gedoen. Hiermee volg André in die voetspore van onder andere Lech Walesa van Pole, die Koreaanse digter Kim Chi Ha en die Franse regsgeleerde en politikus Simone Weil. Hy dien ook op die jurie van die Jean-Jacques Rousseau-prys vir Filosofie wat in Switserland gesetel is. Die enigste ander buitelandse jurielid is die Nobelpryswenner Saul Bellow.

Imaginings of sand, die vertaling van Sandkastele, ontvang in 1997 die Mondello Vyf Kontinente-prys vir Wêreldliteratuur. Vorige wenners van hierdie prys is F Dürrenmatt, Günther Grass, Milan Kundera, VS Naipaul, Kurt Vonnegut en JM Coetzee. Imaginings word ook benoem op die kortlys vir Ierland se gesogte Impac-Dublin-boekrpys in 1998.

Plaaslik ontvang Brink, benewens die Eugène Marais-prys vir Caesar, ook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir vertaalde werk in 1971 vir die vertaling van Lewis Carroll se Alice through the looking glass. In 2011 verskyn sy naam op IBBY se erelys vir sy bydrae tot letterkunde vir die jeug en kinders in Suid-Afrika vir sy vertaling van Alice in Wonderland, Die avonture van Alice in Wonderland.

In 1965 word die Afrikaanse CNA-prys aan sy reisverhaal, Olé, toegeken en die Engelse weergawe word in 1978 en 1982 onderskeidelik aan Rumours of rain en A chain of voices toegeken. In 1994 wys die Akademie vir Wetenskap en Kuns André aan as die wenner van die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap, maar hy wys dit van die hand as gevolg van die feit dat hy sedert sy aanstelling in die Departement Engels in 1991 wegbeweeg het van die gebied van die Afrikaanse letterkunde en hy dus geen bydrae kon gelewer het wat die toekenning van die prys sou regverdig nie. In 1994 word hy weer aangewys as die wenner van hierdie prys en hierdie keer aanvaar hy dit.

In die negentigerjare van die vorige eeu begin die plaaslike erkennings inkom: in 1999 word Duiwelskloof bekroon met die WA Hofmeyr-prys; in 2000 word André aangewys as Boekjoernalis van die Jaar vir bydraes gelewer in LeadershipInsig en The Sunday Independent; en in 2000 en 2001 ontvang hy uiteindelik die Hertzogprys – die eerste keer vir drama met Die jogger en die tweede maal vir prosa met Donkermaan. En weer bly die kontroversie nie agterweë nie toe kritici beweer dat Donkermaan nie sy beste werk is nie, maar dat dit ’n sentimentele toekenning is om reg te maak wat in die verlede verbrou is.

Tydens die Volksblad-kunstefees in 2002 reël die Departement Afrikaans-Nederlands van die UV ’n André P Brink-seminaar waaraan vele vooraanstaande figure in die Afrikaanse letterkunde deelneem. Brink word ook aangewys as die feeskunstenaar en ’n uitgawe van die letterkundige tydskrif Stilet word aan hom gewy.

Met The other side of silence volg André Brink in 2003 in die voetspore van Nadine Gordimer, Zakes Mda en JM Coetzee toe die werk aangewys word as die wenner van die Statebondskrywersprys vir Afrika. Dit word ook bekroon met Sunday Times se Alan Paton-prys vir fiksie in 2003. 2006 beteken ook ontvangs van die Suid-Afrikaanse Letterkunde-toekenning van die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur en die Orde van Ikhamanga (Silwer), asook die Universiteit van Johannesburg-prys vir skeppende skryfwerk vir Bidsprinkaan. Die Engelse weergawe van BidsprinkaanPraying mantis, word benoem vir die kortlys van Sunday Times se fiksieprys. Bidsprinkaan is ook in 2006 bekroon met die M-Net-prys vir Afrikaanse teks in lang formaat.

Tydens die Suidoosterfees van 2015 in Kaapstad is die verhoogverwerking van Bidsprinkaan op die planke gebring, asook by die KKNK.

Tydens die jaarlikse prestigedinee van die Suid-Afrikaanse Brandewyngilde in 2006 word André vereer vir sy “ongelooflike bydrae tot die brandewynbedryf in Suid-Afrika nadat hy twee van die beste boeke tot nog toe oor die bedryf geskryf het – Brandewyn in Suid-Afrika en Essence of the grape.”

Met die benoeming van Inteendeel en The first life of Adamastor in 1994 vir onderskeidelik die Afrikaanse en Engelse afdelings van die M-Net-Boekprys behaal Brink weer ’n eerste. In 1996 ontvang hy saam met Elsa Joubert die Afrikaans Onbeperk-toekenning tydens die KKNK. In sy motivering vir die toekenning aan André sê Adam Small dat “André P Brink se werke so omvattend is, so ’n groot register in die breedte en diepte daarvan behels, dat ’n mens se dankie sê daarvoor nie eensklaps uitgesê kan word nie” (Die Burger, 23 Maart 1996).

Die verskyning van Die kreef raak gewoond daaraan in 1991 kom na ’n redelik lang stilswye van André se kant af. Die roman het reeds in die 1980’s sy begin gehad (die eerste hoofstuk is gepubliseer as Die eerste lewe van Adamastor) met die idee om te probeer vasstel watter rol geweld deur die loop van dertien geslagte Afrikaners gespeel het. “Van 1984 af, met die woelinge in die land, was dit ’n lang tyd nie moontlik vir my om te skryf nie. Selfs na die verskyning van States of emergency het die ander roman op die agtergrond bly vra om geskryf te word. Die sneller was Hein Grosskopf, hoewel die roman niks met hom te doen het nie,” het André aan Cas van Rensburg vertel.

In ’n onderhoud met Cas van Rensburg in Insig na die verskyning van Duiwelskloof vertel André dat hy die roman tot dertien keer oorgeskryf het, “veral om die toon van die verteller se stem reg te kry, en ook om die slot reg te kry. Die roman was al omtrent by die drukker voordat ek die regte slot losgedroom het."

Hy loop gewoonlik ’n paar jaar met die idee van ’n boek in sy kop en broei – en dit was ook die geval met Duiwelskloof. Op ’n vraag oor die skryf in Engels en in Afrikaans, antwoord hy: "Dit is onontbeerlik vir my skryfwerk om in albei tale tegelyk te werk en oor en weer te vertaal en te skryf. Duiwelskloof is meestal in Afrikaans geskryf (omdat die gegewe en die stories so oer-Afrikaans is), maar elke slag as ek my vasgeskryf het, het ek oorgeslaan na Engels om my in ’n ander dinkraam te plaas en dan so daaruit te kom."

Met die reusetaak van die hersiening van Groot verseboek in 2000 agter die rug vertel hy aan Hettie Scholtz dat dit ’n taak was wat hy beskou as ’n “herontdekking van ’n regtig merkwaardige poësie. Met die uitdaging om te herwaardeer aan die verlede en tegelyk te luister na al die stemme wat so lank nie kans gehad om sonder begrensing gehoor te word nie.”

Dit was eers met die skryf van Donkermaan, wat in 2000 verskyn het, dat André probeer het om sin te maak van sy verhouding met Ingrid Jonker en van haar verhouding met Jack Cope. Die skryf van hierdie roman het hom ook gehelp om vrede te maak met die proses van ouer word en met die eensaamheid wat só nou aan die ouderdom verbind is.

Teenoor Marietjie Smith bieg André in Volksblad van 18 Julie 2005 dat Bidsprinkaan vir hom, van al sy werke, die meeste vreugde gebring het. Hy het die storie vir twintig jaar weggebêre voordat dit vertel is. Die kreef raak gewoond daaraan was die vermoeiendste vanweë die lengte en Die muur van die pes en Sandkastele die mees uitdagende, omdat hy direk uit die vrou se standpunt moes skryf.

In 2006, nadat sy dogter die slagoffer van ’n roof in ’n restaurant was, skryf André in The Sunday Independent dat hy nie meer glo dat daar goeie rede is om optimisties oor Suid-Afrika te wees nie. Hierdie berig verskyn in vooraanstaande koerante oral in Europa en maak opslae.

In 2008 word Ander lewens: ’n roman in drie dele gepubliseer. Hieroor skryf Helina du Plooy: "Die teks bestaan uit drie verhale oor drie stelle karakters wat na aan die einde van die laaste verhaal almal saam in ’n dramatiese insident betrokke is. Die drie dele of verhale is getiteld 'Die blou deur', 'Spieël' en 'Appassionata' wat, volgens die flapteks, ál meer met mekaar verwikkel raak en daarmee vrae stel oor die grens tussen droom en werklikheid, herinnering en verbeelding, die bekende en die onbekende.

“'Die Blou Deur’ het ek baie jare terug, in 1968, gekry toe ek die jaar in Parys was en op ’n dag van die mark af teruggekom het na die kamertjie wat ek by Breyten-hulle in hul woonstel gehad het," vertel Brink aan Murray la Vita (Die Burger, 9 Mei 2008). “En toe ek voor my groen deur te stane kom, het ek sommer net die lawwe gedagte gekry: hoe snaaks sal dit nie wees as ek aan my eie deur klop en ’n vreemde persoon maak oop nie – die geweldige skok daarvan.

“En ek het oor die jare partykeer weer begin dink ek moet teruggaan na daardie idee toe. Dit was eintlik ’n terugdwaal in ’n soort droomwêreld in. Die herinneringe aan daardie jaar in Parys met ’n paar drome wat ek intussen gehad het. Daar was een obsessiewe droom wat ek tot en met die skryf van ‘Die Blou Deur’ gehad het. Ek sou elke kort-kort in die nag droom dat ek êrens in ’n baie groot, deurmekaar gebou is. Ek kuier daar by vriende, of ek het ’n woonstel daar of iets. En dan moet ek uitgaan. En dan kan ek nie my pad terugkry in die gebou na die woonstel toe nie.

“Toe ek by die skryf hiervan kom, toe kom daardie droom terug, en ek dog toe dis nou ’n manier wat ek daai droom uiteindelik kan gebruik, want hy het my so gepla oor soveel jare. En die interessante is, van daardie moment af het die droom nooit weer teruggekom nie. Behalwe één keer! En dis eintlik ... as ’n mens dit so moet skryf, sal dit dalk kitsch lyk ... maar ek het weer die droom gehad so ’n rukkie nadat ‘Die Blou Deur’ gepubliseer was, waar ek in hierdie gebou was, uitgaan om iets te koop, terugkom ... en ek het toe my pad gekry.”

Heilna du Plooy skryf verder: "Al drie verhale het te make met kwessies van identiteit. In die eerste verhaal gaan ’n skilder om inkopies te doen en wanneer hy terugkom by sy ateljee, vind hy daar ’n vreemde vrou en twee kinders. Hy het hulle nog nooit tevore gesien nie, maar word ontvang as die eggenoot en pa. In die tweede verhaal kyk ’n man een oggend in die spieël en sien ’n gans vreemde gesig, meer nog, die gesig is swart. Hoewel almal skynbaar net soos tevore teenoor hom optree, ervaar hy self intense gevoelens van selfvervreemding en disoriëntasie. In die derde verhaal gaan dit om ’n musiekonderwyser wat gedroom het van ’n loopbaan as konsertpianis maar uiteindelik les gee aan (begaafde) leerlinge en goeie sangers begelei. Hy raak verlief op ’n sangeres en wanneer hy uiteindelik dink dat die verhouding tot vervulling sal kom, het hy ’n vreemde en waarskynlik noodlottige ervaring met ’n magies-realistiese of bonatuurlike vroulike verskynsel uit die verlede.

"In al drie gevalle bring die konfrontasie met die absolute onverwagte ’n diepgaande besinning teweeg wat ook daartoe lei dat die karakters die werklikheid gans anders moet benader en beoordeel. Die verrassende veranderinge hou wel telkens verband met aspekte van sowel die karakters se persoonlike verlede as die kollektiewe geheue en verlede van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Waar die kunstenaar homself steeds verwyt oor die bruin minnares wat hy in sy jeug in die steek gelaat het, het die ander karakters ook allerlei geheime (meestal seksueel van aard) wat hulle angsvallig van hul allernaaste verberg.

"Hierdie roman dra met drie verhale steeds die merktekens van Brink se vakmanskap. Daar is die goedgekose motto’s by elke verhaal wat die leser lei om subtiele toespelinge raak te lees. Daar is die slim vervlegting van die drie verhaallyne deur die karakters oor en weer te betrek. Daar is die virtuose uitsteltegniek en ordeningspatrone in die verhale en die vlot vertelstyl, maar daar is egter ook die nou te herkenbare temas soos die selfondersoekende ek-vertellers wat onherroeplik geneig is tot affairs.

"Brink-aanhangers sal egter die verhale nogtans met plesier lees as deel van die ligter tekste wat onteenseglik ’n belangrike plek in sy oeuvre inneem."

André se memoir, ’n Vurk in die pad, word in 2009 gepubliseer. ‘n Vurk in die pad se Engelse weergawe, A fork in the road, was in 2009 op die kortlys vir die Samuel Johnson-prys en in 2010 op die kortlys vir die Alan Paton Award.

Die idee van ’n konvensionele outobiografie het hom nog altyd afgeskrik. Wat hom laat swaai het, was ’n wonderlike aand saam met Günter Grass. Hy verduidelik aan Murray la Vita: “Ek het na aanleiding van die goed wat hy dié aand vertel het, vir hom gesê: ‘Maar my here, jy moet gaan sit en dit skrýwe! Jy moet jou outobiografie skrywe.’

“Hy het toe gesê: ‘Nee, ek sal dit nooit doen nie; ek lieg te veel.’ En ’n jaar daarna toe verskýn sy outobiografie. Dit is ’n outobiografie wat op so ’n nuwe manier geskryf is dat dit nie die gewone ou stap-vir-stap-storietjie is nie. En dis wat my laat dink het: wel, miskien kan ’n mens dit maar so aanpak.

“Dis waar my vrou ter sprake kom, omdat sy in terme van my hele lewe eintlik op ’n baie laat tydstip haar verskyning gemaak het uit ’n hele ander wêreld, uit die agtergrond van Pole en Oostenryk.

“Ek het toe gedink miskien is dit ’n moontlikheid om dit aan te pak as ’n reeks briewe aan háár; om aan haar te verduidelik waar ek vandaan kom en hoekom ek is wat ek is. In die mate wat ’n mens dit kan verduidelik.”

“Dit het sedertdien heeltemal verander. Dit is nie nou meer ’n reeks briewe aan haar nie. Sy is nog die begin en die einde daarvan, maar die idee van ’n reeks verskillende briewe, wat elk amper ’n essay is om ’n bepaalde aspek van my lewe aan te pak – dít het baie verander.”

’n Spreuk van die Amerikaanse bofbalspeler Yogi Berra het die deurslag gegee: “If you come to a fork in the road, take it.”

“Dit klink verspot en dit is snaaks. Maar as jy werklik daaraan begin kou, dan word dit iets met soveel metafisiese diepte daarin. En dit het vir my amper ’n metafoor geraak van die soort lewe waarmee ek graag wil slaags raak in hierdie memoir. Ons dink gewoonlik in terme van die keuses waarvoor jy te stane kom, partykeer bewustelik, partykeer baie onbewustelik. Jy kies dít, maar as jy daarna daarna terugkyk dan besef jy: ek het dít gekies, en daarmee het ek ál hierdie ander moontlikhede tóégemaak; afgesluit.

“Maar ek het ál meer oor die afgelope jare, en onder meer deur die skryf van Ander Lewens, agtergekom miskién is die ander moontlikhede nooit régtig afgesluit nie. Op ’n ander vlak, êrens hier in jou binneste, bly hulle nog as onverwesentlikte moontlikhede voortleef. Want niks is ooit finaal en afgesluit en spesifiek en presies nie,” sê hy.

Aan Murray la Vita verduidelik hy: “Die geweld het my van kleins af eintlik bang gemaak in myself, en dis een ding wat ek baie spesifiek met die skryf van die boek (’n Vurk in die pad) wou probeer in die oë kyk. Ek wou uitvind waar de f— kom dit vandaan, want ek het op die oog af so ’n rustige, aangename, snaakse, genotvolle jeug gehad. Daar is heel waarskynlik nóg dinge wat ek kan opgrawe, en mettertyd nog sal, maar juis deur dit nou só te doen, het ek dalk ’n stel paadjies vir my oopgemaak wat ek later weer sal loop, en waaroor ek later weer sal skryf.”

In ’n onderhoud met Willemien Brümmer (Beeld, 17 Februarie 2009) vertel hy oor ’n Vurk in die pad: “Op die een of ander manier is die meeste van die goed (in die memoires) nou al in my (fiksie-) boeke verwerk, verdoesel en verdraai, maar dié was tog ’n ander soort oefening. Ek kan my voorstel die naaste wat ’n mens daaraan sou kom, is om met ’n shrink te gaan sit en praat.

“Ek het hier agtergekom watter geweldige ontwrigting dit is om so in jouself in te grawe – net omdat selfs die kleinste, grapperige gebeurtenissie raak aan soveel ander goed, wat soveel ongemaklike en onthutsende dinge dan weer voor jou bring wat jy gedwing word om in die oë te kyk, dat dit werklikwaar jou slaap ontwrig of jou drome ontstig.”

Uiteindelik het die skryf hom teruggedwing “na die mees onbeskutte, wondbare oomblikke van my lewe”.

Brümmer vertel: "Van die mooiste, en seerste, gedeeltes in die boek gaan oor sy verhouding met sy magistraat-pa ('tweede in bevel, ná die Here God'), wie se herinnering steeds by hom bly spook. Hy skryf, 'dié keer sonder die beskermende kombersie van kamma-kamma', oor daardie Saterdagmiddag toe ’n vreemde swart man in sy pa-hulle se agterplaas opgedaag het. Die man se gesig 'het gelyk asof dit skoon uit fatsoen geslaan en deur ’n vleismeul gestoot is'.

"As ’n laaste uitweg het hy by die magistraat kom hulp soek, nadat sy baas en daarna die polisie hom tot ’n pappery geslaan het. Toe die magistraat uiteindelik by die huis kom, was sy woorde egter: 'Ek kan niks vir jou doen nie. Dis nie my werk nie.'”

Die wêreld het vir die jong seun van toe af verander en sy pa het in ’n ander mens verander. “Ek is verskriklik lief vir my pa, en ek het ’n helse deernis vir hom, maar daar is party dinge waarvoor ek hom nooit sal vergewe nie. Dinge wat ek nie sou kón geskryf het as hy of my ma nog gelewe het nie. Ek dink die boek het my in baie opsigte gehelp om terugwerkend dinge beter te verstaan, en miskien ’n bietjie meer vergewend daaroor te staan. Juis omdat ek die kwaadwees uit my uitgepraat het, kan ek nou ’n bietjie meer genadig wees.”

André Brink is in 2009 weer in die spervuur nadat die eerste Jan Rabie en Marjorie Wallace-skryfbeurs aan hom toegeken is. Die beurs laat die ontvanger daarvan toe om ’n jaar lank te fokus op die skryf van ’n roman en word deur die Universiteit van Wes-Kaapland geadministreer. Die beurs het Brink in staat gestel om die verhaal van die slavin Philida opgeteken te kry, soos wat hy die keurpaneel vir die beurs in sy aansoek belowe het.

Vir André het hierdie toekenning meer betekenis gehad as enigiets anders wat hy al ontvang het. Die idee vir Philida was in sy kop en hy was reg om met die roman te begin. Hy het op LitNet aan Shané Kleyn verder verduidelik: "Daar was egter die simpel maar belangrike praktiese probleem dat ek met soveel finansiële en ander praktiese probleme gesit het dat ek amper nie tyd gehad om te skryf nie. Nou skep hierdie beurs die geleentheid om, soos die Woord sê, die tyd (letterlik) uit te koop. En dis ’n wonderlike gevoel van innerlike ruimte. Voeg dan hierby dat die prys van Jan en Marjorie afkomstig is, twee vriende wat feitlik lewenslank vir my baie kosbaar is, met wie ek veertig jaar lank op soveel vlakke soveel kon deel. En dat UWK dit administreer, gee daar ook ’n bepaalde belangrike dimensie aan. Veral sedert Jakes Gerwel se tyd het ek ’n baie besondere gevoel vir die UWK en die waardes en die wêreld wat dit verteenwoordig. Dit sluit direk aan by die gegewe van die roman wat ek wil skryf. Op dié manier het alles net eenvoudig saamgewerk.”

Verskeie meningskrywers het egter teen hom losgetrek oor sy aansoek vir en aanvaarding van die beurs. Hulle meen die beurs moes aan ’n jong skrywer, verkieslik bruin en uit “minder gegoede” omstandighede toegeken gewees het. André het aan Rapport (14 Desember 2009) gesê dit is “duidelik dat die beswaar eintlik teen die kleur van my vel en/of my gewaande ‘bevoorregte’ ekonomiese posisie gerig is. Oor die kleur as sodanig het ek alreeds gesê dat ek eerlik sou hoop dat ons teen dié tyd by hierdie benouende apartheidsdenke verby is. Die reglement van die beurs het dit pertinent uitgespel dat die wedstryd bedoel is vir ’n belowende skrywer óf ’n skrywer van aansien.”

Hy het verder gesê: "Ek is oortuig dat die beurs duidelik fokus op die produk wat daaruit moet voorkom. En daaroor kan mense eers besluit wanneer die projek mettertyd voltooi is en gepubliseer word. Die hele onderneming is ingestel op wat daaruit mag spruit, dit wil sê uit die gehalte van die voorlegging oor die projek wat beoog word. En daardie produk (Philida) is uit die staanspoor ingestel op ons slawegeskiedenis: dus op die mense uit wie vandag se bruin Suid-Afrikaners gebore is en wat aan die Afrikaanse taal sy beslag gegee het. En ek het meer as genoeg skriftelike getuienis van Jan (Rabie) (en skilderye van Marjorie Wallace) om hul waardering daarvoor te staaf.”

André het op die geskiedenis van die slawevrou Philida afgekom danksy Mark Solms, professor in neuropsigologie en eienaar van die wynplaas Solms Delts tussen Stellenbosch en Franschhoek. “Hy het die plaas (aangelê in 1691) gekoop nadat hy Houd-den-Bek gelees het, die boek ook die merkwaardige museum geïnspireer het wat hy op die plaas ingerig het. Toe hy en sy skitterende navorser Tracey Randle my die dokumentasie gewys het waaruit geblyk het dat twee van my eie voorouers, Cornelius Brink en sy seun Francois, vroeër die plaas besit het, was daar uit die aard van die saak ’n onmiddellike gevoel van betrokkenheid. En die verhaal van die slavin Philida, met wie Frans ’n verhouding gehad het, was al wat nodig was om iets binne-in my te laat gebeur,” vertel André verder aan Shané Kleyn.

Oor die aansluiting van die verhaal van Philida by Houd-den-Bek (1982) sê hy aan Kleyn dat dit die gegewe van slawerny is wat hom al sedert Kennis van die aand aangryp en wat hy graag vanaf soveel kante en soveel hoeke moontlik wil verken. “Ek weet daar is mense – veral mense wat nog vasklou aan apartheidsbegrippe oor kleur, oor wit en bruin en swart – wat bedenkinge daaroor het dat ek as ‘blanke’ oor so ’n gegewe wil skryf (en selfs dat ek as ‘blanke’ so ’n prys aanvaar het), maar ek sou tog hoop dat my hele lewe en bedryf as skrywer al behoort te gewys het in watter mate my hele skryfwerk uit Suid-Afrika en al sy mense voortkom en tot Suid-Afrika en al sy mense gerig is. Maar bowenal: Philida se stories wil ek skryf omdat haar storie ook my storie is. My eie voorouer was daarby betrokke en is een van die karakters. Ek kan myself nie ken tensy ek ook Philida verstaan en deur my eie bloed en gebeente eien nie.”

Na publikasie was Philida op die langlys van Brittanje se Man-Booker-prys vir 2012.

In Beeld van 3 September 2012 skryf Ena Jansen oor Philida (wat André Brink se laaste roman sou wees) : "Hoewel Philida nie so metahistories is as Houd-den-Bek nie, toon Brink deur die narratiewe struktuur en eksplisiete rame rondom sy vertellers dat hy as altyd betrokke skrywer wel deeglik ’n poging mág aanwend om onkenbare en ontwykende 19de-eeuse base én slawe se stories te vertel. En om ook te kyk wat dit vir die huidige tydvak te sê het. As so ’n poging is Philida lofwaardig en noodsaaklik."

In 2012 is Herinneringe aan Parys gepubliseer wat ’n keur bevat uit sy twee boeke Pot-pourri (1962) en Parys-Parys retoer (1969) en wat Naas Steenkamp ’n minnebrief aan ’n stad noem.

Tydens die Woordfees van 2013 is Mediterreense herinneringe bekendgestel. Dit bevat die beste stories uit sy reissketse oor Italië, Spanje en die suide van Frankryk: Sempre ditto, Olé en Midi.

In 2010 was André en Nadine Gordimer van die persone wat ’n petisie opgestel het om beswaar te maak teen die beoogde wet op die beskerming van inligting en ander wette wat spraakvryheid in Suid-Afrika sou bedreig. Hy het saam met onder andere oudminister Kader Asmal deelgeneem aan die protesoptog na die parlement. André het gevoel dat die regering Nelson Mandela se nalatenskap verraai. “Hulle het vergeet wie hulle gelei het tot waar hulle vandag sit. Indien die wetgewing goedgekeur word, raak dit almal, veral skrywers. Moenie met skrywers f-k nie” (Beeld, 28 Oktober 2010).

Oor jag en rugby vertel hy aan Murray la Vita: “Ek was lief vir jag. Dit was een van die dinge van my werklik prille jeug. My pa was ’n hartstógtelike jagter, en ek dink dit was een van die terreine waarop ons redelik na aan mekaar kon kom. Ek wou eintlik, ag die ou Afrikanerding, my manlikheid aan hom bewys deur óók te jag. Maar mettertyd het ek eintlik ’n soort afsku daaraan ontwikkel. Spesifiek ... ag, dit het eintlik betreklik laat gekom. Ná baie jare wat ek nie gejag het nie, het ek ’n produksie van Chris Barnard se Taraboemdery in die destydse Suidwes gaan doen, en ons het gaan jag op Dirk Mudge se plaas. Dáár het ek ’n gemsbok geskiet, en die ding het weggekom. Een ding wat Dirk vir ons voor die tyd gesê het, is: ‘Julle kan doen wat julle wil, maar julle kwes nié ’n bok nie!’

“Ek het ’n gát gevoel. Maar ons het die volgende dag toe ontdek ek het hom in die hart geskiet. Maar wat blykbaar gebeur, is ’n bok wat ’n skoot in die hart kry, raak aan die hardloop, en dan ná ’n ruk val hy. Die volgende dag het die Boesman-spoorsnyers hom gekry, ag nie twintig meter van waar hy geskiet was nie. Maar teen daardie tyd het die aasvoëls hom al in die hande gekry, en daar was behalwe die twee prágtige horings aan die skelet en die stukke uitmekaargeskeurde vleis, eintlik niks van die ding oor nie. En ’n gemsbok is so ’n pragtige ding. Dit was net vir my die doodskoot gewees. Ek het nóóit weer nie.

“Nee, ek sal nie nou meer ’n geweer kan optel nie. Karina [Szczurek, sy vrou] sal my ook nie toelaat nie. Sy is verskríklik sterk ingestel teen enige vorm van gewelddadigheid.

“Maar nouja, rugby se gewelddadigheid, dié spreek my tog aan. Ek het júis weer hierdie naweek gedink: wanneer rugby werklik goed gespeel word, soos ons (Stormers se) eerste helfte teen die Brumbies Saterdag, dan beséf jy hoekom dit so ’n houvas op jou kan hê. Dit word ’n soort poësie. Dit is aangrypend! Dit is pragtig! Maar, soos ’n stiergeveg, as dit sleg is, dan is dit wrágtag sleg.”

Dit is deur rugby dat sy verhouding met Karina “beslag gekry het”.

“Dit was aan die begin van die (toe nog) Super12, in die begin van 2005, toe ons mekaar nog net ’n maand of so geken het. Ek het toe een aand vir haar in ’n SMS gesê ek moet nóú gaan slaap, want môre-oggend moet ek 4:30 opstaan, want daar’s ’n wedstryd wat die Stormers teen een van die Nieu-Seelandse spanne speel.

“Die volgende oggend, ’n kwartier voor die wedstryd sou begin, toe bél sy vir my en sê sy wil net seker maak dat ek wakker is. Nou, dit was nog orraait. Maar die wedstryd was skáárs verby, toe bel sy en sy vra: ‘Did we win?’

“Ek dog toe: dáárdie vereenselwiging. Vir háár kan ek nie deur my vingers laat glip nie.”

André het in 2013 van uitgewer verander toe hy vanaf Human & Rousseau na Umuzi, ’n druknaam van Random House, geskuif het. Human & Rousseau was vir amper 50 jaar sy uitgewer. Hy het sy skuif só verduidelik: “Dit beteken vir my baie om met my nuwe werk na Umuzi oor te skuif. Ná 50 goeie jare by Human & Rousseau – eers onder die koesterende vlerk van Koos Human, daarna dié van Kerneels Breytenbach, en nog later by Alida Potgieter – moet dit duidelik wees dat die keuse van ’n uitgewer vir my as skrywer van besondere groot belang is. Ek hoop dit werk so uit dat ek die volgende 50 jaar my voete onder dié nuut gedekte tafel mag hou in geselskap waar ek werklik tuis voel.”

Fourie Botha, uitgewer by Umuzi, het gesê hulle is baie opgewonde om nuwe werk deur Brink, ’n “skrywer met ’n monumentale reputasie”, te kan publiseer. “Dat ons sy boeke in sy moedertaal uitgee, maak dit nog meer betekenisvol” (Die Burger, 19 April 2013).

In 2013 het André die ­Médaille Grand Vermeil De La Ville, die hoogste eer van die Franse hoofstad, ontvang. Die prys word toegeken aan ­leiers wat ’n belangrike invloed het.

Brink is in 2014 vir sy lewenslange bydrae tot die letterkunde deur die Kuns-en-Kultuurtrust (ACT) vereer.

Op 2 Februarie 2015 het die Franstalige Katolieke Universiteit in Leuven, België ’n eredoktorsgraad aan Brink toegeken. André het aan Willem de Vries in Die Burger (3 Januarie 2015) gesê dat die verering vir hom baie beteken, omdat Rob Antonissen, wat ’n groot invloed op hom gehad het, ook aan daardie universiteit studeer het.

"Die erkenning in België," sê hy, "is in hierdie stadium van my ­lewe eintlik kosbaarder as enigiets anders in die wêreld. Die band met Antonissen maak die eregraad des te belangriker vir my. Juis omdat ek so ’n agting het vir Antonissen, die hele benadering van die universiteit en die benadering van kultuur. Ek kan aan geen ander eerbetoon dink wat vir my meer kan beteken nie. Die eregraad beteken vir my ook baie vanweë die klem wat die universiteit met hierdie eregrade op skeppende kunstenaars plaas. Dít beteken vir my besonder baie, die feit dat dit gaan aan skrywers wat in verskeie kontekste ’n aktiewe, kreatiewe rol speel.”

Eve Ensler van Amerika en Jean-Claude Guillebaud van Frankryk sou terselfdertyd deur die universiteit vir hul skryfwerk vereer word. Volgens Martin Buysse van die Leuvense universiteit het hierdie skrywers “deur hul skryfwerk, as dade van blywende betrokkenheid, geveg om spesifieke beleide en die gemeenskap in die geheel te verander”.

André het die geleentheid in ’n rolstoel bygewoon met sy vrou Karina aan sy sy en hy het sy toespraak in Frans gelewer.

In sy commendatio het Martin Buysse gesê: "Jy is in 1935 gebore as die seun van ’n magistraat en ’n onderwyseres; jy word groot in die Calvinistiese Afrikanertradisie en in die konteks van geweld wat inherent is aan die geskiedenis van jou land. Jy bestudeer letterkunde aan ’n Afrikaner-universiteit. Daarbenewens skryf jy sedert jou kinderdae romans en toneelstukke met fassinering, hardkoppigheid en vasberadenheid. Wanneer jy in 1959 in Parys aankom om jou studies voort te sit, is jy reeds ’n gepubliseerde skrywer.

"Jy vermenigvuldig jou ontmoetings met studente, skrywers en kunstenaars van diverse oorsprong; dit is op hierdie tydstip dat jy bewus word dat die fondamente van Apartheid onregverdig is, een oggend in Maart 1960 toe jy op ’n bank in die Luxemburgtuine probeer verstaan wat jou land laat daal het tot die verskrikking van die Sharpeville-massamoorde, waarvan jy pas in kennis gestel is.

"Jy betreur dit dat die oorsprong van Afrikaners se blindheid volgens jou in hul sosiale, morele en religieuse konteks gesetel is; met jou terugkeer word jy deel van die Sestigers, ’n groep skrywers wat die taboes van ’n puriteinse, konserwatiewe, na binne-gekeerde gemeenskap wil omverwerp. Wanneer Lobola vir die Lewe, Die Ambassadeur en Orgie verskyn, is daar hewige reaksie van die kerklui en die regdenkende gemeenskap. Jy word beskuldig van pornografie, liberalisme in diens van die Engelstalige vyand of die kommunisme.

"Die gebeure van Mei 1968 waarvan jy ’n getuie is tydens jou tweede verblyf in Frankryk versterk jou vasberadenheid om op te staan teen Apartheid. Jou roman Kennis van die aand vertel die liefdesverhaal tussen ’n swart man en ’n wit vrou. Dit is die eerste van die Afrikaanse romans wat gesensor word.

"Gekwets hierdeur, vertaal jy jouself in Engels en publiseer die roman in die buiteland. Van nou af sou jy tegelykertyd in Afrikaans en Engels skryf om sensuur te omseil. Talle pryse en onderskeidings word aan jou toegeken, jy smaak internasionale sukses. Jy het ’n simbool geword, liewe André, ’n simbool van weerstand vir ’n hele generasie, met ’n Droë wit seisoen wat ons op die skoolbanke gelees het en daarna in die filmsale gesien het, tussen Gandhi en Cry freedom, terwyl ons gebewe het vir die lot van Soweto se kinders, die blikke Nesquik in die supermarkte geboikot het en die Ystervrou uitgejou het vir haar ondersteuning van Apartheid ...

"Maar in die konteks van isolasie waarin jou land hom toe sou bevind, het hierdie internasionale erkenning vir jou die begin van ’n spiraal van probleme, intimidasie en dreigemente beteken. Jy was ’n renegaat vir die Afrikaners, en tog het jy geveg teen die versoeking van ballingskap.

"Vandag is jy emeritus-professor van die Universiteit van Kaapstad in ’n Suid-Afrika wat by ’n kruispad gekom het. Deur jou nederige skrywershandeling, sonder om jou te onderwerp, het jy aan jou volk dieselfde lojaliteit bewys as wat jou familie aan jou bewys het. Met daarby, hierdie les in eksistensialisme, waarvolgens die mens nie vooraf deur sy essensie bepaal word nie, maar vry is en verantwoordelik vir sy bestaan: Swart of Wit, Hutu of Tutsi, Jood of Arabier; die moreel en geskiedenis daarvan is oorweldigend."

André het sy toespraak begin deur te sê dat hy heel eerste met die studente wil praat. "Hulle wat vrae vra, wat antwoorde soek, wat glad nie seker van die antwoorde is nie, maar wat in die skadu's werk om die moontlikheid van ’n antwoord te kry. ’n Mens is aanvanklik nooit seker dat jy dit sal kry nie.

"Maar voordat ’n mens begin antwoorde soek, moet ’n mens begin met die verhaal van Antigone. Antigone was die eerste mens in die geskiedenis wat werklik bekend geraak het daarvoor dat sy geweet het hoe om op die belangrikste oomblik van haar lewe 'nee' te sê.

"Waar sy die keuse moes maak tussen die lewe en die dood, waar sy haar bevind het by ’n vurk, waar sy amper nie ’n keuse gelaat is nie, waar al wat sy kon doen, was om 'nee' te sê. Daar is reeds lank gelede vir my gesê ons weet nie hoe om dit te doen nie, en tog was daar ’n klein sewejarige dogtertjie wat presies geweet het wat sy wou sê toe sy 'nee' gesê en besluit het om nie te aanvaar wat haar ouers en ander om haar aan haar voorstel nie.

"Dit is die voortsetting van die groot naam van Antigone wat vir my steeds die belangrikste voorbeeld ter wêreld is van hoe om in enige oomblik van ons lewe te reageer op dié wat gesag op ons wil afdwing; op dié wat altyd probeer om beter te weet en ons só probeer bestuur; op dié wat voorgee dat hulle meer as ons weet en dus daarop aandring dat ons hulle volg. (...)

"Om in spore te volg wanneer ’n mens nie weet waarheen hulle gaan nie. Maar in die hoop, want dit is ’n uitdrukking van hoop – en vir my is dit bowenal hoop – om iets te vind wat die mens druk na moontlike oplossings op al die vrae wat die lewe hom vra.

"’n Mens vind amper oral die moontlikheid van vrae. ’n Mens soek dus oral die moontlikheid van antwoorde. ’n Mens is nooit voor die tyd seker wat die antwoord gaan wees nie, maar ’n mens voel die noodsaaklikheid om die antwoorde te vind, om oplossings te vind op vrae wat die lewe self ons vra. Daar is dan die konfrontasie van ons vrae wanneer ons probeer antwoorde kry, bowenal wanneer ons nie voor die tyd weet wat die antwoorde kan wees nie ...

"Dus die noodsaaklikheid om die ­skadu’s te konfronteer, soos ­Baudelaire gesê het, om in die diepte te duik om die nuutheid te vind. Vir hom was dit altyd ’n kwessie om die 'nuutheid' te kry, want dis in die middel van die nuwe waar die moontlikheid van antwoorde skuil. In die niks.

"Want dis daarin, in ’n sekere sin, dat ’n mens kan sê hy was die voorganger van Camus, wat vir my altyd die belangrikste padaanwyser was in my lewe, wat vir my gewys het dat die moontlikheid van ’n keuse bestaan van een oomblik na die volgende. Vir hom, soos ook vir baie ander wat vir my nog altyd die belangrikste padaanwysers was en is, het dit gegaan om die moontlike pad te vind deur die skadu’s na die flou lig – bowenal wanneer ’n mens nie vooraf weet wat die regte antwoord gaan wees nie.

"Want dít, dit is die grootste triomf wat die mens kan vind, om na die teendeel van die vraag te gaan om antwoorde te probeer kry.

"As ’n mens vooraf geweet het wat die antwoorde sou wees, sou daar nie ’n avontuur wees nie, sou daar nie ’n werklike keuse gewees het nie, want dis bowenal deur aanvanklik nie te weet nie, deur in die skadu’s in te duik, deur die antwoorde te probeer vind, dat ’n mens kan voortgaan, stap vir stap, een klein stappie op ’n volgende. Dit is altyd ’n kwessie om verder en verder te gaan, terwyl ’n mens nie weet of die werklike antwoord bestaan nie – en sonder die sekerheid, slegs bewapen met onsekerheid, die enigste sekerheid vir die mens wat juis onsekerheid is, maar ook die vreugde daarin om antwoorde te vind, om aan te hou om antwoorde te soek, bowenal wanneer daar skadu’s om jou is.

"En dit is in wese al wat ek vandag vir julle te sê het. Die noodsaaklikheid om antwoorde te probeer soek, en om nee te sê soos Antigone gedoen het, wanneer ’n mens die sekerheid van die mag wat ons omring moet konfronteer, want ons stryd is eerstens teen alle uitdrukking van mag teenoor die niks, om jouself in die vreugde van onsekerheid te dompel en die noodsaak om aan te hou reis besef, om aan te hou vrae vra."

Op Vrydag 6 Februarie is André en Karina terug na Suid-Afrika, en sesuur die aand, op die vliegtuig, is hy oorlede nadat hy haar gevra het om vir hom ’n sjokolade by die lugwaardin te kry, aangesien hy moeg is en ’n bietjie wil slaap. Daar is vermoed dat hy aneurisme gehad het. Sy gesondheid het die vorige paar jaar erg verswak. Hy word oorleef deur Karina en deur sy kinders uit vorige huwelike en ses kleinkinders.

Huldeblyke

  • Breyten Breytenbach: "Met André P Brink se dood word ’n tydperk toegemaak. Hy was die laaste van ’n heroïese generasie Afrikaanstalige skrywers. Hy was in byna alle opsigte die embleem en vergestalting van daardie groep wat die beklemmende vorige hegemonie so te sê kaalpen aangepak en ’n moerse verskil gemaak het (meer so as enige papbek politikus), dat die Afrikaner se denkwêreld eers ondermyn en daarmee saam verryk is op ’n tyd toe skrywers aan tafel nog getel het, en dat dit tot sy eer strek dat hy (soos Jan Rabie en Elsa Joubert en Adam Small en Abraham de Vries en enkele andere) ’n ruimte help skep het waarbinne die Afrikaners dalk tot die nederige besef van die implikasies van hul menswees in ’n moeilike land kon kom, met daarmee saam die wete dat mens-ontering van die medelandgenote altyd selfvernietigend sal wees.

"Hy was by uitstek ’n volksverteller en ek sal hom onthou as vrygewig en gewillig met sy tyd en sy raad en sy kennis. Hy het baie gedoen om ander kulture, tale, tradisies en wêrelddele toeganklik te maak deur sy vertalings. Hy (moes) ongelukkig belewe hoe die droom van ’n waardiger toekoms vir hierdie land besoedel, nee, verswélg word deur korrupsie, domheid, onverdraagsaamheid, ’n gebrek aan etiese verbeelding, vraatsug en onbekwaamheid. Dis altyd te laat. Ek sou nog vir hom wou kon sê dat ek hom die laaste klompie ­jare gemis het as makker en medepligtige. Maar dat niks die vriendskap ooit aangetas het nie.” (Rapport, 8 Februarie 2015)

  • Abraham H de Vries: "Brink was al geruime tyd nie homself nie, maar dat geen van sy vriende werklik geweet het wat fout is nie. André was die ewige romantikus. Dit het net nooit met hom sleg gegaan nie. Ek sal Brink nie net onthou as ’n internasionaal gerekende skrywer nie, maar ook as ’n reuse-intellek. Boekrakke het op sy kop ingeval. Hy het ’n enorme brein gehad. Hy het nooit iets wat gelees het, vergeet nie. Hy het ’n ongelooflike werkywer gehad, soos blyk uit die meer as 100 boeke wat hy geskryf en vertaal het. En dit deur iemand wat net met een vinger getik het!” (Rapport, 8 Februarie 2015)

In Die Burger (9 Februarie 2015): "Met André se dood het ’n hele stuk versweë menslike geskiedenis voor my geestesoog begin afspeel. Tye gedeel met dié André wat ná ’n skeisaak by my in Amsterdam gekuier het; vir wie ek in Grahamstad waargeneem het toe hy Miskien nooit by Breyten en Jolie gaan sit en klaarskryf het; ’n gesinsman wat met sy familie by my en Hanna kom wegkruip het van publisiteit ná die Kennis van die aand-hofsaak; die André van die middag toe ek vir hom moes gaan vertel dat Ingrid dood is. Die Sestiger wat skryfwerk kon beoordeel binne sy omvattende kennis van die wêreldletterkunde. ’n Akademikus en lektor sonder gelyke. Die maat vir wie ek my ou tikmasjien van die plaas af saamgebring het oor hy ’n maand of twee gelede ’n heimwee ontwikkel het na ’n tikmasjien om op te skryf. André die blywende romantikus wat nou nie weer hoef aarde toe te kom nie.”

  • Kerneels Breytenbach: "Hy was ’n reus. Een van daai skrywers wat ’n mens net een maal in jou lewe ontmoet. Dis ’n massiewe skok. Dis nie ’n lekker ding nie. ... Hy het ook as literêre kritikus ’n groot merk gemaak – veral in die 1970’s toe hy die boekeblaaie van Rapport hanteer het. Daardie was loshande die beste era wat literêre kritiek in die land tot nog toe beleef het.” (Rapport, 8 Februarie 2015)
  • Alida Potgieter, sy uitgewer by Human & Rousseau: "’n Mens kan nie in een sin opsom watter enorme impak die boeke van ’n skrywer soos ­André Brink op sy lesers gehad het nie. Sy lewe was ’n inspirasie. Ek sal byvoorbeeld nooit sy liefdestaak vir sy ou vriend Jan Rabie vergeet nie, toe André destyds Jan se ou handgeskrewe dagboeke self oorgetik en gereed gekry het vir publikasie.” (Rapport, 8 Februarie 2015)
  • Adam Small: "Die nuus is vir my skaars geloofbaar, want groot skrywers sterf mos nie. My afskeidsboodskap aan hom is: 'Cheers met vonkelwyn, en blý aan skryf, nie net teen apartheid nie, maar ook teen die dood.'" (Rapport, 8 Februarie 2015)

In Die Burger (9 Februarie 2015) sê Adam Small ook: "Tot weersiens, André. Ek het die nuus van jou dood met ongeloof verneem. Groot skrywers is tog nie veronderstel om te sterf nie! Dit was my voorreg om saam met jou as mede-Sestiger (in die geselskap van ander mooi mense, soos Jan Rabie, byvoorbeeld) apartheid weg te skryf. Ons diepe meegevoel met jou weduwee, Karina. Waar jy nou ook mag wees, skryf voort – en (satiries) weet ek dat wat jy self sou voel, is: ons mededoë is minder belangrik as die feit dat jy nou nie meer kan skryf nie. Tog, hou vol met werk, nie net teen apartheid nie (dis minder belangrik), maar teen die dood.

André, reis goed
waar die pad jou ook al neem nou.
Het jy jou skryfgerei by jou?
Ja, seker, want ons bly,
soos Wyk Louw sê,
slegs aan ons bloed getrou.

  • Koos Human: "André was ’n merkwaardige mens. Uiters belese en veeltalig, kon hy hom ook verlustig in ’n egte boeregrap. Teenoor vriende was hy onbaatsugtig. Hy het enorme werk gesteek in die versorging van Jan Rabie se Paryse dagboek waarin hy moes rangskik, transkribeer en herskryf. Sy steun vir Elizabeth le Roux ná Stephen se dood sal almal bybly. Ons salueer ’n groot lewe wat verby is." (Die Burger, 9 Februarie 2015)
  • Jo Prins, boekeredakteur van Media24 se koerante: "Vir baie van ons jong skrywers was André P Brink onsterfbaar. Hy was daar toe ons ons kop behoorlik begin gebruik het om te dink in watter tipe samelewing ons lewe en hoe ons verskille eintlik maar grootliks, wel, in ons kop is. Hy, as een van die Sestigers, het ons óóp geskryf. (...)

"Maar Brink was altyd daar ver. Die Skrywer – bemind maar persoonlik onbekend. Die ou wat dolverlief op Ingrid Jonker was; die vriend van Breyten Breytenbach; die literêre reus agter sy lessenaar. En toe skielik word Brink vir my aansienlik lewendiger van die papier af. As joernalis korrespondeer ons via e-pos, ek bel hom soms vir kommentaar op die een en die ander en ’n vriendin kuier gereeld by hom aan huis. Dis effe vreemd wanneer ’n mens se ikone vlees en bloed word ... (...)

"Persoonlik was Brink vir my die oubaas Mark Markötter van die letterkunde. Toe hy die samestelling van die Groot Verseboek ná DJ Opperman oorgeneem het, het hy nie gewag dat jy eers in ’n groot span speel (’n eie bundel uit het) voordat hy jou opneem in dié bybel van die Afrikaanse letterkunde nie. So het verskeie relatief onbekende digters skielik naas hul helde in die laaste ‘geblikte’ Groot Verseboek verskyn.

"Brink het ’n hele generasie hoop gegee. Dis moeilik om nie in jouself te glo as André P Brink eers in jou glo nie ... Bemoerd, dié kon hy seker wees. En puntenerig. Maar vra enigiemand – hy was die grootste 'gentleman', soos wyle Elize Botha. Soos daar voor in Duiwelskloof staan: 'As ’n man sterf dan brand ’n biblioteek af.'” (Die Burger, 9 Februarie 2015)

  • Ampie Coetzee: "André P Brink se romans, van Lobola vir die lewe (1962) tot Inteendeel (1993), is almal geskryf in die tyd van apartheid. Dit was altyd daar, soms in die agtergrond, soms direk, soms binne historiese verband. Die mees indrukwekkende, en die mees direkte, waar die ideologie van gedwonge apart-wees verwoord word, is Kennis van die aand (1972). Die hooftemas wat verbind is, is politiek en liefde oor die grens. (...) In 1974 word die boek verbied. Die hofsaak daarna maak skrywers en ’n gemeenskap bewus van die hegemonie waarbinne hulle woon. Dít is die mag van die letterkunde.” (Die Burger, 9 Februarie 2015)
  • Abraham Phillips: "Toe my skoonseun vir my die nuus gee, het ek amper van my stoel afgeval. Ek en my vrou het die laaste paar weke baie oor hom gepraat en gewonder hoe dit gaan. Ek het hom op die Woordfees laas gesien en daar met hom gesels. Dit voel of ’n deel van my lewe weg is. Hy het my lewe verander. Ek glo nie aan toeval nie. Al die dinge word bestier. Ek dank die Here dat my paaie met dié van André Brink gekruis het. Ek was baie lief vir hom.” (Die Burger, 9 Februarie 2015)
  • Amanda Botha: "Ek het hartseer gedink aan hom as vaardige woordsmid en voortreflike woordmeester, wat bewonder is vir sy knap formulerings en veral hoe vinnig hy eens kon werk. Sy groot nalatenskap getuig immers daarvan. André het ’n gawe vir vriendskap gehad. Hy was lojaal, ondersteunend en meelewend. Ek sal hom met waardering onthou – iemand wat ons Afrikaanse geesteswêreld verryk en verruim het." (Die Burger, 9 Februarie 2015)
  • Stoffel Cilliers: "My beskeie bydrae tot sy beroemdheid is die heel eerste tydskrifartikel oor hom het uit my pen gekom. Nie oor hom as omstrede Sestiger-skrywer nie. Wel oor die briljante Puk-student wat reeds op 24 jaar aan die Sorbonne-universiteit in Parys, Frankryk, aan sy derde meestersgraad, in Frans, gewerk het. Dít nadat hy in 1958 sy MA-graad in Afrikaans en in 1959 sy MA-graad in Engels, albei cum laude, behaal het. Geskiedenis was sy derde hoofvak. Hy het Frans bykomend geneem.

"My foto-artikel het op 25 Maart 1960 in die destydse tydskrif Die Brandwag verskyn. Ek het self destyds joernalistiek as graadvak aan die Puk geneem. Die artikel is aanvanklik na Die Huisgenoot gestuur. Ironies is dit afgekeur om die volgende rede: 'Ons moet nog te veel van Brink se kortverhale afkeur.' Hy het naamlik onder verskeie skuilname kortverhale na tydskrifte gestuur.

As voorsitter van die Puk se letterkundevereniging het Brink soms vertel hoe van sy verhale wat hy aan WA de Klerk voorgelê het met baie skerp kritiek begroet is. Brink se eerste gepubliseerde boek was ’n onpretensieuse novelle met die naam Die meul teen die hang (1958). Hy het gevra ek moet dit nie in die artikel noem hy het dit in vier dae geskryf nie. In ’n onderhoud met Brink se ma het sy aan my ’n poskaartjie gewys wat hy, toe al die eerste keer getroud, uit Parys gestuur het. Hy vra dat sy ma vir hulle ’n resep stuur oor hoe om ’n hoender gaar te maak – 'van A tot Z – nie die hoender se Z nie'." (Volksblad, 10 Februarie 2015)

Ons laat Breyten Breytenbach die laaste woord spreek oor hierdie groot figuur van die Afrikaanse letterkunde: "André Brink was ’n groot skrywer, ’n man met waagmoed en visie. ’n Gebore romansier! Sy werk sal bly voortbestaan en in ’n wêreld wat vinnig verander en dalk net so gou vergeet, tog bly resoneer – omdat hy geskryf het van verhoudings en vrae-wat-die-mens-vra wat tydloos is; omdat hy een van die weiniges is wat die roeping gehad het om ons aan onsself te vertel.

“Met sy afsterwe is ons by die afsluiting van ’n heroïese periode in die Afrikaanse literatuur en denkwêreld. Hy was grotendeels die simbool van ’n verset vanuit eie geledere teen die onmenslike van ’n vorige bedeling – en ook van die huidige! – van ’n tyd toe die stellingnames en skryf-aksies (en skrywersaksies) nog skering en inslag was in die gemeenskap, toe dit nog gesindhede en besinnings kon ombuig tot die erkenning van die mens in die ander en dat dit selfvernietigend is om dit nie uit te leef nie.

“Dit is Afrikaanse skrywers soos André, Jan Rabie, Abraham de Vries, Elsa Joubert ... wat, tot ons almal se eer, die aanvaarding van ons gedeelde menslikheid oopgeskryf het – ’n humanisme, soms sardonies, dikwels met humor.

“Méér as enige politikus is dit iemand soos André wat ons, met kennis van die aand en van die gruwelike in ons, deur die drif kon kry na ’n meer menswaardige posisie. Danksy hom is daar paaie oopgemaak na ander tale en kulture en leefwêrelde. Danksy iemand soos hy kon ons ook ons kop optel en sê dat ons uit die beste van ons deelgoedere geput het om daarmee te werk tot almal se voordeel. Dat dit nie erken of na waarde begryp is nie, dat die beter toekoms waarvoor hy so hard baklei het nou besmet is deur geweld en etiese verrotting – dit het hom waarskynlik byna wanhopig van ontnugtering gemaak. Laat ons hom eer vir wat hy vir ons voorgehou het.

“Vir my was André ’n kameraad al het ons oor só baie nie saamgestem nie – maar dit was altyd takties en nooit oor die gedeelde besetenheid om met wortels in eie taal te veg vir geregtigheid nie – en al het ons ook oor die jare weggedryf van mekaar. Hy was ’n broer. Ek salueer hom. En ek sê dankie namens ons almal vir sy vrou, sy wat van ver gekom het om sy hart op te pas in die winter.” (Die Burger, 9 Februarie 2015)

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Publikasie

Philida

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798155212 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2012

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Herinneringe aan Parys

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798155786 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Memoirs

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mediterreense herinneringe

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157728 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Reis sit-sit na ver lande

 

Vertalings deur André P Brink

  • Lavolle, LN: Nuno die visserseun. Kaapstad: HAUM, 1959
  • Lorca, Federico Garcia: Bloedbruilof. Johannesburg: Dalro, datum?
  • Dhôtel, André: Reisigers na die groot land: roman. Kaapstad: Tafelberg, 1962
  • Kessel, Joseph: Die wonderhande. Kaapstad: HAUM, 1962
  • Bonzon, Paul-Jacques: Die goue kruis. Kaapstad: John Malherbe, 1963
  • Boulle, Pierre: Die brug oor die rivier Kwai. Kaapstad: Tafelberg, 1963
  • Bourliaguet, L: Die slapende berg. Kaapstad: Human & Rousseau, 1963
  • Bourliaguet, L: Verhale uit Limousin. Kaapstad: Human & Rousseau, 1963
  • Cottrell, Leonard: Land van die Farao’s. 1963
  • Duras, Marguerite: Moderato cantabile. Kaapstad: HAUM, 1963
  • Rouzé, Michel: Die bos van Kokelunde. Kaapstad: John Malherbe, 1963
  • Twain, Mark: Die avonture van Huckleberry Finn. Kaapstad: John Malherbe, 1963
  • Cottrell, Leonard: Land van die Twee Riviere. 1964
  • Turnbull, CM: Die volke van Afrika. 1964
  • Carroll, Lewis: Alice se avonture in Wonderland. Kaapstad: Human & Rousseau, 1965
  • Bazna, Elyesa: Ek was Cicero. 1966
  • Brunhoff, Jean de: Koning Babar. Kaapstad: Human & Rousseau, 1966
  • Cervantes Saavedra, Miguel de: Die vindingryke ridder Don Quijote de la Mancha. Kaapstad: Human & Rousseau, 1966, 1982
  • Colette: Die swerfling. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1966
  • Die mooiste verhale uit die Arabiese Nagte. Kaapstad: Human & Rousseau, 1966
  • Reeves, James: Die avonture van Don Quijote. Kaapstad: HAUM, 1966
  • Simenon, Georges: Speurder Maigret. 1966
  • Greene, Graham: Die eendstert. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1967
  • Perrault, Charles: Die mooiste sprokies van Moeder Gans. 1967
  • Travers, PL: Mary Poppins in Kersieboomlaan. Kaapstad: John Malherbe, 1967
  • Wier, Ester: Die eenspaaier. Kaapstad: Human & Rousseau, 1967, 1974
  • Boston, Lucy: Die kinders van Groenkop. Kaapstad: Human & Rousseau, 1968
  • Carroll, Lewis: Alice deur die spieël. 1968
  • Die groot boek oor ons dieremaats (saam met ander vertalers). 1968
  • James, Henry: Die draai van die skroef. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1968
  • Lewis, CS: Die towenaar se neef: ’n storie vir kinders. Kaapstad: Human & Rousseau, 1968, 2002
  • Mallory, Thomas: Koning Arthur en sy ridders van die Ronde Tafel. Kaapstad: Human & Rousseau, 1968
  • Mukerji, Dhan Gopal: Bontnek: die verhaal van ’n duif. Kaapstad: HAUM, 1968
  • Serraillier, Ian: Die botsende rotse. Kaapstad: HAUM, 1968
  • Serraillier, Ian: Die bul in die doolhof: die verhaal van Theseus. Kaapstad: HAUM, 1968
  • Serraillier, Ian: Die horing van ivoor: die Rolandslied. Kaapstad: HAUM, 1968
  • Serraillier, Ian: Die kop van die Gorgoon: die verhaal van Perseus. Kaapstad: HAUM, 1968
  • Simenon, Georges: Maigret en die lang derm. 1968
  • Simenon, Georges: Maigret en sy dooie. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1968
  • Andersen, Hans Christian: Die nagtegaal. Kaapstad: HAUM, 1969
  • Buck, Pearl S: Die groot golf. 1969
  • Perrault, Charles: Die gestewelde kat. 1969
  • Shakespeare, William: Richard III. Kaapstad: Human & Rousseau, 1969
  • Simenon, Georges: Maigret en die spook. 1969
  • Wilde, Oscar: Die gelukkige prins en ander sprokies. 1969
  • Camus, Albert: Die terroriste. Johannesburg: Dalro, 1970
  • De Ghelderode, Michel: Eskoriaal. 1971
  • Chekhov, Anton Pavlovich: Die seemeeu: ’n komedie in vier bedrywe. Kaapstad: Human & Rousseau, 1972, 1977
  • ?ur?ija-Prodanovi?, Nada: Die ballerina. 1972
  • Bach, Richard: Jonathan Livingstone Seemeeu. 1973
  • Grahame, Kenneth: Die wind in die wilgers. Kaapstad: Human & Rousseau, 1974
  • Ibsen, Henrik: Hedda Gabler. Kaapstad: Human & Rousseau, 1974, 1988
  • Shakespeare, William: Die tragedie van Romeo en Juliet. Kaapstad: Human & Rousseau, 1975
  • Desailly, Claude: Die Tierbrigade. Kaapstad: Tafelberg, 1978
  • Desailly, Claude: Nuwe avonture van die Tierbrigade. Kaapstad: Tafelberg, 1979
  • Wilde, Oscar: Die nagtegaal en die roos. 1980
  • Graeme, Kenneth: Rot op reis. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981
  • Gray, Elizabeth Janet: Adam van die pad. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981
  • Wilde, Oscar: Die gelukkige prins. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981
  • Perrault, Charles: Klein Duimpie. Kaapstad: Human & Rousseau, 1983
  • Carroll, Lewis: Die avonture van Alice. Kaapstad: Human & Rousseau, 1987
  • Goosen, Jeanne: Not all of us. Strand: Queillerie, 1992
  • Berberova, Nina: Die begeleidster. Groenkloof: Queillerie, 1993
  • Saint-Exupéry, Antoine de: Die klein prinsie. Kaapstad: Tafelberg, 1994
  • Sleigh, Dan: Islands. Londen: Secker & Warburg, 2004, 2005
  • Goosen, Jeanne: We’re not all like that. Kaapstad: Kwela, 2007

André P Brink as samesteller en redakteur

 

Keur van artikels oor André P Brink beskikbaar op die internet


Publikasies oor André P Brink


Keur van artikels deur André P Brink beskikbaar op die internet

 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-02-11

 

  • 1

Kommentaar

  • Een van my gunsteling boeke op my boekrak is een van Andrê P Brink sn' - Mal en Ander Stories. Die boek het my al URE se genot verskaf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top