Altbeker verras met A Country At War With Itself

  • 0

Antony Altbeker
A Country At War With Itself: South Africa's Crisis of Crime
ISBN: 978-1-86842-248-5
Jonathan Ball (Johannesburg)
189pp
R110.00

 
 

"Waarom gaan misdaad in Suid-Afrika so reëlmatig gepaard met buitensporig hoë – en dalk selfs eenduidige – vlakke van geweld?" is die vraag waarmee Antony Altbeker 'n lesing, geborg deur die Harry Wolpe Gedenkfonds, in November 2006 in Kaapstad ingelui het. Dit is ook die vraag waarmee hy hom bemoei in sy jongste monografie, A Country At War With Itself: South Africa's Crisis of Crime, wat in Augustus vanjaar verskyn het. Die antwoord wat Altbeker bied, verras in sy eenvoud: eerder as wat die verskynsel die gevolg is van steierende armoed, ongelykheid of die voortdurende effek van apartheid in die strukturering - en skeiding - van die samelewing, is dit te danke aan die feit dat 'n kultuur van misdaad hom in die samelewing ingebed het. Die pleeg van misdaad, en die geweld waardeur dit dikwels gekenmerk word, het gewoon gewoonte geword.

Met hierdie standpunt het Altbeker reeds baie opspraak gewek, hoofsaaklik omdat hy byderwetse en op die oog af progressiewe leerstellings uit die krimonologie, wat deesdae minder steun op kulturele verklarings vir die ontstaan van kriminaliteit, die hoof bied. Altbeker se ontleding is ook omstrede vanweë sy agtergrond: om en by 'n dekade gelede het hy 'n akademiese loopbaan as dosent in Ekonomie verruil vir een in die staatsburokrasie, waar hy adviseur was aan die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Sydney Mufamadi. Daar was sy taak die evaluering van die polisiemag se werkverrigting en die ontwikkeling van maatstawwe om die polisie in die uitvoering van hul pligte te monitor. Later het hy na die Tesourier verskuif en daar bystand gelewer in die saamstel van die nasionale veiligheidsbegroting. In 2006 – teen daardie tyd alternatiewelik as vryskut-"misdaadkenner" en medewerker aan instellings soos die Institute for Security Studies en die Centre for the Study of Violence and Reconciliation - publiseer hy 'n monografie oor sy wedervaringe met die polisiemag. Hierdie boek, The Dirty Work of Democracy: A Year on the Streets with the SAPS, is luisterryk bekroon, maar dit was veral Altbeker se uitbeelding van 'n verkrummelende staatsinstansie, gekelder deur krimpende fiskale toedelings, die druk om te omvorm, en die toenemende verklowing tussen besluitnemers en gelidmanne, wat aandag getrek het. In Altbeker se sketsing het die regering mislik gefaal in die oprigting en toerusting van 'n mag wat polisiëring doelmatig kan verskaf aan 'n samelewing waar kriminaliteit lelik begin hand-uit ruk het.

In sy jongste boek ontleed Altbeker nie slegs wat die aard van misdaad in Suid-Afrika is en hoe doeltreffend dit aangespreek word nie, maar hy probeer as't ware die oorsprong van Suid-Afrikaanse kriminaliteit uitpluis. Hy grond sy ontleding op vier argumente. Die eerste is dat Suid-Afrikaanse misdaad onderskeidend is nie soseer in die hoeveelheid wat gepleeg word nie, maar in die intensiteit, en veral gewelddadigheid, van hierdie misdaad. Die hoë voorkoms van interpersoonlike of intieme geweld dui verder op 'n maatskaplike dinamiek wat nie bevredigend verklaar word deur standaardteorieë oor kriminaliteit wat berus op armoede of soortegelyke sosiale indikators van ontbering nie.

Tweedens, sê hy, kan Suid-Afrikaners se klaarblyklike "verslawing" aan geweld slegs gedeeltelik verklaar word as 'n nalatenskap van apartheid of as 'n funksie van diepgewortelde sosio-ekonomiese agterstande. Die rede lê eerder in hoe kriminaliteit en geweld gedy in 'n "konteks" waar, in die afwesigheid van enige ander aanvaarde voorbeeld van optrede, geweld en misdaad effektief as norm aanvaar word. Vir 'n groot kohort van jong (swart) mans – oorwegend die plegers van misdaad – word maatskaplike waardes en gedrag bepaal binne 'n omgewing waar min ander alternatiewe vir lewensonderhoud, naas die gewelddadige toe-eiening van mag, statuur of besittings, bestaan.

Die derde en vierde argumente, oor die aanspreek van die misdaadprobleem, bou hierop, en stel dat die teikening en meer effektiewe vervolging, veroordeling en kerkering van misdadigers, eerder as misdaadvoorkoming, beter resultate sal lewer. Voorts verg die afname in kriminaliteit na aanvaarbare vlakke veral morele hernuwing. Die smee van hegter maatskaplike bande en sosiale instellings wat kriminaliteit teenwerk, is belangrik, maar dit kom veral deur die meer baldadige benutting van die staat se regsmasjinerie.

Dit is uit die bovermelde nie moeilik om te verstaan waarom A Country At War With Itself soveel omstredenheid ontlok het nie. Altbeker daag met sy stellings nie slegs die regering uit wat oor die afgelope paar jaar meer wantrouig en defensief geword het in sy omgang met 'n ongeduldige burgery nie – en daardeur dalk meer onsamehangend in sy pogings om misdaad te bekamp, maar loop ook 'n hele groep akademici en ander ontleders tromp-op by wie byderwetse idees oor gemeenskapspolisiëring en die aanspreek van misdaad deur "sagter" metodes stewig posgevat het. Vir Altbeker lê die oplossing in 'n ietwat paradoksale verbinding van morele fortifikasie – in wese 'n "sagte", sosiokulturele proses met potensieel langdurige gevolge – en die hardhandige bestryding van misdaad, kleurryk deur Altbeker beskryf as "a ... system that comes down like a ton of bricks on people who commit violent crimes" (p 34).

Daar is 'n paar ander verrassende, of selfs weersprekende, konseptuele samevoegings in Altbeker se argument, soos die idee dat bevolkingsaanwas, en demografiese veranderinge, soos 'n sterk styging in die aantal jong mense, gepaard kan gaan met die toename in gewelddadige misdaad, of dat die toewyding van polisiebronne in een geografiese area verplasing van misdaad na 'n ander kan veroorsaak, wat etiese vraagstukke oor die doel van polisiëring laat opper. Sulke stellings strook nie met Altbeker se kernargument oor die kulturele onderbou van geweld en misdaad in Suid-Afrika nie, en verswak 'n andersins prikkelende stel idees.

Daar is egter heelwat om te ontgin uit A Country at War with Itself, waaronder die bevraagtekening en dan stelselmatige weerlegging van algemeen-aanvaarde "wyshede" oor misdaad in Suid-Afrika een van die belangrikste bydraes van die boek is. Die boek is gemik op 'n breë gehoor, dus word ingewikkelde akademiese debatte oor die mees toepaslike omskrywing van misdaad en oor hoe misdaadstatistiek mees doeltreffend ingesamel of interpreteer moet word, op verteerbare wyse beskryf. Nogtans is die ontleding nougeset en steun dit op databronne wat meer, eerder as minder, betroubaar is, iets wat in die veld van misdaadanalise soms moeilik te vind is. En alhoewel die argumente soms anti-intuitief voorkom, is daar 'n logiese struktuur aan hoe eers die problematiek van misdaad geskets word, kern verklarende aspekte uitgesonder en teen ander moontlike verklarende faktore opgeweeg word, en daarna gebruik word om 'n stel beleidsbepalings daar te stel.

Die eerste vier hoofstukke van die boek stel die konteks en bied 'n oorsig oor die aard van misdaad in Suid-Afrika. Daar word byvoorbeeld aangevoer hoe die regering se bewering dat misdaad oor die afgelope dekade afgeneem het, vergeldig word deur die daling in die aantal moorde van 'n hoë syfer van 27 000 in 1995 tot 19 200 in 2006/7. Daarteenoor het rooftogte, en veral gewapende rooftogte, eksponensieel toegeneem. Terwyl die regering hierdie patroon toeskryf aan beter polisiëring en verbeterde rapportering van sulke misdade, reken Altbeker dat die aanwending van meer gesofistikeerde teendiefstal-tegnologie misdadigers genoop het om ander vorme van misdaad (soos die kaping van motors) te verken. So 'n verplasing van kriminaliteit lê egter 'n latente gewelddadigheid bloot wat in verskeie gedaantes manifesteer. Die volgende twee hoofstukke plaas dus meer klem op die kulturele oorsprong van geweld in Suid-Afrika, met hoofstuk vyf wat 'n (hopeloos te kort) blik werp op die verskynsel van huishoudelike geweld en geweld teen vroue en kinders. In die oorblywende vier hoofstukke neem Altbeker ander moontlike bronne van misdaad – soos immigrante of misdaadsindikate of buitelandse netwerke – in oënskou, maar kom tot die slotsom dat Suid-Afrika se probleem intern en spontaan van aard is. As oplossings word dus in die finale hoofstuk faktore soos maatskaplike versterking, ekonomiese groei en ’n meer robuuste aanwending van die regsisteem in die vooruitsig gestel.

Die bydrae van A Country At War With Itself behoort op twee vlakke gemeet word. Die eerste is die wyse waarop die boek 'n komplekse – en in die konteks van Suid-Afrika, 'n sterk verpolitiseerde – sosiale verskynsel gebalanseerd ontleed, en hoe Altbeker moeilike vraagstukke aanpak, waaronder seker die belangrikste is hoe daar in die pleeg én belewenis van misdaad die samelewing se ras- en klasverdelings op 'n blywende en ongelyke manier weerspieël word. Altbeker is ook onverskrokke in sy ontleding van die tekortkominge van die nasionale regering, en die breër politieke omgewing van burokratiese wedywering en wanberekening waarbinne kriminaliteit gedy het.

As 'n beredeneerde uiteensetting van die omvang en aard van misdaad in Suid-Afrika, en 'n vermaning oor die selfgedrewe oorsprong van hierdie verskynsel, is Altbeker se boek beslis nuttig. Maar dit is juis hier, op 'n dieper verkenning van die sosiokulturele meganisme waarvolgens misdaad en veral geweld in Suid-Afrika aangevuur word, waar 'n mens A Country At War With Itself onbevredigend vind. Dit is op hierdie vlak waar Altbeker konstrukte wat fundamenteel is vir 'n beter begrip van kriminaliteit, beter moes ontleed het, dalk na aanleiding van onder meer die volgende vrae: Hoe word misdaad kultureel beskryf, en is daar beduidende verskille in verskillende ras- of etniese groepe in Suid-Afrika se omskrywing van, aanvaarding van, of oriëntering tot misdaad? Watter funksionaliteit vertolk geweld in die samelewing? Hoe kan dit toegeskryf word aan die effek van ander oorvleuelende sosiale strukture (soos patriargie of politieke klandisie)? En hoe kan dit gevolglik aangespreek word? Laastens, watter uitoefening het die oorkoepelende politieke bestel op die bepaalde vorm van kriminaliteit wat in Suid-Afrika wortel geskiet het?

Dit is slegs deur die aanspreek van sulke vrae dat Suid-Afrikaanse misdaad durend die hoof gebied kan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top