#ANC54: Cyril Ramaphosa is die nuwe leier van die ANC

  • 3

Die Zuma-kandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma, is verslaan – op die oog af ’n reuseslag teen korrupsie, want met Cyril het ons ’n kans dat die regerende party van binne af sal skoonmaak. Maar (daar is altyd ’n “maar”) Cyril het nog ’n berg om te klim voor ons daardie punt bereik, gegewe die samestelling van die nuwe topleierskap, wat ’n beduidende aantal Zuma-handpoppe bevat. Die verkiesing van die Nasionale Uitvoerende Komitee gaan dus deurslaggewend wees.

Maar op die aanname dat Cyril se faksie seëvier, bring hierdie onbetwisbare seën ook sy eie vloek. In Zuma het die DA ’n bondgenoot gehad, ’n maklike retoriese teiken, waarmee hy grond gewen het as die sogenaamde niekorrupte party.

Maar nou met die Zuma-faksie hopelik uit die pad, gaan dit  in die aanloop tot 2019 nie meer moontlik wees om ANC-kiesers af te neem deur op die korrupsietamboer te slaan nie.

Behalwe dit: die DA het nou skielik nie meer ’n verkoopspunt nie. Hoekom moet sy nuutgevonde swart ondersteuners nog vir die DA stem?

Die DA het eensklaps nie ’n beleid wat hom onderskei nie.

Die dilemma word vererger deurdat die DA die meeste beleidsrigtings van die ANC feitlik net so oorgeneem het. Beleidsverskille word só verwater dat dit nóg kant nóg wal by kiesers raak – van daar die beskrywing van die DA as “ANC Lite”. Trouens, die DA onder Mmusi Maimane het toenemend staatsbesteding, swart bemagtiging, arbeidswette en welsynstoelae ter wille van meer swart steun onderskryf, en só sy liberale tradisie verloën.

Intussen is die Suid-Afrikaanse kieserskorps siek en sat. Maar is die DA gereed om daaruit munt te slaan?

Die twee groot brandpunte – indien korrupsie wegval – is werkloosheid en swak onderwys. Die leier wat kiesers se verbeelding aangryp deur dié twee sake daadwerklik te pak, gaan vorder. Maar die DA het tot nou toe nie sy huiswerk hieroor gedoen het nie, en het geen werkbare, praktiese ekonomiese beleid wat by die kiesers inslag vind nie.

Die DA gaan bes moontlik vind dat hy te lank uitgestel het. Soos die meeste politieke partye is ook hy nie bereid om moeilik keuses te maak nie. Die vakbonde – nog altyd ANC-staatmakers – het byvoorbeeld feitlik eiehandig onderwys en indiensneming verwoes. Daar is geen manier op dees aarde dat die DA wesenlike steun daar gaan werf nie. Cyril Ramaphosa weer was self ’n vakbondleier. Hy sal waarskynlik ook hard werk om die Marikana-breuk met die vakbonde in die aanloop tot die verkiesing te herstel.

Die DA het dus alle rede om oorlog teen die vakbonde te verklaar – en hulle verwoestingswerk in die skole en die arbeidsmark (stakings, intimidasie, werkloosheid, en verwoesting van die klerebedryf deur nywerheidsrade) – as stok te gebruik om die ANC pak te gee. Dieselfde geld breë swart bemagtiging en diensbillikheid, asook die swak dienslewering van die openbare sektor. Die DA se vrugbaarste teelaarde is die werkloses en die armes. Dit is húlle – nege miljoen ontvanklike kiesers – wat onder werkloosheid, gebrek aan onderwys, ongelykheid weens bevoorregting van die swart elite deur regstellende aksie, swart bemagtiging en onproduktiewe openbaresektor-indiensneming ly. Die maklike teiken van ’n DA-veldtog is die elite – vakbonde, bevoordeeldes deur regstellende aksie, stinkryk swart-bemagtigde vetkatte en gemaksugtige, onproduktiewe kripvreters.

Benewens dat Cyril bes moontlik die Zuma-adders in sy eie boesem sal moet paai, is  die groot gevaar die EFF. Dié party se hoofwapen is die grondkwessie. Die DA sou dit dalk wou oorweeg om die punt te ontman deur voor te stel dat grond in staatsbesit aan arm mense oorgedra word, en dat grond wat arm mense reeds bewoon, hulle eiendom word.

Moenie asem ophou nie. Verwag dat beide die DA en die ANC meer populisties as die EFF gaan probeer wees. En verwag ’n verswakte DA en ’n sterker ANC, wat helaas nie een die land met hulle ekonomiese hervormings aan die brand gaan steek nie.

Die bitter ironie is dat dit die DA amper beter sal pas as die korrupte faksie die oorhand kry. Ek hoop regtig ek is verkeerd, en Cyril se span verras ons, en die DA verras ons.

  • 3

Kommentaar

  • Ace Magashula, Sekretaris-generaal is vir my 'n probleem.
    Hy is 'n stoere Zuma-ondersteuner. Hy word verantwoordelik gehou dat hy R30 miljoen bedoel vir 'n melkery projek herkanaliseer het om die troue van Vega Gupta and Aakash Jahajgarhia in 2013,deur 'n reeks Gupta-verwante maatskappye te finansier.
    Hy is of was na bewering nou betrokke in die Zuma-staatskapingskandaal, en 'n voorstander van radikale ekonomiese transformasie (kan iemand asb verduidelik wat dit presies beteken) en grondhervorming. ’n Politieke wolf in skaapsklere?

  • Waar gaan jy een kry wat ’n skoon rekord het wat die voortou kan vat? As jy gaan kyk na elkeen se nasionale gedragverslag, is daar nie een wat kwalifiseer nie. Om by die stelsel in te pas is die kwalifikasie-norm, om net twee te noem korrupsie en bedrog. Dis in vandag se tye doodnormaal om korrup te wees. Moet nie kerm hieroor nie want die meerderheid het mos saam met De klerk gestem daarvoor.

  • Ope Brief aan Cyril Ramaphosa (kry sy e-pos nêrens)
    Geagte ANC President Ramaphosa
    Baie geluk met u verkiesing as leier van die grootste politieke party in Suid-Afrika. Ek is 'n blanke, en ek is baie seker dat miljoene van ons hierdie sentiment met my deel. U is 'n realis wat besigheid verstaan, en as hoof-onderhandelaar van die Grondwet van Suid-Afrika, saam met Roelf Meyer, weet u waaroor dit gaan om 'n suksesvolle land te bou. Ongelukkig gaan die verkiesing van die Top-Ses van die NUK dit vir u bitter moeilik maak om dit waarin u glo tot uitvoer te bring. Maar ons glo, omdat u uself al talle kere bewys het as 'n uitstekende onderhandelaar, dat u hierdie vaardighede sal toepas om die NUK te oorreed tot goeie besluite wat daartoe sal lei dat ons land weer opgebou kan word op ekonomiese en kulturele gebied, ons onderwys suksesvol sal word (my twee seuns is albei in die onderwys), waar ons weer almal veilig kan lewe (ook die boere), werk geskep word en korrupsie aktief bestry sal word.
    Bring weer die beginsel terug dat elkeen beloon word volgens dit wat hy of sy bydra tot die geheel, nie volgens wie hy ken nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top