#ANC54: Die gifbeker voor die triomf

  • 0

Ons grootste wens en grootste vrees kom toe gelyk aangedreun toe ‘n voetstampende, handswaaiende, singende massa van 5 000 ‘n Shakespeariaanse drama in Soweto uitleef: Cyril Ramaphosa as president en David Mabuza, onderpresident. In dieselfde bed by wyse van spreke?

Groter skok: Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en daarom eintlik die man wat die partysake aan die volk verduidelik. Ace – die Guptaman?

Wie het rose en maanskyn op die 54ste ANC-leierskapkonferensie verwag? Wie’t gedink die Zuma-kontaminasie sou op die 54ste ANC-leierskonferensie uitgeroei wees? En wanneer was daar ooit sedert 1994 ‘n werklike vertrouensverhouding tussen leier en onderleier in die ANC? Onthou, hierdie beweging is ‘n lappieskombers van faksies.

Die onpeilbare David Mabuza, die argitek van die sg “unity”-beweging, is niemand en almal se vriend, maar hoe magtig is hy regtig onder Cyril Ramaphosa, die spotprente se McBuffalo, die rand se beste vriend in Suid-Afrika, en ‘n kapitalis wat korrupsie gaan aanvat en wat tegelykertyd die land weer ‘n werkende land gaan maak?

Ramaphosa straal amper goud uit: getroud in die rykste swart familie (die Motsepes), geleerd, vakbondoudstryder, en sit aan die tafels van wêreldleiers. Maar vertrou die honger massas hom?

Die groter vraag is of hy met ‘n verdeelde “top 6” sy innigste droom gaan help verwesenlik: die herroeping van Jacob Zuma as president.

Reeds het die stamgebonde Zuma die gifbeker opgestel: op sy afskeidsdag as partyleier kondig hy, as president, die ontmoontlike aan: onmiddellike gratis tersiêre studie. Laat CR, soos hy nou bekend staan, hom nou net in Februarie probeer onttroon, dink die slinkse strateeg. Met ‘n land wat in anargie kan verval – onhou, die begroting word eers gelewer nadat studente opgedaag het by universiteite wat hoegenaamd nie die fondse het vir algehele gratis onderrig nie. Bedink die chaos – g’n wonder die weermag staan gereed nie.

Die oorweldigende aanloop tot die ANC is met moorde voorafgegaan, omkopery op massiewe skaal teen ‘n agtergrond van 28% werkloosheid. Ìn die top 6 is daar niemand onder 50 nie. Die chaotiese gehoor van 5 000 was tot groot hoogte onder 40. Afwagtend op die uitslag het Zuma weer verskyn: ietwat alleen, ietwat tragies, moeg, oud, roerend aan ‘n koppie tee.

Dis Suid-Afrika, meen ‘n buitelandse korrespondent wat ook vra: Is daar dan geen wit mense in die ANC nie? Wel, antwoord jy, daar is Rob Davies – en oukei, daar is Carl Niehaus, en ... uh ... nou ja.

Die gewone argwaan van die ANC teenoor die media is juis getoon in ‘n draadhok-affêre waaragter die media sou moes bly om nie met die afgevaardigdes te kon praat nie.

Ewe skandelik, uiteindelik, was die veelgeroemde en bitter skynheiligheid van die ANC se sg 50/50-beleid tov vroue. Die Vroueliga het kwaai boesems uitgestoot vir Nkosazana Dlamini-Zuma. Vir geen ander vrou nie. Uiteindelik is die tannierige, maar deeglik uitgeslape Jesse Duarte die enigste vrou in die top 6.

Vandag en môre sal uitgeputte ANC-volgelinge die vervelige moontlike wysigings aan die grondwet besin; ook oor die lompe strukture in die takke. Mense soos die nuwe tesourier-generaal Paul Mashatile sal tande kners: sy party se koffers is dolleeg. Luthulihuis, vergaderings en reise (en hofsake) moet onderhou word. Ace Magashule handhaaf ‘n ryk styl. Dit sal vorentoe broekskeur moet gaan.

Uiteindelik bly die grootste feit dat die rand van Ramaphosa hou. Maar moontlik alleen as CR so gou moontlik ‘n diktatoriale, venynige, gewonde JZ uit die pad kan kry.

Is dit dan nie waarvoor so bitterlik gewag word nie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top