#ANC54: 'n Hele halwe heling

  • 1

Terwyl ek hier skryf, dans die afgevaardigdes steeds en blink die druppeltjies mineraalwater nog op glimlaggende of strak lippe van kandidate. Of is dit sweet? In omhelsings word adders aan die bors gekoester, vlugtig. Bonhomie en broederskap is de rigueur. Msholozi sing voor en dans die dans van die swaaiende vuiste.

Ek hou die uitslag van die ANC se 54ste leierskapverkiesing van ver af dop. Die internetvoer is hakerig, asof ons na ’n ou film kyk, nostalgies, met Vaseline oor die lense. Ons dink ons kyk na iets beters.

Die lot het geval en die goeie ou het gewen. Maar daar is ook ander oordele: dis weer die patriargie wat gewen het. Daar is drie adders in die top 6-nes ingestem. Die stemming het ’n gapende kraak regdeur die middel van die party geslaan.

Daar is geen enkele klinkende waarheid wat uit die chaos van hierdie stemming oplui nie. Die verneukery, die betwiste afvaardigings, die hofsake, die stemkopery. En toe die uitstel en die oortel en wéér uitstel en oortel, tot drie maal toe hoor ons, tot die verloorder se belyde geloof in demokrasie haar inhaal en sy oplaas die bitter vrug van nederlaag moes eet. Vervloek is die Boom van Ontkenning van Kwaad en van Chutzpah.

’n Voertrog is geen ordelike plek nie, geen oefening in demokrasie, geen koor van gerubs nie. Almal moet eet, en jou goeie bedoelings gaan jou nie van honger vrywaar nie. Die naweek in Nasrec was half stembus, half voertrog. In die patronaatpatroon waarvolgens die party gehekel is, staan mense vorentoe vir posisies in die verwagting van ’n beurt by die krip. En as ek jou tot daar gestem het, verwag ek iets terug. So is stembus en varktrog twee helftes van een en dieselfde ding.

En dit is hoe Suid-Afrika is. Helfte-helfte. Nooit heel nie. Nooit die beste nie, het Jan Smuts van ons demi-monde gesê, en nooit die slegste nie. Soos radioaktiewe verval het ons ’n halflewe op pad na ons eie verderf wat ons, soos die goeie, nooit heeltemal haal nie.

Nou sit ons met die regte man aan die hoof van die regerende party, of die mins verkeerde man, en die helfte van die land wil op sy skouers spring soos drenkelinge. Ons sal moet sien of hy sal kan bly staan. Die ander helfte se slagordes is reeds teen hom opgestel. Dis Cyril teen die wandadige helfte van sy party, met hul kapteins ’n dolksteek ver van hom geplaas.

Maar dis ’n begin. Heelwat besette grond is die afgelope maande ontset: die SABC, die SAA, Eskom is halfpad bevry, die Nasionale Vervolgingsgesag het ’n reddingsboei van die howe gekry. In die Kaap en elders word groot misdaadsindikate opgeruim. Die rand het reeds versterk. En wanneer die kommissie van ondersoek na staatskaping kom en die President in die hof op 783 aanklagte moet antwoord, stoot ons halflewe dalk bietjie vinniger in die rigting van die goeie.

Die res hang af van die goeie ou. Kan hy, sy vyande al-omhelsende, snel en bloedig teen Zuma en al die ander skelms optree?

  • 1

Kommentaar

  • Puik gestel! Ons hoop vir die beste en maak klaar vir die slegste. Baie twyfelagtige situasie, maar ons stry moedig voort. Hoe dan anders?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top