Amandala: "Om in Afrikaans te sing raak iets aan in my"

Die liedskrywer en sanger Amanda Lamprecht, ook bekend as Amandala, vestig vir haarself ’n musiekloopbaan in Amerika. Sy het egter ook besluit om ’n Afrikaanse album op te neem, wat eersdaags verskyn. Sy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Amanda. Hoe's dinge?

Dinge is baie goed, dankie. 🙂

amandala1grootweb

Geluk met jou eerste Afrikaanse album, Alles wat jy liefhet, wat eersdaags uitgereik word. Dit is ’n interessante skuif vir iemand met ’n voet in die internasionale musiekmark – en dit in Amerika – om die besluit te neem om nou ’n Afrikaanse album op te neem. Wat het hierdie skuif teweeggebring?

In kort: verlange en ’n diep hunkering om weer terug te kom Suid-Afrika toe vir langer tydperke op ’n slag, en dat my musiek dit moontlik sal kan maak vir my om hierdie brûe te bou tussen my lewe in die VSA en Suid-Afrika.

Ek verlang al jare lank na Suid-Afrika en somtyds raak dit baie erg. Dit was ’n baie reënerige, koue en gryse dag in Seattle. Ek het begin neerskryf hoe ek voel om ’n bietjie te help met die verlangpyne. Die woorde van “Knoop my hart aan jou baadjie” het net gekom. Dit was die heel eerste keer wat ek woorde vir ’n Afrikaanse liedjie geskryf het. Soos ek die woorde geskryf het, het ek gehuil vir al wat ek werd is. Daarna, toe ek uitgehuil was, kon ek voel ek voel beter, asof ek van diep emosies wat daar vasgesit het, kon laat gaan. Toe het ek by die klavier gaan sit en begin sing, terwyl ek oop akkoorde speel. Die musiek het maklik gekom, dit was baie kinderlik, eerlik en sommer net vir myself, om beter te voel. Die musiek wou soos klokkies klink, iets skitterend wat ’n huilende kind sal laat ophou huil en weer laat glimlag. Daar was hoop in die melodie. Op daardie dag is my heel eerste Afrikaanse liedjie gebore.

Ek het nie op daardie stadium beplan om ’n Afrikaanse album te maak nie, maar ek het wel gedink ek sal meer liedjies in Afrikaans wil skryf. ’n Week later, nadat ek nog ’n bietjie aan die liedjie gewerk het, het ek die liedjie gaan opneem by Earwig Studios, en daardie aand, toe die opname-ingenieur die mix vir my stuur, was ek weer so emosioneel en het ek weer vreeslik begin huil. Ai tog!!

Dis toe dat ek besef Afrikaans gaan my huis toe bring en ek gaan my eie brug begin bou met hierdie liedjies wat ek gaan skryf. Emosioneel was ek opgewasse en sterk genoeg nou, om in Afrikaans te kon sing, en dit het baie uit my gevat om na daardie plek te gaan, maar dit het met ’n oortuiging gekom dat dit die ding was wat voorlê vir my.

Om in Afrikaans te sing en te skryf raak iets aan in my waar Engelse nie leef nie. So ja, om ‘n baie lang sopstorie kort te maak: toe ek myself my eie liedjie hoor sing in Afrikaans, het ek geweet iets het verskuif binne-in my. Ek kry iets daaruit wat my sterker maak en na ’n plek toe neem, anders as my Engelse liedjies.

Watter oorwegings was hierby betrokke?

Ek het geen oorwegings gehad nie. Ek beplan maar min. Ek dink nie veel vooruit nie. As die ding voor my staan en as iets na my toe kom, vat ek dit soos dit kom en probeer om nie in my eie pad te staan nie. Wat ek hiermee bedoel, is, ek dink ek is maar soos ’n radio wat net “ingestel is” en sekere “inspirasies” aanvoel. Ek is tog maar te bly as ek die inspirasie kry om iets te maak, of om iets te skryf, of om iets te sing of te skilder. Ek voel beter as ek dit dan kan weergee en skep. As ek ’n inspirasie kry, doen ek dit sonder om te veel te dink hoe die eindproduk gaan lyk of klink.

Kyk, ’n stemvurk werk ook mos maar so. As ’n mens ’n stemvurk van ’n sekere noot speel, sal daardie selfde snaar van daardie noot in die klavier vibreer ... so as ek op ’n sekere manier voel, of myself instel op dit wat my aanraak of wat ek waarneem (goed of sleg), dan moet ek daardie ding “uitkry” op papier, in musiek of in verf ... So vir my om liedjies te skryf is iets waarvoor ek dankbaar voel ... nie iets wat ek sommer net vanselfsprekend opvat nie.

Hoe presies lyk jou musiekloopbaan in Seattle tans – in terme van verpligtinge wat optree, opneem ens betref, en hoe beplan jy om dit te balanseer met die nuwe Afrikaanse musiekloopbaan?

My musiekloopbaan in Seattle lyk belowend. Ek beweeg in musiekkringe waar mense voltyds musiek maak en waar musiek hulle loopbaan is. Dit was ’n groot sprong vir my, want vir jare het ek musiek gemaak in musiekkringe waar almal nog ’n ander werk gehad het en musiek gemaak het en konserte gespeel het, meer vir die kunsvorm daarvan en nie noodwendig vir ’n loopbaan nie. Daar is groot ondersteuning vir wat ek doen en bied vir die musiekgemeenskap in Seattle. Daar is baie geleenthede vir my in Seattle om goeie konserte te speel en om met ander meer gevestigde musikante op te tree. My nuutste Engelse album, Far & Wide, het in Maart vanjaar uitgekom. Letterlik die dag daarna was ek op die vliegtuig op pad Stellenbosch toe om my Afrikaanse album klaar te maak.

Vanaf laasjaar tot nou het ek twee albums gemaak op twee kontinente in drie verskillende studio’s, so nou gaan ek eers fokus om my voete te vind in Suid-Afrika en daarna sal ek weer in Seattle aangaan waar ek dinge gelos het. Dis partykeer goed om te gaan as mense meer van jou wil hê, dan weet ek hulle voel nog opgewonde om my te sien wanneer ek terugkeer.

As ’n mens jou mees onlangse Engelse album, Far & Wide, vergelyk met Alles wat jy liefhet, voel dit of daar in die algemeen ’n ligter benadering is in die Afrikaanse snitte – beide in terme van die lirieke en die musikale aanslag – veral op snitte soos "Jeffreysbaai". Is dit ’n akkurate waarneming? Voel dit of daar verskillende elemente of kante van jouself is wat jy beter uitdruk in onderskeidelik Afrikaans en Engels? Moes jy navorsing doen oor wat deesdae op die Afrikaanse musiektoneel aangaan – en ook wat "werk" – of was dit ’n relatief natuurlike aanslag? Wat kry jy persoonlik uit musiek maak in Afrikaans wat jy nie in Engels kry nie, en andersom?

Die Afrikaanse album “rock” meer en het meer ’n dinamiese aanslag met baie verskillende tipes snitte. Die lirieke van die Afrikaanse album het baie te doen met my lewe en die krag van menswees, die lewenskeuses wat ons maak wat ons lewens verander: trou, skei, sterk raak, kwaad raak, kinderlik wees, ens. Dit is baie persoonlik en emosioneel en daar is ’n groot verskeidenheid snitte, elkeen na aan my hart, wat ’n goeie weerspieëling is van my uiteenlopende persoonlikheid.

Ek het baie meer gedink en beplan met die Engelse album, want ek het dit geskryf saam met Jonathan Plum. So ek het vasgestelde studiotye gehad en moes voorbereid opdaag in die studio, waar ek met die Afrikaanse album net by die studio opgedaag het en op die plek iets gemaak of idees uitprobeer het wat miskien net halfgebak was.

Far & Wide se musiek pas by Seattle se weer en die Seattle-klank. Die Afrikaanse album het definitief meer lewe en pas by Suid Afrika.

Vyf van die 10 liedjies op die Engelse album was liedjies wat ek geskryf en reeds voorheen opgeneem het en waarvoor Jonathan nuwe sketse geskryf en veranderinge aangebring het. Vir die ander vyf liedjies het hy akkoordstrukture vir my gestuur waarop ek dan al die sangmelodieë en lirieke geskryf het. So die skryf proses was ’n 50/50-samewerking.

Ek druk myself beter uit oor die liefde en verhoudings en dinge van die hart in Afrikaans. In Engels druk ek myself beter uit oor dinge waaraan ek dink en hoe ek die lewe aanvoel of waarneem. Met die Engelse album is ek die waarnemer en met die Afrikaanse album is ek die doener. Met die Engelse album kan ek as buitestander na myself kyk en sien hoe ek voel en optree en daaroor sing, en met die Afrikaanse album staan ek in die middel van die storm of die sonskyn en gee ek weer hoe ek voel op daardie oomblik, met geen spasie tussen my en dit wat gebeur nie.

Ek het geen navorsing gedoen oor wat op die Afrikaanse musiektoneel aangaan of wat “werk” vir die mark nie. Dit was opreg ’n natuurlike aanslag. Ek wil graag al my albums anders maak en benader, soos die kunstenaar PJ Harvey – al haar albums is heeltemal anders en het ‘n ander aanslag. Ek wil elke keer die “mould” breek en heeltemal nuut begin, maar terselfdertyd ook bou op wat ek geleer het met elke album.

Dit voel vir my ek raak beter en beter met my pogings ... want as ’n mens begin, kom daardie ding wat jy maak miskien nie uit soos wat jy dit hoor nie, maar hoe meer jy daaraan werk en kap, hoe nader kom jy aan die figuur in die klip wat jy wil uitkry of vrylaat.

In beide jou Engelse en Afrikaanse musiek is daar ’n sterk “ethereal” benadering – baie van die liedere voel lekker atmosfeergedrewe. In dié genre gebeur dit soms dat lirieke minder belangrik word, maar dit voel asof jy hard werk aan jou lirieke en dat dit wel uitstaan. Wat is jou gevoel oor hoe jou musiek en die lirieke mekaar moet komplementeer? Is dit vir jou ’n geval dat die lirieke die musiek in ’n rigting trek, of andersom, of word hulle so saam-saam gebore? Hoe werk jou liedskryfproses in terme van die pogings om daai balans perfek reg te kry, en ook hoe jy uiteindelik tevrede word met ’n lied?

Lirieke is vir my baie belangrik. Ek hou van goeie en sterk lirieke. Die konsep wat vir my die heel belangrikste is, is: die musiek en die lirieke moet mekaar weergee, hulle moet “trou”. Ek skryf baie keer eers blaaie vol woorde, dan wanneer ek ’n wysie “hoor” of ’n musiek-idee kry, of net improviseer, dan neem ek daardie wysie op met my foon. Dan sal ek gaan kyk na my lirieke, of daar iets is wat by die wysie pas, of ek sal nuwe woorde probeer, selfs dalk net een konsep neerskryf wat ek voel die musiek vir my die beste beskryf. So begin die proses. Baie keer word die twee saam gebore en dan is ek net so verbaas en staan verstom oor wat gebeur het. Baie keer skryf ek eers die musiek en moet ek dae, selfs maande of jare, wag vir die regte woorde om na my toe te kom.

Ek word tevrede met ’n lied wanneer ek daardie hoendervleisvel kry.

Omdat ek nie al die instrumente “verhoog-goed” kan speel nie, maar ek weet wat dit is wat ek wil hoor in terme van instrumentparte, sal ek baie keer al die parte opneem met die klavier of klawerbord. Ek sal die baskitaar-deel speel op die klavier, asook wat die elektriese kitare se dele moet wees, ens. Dan sal ek dit eers so opneem en die melodie daaroor sing. Daarna, as dit klaar is, sal ek iemand kry om die parte met die regte instrumente oor te speel. Ek het ’n vreeslike sterk opinie as dit kom by wat vir my reg klink of reg voel. Ek wil hê die musiek moet ’n “prentjie” kan skets by die luisteraar van wat ek graag wil oordra met die liedjie.

Selfs sonder die woorde moet ’n mens al ’n goeie idee kan kry van wat ek wil sê met die liedjie. As ek skryf oor “sterre en planete” wil ek hê die musiek moet sterre en planete weergee. Hoe sal sterre en planete klink? Die NASA-webblad het die klanke wat planete weergee in hertz. Ek sal dan gaan luister en kyk of ek sulke konsepte kan naboots in die onderliggende musiek wanneer ek sing van sterre en planete. Of as ek skryf van twee mense wat stry, wil ek hê die musiek moet daardie “woordstorm” en onenigheid weergee, ens. Die musiek moet jou deur daardie storm neem. Die musiek moet ’n visuele konsep vorm in die gedagte van die luisteraar, soveel as wat ek dit moontlik kan laat gebeur met die note, intervalle, my stem en die lirieke.

Jy het beslis ’n unieke, interessante aanslag met jou sangstyl en die strukture van jou liedere. Volgens ’n mediavrystelling is die musiektoneel in Seattle baie toeganklik vir iemand wat oorspronklikheid eerste stel. Verwag jy dieselfde soort goeie ontvangs in Suid-Afrika vir ’n styl wat nie juis in die algemeen op hoofstroom-trefferlyste verskyn nie, of hoe beskou jy die saak?

Ek probeer binne-in myself sterk wees as ek hoor mense sê my styl of my stem is nie vir hoofstroom–trefferlyste nie. Elke musikant droom van die dag wanneer hulle ’n liedjie sal skryf wat ’n groot treffer sal word. Ek dink dis juis kunstenaars en musikante wat mense deur die eeue geïnspireer het om die “status quo” te verander.

Daar sal ‘n dag kom waar iets nuuts of “buite die norm” deurbreek en dan die nuwe norm raak. Dit is hoe musiek verander en nuwe klankidees en genres vorm. Ek hou van kunstenaars, digters en musikante wat hulle gemeenskap dinge anders kan laat sien, of ’n bietjie uitdaag om iets nuuts te lees, te sien of te luister.

Hoofmediastrome kondisioneer luisteraars om van iets spesifieks te hou, baie keer deur herhaling, gewoonte of afstomping, en baie mense glo net dat wat op die radio speel goed is. Onafhanklike kunstenaars en musikante moet glo en ’n vertroue hê in dit wat hulle maak. Ons moet ook ’n vertroue hê dat die natuurlike prosesse van verandering ons sal tegemoet kom.

As ’n mens passievol genoeg is en jou kuns met eerlikheid en oortuiging aanpak, behoort die proses jou siel te voed, al voed dit dalk nie jou beursie nie. Baie musikante gee op agv dinge wat ander oor hulle musiek te sê het, of net voordat dinge vir hulle kon draai. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek luister graag en ek hou vreeslik baie van wat hoofstroom-trefferlyste vir ons bied. Ek is ook bly vir elke kunstenaar wat dit groot maak, want wat jy uitsit kom terug na jou. Almal werk vreeslik hard en hou uit. As een dit maak, wen ons almal.

Hoofstroommedia het sy plek en ons almal geniet die groot treffers, maar dit is ook baie goed as mense nog hulle eie gedagtes kan opmaak en vrae vra soos: “Is hierdie liedjie se woorde en wysie iets waarvan ek regtig hou? Is dit my smaak, of gaan ek maar saam met die massas en dink ek nie veel oor sulke dinge nie?”

Ek dink radiostasies wat wel ’n kans waag en musiek speel wat buite die norme is en iets nuuts probeer, is juis die radiostasies wat die kunstenaars aanhelp, almal vorentoe laat beweeg en gemeenskappe wyer laat dink oor die kunste. Wat mense se toleransie, wêreldsiening en uniekheid verbreed.

Ek was laas Donderdagaand by Sia se konsert. Sy het die hele konsert gesing met “backing tracks” en sonder om haar gesig te wys of om een keer te beweeg van die plek waar sy gestaan het. Dit was ’n uitverkoopte vertoning. Sy het elke liedjie met ’n dansskets laat doen. Dit was donker en ontstellend, baie visueel, en het ’n mens diep aangeraak. Ek het dit ongelooflik geniet. Wat ek daaruit gekry het, is dat ’n mens net jou ding moet doen soos jy hom wil doen. Daar sal ’n mark wees. Of dit massief is of klein is, is relatief.

Ek het die Afrikaanse album gemaak soos ek wou. Die “laer register” dra my stem en ek voel dit werk goed met wat ek wil weergee. Dit is ’n skryfstyl waarvan ek baie hou – dit bring die hele spektrum van klank saam.

Hoe sal jy nog voorts dié styl van jou wil uitbou?

Ek het nog baie om te leer en ver om te gaan. Elke keer as ’n mens met ’n ander vervaardiger werk, leer jy meer.

My styl sal definitief verbeter soos wat ek verbeter en meer ondervinding kry. Ek het nie elke jaar dieselfde denke en gevoelens nie en ek raak wyser (hopelik ). Ek is seker soos die jare aanstap sal my stem en musiek ook verander soos wat ek verander.

Hoe het hierdie styl van jou ontwikkel, en het jy hard daaraan geskaaf soos jy meer en meer optredes op die kerfstok gekry het, of is dit iets wat bloot vir jou "gebeur" het?

Ek het vir jare in Seattle in punk, goth, indie en rock bands gespeel, maar nooit my eie musiek nie. Drie jaar gelede het ek net besluit dat die tyd nou reg was om my eie musiek uit te speel. My musiekvriende in wie se vele bands ek gespeel het, het my gehelp en saam met my begin optree. Ek kon toe informele video clips maak van my optredes in Seattle.

Dit was juis toe dat ek video clips gehad het van my “live gigs” dat ek dit vir London Bridge Studio kon stuur, en dit het Plum se aandag en oor gevang.

Wat betref my sangstyl: ek dink dit is eerlik en sonder pretensie. Ek kan my Broadway-stem of selfs operastem uithaal, maar miskien wag dit vir my volgende albums. Vir nou het die liedjies vir hierdie stem gevra.

Natuurlik hoop ek ek maak musiek wat mense wil hoor en wat ’n impak sal kan hê, nie net vir Afrikaanse musiek nie, maar vir Afrikaanssprekende mense en alles wat ons naby aan ons hart dra in elke tydperk van ons lewe.

Ek sal altyd vir myself hoër doelwitte stel en ek neem kritiek in ag. Ek hoop dat Afrikaanse musiekuitgewers en stasies wat die Afrikaanse musiekmark beheer, altyd hulle nette wyer en wyer sal span, sodat musiek gespeel kan word buite die norm en sodat die publiek altyd ‘n groter verskeidenheid sal kry om van te kies.

In Seattle het jy, soos jy reeds gesê het, saam met die bekende vervaardiger Jonathan Plum (wat onder meer saam met Pearl Jam gewerk het) opgeneem, in Suid-Afrika met die plaaslike yster Jürgen von Wechmar. Hoe het die verskillende prosesse vir jou vergelyk? Put jy in die algemeen meer inspirasie en/of vasberadenheid om iets groots te skep wanneer jy in die vreemde is, of wanneer jy meer tuis voel? (En ’n mens kan seker vra: waar voel jy op die oomblik meer tuis, Seattle of Stellenbosch?)

Die proses om met Jonathan en Jürgen te werk was heeltemal anders. Ek het saam met Jonathan die Far & Wide-album geskryf. Dit was ’n 50/50-samewerking. Jonathan het geskets op vyf van my reeds bestaande liedjies van my vorige albums, en ek het sangmelodieë en lirieke vir vyf van sy akkoord-idees geskryf. Ons het saamgestem oor baie dinge en ook kop gestamp oor baie dinge, wat wonderlik uitgewerk het, want hy het sy styl en ek het myne, so ons het mekaar gehelp om iets wonderliks en nuuts te skep wat nie ek of hy gedink het so sal uitkom nie. Dit het ’n hele jaar gevat en ons het vreeslik hard en lang ure daaraan gewerk. Hy het ook die Engelse album vervaardig.

Die grootse verskil tussen die Engelse en Afrikaanse album was dat ek al die musiek en lirieke geskryf het en die vervaardiger was van die Afrikaanse album. Jürgen se werk het berge versit vir my Afrikaanse album. Ons het onmiddellik gekliek en “nothing was lost in translation”. Ons het die album in 10 dae klaar opgeneem. Dit was ‘n baie vinnige, opwindende en dinamiese proses. Sewe van die 10 liedjies vir die Afrikaanse album se musiek was reeds opgeneem in Seattle en die verskillende “instrument-en-sang-snitte” is oorgestuur vanaf Earwig Studio in Seattle na Sunset Recording Studios in Stellenbosch, waar Jürgen dit toe verbeter het. Hy het foute reggestel, die ongelooflik talentvolle Henry Steel ingebring om baie van die klawerbord te vervang met kitaar- en baskitaardele, en hy het ook programmering gedoen op van die snitte.

Jürgen is die heel beste opname-ingenieur en klankvervaardiger met wie ek nog ooit gewerk het. Sy werk en studio is puik en wêreldklas.

Drie van die 10 liedjies vir die Afrikaanse album is van begin tot einde by Jürgen se studio gemaak. “Jeffreysbaai” is een van die liedjies wat van begin tot einde by Sunset Recording Studios vervaardig is. Jürgen het idees van onskatbare waarde in my musiek ingebring. Hy het my alles laat oorsing en ook die album gemeng terwyl ek “backseat driver” gespeel het. Ons het heerlik saam gewerk en ek sal vir seker weer projekte saam met Jürgen by Sunset Recording Studios wil aanpak.

’n Waarlik uitsonderlike musiekvideo vir jou lied "Nothing" is vroeër vanjaar bekendgestel. Visueel is dit uitstekend, sonder om totaal onafhanklik te staan van die lied. Wat is die storie agter die video?

Die video het baie simboliek in en ons het dit juis so beplan dat mense hulle eie gedagtes kan opmaak van waaroor dit gaan, maar dit moet definitief die gevoel of tema skep van die soeke om iets te vind en die spyt wees van iets verloor, en dan die vrede om te weet dat niks regtig verlore kan wees nie, maar dat paaie ons almal weer saam bring en verenig.

Ons wys hier hoe mense mekaar sien. Die man sien haar deur sy kameralens; dit simboliseer dat ons mekaar sien deur ons eie filters en klaar opgemaakte idees, so wanneer ‘n mens werklik met iemand ‘n konneksie maak, sien jy die persoon soos jy is, of sien jy die persoon soos sy werklik is? Hulle soek mekaar op hoër plekke (dit simboliseer aspirasie na ’n ander tipe liefde, iets spesiaals, magies ... van waar ons albei op die hoë geboue staan). Dit wys ook na die soeke om regtig na iets te strewe – iets hoogs en moois ... die beste van mekaar. Wanneer hy dan spring, is dit ‘n geval van “take the plunge” – dit wys hoe vinnig die dimensies kan verskuif of verander en hoe “fleeting” ‘n mens se lewe is.

“He jumps in ...” simboliseer dat ’n mens “val”, of jy “verloor jouself” baie keer om dinge na te strewe wat jou tyd en lewe opneem, maar wat nie vir jou vervulling gee nie. Dit kan jou werk wees en jy verloor tyd met jou geliefdes, of dit kan ook wees dat ’n mens jouself verloor deur in ’n verhouding in te tree met iemand anders en te veel van jouself opgee. Sy gee liefde en dit kom soos blomme uit haar hart vir hom. Hy strewe om homself te vind, al dink hy sy soeke is vir haar. Wanneer sy binneste verander van stad na boom, kan sy hom uiteindelik aanraak en hulle kan mekaar vind en mekaar in die oë kyk. Hy vind homself, hy vind vrede en verstaan die gejaag na wind en sy het haar doel gedien om hom te help deur hierdie “journey” of “transition”. Die boom simboliseer vat en gee ... die wortels moet vat van die aarde en die blare gee weer terug; die boom staan ook in een plek vir sy hele leeftyd, so as ‘n mens kan stilstaan en tevrede wees of net in die oomblik kan wees, is daar ’n balans.

Al hierdie simbole het ons probeer inbring en dit amper probeer “subtiel wegsteek” deur ‘n liefdestorie uit te beeld, maar die tema van verlore tyd en om spyt te wees en nie weer oomblikke te kan saam hê nie, want die persoon of geliefde of tyd is nie meer daar nie, is ook ’n tema in die liedjie. Dit gaan oor die evolusie deur involusie. Jy kan nie ’n ander verstaan voordat jy nie jouself verstaan nie. Jy kan nie ’n ander vind as jy nie jouself eers gevind het nie.

Wat is jou gevoel oor die rol van musiekvideo's, en ook ander visuele media, in die verhouding met die musiek self? Word ’n musiekvideo ’n kunsvorm op sy eie, of moet dit altyd die lied dien? Hoe sien jy hierdie rol van visuele elemente wanneer dit kom by optredes? Gepraat van ... wat beskou jy as die "complete" optrede, en wat wil jy graag hê moet mense wegneem wanneer hulle ’n Amandala-show bygewoon het?

Wanneer ek van ’n liedjie hou, gaan soek ek dadelik na die musiekvideo op YouTube. Ek dink ’n musiekvideo kan ’n liedjie baie help. Ander visuele media is ook wonderlik en ek dink dit hang baie af van die kunstenaar. Ek is ’n baie visuele persoon, want ek skilder ook, so ek geniet visuele media. Ek het al baie vertonings van Tori Amos gaan kyk waar sy geen visuele media behalwe ligte gehad het nie, maar dit was perfek, want haar musiek leen hom tot minder visuele effekte. Björk, aan die ander kant, se visuele media is so fantasties, want sy gebruik self haar eie kostuums as ’n medium om mense te inspireer en sit gedeeltes van haar musiekvideo's op groot skerms as sy optree. Ek hou baie van visuele media, want dit raak meer sintuie aan.

Ek speel ‘n show wat by die venue pas, so hoe groter die venue, hoe meer spelers en hoe meer visuele media, en hoe kleiner en meer intiem, hoe minder musikante en miskien geen visuele media nie. Ek het al shows gespeel met groot foto's en prente wat verander in die agtergrond met die musiek, asook shows met ’n professionele beligtingspan. Dan het ek ook al shows gespeel waar die “eye candy” die mooi instrumente was op die verhoog – ek sal byvoorbeeld dan ’n vleuelklavier, Indiese harmonium, akoestiese of elektriese kitaar of my viool speel en daar sal ’n tjellospeler en harpspeler wees en ons sal Tibettaanse bowls gebruik om van die liedjies mee te begin.

Wat elkeen sal wegneem sal seker afhang van elkeen persoonlik, maar in my hart sal ek hoop dat mense met my musiek en woorde ’n konneksie sou kon maak wat betekenis en waarde het vir hulle. Ek is dankbaar vir elke persoon wat ’n kaartjie koop. Ek wil my musiek en passie deel en myself gate uit geniet wanneer ek die kans kry om uit te speel. As ek dit so baie geniet, sal mense dit hopelik kan aanvoel en hulle ook gate uit geniet!

In die Amerikaanse musiekloopbaan het jy volgens die mediavrystelling ’n rits optredes agter die blad, en ’n lojale groep aanhangers. Watter hoogtepunte staan vir jou tot dusver uit in terme van optredes? Enige ongewone gebeure op of agter die verhoog wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige minder aangename of blooswekkende oomblikke?

My album Far & Wide se uitreiking was 30 Maart vanjaar, so daardie album het ek nog net vier keer uitgespeel, want die laaste jaar was maar ongelooflik besig, want ek het twee albums gemaak op twee kontinente in drie studio’s in een jaar. Die hoogtepunt was die CD-uitreikingsvertoning by die Triple Door. Dit is ’n ongelooflik goeie venue om te speel en nadat ’n persoon by die Triple Door gespeel het, is jy ’n hele paar stappe op, as dit kom by geld maak met uitspeel en om konserte te boek met ander welgestelde kunstenaars.

Die hoogtepunt was dat die bestuurder daardie aand vir my kom sê het na my show dat twee Suid-Afrikaanse bands al daar gespeel het – Johnny Clegg en Ladysmith Black Mambazo – en dat hy my show baie geniet het, en dat as ek weer daar wil kom speel is ek enige tyd welkom. Ek was baie trots op myself en het gevoel dat ek wel in Seattle nou ‘n groot mylpaal bereik het.

Geen ongewone gebeure agter die verhoog nie, maar ek het wel ’n set gespeel by Earfest – dit is ’n fees wat Earwig Studios elke jaar hou en dit is meestal ingestel op hard rock, grunge en punk bands wat daar opneem, so ek het al my liedjies met ’n “rock vibe” gespeel. Die verhoog by die klub is ’n afgesnyde trok en die dromspeler wat daardie aand vir my gespeel het, was ’n hard rock drummer, en hy het so hard geslaan dat die hele verhoog begin skuif en bons het. Mense het na die tyd vir my kom sê dat hulle gedink het ons gear gaan van die verhoog af bons.

Ag, ek praat baie nonsens op die verhoog en ek het nie filters nie. Een keer het ek lelik my voet daarin gesit toe my mic nie wou regop staan nie en dit het die heeltyd omgedraai en pap geval ... Mense wat my nie goed ken nie, kon nie glo wat uit my mond kom nie – as ek ’n kind was op daardie oomblik, het die skooljuffrou definitief daardie aand vir my Sunlightseep vir ’n “mond uitwas” gebring!

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Amandala, in so verre jy dit kan beheer?

Musiek is my loopbaan en my passie, so as ek net aanhou en aanhou en nooit ophou nie, moet daar iets gebeur vir my in Suid-Afrika. Ek is op die oomblik besig om my musiekvideo in Jeffreysbaai te skiet. Hopelik sal die liedjie en musiekvideo van Jeffreysbaai ’n geliefde treffer word in Jeffreysbaai, asook in Suid-Afrika. Nadat die video uitgereik is, gaan ek promo's doen tot Februarie. Dan sal dit afhang hoe dinge hier verloop of ek dan langer sal kan bly of teruggaan Seattle toe in Maart. In Seattle sal ek net weer dinge optel waar ek dit gelos het en dadelik weer begin uitspeel. My single “Far & Wide” van die Far & Wide-album speel tans in 10 000 Starbucks-koffiewinkels regoor die wêreld.

Ek gaan ook in 2017 een of meer musieksketse maak saam met Geoff Standfield. Ek wil baie graag met baie verskillende vervaardigers werk in verskillende Amerikaanse stede en saam met ander gevestigde musikante in Seattle groter en groter konserte begin speel of oopmaak vir hulle. As dinge goed gaan met die Afrikaanse albumvrystelling sal ek langer in Suid Afrika kan aanbly. Dan is my plan om ’n kitaarspeler, baskitaarspeler en dromspeler te vind sodat ek met ’n vol band kan uitspeel en bietjie toer hier in Suid-Afrika.

Ek skryf al klaar weer nuwe musiek. So wanneer ek ’n paar liedjies het, sal ek dit gaan opneem.

Wat is die sin van die lewe?

Ek dink ons sal hierdie vraag moet gaan bepreek oor ’n bier of twee, weer die eerste Matrix-film kyk of dalk net diep asemhaal en daardie asem volg soos dit in en uit beweeg.

amandala2grootweb

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top