#ANC54: Hoe nou vorentoe?

  • 1

Hofsake om te besluit wie mag deelneem aan die kongres, vertragings met die registrasie van afgevaardigdes, omstredenheid rondom watter reëls behoort te geld tydens die vergadering, gerugte dat stemme gekoop was: van die begin af was hierdie 54ste ANC-kongres fel beveg.

Die verkiesing van die top-6 het ’n dag laat begin, met gemoedere wat hoog geloop het. Miskien vir die eerste keer was daar ’n gevoel dat daar nie net die volgende leierskorps gekies moes word nie, maar dat die stryd gaan om die politieke voortbestaan van die ANC. Die afgevaardigdes wat met hierdie verkiesing moes stem, het gestem met een oog baie ferm op 2019. Wie is die beste kandidaat wat oorwinning by die stembus vir die ANC sal verseker? Die dae dat die enigste vraag was of die twee-derde meerderheid behaal is, is lankal verby. Daarvoor het Zuma en staatskaping gesorg. Die vraag was nou eerder: radikale ekonomiese transformasie, of ’n beleid wat internasionale vertroue in SA sal herstel en ons uit rommelstatus sal lig? ’n Kandidaat wat Zuma sal beskerm, of een wat die belange van die land eerste sal stel? Die keuse van ’n kandidaat kan immers die verskil wees tussen ANC as regerende party, of ANC as amptelike opposisie. Vyf jaar terug sou die moontlikheid van ’n neerlaag by die stembus lagwekkend gelyk het. In 2017 is dit ’n moontlikheid wat vele ANC-lede slapeloos laat.

Daar was vir die top-6 gestem, maar Zuma se skaduwee het swaar gehang oor die proses. Vir mense buite die ANC sou dit dalk voor die hand liggend lyk om die kandidaat te kies wat die land se belange (hopelik) sal beskerm. Dit verloor uit die oog dat daar baie mense is wat voordeel trek uit die huidige disfunksie, en wat ’n kandidaat sal ondersteun wat nie enige belang daarby het om die disfunksie te beëindig nie. Maak nie saak wie wen nie, die moontlikheid dat die party sal opbreek en die verloorders hul politieke heil elders bewerkstellig, is baie sterk.

Hierdie verkiesing was waarskynlik ook so omstrede omdat daar tot op die heel laaste nie ’n duidelike gunsteling was wat sou wen nie. Charismatiese CR17, of lojalis NDZ? Die ander vyf van die top-6 is amper ’n nagedagtenis, alhoewel hulle polities geweldig baie mag het.

En die uitslag?

Meer takke het Ramaphosa se nominasie ondersteun, maar daar was intense onderhandelinge agter die skerms gevoer gewees die afgelope paar dae, sodat ’n uit-en-uit oorwinning nie regtig verseker was nie, veral nie met Jacob Zuma wat die ander kandidaat ondersteun het nie. Ek erken ruiterlik, my verligting om te verneem dat Ramaphosa gewen het, was groot. Noudat hy gewen het, sal ons waarskynlik binnekort positiewe reaksie van die markte sien. Hopelik sal dit ook ’n positiewe boodskap uitstuur dat ons nou maar uit rommelstatus gelig kan word. Vir vele gewone Suid-Afrikaners kan daar nou gerustheid kom dat die persoon wat waarskynlik die volgende president van die land sal wees, die grondwet eerbiedig en realistiese ekonomiese doelwitte stel.

Die eerste toets vir sy nuwe leierskapsrol gaan wees hoedat hy en Zuma saamwerk as president van die land en president van die organisasie.

Dit mag dalk sy diplomatieke vermoëns meer op die proef stel as die moeilikste dae met die opstel van die grondwet.

Ten minste is die binnegevegte hopelik nou op ys tot na Kersfees.

  • 1

Kommentaar

  • Daar wag ‘n tameletjie op CR, dit gaan nie so maklik wees om die Gupta-sage op te los nie. Daar is baie gesinne wat afhanklik is (+- 2000 poste na berigte) ,die Guptas gaan dit definitief as ’n hefboom gebruik. CR is vir die ANC ’n kans om die alliansie met die vakbonde te versterk. Dit gaan alles oor oorlewing vir die ANC in 2019; hulle het nou ’n baie goeie kans om weer te wen. Hy sal vir Zuma versigtig hanteer want baie mense steun hom nog.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top